Thursday, April 9, 2020

Brood wat lewe gee...


Gisteraand sit ons aan by ‘n virtuele nagmaaltafel saam met ons gemeente. Die video uit Johan en Marlien se eetkamer is al 203 keer afgelaai van youtube af. As huisgesinne dit saam gedoen het, soos wat die fotos op whatsapp na die tyd bewys, dan is dit definitief meer mense as wat ooit gisteraand so ‘n diens in ons kerk sou bywoon. Ek sou so graag die geografiese verspreiding van die nagmaalgangers wou sien, want dit ken nie gemeentegrense nie. Is COVID-19 besig om ook die liggaam van Christus te breek oor die wêreld en te versprei? Ek glo so.  My nagmaalwyn is Rum uit Cuba. Al wat ek in my huis het. Dis lockdown.


Johan herinner ons daaraan dat hierdie verhaal uit Lukas Jesus se lewe gekos het.

“Jesus het brood gevat en vir God dankie gesê:”

My gedagtes hardloop oor die afgelope twee dae en die brood waarvoor ons so dankbaar is. DSD se protokol en riglyne het uiteindelik gekom en ons kan begin aansoek doen vir die kwesbaarste gesinne vir kospakkies. Die Provinsie is in streke verdeel en elke humanitêre groep is ingedeel by ‘n streek. Ironies genoeg is die Islamic Relief Group verantwoordelik vir die Weskus.  Ons werk deur ons geregistreerde NGO’s en elkeen van hulle moet die gesinne wat sonder kos is identifiseer, vorms in drievoud invul en instuur nadat hulle bevestig het dat hulle die huis besoek het en weet dat die mense daar besig is om te sterf van die honger.  Ek hoop ons gaan kospakkies sien voor Kersfees.  Net in Bergrivier is dit 20 organisasies wat hiervoor verantwoordelik is en elkeen van hulle en hulle vrywilligers moet ‘n permit kry om te mag beweeg.  Ons deel ook vandag 400 kospakke uit wat deur die Munisipaliteit self aangekoop is. Ons het al die orige wyksgelde bymekaar gesit, nog oorgedra uit ander fondse en op tender uitgegaan.  Selfs in ‘n Nasionale Ramp moet al die regte prosedures gevolg word en waar ons afwyk moet dit by die eerste Raadsvergadering gerapporteer word. Ons mense kan sterf, maar comply sal ons comply. Was nog altyd vir my ‘n frustrasie. Nou nog meer.
Soos alle ander Munisipaliteite kry ons ook wonderlike skenkings van die groot maatskappye binne ons grense en ons is so dankbaar daarvoor. ‘n Produsent op die berg skenk 800 kg appels, individue skenk geld (aan ons en aan die NGO’s) waarmee ons kos kan koop, boere skenk aartappels wat alles so baie sal help om mense deur Paasnaweek te trek. Ons haweloses het aangegroei.

“Dit is my liggaam wat so gebreek word…”

“Jesus vat toe die beker en sê: die wyn staan vir die nuwe ooreenkoms waarin ons staan omdat my bloed gevloei het vir jou…  Onthou wat Ek vir julle gedoen het.”

Dit sal die eerste Paasfees in my hele lewe wees wat ek alleen tuis is. Gewoonlik is ons familie in Stilbaai almal saam en gaan ons saam kerk toe.  In 2001 het ek na die Diener-kinders gekyk terwyl Pieter en Elsje oorsee is. Dit was oor ‘n Paasnaweek en ek en die kinders was in Stellenbosch vir die Vrydagoggend stil-nagmaal en het later daardie dag Pearly Beach toe gery.  Volgens google is daar 104 mense dood op SA paaie oor die Paaslangnaweek in 2019. Ons dodetal in SA vir Corona staan tans op 18.  Mens hoef nie goed te wees in wiskunde om te weet dat ons die Paasnaweek begin met -86 nie.  Dit kan dalk die Paasnaweek word met die minste mense dood in menseheugenis. Wie weet.

“He gives us shelter…”

As jy my ‘n maand terug gevra het hoeveel hawelose mense het ons in Bergrivier, sou ek nie geweet het nie. Ons weet van 12 onder die brug by die N7 en nog ‘n handjievol onder die treinbrug en een wat langs Jet slaap en in Velddrif van ‘n paar, maar ons het nog nooit ‘n Nagskuiling gehad nie.  Nou weet ons. In Piketberg is daar nou al 35 in die tydelike skuiling. In Velddrif meer as 50 in tweeman tentjies op die Smit Sportsgrond, in Porterville 20 op die skougronde en die sportgronde.  Gewoonlik onsigbare mense wat ons nou elke dag face en goed leer ken. Elkeen iemand met ‘n storie, met ‘n familie iewers, hopenlik met ‘n toekoms.

Die res van gister gaan in reëlings vir die “community testing” wat uitgerol word. By ons gaan Departement van Gesondheid Woensdag begin en via die mobiele kliniek die digsbevolkte gedeeltes va Piketberg eers screen en dan die mense toets wat die aftik-vraelys gedop het.  Omdat daar so baie “fake” nuus die rondte doen oor hoe die toetsing plaasvind, vra ek spesifiek uit. Nou hier is dit:  Die screening gedeelte is ‘n vraelys wat ‘n gesondheidswerker een-op-een met jou behandel en vir jou vrae vra oor met wie jy in aanraking was en watter simptome jy het. As een of meer van jou antwoorde ‘n regmerkie tot gevolg het, stuur hulle jou deur na die mobiele kliniek op die toneel en word jy deur ‘n opgeleide verpleegsuster getoets met ‘n keelswap.  Ek ken hulle goed want toe ek nog in Stellenbosch Munisipaliteit gewerk het, het iemand een middag met ‘n koevert in my kantoor opgedaag (ek was Hoof Regsdienste – so dit was voor 2001) waaruit wit poeier gesyfer het.  Toe is ek en my kollega Jo-ann in ‘n rooi brandweerlorrie Somerset-Wes toe gejaag om 6 ure in ‘n wagkamer te sit om geswap te word.  ‘n Swap lyk soos ‘n lang oorstokkie met watte net aan sy een kant. Die suster sal dit in jou mond druk en ‘n vinnige vee gee agter in jou keel. Dit is niks seer nie en vat ‘n sekonde of twee. Dan stuur hulle die swap na ‘n laboratorium en begin die wag om te kyk of jy positief is.  Met die Anthrax bedreiging het ‘n 23 jarige aspirant dokter ons huis toe gestuur en gesê as ons nie môreoggend dood is nie, was dit nie Anthrax nie.  Ek het die Dieners gebel op Stellenbosch en gevra of ek asb die nag by hulle kan kom doodgaan.  Wel, die dokter was reg. Dit was nie Anthrax nie.

Ons betrokkenheid by die community screening is die kommunikasie vooraf via sosiale media en met ‘n megafoon deur die strate die dag vooraf, die veiligheid van die mobiele kliniek en die personeel in die gemeenskap, die skare beheer tydens die operasie en dan as die toetse terugkom en iemand toets positief en moet geisoleer word, dan begin die werk.  In die digsbevolkte gebiede is daar geen kans vir tuis-isolasie nie. Hier bly 12 – 15 mense in een RDP huisie so groot soos ‘n garage.  Dan moet die Munisipaliteit en die Departement van Gesondheid “Isolation Sites” voorsien waar hierdie mense kan bly vir minstens 14 dae. Natuurlik met kos, toesig, toegangsbeheer, slaapgeriewe, wasgeriewe en wat nog nie alles nie. Ons ondersoek tans ‘n klomp moontlikhede en het darem nog 7 dae om dit uit te rol.

Johan sluit af: “Where there is no peace on Earth… There is peace in Christ.”

Later bevestig ons President: twee weke meer. So vandag is weer dag 1. Dis so eenvoudig soos dit.

Ons kan en ons sal, want Christus het.





No comments:

Post a Comment