Friday, April 17, 2020

Twee vissies en vyf broodjies

Foto: Velddrif


Nog nooit het hierdie wonderwerk meer betekenis gehad in my lewe as nou nie. Baie van ons (ek ingesluit) gaan nou eers verstaan wat dit beteken as ‘n baie groot deel van ‘n gemeenskap honger is.  En skielik word ‘n kospakkie en die uitdeel daarvan ‘n kommoditeit waarvoor mense bereid is om te moor.  Die Daily Maverick skryf vanoggend oor die protesaksie en plundering van koswinkels wat in SA plaasvind.  Iemand word aangehaal wat sê hulle sal eerder sterf van COVID as van honger. In baie se gemoed die enigste twee keuses.  In hierdie geskarrel besef SASSA en die Departement van Sosiale Ontwikkeling hoe ontoereikend hul voetspoor is.

Terwyl ek hierdie tik lui my telefoon. Dit is een van ons grootste vrugteverwerkingspakstore in Piketberg.  Hulle wil my sien oor planne oor hoe om die afgekeurde produkte wat net bietjie te ryp is vir die uitvoermark en afgekeur is by die grens, te versprei aan ons gemeenskappe via die NGO’s.  Ek is dankbaar verby. Terwyl ek in hul raadsaal sit wys die Here ook vir my hoe goed ons hulle sal kan gebruik as ekstra lykshuisspasie.  Die twee vissies raak meer en meer en ons kan honger gesinne help.  

Voordat hierdie blog klaar geskryf is, het nog talle mense en organisasies gebel wat graag wil help.  Die Here is getrou soos altyd.  Die kerke en besighede is aan boord en reik uit, maak sop, versamel yoghurtbakke, skenk produkte en maak die NGO’s se hande sterker en sterker. Maar die aanvraag is onophoudelik en oorweldigend. Die Provinsiale Regering se projeksies wys dat ons piek sal kom by September 2020 en dit is ‘n marathon wat ons skuifelpas-agtig moet aanpak om die einde voortdurend in sig te hou.  Ek vra weer vir almal wat hier lees… Wees bewus van die nood rondom jou. Skenk wat jy kan. Soveel as moontlik. Onophoudelik.

Ek ry later om joghurt- en roomysbakke, wat gisteraand per whatsapp vergader is en op die sypaadjies uitgesit is, te gaan versamel en om sop te gaan oplaai by vrywilligers.  Toe ek by die ouetehuis in Tillalaan verbyry, vang my oog ‘n Tannie wat haar een arm woes waai om my aandag te trek.  Haar ander arm leun op ‘n kierie.  Ek skrik en slaan remme aan. Spring uit om te kyk waar ek kan help. Ek dog iemand is dood en hulle kry nie ‘n ambulans in die hande nie.  “Goeiemore Tannie, hoe kan ek help?”, skree ek nog in die hardloop na die hek toe.  Sy vra of ek vir Marie by Winkel-so-en-so ken. Dit is haar dogter. Sy is mev So-en-So. En sy trek weg en vertel my die A-Z van wat aangaan in die ouetehuis sonder om op te kom vir asem.  Selfs hulle wat kos het, smag na oorlewing. Uitgehonger vir gesels. Ek vra uit en maak ‘n paar grappies.  Sy vra uit oor wat in die dorp aangaan. Hul onderwerpe vir gesels is lankal op.

Ek bel vanoggend vir Katrina wat by my werk.  Haar broer is ook in hierdie tyd oorlede. Hy was ‘n asmalyer.  Ek kry haar 15 minute later by Carstens Begrafnisondernemers om haar volgende twee weke se geld te gee en ‘n sak produkte. Ons mis mekaar en kan nie wag om mekaar te sien nie. Sy sê sy mis ook die stilte van my huis waar sy twee keer per week haar dag kan begin deur eers stiltetyd te hou.  En ek luister later vandag met nuwe ore na die stilte in my huis wat my gereeld teen die dak uit dryf.


Maar kos bring ook frustrasies: Ek het in ‘n vorige blog hierdie foto gedeel van die droë rantsoene wat ek in Malmesbury gaan haal het vir die vrywilligers wat drie etes per dag maak vir die talle hawelose mense wat ons in drie tydelike sentrums het.  Die vrywilligers sukkel om voor te bly en is al so moeg. Daar word al van 27 Maart 2020 af kos voorsien.  Vanoggend kry ek ‘n e-pos van Meals on Wheels met twee dokumente wat die vrywilligers daagliks moet invul en terugstuur.  Daarin moet hulle sê wie elke dag die kos gekry het (per naam en ID nommer), die venue waar dit verskaf is, die spesifieke spyskaart en die ontvangers moet elkeen teken dat dit in ‘n goeie toestand ontvang is.  Nou kyk! Daar is niks wat my so frustreer soos wanneer sinnelose “red tape” in die pad van dienslewering kom nie. Ek het letterlik rooi gesien en dit salt el as een van die min kere in my lewe dat ek kwaad was.  20 minute later toe ek by ‘n sekuriteitsgebied wou inry en my temperatuur geneem word, was dit steeds net 33 grade, so het ek my uit my bloedsomloop uit vererg vir die spulletjie. Daar is nie ‘n manier dat ek van ‘n doodgewerkte vrywilliger kan verwag om nog sinnelose vorms ook in die vul nie.  Nou vul ek hulle maar self in. Asof ek nie genoeg goed het om te doen nie. Gelukkig doen ek nog niks tussen 03:00 en 04:00 in die oggend nie! Later toe ek weer deur dieselfde sekuriteitshek ry en my temperatuur net 34,5 grade wys, noop dit my om te google oor die saak. Ek vermoed hul apparaat is foutief! My familie sal almal getuig van my warmbloedigheid.

Die beste ding wat in hierdie tyd kon gebeur in die Weskus en Weskaap, is die snoekrun! ‘n Vriend stuur ‘n video van vissers op ‘n boot wat net nie kan voorbly met snoeke uittrek nie. Ons het gebid dat twee vissies meer moet raak en die Here voorsien een van die beste snoekrun-jare in ‘n lang tyd. Dit bring ook uitdagings met permitte vir vissers, akkommodasie vir die wat in ons gebiede moet oornag, verwarring oor wie nou eintlik watter permit moet uitreik en weet ek ook vir die eerste keer wat “langanas” is waaroor Pieter Pieterse in sy Weskus kookboeke skryf en Uys Krige in sy bekende gedig: Ken jy die see, meneer?  Vir die meeste van die vissers beteken dit meer as 80% van hul jaarlikse inkomste! Geseënd!


Tussendeur raak ons eksperts op zoom vergaderings.

Gesels ons met vriende en familie op whatsapp video call asof dit dood natuurlik is.

En brei ek die een episode na die ander van Masterchef om. Naweke is lank daarsonder en ek is so bang dit raak op. Ons is juis reeds by "finals week"!


Daar gebeur nog ‘n paar sinnelose dinge en ek skryf dit hier sodat ons kan onthou. Om beter te probeer doen in die toekoms.  Die President se lockdown afkondiging was skaars gemaak op 23 Maart 2020 toe hoor ons dat die Nasionale Regering vir elke Munisipaliteit water tenke gaan skenk.  Ons kry ‘n e-pos van die Departement van Menslike Nedersettings wat sê ons kry drie 5000 liter tenke en die Minister wil dit self kom oorhandig.  Op 6 April 2020 daag die drie tenke by ons op.  Nou in Bergrivier Munisipaliteit is daar nie ‘n enkele huis wat nie toegang tot water het nie en die Regering weet dit want dit word op verskeie platvorms gerapporteer en is in al ons dokumente. Maar mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie en ons ontvang die tenke. Ons BK besluit dit moet in Goedverwacht kom op die sportveld sodat die gesinne in die laer dele van Goedverwacht toegang daartoe kan hê. Die hele Goedverwacht het water en ons en Provinsie het die afgelope 3 jaar nog R4 miljoen spandeer om hul waterbron te beskerm en die gehalte van hul drinkwater te verbeter, maar daar is ‘n paar waterdiewe iewers wat maak dat die water nie uitkom by die laerliggende huise nie. En ons kies die sportveld, want die tenke word die eiendom van die Munisipaliteit en ons mag nie eiendom aanheg aan grond wat nie ons s’n is nie. Die sportveld behoort ook aan die Morawiese Kerk tans maar ons is in die proses van Dorpstigting ens ens (te lang storie om hier te verduidelik – kom al jare aan).  Ons bou die sement platvorms waarop die tenke moet staan, installeer die tenke, maak hulle vol water, sorg dat die water drinkwater SANS gehalte is, sorg vir die veiligheid van die water, sorg vir die verspreiding daarvan, die kommunikasie van die projek en wat nog alles, maar die Minister wil op die foto verskyn vir sy Portfolio of Evidence.  Geen probleem daarmee nie. Ons reël die funksie vir die volgende Woensdag. Hoekom hulle in lockdown na ons toe wil kom en hoekom ons vreemde mense wil toelaat in ons gebied wat nog geen positiewe gevalle het nie, vra niemand nie en die wat dit dink het nie tyd om dit uit te spreek nie.  Die dag vooraf kanselleer die Minister.  Twee dae later (8 April) bel Rand Water en sê hulle is by Winkelshoek op die N7 met 6 water tenke vir Bergrivier Munisipaliteit. Ons vra of hulle seker is dit is vir ons, want ons het nie beplan om ‘n watertenk-winkel oop te maak nie, maar hulle is seker en laai die tenke af. Dit het 2500 liter kapasiteit per tenk. Ons weet nog nie waar om dit te gebruik nie en hou dit solank in veilige bewaring in ons tegniese dienste depot.  Op 16 April 2020 kom ‘n “dubble cab” bakkie met ‘n Gauteng registrasienommer en twee insittendes by ons aan en sê hulle wil asb die watertenke sien, want hulle is die moniteringsspan. Ons gaan wys hulle die tenke en hulle merk hul lys af en verkas oppad na Saldanha. Baie tevrede dat die tenke afgelaai is en dat daar ses is.  ‘n Uur later stop daar nog ‘n “dubble cab” bakkie met ‘n Gauteng registrasienommer en twee insittendes en vra hulle wil asb die tenke sien, want hulle moet die stickers plak om te wys dit kom van die Nasionale Departement van Water en Sanitasie! Ek lag maar hieroor sodat ek nie huil nie.  Wil jy nou vir my sê die moniteringsspan en die sticker-plak span van Rand Water toer nou deur SA na 257 Munisipaliteite om watertenke te tel en te merk waarvoor ons nie gevra het nie en wat ons nie krities nodig het nie. Ek kan nie wag om te sien wie volgende by ons gaan opdaag nie.  Maar ek maak notas. As ek die dag intrek in die ouetehuis gaan ek begin skryf aan my boek (of miskien skryf ek reeds daaraan!) en gaan ek ook verbygaande motoriste tot stilstand waai met my een arm terwyl my ander arm op ‘n kierie rus. En dán gaan ons gesels en al hierdie ou stories opdiep en uitruil!



No comments:

Post a Comment