Friday, April 24, 2020

Super mark!



Onthou julle hoe ons in die ou dae vir mekaar sou sê: “Ek gaan gou winkel toe.”  Dis so 2019.  Vanoggend staan ek 51 minute (ja dis hoe my kop werk – van altyd af tel ek dinge) aan die buitekant van die winkel (gelukkig in die koelte) voordat ek die voorkant van die tou bereik en toe weer 16 minute in die afgebakende ry om te betaal.  Maar ons kla niks nie.  Ek ontmoet selfs vir André in die ry voor my. Hy is bekommerd oor die risiko vir hulle gesin, want sy dogter studeer medies en sy ander kind werk in die apteek.

Ek kry ook weer vir Tannie Rosie. Sy was een van die eerste engele wat ek ontmoet het toe ek Piketberg toe gekom het. Sy het by De Berge Gastehuis gewerk waar ek die eerste maand en ‘n half van my Piketberg-lewe gebly het toe ek in Desember 2012 hier begin het.  Tannie Rosie het vir my uitgekyk en baie noodsaaklike weet-dinge van die dorp met my gedeel.  Sy is intussen afgetree en ek het haar nog nie weer gesien tot vanoggend in die ry nie. Sy het intussen ‘n heupvervanging gehad en staan swaar in die ry.  Die 51 minute vang haar en ons soek later ‘n stoel om haar te help. Sy hang later sommer oor die vullisblik.  Ek dra haar swaar pakkie wat sy reeds by ‘n ander winkel gekoop het. Hoe sy met alles by die huis gaan kom weet ek nie. 

Die COVID-19 plakkate opgeplak by Boland Superspar.

SPAR doen die regte ding en laat niemand in sonder ‘n masker nie. Ek gaan soek ‘n spaar masker in my motor vir Tannie Rosie.  Ook André leen een by my om in te gaan.  Ek onthou later van sy hoë risiko familie en gooi die geleende masker dadelik in dettol by die huis.
Ek gaan laai ook groot sakke geskenkte sopvleis by Liebco op en Jacobus gooi pakke gevriesde groentemengsel ook in die boks. Hoe sal ons ooit die storie kan vertel van al die welwillendheid in Suid-Afrika.  Die grootste biblioteek sal te klein wees.  Tuisgekom laat weet ek twee kerkwyke, wat ook besig is om sop te kook vir die ACVV en Badisa, van die vleis en dat ek sal aflewer vir wie ookal kan gebruik.  Een Oom se vrou stuur later ‘n boodskap terug en sê die Oom vra of ek nie ook by TOPS ‘n skenking gekry het wat ek uitdeel nie. Ek is mal oor ons humorsin.  So sal ons dit maak. Grappie vir grappie.



In die ry in die supermark, waar ons wag om te betaal, verluister ek my aan die ekspert agter my wat genoeg ure voor die kassie deurgebring het en aan die hele winkel uitsaai wat sy weet oor die virus.  Sy is erg verontwaardig dat hulle kan dink om die skole oop te maak in Mei en is later amper emosioneel oor die 750 kinders in die skool wat 35 in ‘n klas is en wat almal gaan aansteek.  Ek kan sien dit pla haar regtig, want die masker wil-wil nat word aan die bo-kant.  Ek wou haar sê dat ek meer bekommerd is oor die ander skool op ons dorp met die 2400 kinders wat 58 per klas sit, maar wou haar nie verder ontstel nie. Miskien het sy regtig nie die vermoë om nou verder te rou as net haar eie omstandighede nie.  Dis verstaanbaar.

By die Munisipaliteit het die Provinsiale Regering se Departement Plaaslike Regering R16,2 miljoen gaan uitkrap en prioriteite verskuif om aan die 24 Plaaslike Munisipaliteite in die Wes-Kaap geld oor te betaal om kospakkies (hampers) aan behoeftige huishoudings te voorsien.  Bergrivier Munisipaliteit kry R600 000.  Alles wat ek hier in een sin sê het verlede Maandag in ‘n Kabinetsbesluit begin, is in die Government Gazette afgekondig die volgende nag en is per kontrak beklink tussen die HOD van Provinsie en die Munisipale Bestuurder van elke Munisipaliteit voordat geld oorgedra kan word.  Nou begin die supply chain management proses aan ons kant en moes Nelmarie, Israel en Andrewline ure spandeer om kwotasies te kry. Ek keur ‘n afwyking goed vir noodaankope en daarom hoef ons nie nog 7 dae op tender ook uit te gaan nie.  Ons sukkel om genoeg voorraad te kry. Samp is lankal uitverkoop aan die Rampbestuursentrums in SA en mieliemeel en koekmeel is so skaars soos hoendertande. Ons wil ons geld so ver as moontlik rek om soveel as moontlik huisgesinne te kan help en gebruik die 37 bladsy riglyn-dokument wat DLG uitgestuur het om die inhoud van die hamper te bepaal.  Ons Burgemeesterskomitee neem die finale besluit oor die inhoud en ons bel elke verskaffer binne ons grense en baie daarbuite om te sien hoe vinnig ons die hamper-inhoud hier kan kry.  Ons werk saam met die kerk vir stoorplek en hulle maak ook 100 vrywilligers bymekaar om vroeg volgende week die hampers te pak.  Daarna sal dit na al die wyke in Bergrivier versprei word.

Ons kry ook wonderlike skenkings van die besighede in ons omgewing en ek sal nooit genoeg kan dankie sê nie.  Ook aan elke individu wat hand in eie sak steek en skenk wat hulle kan.  Dis ‘n aangrypende tyd om mens te wees.  Ek lees weer my eerste COVID 19 blog-inskrywing op 27 Maart 2020 en besef dit waarvoor ek gehoop het het presies so gebeur en baie meer.  Net sodra ek wil moedeloos word of moeg word, dan bel iemand wat sê die Here het my nou so op hulle hart gesit hulle kon nie anders nie.  Dankie aan almal!  Hou asb aan bid.  Ons gaan hier deur kom. 
Ek ruik nou eers sop wat brand!
Vanoggend vroeg whatsapp video call ek met vriend Stephan in Kolbe in Japan. Hulle kry ook baie swaar daar.  Van julle sou al sy video’s op facebook gesien het. Indien nie, google Missie Japan of soek Stephan op facebook.  Hy is ‘n predikant en een van die boodskappe wat die Here op sy hart gesit het tref my opnuut vanoggend.  Ons sê altyd as daar hoop is, is daar lewe.  Seker agter Anne Frank se bekende aanhaling aan.  Maar die waarheid is: as daar lewe is, is daar hoop.  Christus is die weg, die waarheid en die lewe daarom is daar Hoop!


Ek besef gistermiddag dat ek 15 Maart laas aan enigiemand gevat het of enigiemand aan my.  COVID-19 no touch zone!  Dit slaan my soos ‘n hamer voor my kop.  Na 50 jaar is ek nogal ‘n ekspert op enkellopend wees en pla dit my meestal min.  Okay, sekere goed is moeiliker as ander.  Ek het geen probleem om alleen te gaan fliek nie, maar alleen in die kerk sit is moeilik en as ek oorskiet-kos eet voor die heruitsending van Noot-vir-Noot op ‘n Sondagmiddag 13:00, sou ek net sowel my polse met ‘n stop skêr kon afsny.  So, ‘n mens leer om pro-aktief te wees.  Ek sorg dat ek al teen ‘n Woensdagaand my uitstappies saam met vriende vir die naweek gereël het en as ‘n familie my net te hartlik groet by die kerk, nooi ek myself vir middagete by hulle.  Dis hoe dit is. Dis hoe enkellopendes oorleef.  En so is daar duisende mense in SA wat alleen deur Lockdown is.  Wees versigtig as julle ons groet na 1 Mei.  “Social distancing” kan problematies raak. :-)

Gisteraand het die President weer vir ons “marching orders” gegee.  Ek is so trots op hom. Okay! Spot maar! Hy het gesukkel om sy masker deur die ore te werk, maar wys my een mens wat nie daarmee sukkel nie. Gelukkig het hy geen gebrek aan leierskap, geloof, geloofwaardigheid of karakter nie. Hy sê dat ons sedert 1 Mei 2020 op vlak 4 sal wees en dat mense mag sigarette koop en met hul honde gaan stap.  Ek het nie een van die laasgenoemdes nie, maar is dankbaar want dit gaan ‘n groot % van die oproepe verminder.  Ek het klaar besluit wat ek op 1 Mei gaan doen...  Ek gaan 07:00 die oggend die bergpad stap in Piketberg. As ek bo by die reservoir op die kontoerpad klim, gaan ek uitkyk oor die voorbereide lande van die koringboere in Bergrivier en gaan ek saam met Jo Black skree: Voel jy die genade....! 

Mag elkeen van julle elke dag in die res van Lockdown Sy genade tasbaar voel.


No comments:

Post a Comment