Tuesday, March 31, 2020

Nuut elke more...




Ek was die hele nag op ‘n lughawe besig om my tas te soek. Carina, jy was saam met my daar en het geduldig by jou tas sit en wag. Ook vriende wat ek lanklaas gesien het en selfs een saam met haar ex-man het hul verskyning gemaak. Nodeloos om te sê is die tas steeds soek. Asof ek nou kan bekostig om moeg op te staan in die oggend! Gister was ‘n vol dag. Ons was by die werk besig met essensiële dienste.  241 van Bergrivier Munisipaliteit se personeel lewer essensiële dienste aan die publiek tydens die Lockdown-periode en agter die skerms moet aankope, uitgawes, inkomste en alles aangaan soos normaal. Gister kry ons verdere skenkings vir die haweloses (baie dankie almal!) en trek ek kontrakte op vir elkeen om te verseker dat hulle weer ons persele sal verlaat na afloop van die 21 dae.  Nie maklik nie. 

Ook steeds talle navrae oor wat gedoen mag word en wat nie.  Een van die winkels in ons regsgebied moet aangespreek word want hulle stuur publiek huis toe wat daar aankom sonder maskers. Ai.  Die oorvloed inligting maak almal deurmekaar. Op versoek van die Polisie verkort ek die handelsure van huiswinkels en spazashops.  Dis net te moeilik om hulle te kontrolleer na donker in die aand. Ons Polisiehoof in Porterville bel my toe sy die bevestiging daarvan kry en sê sal gaan my oopmond soen as die virus eers verby is ;-)

Gistermiddag kon ek darem met my bure aan die bokant oor die straat staan en gesels terwyl ek tuin natspuit. Was heerlik! Ons beplan sommer ‘n straatbraai vir wanneer alles verby is.
Vandag is dit ons en kwarentyngebiede.  Saam met Departement van Gesondheid moet ons in al ons dorpe plekke identifiseer wat gebruik kan word vir wanneer hospitale nie meer die lading kan hanteer nie. Vir mense wat simptome het, maar nie siek genoeg is om ‘n hospitaalbed te regverdig nie.  Weskus Distriksmunisipaliteit bevestig dat die Departement van Sosiale Ontwikkeling verantwoordelik sal wees om die mense in kwarentyn kos te gee. Die hoe moet nog uitgewerk word.
Vanoggend vroeg hoor ek al die wetstoepassingsbakkie in wyk 4 Piketberg rondry en oor die megafoon mooi vra dat mense vandag net swartsakke sal uitsit en die herwinningsakke sal los. Wat ‘n wonderlike span mense het ons nie. Gister sit een van ons wetstoepassing-manne langs my by my lessenaar (op die oorkantste hoek – ons is versigtig) en lees die lang lys name met ID nommers vir my af vir elke kontrak. Hy sukkel met die Xhosa name en ek help hom uit my dae in die SANW se Groep 40 in Khayalitsha. So gesels ons sommer oor sy lewe en myne en dink ek later: wanneer sou ek en hy nou ooit langs mekaar opgeëindig het langs ‘n lessenaar vir ‘n geselsie as dit nie vir die virus was nie.  ‘n Mooi geleentheid.

Die hoogtepunt van my aand gisteraand was om met my hele familie ‘n zoomgesprek te hê. Ons het eers almal na die President geluister om 19:40 en toe gepraat.  Die President se boodskap is gerustellend en help ons, maar dit bring ook nuwe uitdagings wat ek nog nie weet hoe ons dit gaan implementeer nie. Die kwarentyngebiede is een daarvan.  Wie gaan vir hierdie mense sorg? Hoe sit jy iemand wat reeds griepsimptome wys in ‘n tweeman tent op ‘n sportveld? Ons het nog baie wysheid nodig.  Ons sal dit van God bid.
Zoom werk lekker en gee gratis 30 – 40 minute gesprekke en in ‘n COVID-oomblik gee hulle vir ons nog tyd pasella aan die einde.

Ek moet net gou eers die baas van die moontlike kwarentynperseel in Velddrif bel en reëlings tref. Nou terug… Dit bly fantasties hoe almal bereid is om te help en om saam te werk.  Dankie SA.  Ek was al in ‘n paar benoude situasies op my toere deur die wêreld en elke keer beindruk die SAners my. Ons ken van resilience, ons ken van aanpas, uithou, saamwerk as dit moet en die meeste van ons se harte en se hande is oop en bereidwillig. Ek onthou Desember 2016 toe ek gestrand gesit het op ‘n lughawe in Abidjan in die Ivoorkus na ‘n sandstorm in Wes-Afrika SAL verhoed het om sy vlug SA210 (dis soos jou weermagnommer, jy vergeet dit nooit nie) vanaf Washington Dullies voort te sit. Die oorspronklike plan was om brandstof vol te maak in Dakar, Senekal, maar met die destydse moeilikheid daar met Liberië mik hulle toe vir Accra in Ghana en land ons 860 myl van roete af op Abidjan as gevolg van die sandstorm.  Dit sou twee dae vat saam met klomp verskillende lande se mense om die krisis te oorleef. Daar het ek gesien Ghanese is die ergste. Kan niks vat nie en het geen aanpassingsvermoë nie. Ek het toe reeds besluit as ek ooit eendag op ‘n eiland moet strand saam met hulle is daar net een uitweg… Eet hulle eerste op of stem hulle eerste uit – afhangende van die storie waarin ons ons bevind. Ek vat enige dag eerder SAners met ons lekker humorsin, ons uiterste geduld in die gesig van moeilikheid. Gister was weer so ‘n bewys. Daar sit ‘n lang ry van minstens 50 mense buite op stoele voor ons kassiere in Piketberg. Ons laat 2 meter tussen elke kliënt toe en die wag is lank, maar elke persoon is gemoedelik, geduldig, vriendelik en laat nie toe dat die krisis hulle onderkry nie. Almal laat toe dat hul hande gespuit word.  Ons het so baie om voor dankbaar te wees.
Twee verdere mooi stories gebeur gister…  Solly Kayster van ons parkespan bel my en vra of hy nie asb uit isolasie kan kom om die saadjies te gaan natgooi wat hy orals in die dorp geplant het nie.  Hy wil hulle so graag sien groei.  Ongelukkig toe nou nie, maar ek bied aan om die spuiters oop te draai op die Munisipale gronde. Later praat hy my stap vir stap deur die oopdraai-proses, want dit is nie net eenvoudig nie. Hy is so kinderlik opgewonde oor sy plante wat sal bly leef, dat ek dit baie geniet het.  Solly, ek sien daar word reën voorspel by ons vir Sondag. Die Here sal self na jou saadjies kyk.
En in Porterville vat ‘n kollega vir die heel kwesbaarste gesinne elk ‘n kospakkie. By die een huis sê die Tannie hulle kan maar eers by haar verbyhou, sy en haar gesin het nog genoeg (my kollega kan sien die kaste is uiters karig).  Dit is vir hierdie mense wat ons standbeelde moet oprig!
Hoe voel jy vandag? Hou jy nog moed? Waaroor is jy vandag dankbaar?


Ek geniet ons mense se humorsin. En net soos julle kry ons gereeld grappies. Dis 'n SA ding.  Ons hanteer harde tye met humor. Dis wie ons is.

Lekker dag vir almal. Bly veilig. Bly tuis.
Lief vir julle. Hanlie


No comments:

Post a Comment