Thursday, April 2, 2020

As 'n spekboom se blare hang...


My foon was stil laasnag… Dis asof die gemeenskap nou hul lot begin aanvaar.  Die duisende vrae en argumente het plek gemaak vir gelatenheid.  Die eerste oproep kom eers na 06:00 in toe ek al met my tee op die dek sit en kyk hoe Porterville wakker word.  Ek weet wat julle dink, maar dit is nie ‘n Oom met ‘n hond nie, selfs hulle is nou stiller.  Ons moet die publieke toilette in elke dorp met ontsmettingsmiddels spuit voordat die landbouers hul mense vandag en môre inbring winkel toe.  

Ons spanne werk hard. Ek is so dankbaar en trots op hulle.  Daar is die wat kanse vat, soos in enige situasie. Selfs ‘n groepie wat ‘n lang brief geskryf het (duidelik iewers ‘n verveelde jong prokureur) oor die “danger pay” waarop hulle in hierdie tyd geregtig sal wees. Nice try.

Die wind het gedraai iewers deur die nag. Ek ruik my kaggel tot in my oop vertrek met die wêreldkaart teen die muur wat wys waarheen ek al orals getoer het.  Dit staan nou op 53 lande en 26 state van Amerika. Hulle tel ek apart omdat my Ouma ‘n Amerikaner is en ek in my ouers se voetspore al 50 state wil toer eendag.  Ek wonder of toer ooit weer dieselfde sal wees. 

Gisteraand net voor 22:00 het die wêreld gesamentlik die 1 miljoen bevestigde geinfekteerde merk bereik. Met 52 000 (afgerond) sterfgevalle waarvan corona.tuply.co.za se trekker weet.  Ek kyk gisteraand oor Sky News ‘n dokumentêr oor die Noordelike Provinsie van Italië wat tans nog die episenter van die virus is. Hulle wys hoe lyk dit in een van hul beste hospitale. Wêreldklas, maar totaal ontoerykend.

Ek spuit my tuin nat. Reg rondom die huis. Die voëls het aangegroei. Die suikerbekkies is geil by die rooi bottel en selfs ‘n Jan Groentjie ook vanoggend. Hy is geniepsig en jaag die rooibandjies.  Ek praat met die Jan Frederick en die duiwe wat so mors en stap om na die voortuin om ook die aalwyne en spekbome nat te gooi. Hannie en Mark het ‘n hele rytjie spekbome aan die gastekamer se kant langs die muurtjie tussen my en Leon se oop erf geplant. Met sy toestemming natuurlik. 

Die spekbome se blare hang. Ek steek vir hulle ‘n prekie af. Dis nou sommer nonsens. Hulle is gemaak om in die moeilikste omstandighede te moet oorleef. Hulle moet koolstofdioksied omsit in suurstof lank nadat alle ander plante moed opgegee het. Hulle is ons voorste soldate in die oorlog teen klimaatsverandering en nou wil hulle gaan lê oor ‘n virus en as Piketberg vir een dag weer ‘n onverwagse 37 grade uitslaan soos gister. Se voet.  En ek weet eensklaps ek praat met myself. Dit slaan my volrond voor teen die kop. Dis wat sedert lockdown in my kop woeker. Wat as die spekboom se blare hang?

‘n Goeie vriend stuur gister hierdie boodskap: Sterkte Hanlie. Die Here woon in jou. Tel tot tien en laat die Gees verbykom en jou rus gee. Ek dink hierdie kan ‘n lang afstand raak en ek weet nie van impakspelers op die bank in jou plek nie…

Ek weet twee goed: Die Here is al impakspeler wat ons nodig het. Altyd.  Dit sê die Bybel op soveel plekke. Met my God loop ek ‘n oormag storm. Met my God spring ek oor ‘n muur. En die dag as die spekboom se blare hang, sal die Here ander plante oprig om in vol blom te staan. Dis so eenvoudig soos dit.




My lessenaar tuis kyk uit op my dek. Dit is waar ek my tydelike kantoor opgeslaan het. Ek het gister ure spandeer om namens al die Munisipale Bestuurders in die Weskaap (en ander wat dit wil gebruik) sin te maak van al die wetgewing wat die laaste twee weke uitgekom het. Daar is 41 stukke sover. Dit beslaan 324 bladsye en 6 is al weer gewysig ook. Een is selfs teruggetrek sonder wysigings. Selfs deur al hierdie wetgewing is daar steeds talle onduidelikhede: Mag sigarette verkoop word of nie? Elke bron verskil hieroor. Hang seker af hoe sterk die bron se afhanklikheid is.

Sterkte vir elkeen van julle vir dag 8 van lockdown. Mag al die spekbome in jou en rondom jou stewig staan. En mag hulle weet waar hul Krag vandaan kom in die dae wat hul blare wil hang...

No comments:

Post a Comment