Een van die kragtigste rondstuur-boodskappies wat die
afgelope tyd in my oorvol whatsapp inbox geland het, was hierdie een… En
vanmiddag het ek dit in aksie gesien.
Ons is besig om die hawelose mense in Piketberg te skuif om vir hulle
ook ‘n kans te gee om die virus te oorleef deur te self-isoleer en ek stuur ‘n
eenvoudige whatsapp voice recording uit na 3 kerkwyke, een munisipale wyk en ‘n
groep vroue wat gereeld saam oefen op ons dorp.
Binne ‘n uur het ons ‘n Munisipale voorportaal vol matrasse, kussings,
handdoeke, lakens en wat nog alles. Baie
dankie aan elkeen wat so graag help en uitspring en moue oprol wanneer dit op
sy nodigste is. Ek salueer julle!
Dankie vir al die lekker terugvoer op faceboek en whatsapp
en op my blog self. Dit word waardeer.
Dit is lekker om van julle te hoor. Vir ‘n ekstrovert soos ek is vinger-alleen-in-my-huis
‘n moeilike konsep, maar ek doen my bes.
My vriendin in Kanada, Elizan, deel vandag met my die volgende: Hulle is
so 6 of 7 dae voor ons op die siklus van self-isolasie en
jan-tuis-bly-se-karretjie. Sy sê die eerste paar dae is mens nog baie
opgewonde oor die moontlikheid van tuis bly en al jou lysies afwerk, regpak,
skoonmaak en uitsorteer, maar na ‘n paar dae verloor dit sy glans en is die
honeymoon-fase verby en dan moet ons gereed wees om ons gemoedere hoog te
hou. Oefen solank!
Op die oombik is ek nog op my lysies en baie beindruk met
wat ek alles gedoen kry. Vandag het ek ‘n legkaart begin wat ek in Rusland
gekoop het. ‘n Pragtige een van die Rooiplein in Moskow wat ek in 2014 gekoop het
toe ons daar was. Sedertdien probeer ek
altyd in ‘n vreemde land ‘n legkaart koop om die herinneringe te strek, maar
dis snaaks hoe min mooi legkaarte mens kry van mooi fotos van mooi plekke. Ek
hou niks van tegnologie-getekende goed nie. Dit moet ‘n mooi foto wees van ‘n
bekende landmerk in die land waar ek was.
Die Rooiplein met sy Ortodokse kerke in Moskow is presies so ‘n mooi
een.
Vandag het ek ook my breiwol uitgesorteer. Die van julle wat
my ken sal weet dat ek ‘n kranige breier is.
Eintlik al van altyd af. Nee wag, ek jok. Dit is vandat my Ma my gedwing
het om self my st. 5 kortmou kabeltrui in vuilpienk klaar te brei voordat ek op
die skooltoer kon gaan, dat ek verslaaf geraak het aan brei. Daar is net iets aan wat net kranige breiers
sal kan verstaan. Ek kan nie gaan slaap in die aand as ek nie gebrei het nie en
ek brei al vir meer as 21 jaar teddiebere vir die kinderhospitale in die Wes-Kaap saam met 'n groep vrouens in Stellenbosch. Orals in my huis in ‘n verskeidenheid van
kaste lê
kruidenierswinkel-sakke met wol in.
Vandag het ek dit alles uitgegrawe en begin sorteer. Wat ‘n wonderlike gevoel. Nooit geweet ek het
nog soveel wol nie. Ek sal moet spoed optel as ek dit nie wil saamtrek
ouetehuis toe nie. Aan my familie: as ek ooit weer wil wol koop in Stilbaai
(selfs al is dit met Mamma se pensioen-afslag) stop my asb.
Nou moet ek bieg ek het selfs ‘n paar of twee van my Ma se
breipenne opgespoor wat sy lankal soek. Die ou nommer 12’s mamma in grys en
groen. Sodra die President besluit ons
mag vrylik rondbeweeg, bring ek hulle, ek belowe. Ek dink die Lockdown het ‘n hele paar
goedjies vinniger laat gebeur as wat dit sou.
Ek vra nou al drie jaar lank vir ons IT dat ons by die werk gelaai word
om van die huis af op die network te kan werk.
Die antwoord was altyd dieselfde: ons toets dit nog. Wel, die President se woorde was nog nie koud
nie, toe is dit uitgesorteer. Tjoef tjaf!
Nou so is dit met die breipenne. Ek het al talle kere kom soek daarvoor
in my huis, maar nog nooit diep genoeg of dringend genoeg nie! Jammer Mamma. Die oudste strokie wat ek uit een van die
wolsakke kon kry kom uit 2001. 13
Februarie. Ek wou seker iets vir Valentynsdag aanmekaar slaan. Wie weet!
Iets anders wat ek nou hier sit en besef is dat ek elke sakkie wat ek vandag herwin het soos wat ek wol op die tafel uitgepak het, het ek netjies opgevou. Nou vet weet ek is nie 'n sakkie-opvou-mens nie. Die sielkundiges onder ons sal moet verduidelik wat hier aangaan. Ek skrik eintlik vir die gedagte. Miskien is dit maar my manier om beheer te vat oor die klein dingetjies tans?
Wel hier is hulle. Te netjies vir woorde. Katrina wat by my werk, sal nie haar oe kan glo nie, want die sakke land net onseremonieel in die rooi emmer in die kas. Iets is anders.
Vandag se uitdagings aan my werkskant sluit die volgende in:
Om genoeg wetstoepassers op straat te kry om die ongehoorsames tot
gehoorsaamheid te dwing. Daar is ‘n
spreekwoord wat lui: Karakter is dit wat jy doen as niemand kyk nie. Ons het baie karakterlose mense in ons land
wat glo dat hulle net verkeerd is wanneer hulle uitgevang word. Dit frustreer
ons. Dit vat baie van ons arbeidsmag op en hou ons weg van dienslewering. In
baie ander Munisipaliteite is die versorging van die haweloses ook ‘n groot
uitdaging. Sosiale Ontwikkeling sukkel om die mas op die kom en al die gate toe
te stop en ek besef vandag dat hierdie Lockdown nou aan ons die geleentheid gee
om te sien waar ons voetspoor van sosiale dienste gebrekkig is in SA. Ons sien
ook duidelik watter massiewe groot gedeelte van ons normale sosiale
ontwikkeling nie deur die staat gedoen word nie, maar deur doodgewone mense en
vanuit kerkorganisasies en nie-winsgewende organisasies wat nou in lockdown
is. Wat ‘n openbaring is dit nie. Baie
dankie aan elkeen wat normaalweg na die armstes van die armes omsien en sorg
dat elke dorp kan werk vir die wat dit die meeste nodig het.
Ek groet nou eers. More is nog ‘n dag. Ons gaan vanaand
almal 20:00 op ons stoepe staan en hande klap en cheer om mekaar aan te
moedig. Ek hoop daar is genoeg mense
langs jou en naby genoeg aan jou via sosiale media wat jou daagliks kan
aanmoedig. Indien nie, maak ‘n
plan. Jou vriende en familie is net ‘n
oproep weg. As jy nog nie voel jy het dit nodig nie, is daar miskien iemand wat jou oproep nodig het.
Lief vir julle.
Hanlie
Dankie, Hanlie! Jy is voorwaar n dinker en n doener! Ons waardeer jou!
ReplyDelete