Monday, April 6, 2020

Op my nugter maag...




Dit het lekker gereën by ons laas nag. Al die veld is vrolik en die voëls hier buite op my stoep het geen idee van die gewigtigheid van die sake wat ek vanoggend moet hanteer nie. Gisteraand laat kom ‘n skrywe in vanaf Nasionale COGTA. Dit is Plaaslike Regering se Nasionale Departement.  Die waarnemende Direkteur Generaal (ek wonder vir ‘n sekonde waar die regte DG is, maar het nie tyd om te lank daarby stil te staan nie) het die brief al op 3 April 2020 geteken en ek wonder op wie se tafel het dit so lank gehuiwer, voordat ons dit kry. Dit maak ons antwoord tyd omtrent nul.  Maar niks waaraan ons nie lankal gewoond is nie.  Vir die meeste parlementêre vrae wat ons weekliks beantwoord het ons 2 ure, so hierdie is heel doenbaar.  Hulle soek ons gewysigde begrotings voor 12:00 vandag en ook ‘n aanduiding van alle privaat begrafnisondernemings in ons gebiede (met GPS koordinate), lykshuise en krematoriums en wat elkeen se kapasiteit is en ‘n aanduiding van hul huidige funksioneringskapasiteit.

‘n Ander skrywe van Departement van Gesondheid dui aan dat alle COVID-19 sterfgevalle veras moet word.  Ek onthou die dae en nagte se publieke deelname wat ons al hieroor met gemeenskappe gehad het om begraafplaas-spasie te spaar en gemeenskappe aan te moedig om eerder die opsie van verassing te kies en ek weet net hierdie gaan ‘n tammaletjie wees. Epidermiese proporsies sou Oom Oubaas gesê het. En die trauma wat daarmee gepaard gaan, gaan ons nog lank oor studies doen in die toekoms.  Ons moet ook aandui watter van hierdie gevalle is toegerus/gesertifiseer om Corona-verwante gevalle te kan hanteer.  Wie sou hulle gesertifiseer het? Wanneer sou dit gebeur het?  Ons moet ook aandui hoeveel grafpersele ons beskikbaar het in elke Munisipaliteit.  Ek doen op die oomblik “intermittent fasting” oppad Paasfees toe en moet al hierdie goed op ‘n nugter maag hanteer.
Later het ons ‘n MS Teams vergadering tussen al die Munisipale Bestuurders in die Wes-Kaap en die Hoof van elke Provinsiale Departement en gee Departement van Gesondheid vir ons ‘n oorsig soos wat ook elke dag in skrif deurgegee word. Daar was teen gisteraand 460 gevalle in die Wes-Kaap wat positief getoets het vir die Corona virus. Die plaaslike oordrag raak meer. 26 gevalle is in hospitale opgeneem en daar is meer siek mense in ICU’s. Die Wes-Kaap begin vandag met “community screening” (jammer vir al die engels, maar dis hoe ons dit kry) en ons hoor waar al die plekke beplan word. Twee oefenlopies is die naweek afgehandel.  Hierdie gemeenskap-toetsing sal meer gevalle uitwys en ook patrone uitwys waarby ons kan leer.

Dwarsdeur die hele vergadering maak ek net een aantekening in my boek se kantlyn: Onthou dis mense! Elkeen van hierdie statistieke is ‘n mens. Met ‘n familie, met ‘n geskiedenis, met ‘n toekoms!
Ek lees in die Daily Maverick (wat skielik elke dag in my inboks beland het sonder dat ek dit bewustelik gekies het) dat die Eerste Minister van Engeland, Boris Johnson, in die hospital opgeneem is vir Corona (welliswaar volgens die media net as ‘n voorsorgmaatreël) en dat Koningin Elizabeth ‘n toespraak gemaak het.  Slegs haar 5de openbare rede aan Engeland in haar lewe! Ek kyk daarna op my rekenaar en kan nie glo sy is 93 nie. Formidabel.  Ek verstom my aan die slap maatreëls wat Engeland in plek het. Almal loop in parke rond en al voorsorg wat hulle het is spasie tussen mekaar. Geen lockdown nie.  En dit met 48 000 positiewe gevalle en amper 5000 mense reeds dood.  Ek is baie dankbaar vir ons Regering en die spoedige lockdown in SA. Ja, dis ongerieflik, maar dit kan ons red.

Gster het twee groot hoogtepunte opgelewer: die bakkie tamatiebredie wat Tannie Alta van Dyk vir my op haar stoep gelos het en ek gekry het toe ek haar inkopies gaan aflaai en 'n video deur my Elna-sussie se vier kinders oor hoe hulle lockdown oorleef. Beide goud werd!

Tannie Alta mag maar tamatiebredie maak...

Later skryf my Ma vir my op 'n whatsapp: "Jy bly tussen goeie mense. Ek is baie dankbaar daaroor."  Ek ook.

Ek moet nou eers grafpersele tel.  Mag ons hopeloos te veel hê vir dit wat kom.

No comments:

Post a Comment