Dis asof selfs die virus weet dit is Paasnaweek…
Dit voel vir my of ek gister en vandag op ‘n go-slow is in
die lockdown. Dit is erg. Ek doen niks.
Of in elkgeval so min as moontlik. Die
kospakke van die Departement van Sosiale Ontwikkeling het gister al gekom. Baie
vinniger as wat ons ooit kon droom en dit help baie. Daar is soveel mense vir
wie die Paasfees nie gister ‘n skaapboud, kerrievis of hot cross buns opgelewer
het nie en ook nie gaan in die volgende maande nie. Ons gee vandag
ondersteuning aan DSD om die pakke almal op die regte plekke afgelewer te kry.
Felicity klink moeg toe ek met haar oor die telefoon praat. Daar is ‘n magdom
mense agter die skerms besig en hulle is besig om moeg te word. Ek sien dit ook gister in Kapt Hunt se gesig
toe ek hom en Timmie op die N7 sirkel in Piketberg kry. Ek bied vir hulle
verjaarsdagkoek aan wat ek agter in my kar se "boot" rondry om uit te deel aan
die essensiële
werkers. Victor wys dit van die hand. Hy is nie ‘n soetmens nie, maar vra dat ek
syne ook vir Timmie gee. Die afgelope
drie weke lê
in harde lyne oor sy gesig. Onwegsteekbaar.
Ek onthou toe ons in 1997 as gesin saam getoer het Amerika
toe op koeksister-verkope geld en aangevuur deur ‘n droom van my Ma, het die
onderwêreld
van Disney World in Florida my erg beindruk.
Hulle noem dit die “utilidor” wat bestaan uit “utility tunnels” wat
onder elkeen van Disney se Parke loop.
Dit gee toegang tot al die agter-die-skerm-werknemers om die
ondersteuningswerk te verrig sonder dat enige van die miljoene toeriste dit ooit
sien. Fasinerend. Die ondergrondse
tonnels in die Magic Kingdom in Florida beslaan 3,6 hektaar en al die tonnels
is in verskillende kleurkodes om dit maklik te maak vir personeel om te weet
onder wat hulle is op enige gegewe moment.
Die personeel kruis die tonnels per voet en ook met battery aangedrewe
karretjies. Dit is ook nodig omdat daar
70 000 mense werk en deur die 68 miljoen besoekers ‘n jaar vertrap sou
word. Maar ek raak meegevoer…
Terug by ons marathon en ons moeë werkers. Onder en agter ons COVID Kingdom op die
oomblik hardloop daar ‘n magdom moeë mense sonder battery aangedrewe
karretjies teen ‘n spoed wat meer gemaak is vir ‘n korter afstand. Daar is ‘n paar goed wat ek geleer het tydens
die marathonne in my lewe. Nee, ek het
nooit verder gehardloop op ‘n keer as ‘n 21,2 km (halfmarathon) nie. Ek dink
die 25 km by Rooi-Els saam met Fiefie toe ons studente was, was die verste. Ek
was byna dood daardie dag, want ek het vergeet ek het gaan bloed skenk in die
week vooraf, maar dis ‘n storie vir ‘n ander kampvuur. My marathonne was die berge wat ek geklim het
in my lewe, die ultra bergfietsmarathonne wat ek gery het, die opdraende pad om
weer te loop nadat ek my knie gebreek het met river-rafting op die Wit Nyl in
Uganda gedurende Oktober 2010 en die pad van vergifnis en herstel nadat die
ex-Burgemeester van Stellenbosch my sonder rede 24 uur kennis gegee het in ‘n
e-pos na 18 jaar diens daar.
Sulke uithou-geleenthede leer ‘n mens baie:
Jy moet na jou lyf luister.
Jy moet jou pas hou en nie probeer om by iemand langs jou
aan te pas nie.
Jy moet genoeg stoppe langs die pad inwerk. Al kos dit tyd op die korttermyn, is dit al
manier hoe jy die langtermyn haal.
Jy moet die einde kan visualiseer. Jouself voortdurend
daaraan herinner en dit in jou kop afspeel.
Jy moet waak oor jou gedagtes. Daar is ‘n rede hoekom die
Bybel sê:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele
lewe.
Jy moet weet dat ophou nie ‘n opsie is nie. The distance is nothing… It is only the first
step that counts.
In my jaar in SALVKOL het ek geleer dat as jy doodmoeg plat
val na ‘n jaag-sessie deur Kpl Longland van ure, dan het jy nog net ‘n klein persentasie van jou
krag gebruik. Jou reserwe krag skop dan eers in en dit is baie meer en baie
sterker as wat jy weet. Ek dink altyd
aan ‘n 4x4 voertuig met ‘n spaar brandstof-tenk wat veel groter is as die primêre
tenk. As jy net met die 4x4 in die dorp
rondry en gereeld diesel ingooi, sal jy nie eers weet daar is ‘n spaartenk nie.
Dit is eers as jy sonder brandstof gaan staan in digte sand in die woestyn van
jou lewe, dat die 4x4 outomaties oorskakel na die spaartenk wat veel groter
is. Ons gaan in die volgende paar maande
ons spaartenke nodig kry. Is joune vol?
Ons President stuur ook vandag ‘n brief oor die skokkende
geweld teen vroue en kinders wat tydens die COVID bedreiging in die wêreld
hoogdy vier. Nie net in SA nie, maar in
baie lande van die wêreld is dit ‘n groot probleem. My sussie skryf: “Dis
ondenkbaar erg! Wens hulle kon al daai “abusers” saam op een plek isoleer” en
verwoord daarmee my hart ook. Ons sal
die advertensies moet verander van BLY TUIS! Na HOU JOU HANDE TUIS! (nadat jy
dit vir langer as 20 sekondes gewas het natuurlik!) Ek is ontsteld hieroor. Dit is die heel
laaste ding waaroor enige vrou of kind nou moes worry. Geweld in die plek waar
jy nou die veiligste moes voel.
Ek dink
ook vanoggend lank oor die uitdroogpad van baie in hierdie tyd. Met drank en dwelms wat ook nou in lockdown
is, sal baie middel-afhanklike mense in hul eie huise uitdroog. Normaalweg vind
dit plaas in ‘n sentrum waar opgeleide personeel die onttrekkingsimptome en
uitbarstings hanteer. Nous al baie mense deur onttrekkingsimptome gaan in hul
eie huise en by familie wat nie hiervoor opgelei is nie. Ons gebedslysies is reeds lank, maar ek sit
vanoggend hierdie ook op asb. Vir wie
bid jy almal? Ek hoop vir elke leier,
vir elke gemeenskapswerker, vir elke gesondheidswerker, vir ons President (ja
hy is ook in die leiergroep ingesluit, maar ek dink hy verdien sy eie
gebedslot), vir die mense wat nie kos het nie en nie kan werk om die
moontlikheid van kos te bring nie.
Ons het ook so baie om voor dankie te sê. Een van die groot lekkerkry oomblikke in my
Paasnaweek was om te hoor dat die 34 hawelose mense in Piketberg Vrydag hul eie
opvoering gehou het oor die kruisgebeure.
Seker kompleet met die geskenkte klere, soos wat ons as kinders met die
rommelklere gespeel het voordat dit verkoop is. ‘n “Perk” van ‘n predikantskind
wees.
Gister vertel Kapt Hunt my van B wat ‘n week terug op
Piketberg aangekom het. Hy is bekommerd oor haar en gee haar adres dat ek haar
situasie vir Badisa kan deurgee sodat ons ook vir haar kan aansoek doen vir ‘n
kospakkie. Later whatsapp hy my haar
volle name en ID nommer. Ek klim in my kar en gaan soek haar. Sy kruip tans weg
in ‘n bouval in Piketberg. Ek kyk deur die venster wat met ‘n los plank
oopgehou word en die vloer van die twee vertrekke wat ek kan sien in die half
skemer in die huis, is papnat. Sy loer
deur die venster met skaam gesakte oë. Sy vertel haar storie omdat ek
uitvra, maar onwillig. Ek gee vir haar twee sakke met goed wat ek inderhaas
bymekaar gegooi het. Ek voel simpel oor die eiers. Sy het net ‘n ketel en die
elektrisiteit in die bouval is ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur. Ek skat
haar seker 40. Sy het ‘n seun van 23 wat in die Kaap is. Sy kom uit ‘n
safehouse in Gauteng. Ek voel sleg omdat ek wonder hoeveel van hierdie die
volle waarheid is. Ek bid vir wysheid en onderskeidingsvermoë. Later vra ek of ek vir haar kan bid. Ons
beide huil die gebed deur en ek sê nie amen nie. Die gebed sal vir dae
nie klaar wees nie. Haar vaal oë bly voor my sedert gister en sal nog
vir lank. Hoeveel kan een mens in hul lewe verduur? Ten minste het die
marathonne in my lewe elkeen ‘n begin en ‘n einde gehad.
Mag die marathon waarmee jy tans besig is, uithoudbaar wees. En mag jy weet dat dit altyd te vroeg is om op te gee...
Baie liefde,
Hanlie
Here help ons om te weet waarvoor om te bid. Amen.
ReplyDelete