Saturday, April 11, 2020

Genade in oorvloed...



As jy vir my twee maande terug gesê het dat ek my verjaarsdag in ‘n masker sal deurbring, sou ek gedink het ons praat van ‘n maskerbal!  Nie die heel beste fliekskrywer kon hierdie uitdink nie.  En so word ek 50 in lockdown en word dit miskien my heel beste verjaarsdag ooit!

Gisteraand bel vriendin Marietha en sê ag shame Hanlie, jy gaan nou alleen wees met jou verjaarsdag en wil ek haar nie 08:00 in SPAR kry nie, dan kan ek haar darem sien en kan ons twee meter uit mekaar uit loop en inkopies doen.  Dit klink toe heel opwindend en ek sien uit.  Gistermiddag het ek selfs parfuum en lippe aangesit om op my straathoek te sit en tee drink saam met twee buurvroue (elkeen in ons klein hoekie natuurlik), so hoekom sal ek ‘n uitstappie SPAR toe van die hand wys.  Ons parkeer agter en stap om...



 En daar word ek verras met bokse en bokse en bokse vol geskenke wat al my vriende in Piketberg deur die week vir my daar gaan afgee het. 






Wat ‘n fenomenale idee! Dankie Marietha! Ek sal dit nooit vergeet nie. En dankie aan elkeen wat ‘n geskenk vir my daar gelos het. Ek is nog besig om deur die kaartjie en al die bokse te gaan en wil die lekker so lank as moontlik rek.  Daars net iets aan plattelandse gasvryheid en hartlikheid wat mens nêrens anders kry nie. Ek is oorweldig met goedheid en guns.

Half tien is my volgende afspraak by SPAR met nog twee vriendinne, Carina en Sonja.  Ons het afgespreek om mekaar op die onderste parkeerplek te kry, maar dis die Saterdag van Paasnaweek en daar is vrek baie mense en nie plek vir “social distancing” nie, so ons besluit om uit te wyk na Shoprite se parkeer-area (ja julle is reg – die keuses van winkels is redelik beperk).  Daar kry ek hartlike elmboogdrukke en nog geskenke en gesels ons soos mense wat mekaar in 2018 laas gesien het.


Later ry ek huis toe onder luide gesang van Jo Black, maar vandag val sy “ons is gemaak om uit te gaan!” nie lekker op my oor nie.

Tussendeur lui my telefoon onophoudelik van lekkerte en kan ek nie glo hoe spesiaal dit is om van almal te hoor nie.  Snaaks hoe gewone goed wat ons ‘n maand terug nog as vanselfsprekend aanvaar het, skielik belangrik raak.  Vandag bel almal, ook hulle wat voor lockdown-tye miskien net op facebook of whatsapp sou geluk sê. ‘n Besonderse voorreg.  Selfs die personeel van die Ouetehuis sing: O Heer my God en Happy Birthday op 'n video!  Hoe bevoorreg kan een mens wees?



12:00 braai ons.  My bure aan die bokant, CP en Riana bring hul braaidrom tot op die hoek van hulle erf, ek sit op my hoek, Alida op hare en Japie en Magda op hulle hoekie en ons kuier.  Die tafelgebed was erg spesiaal en Oom Japie is aan die woord.  Ons strek ons arms uit soos mense wat in ‘n kring staan en handevashou. Myle uitmekaar uit, maar een in gebed.  Ek het ‘n koek gebak eergister en gister versier vir die okasie.  Nogal drie lae diep en ‘n nat karringmelk donker sjokolade gedoente wat die regiseur van Koekedoor sou laat aandag gee het en ons geniet elkeen ‘n stukkie vir poeding.





Laat oggend parkeer ons nood tandarts in my oprit en lewer hy die volgende pakkie by my af.  


Die instruksies is duidelik: Moenie oopmaak nie! Wag vir ‘n oproep. Hanteer baie versigtig!  Ek vrek oor ‘n verrassing.

Vanmiddag 16:30 hou ons ‘n zoom partytjie met die hele familie.  Eers het almal maskers op en daarna partytjie hoedjies en elke gesin het ‘n koek gebak vir my verjaarsdag.  






Ek kan uiteindelik die pienk boks oopmaak!  Ons steek gelyk kersies aan en blaas dood en hulle sing…  Nou sing oor zoom is ‘n interessant kanon, want die spoed van die wifi in elke huis verskil, maar ons steur ons min. Hulle kom darem almal op die ou end by 50 handeklappe uit (‘n fitbit se droom in hierdie droogtetyd). Daar is ‘n pragstuk van ‘n koek in die pienk boks wat Elsabe Truter op Piketberg gebak het.  ‘n Regte wow koek!


Later whatsapp video call ek verder met almal en nog wat ek kan nie wag om by al die boodskappe op whatsapp uit te kom nie.  ‘n Rykdom van jare se vriendskap.  Geliefd. Dis hoe ek voel. Ge-eerd en begenadig.  Dankie vir elkeen wat die moeite gedoen het om te bel, te whatsapp, te sms, op facebook te gesels, video’s te stuur, spesiale boodskappe te los en blomme gestuur het. Ek waardeer elkeen opreg.

My Hannes neef bel uit Panama.  Hy is daar vir Lockdown.  Hulle essensiële uitstappies om kos te koop mag slegs geskied gekoppel aan die laaste syfer van jou ID boek of paspoort.  Syne is 9 en daarom mag hy van 8 tot 10 op straat wees vir enige van sy essensiële behoeftes.  Nooit gedurende enige ander tyd nie. Nogal ‘n interessante manier om die lading te versprei.  My Elizan vriendin in Kanada bel laat middag.  Sy is saam met my in stomme verbasing oor die Here se genade in ons lewens.  Ons ken mekaar nou 30 jaar.

Hans en Femke uit Belgie.
Ivan en Esme uit Stellenbosch.
Wat sou ons sonder tegnologie gedoen het!

In die week voor my verjaarsdag het my familie elke dag 'n ander baba foto van my op ons familie whatsapp-groep se profielfoto gesit. En 'n aftel-speletjie gespeel waar elkeen elke dag se hoeveel dae daar oor is na my verjaarsdag toe.

Hier is die collage wat Corne hiervan gemaak het.

Iets om te raam as die raamplekke weer oop is eendag.

Die kleinkinders in die familie verras my ook met 'n video. Kinders is skaam en as dit nie vir Lockdown was nie, sou hulle nooit kon se wat hulle hier op video se nie. Heerlik! Die lied wat hulle as agtergrondmusiek gebruik se alles: Voel jy die genade? Ek doen!


Ek wens ek het woorde gehad om reg te laat geskied aan dit wat ek vandag ervaar het. Woorde ontbreek my. 




Toe die son vanoggend so oor Piketberg opkom, moes ek geweet het dit sou die spesiaalste dag word wat ek nog beleef het. Maar niks kon my voorberei vir dit wat sou kom nie. So baie dankie vir elkeen wat 'n aandeel hieraan gehad het. Ek lief julle.

Hanlie




No comments:

Post a Comment