Friday, March 27, 2020

From a distance there is peace on earth...



Gewoonlik skryf ek net blog as ek die wêreld toer of as ek iets beleef wat ek nie kan binnehou nie.  Hierdie keer skryf ek om te onthou.  Ek wil kan terugkyk en presies onthou hoe braaf ons was, hoe ons na mekaar omgesien het, hoe gewone mense buitengewone goed gedoen het, maar ook hoe ons God ons beskerm het, hoe ons as ‘n nasie en ‘n wêreld sterker anderkant uitgekom het.  Maar ek skryf ook omdat my Ma vanmiddag vir my ‘n whatsapp stuur op ons familiegroep en vra of ek nie maar elke dag sal blog skryf nie.  My Ma is ‘n wyse vrou en weet miskien ook dat dit al manier sal wees om my hierdeur te kry.

Ons dominee, Martin, het gister ons Raadsvergadering in Bergrivier met skriflesing en gebed kom open en eers net vir ons almal gevra om stil te word en te dink hoe ons op die oomblik oor hierdie ramp dink.  Ek wil jou uitdaag. Doen dit nou daar waar jy sit en lees. Raak stil en word bewus van wat hierdie situasie aan jou doen op die oomblik. Hoe laat dit jou voel? Magteloos, gefrustreerd, angsbevange, moeg? Want ons is so besig om reëlings te tref vir lockdown, dat ons vergeet om te voel.  Dit het my baie gehelp. Ek hoop dit help jou ook. Ek het ook in my coaching studies geleer wat die werklike waarde is van daaglikse “gratitude journals”. Jammer vir al die Engels tussenin. Doen dit hierdie 21 dae. Daag jouself en jou gesin in jou huis of wyer via sosiale media uit om daagliks iets met mekaar te deel waaroor julle uiters dankbaar is. Dit gee ‘n mens vlerke om buite jou onmiddellike omstandighede te beweeg. Ek het weer die week gedink aan die aangrypende verhaal uit die konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog en dat die mense wat dit oorleef het, mense was wat hul visie kon rig op dinge buite hul onmiddellike omstandighede.

Dit het meestal vir SA 12 dae terug begin. Dit voel soos ‘n jaar. Ek skrik eintlik toe ek nou op my vingers terugtel na Sondagmiddag 15 Maart toe. Ek was by Gielie en Ina op die plaas en het pas beide gesoengroet soos wat plattelandse mense nog op 15 Maart gedoen het met die wat jy goed ken.  Toe praat die President… Welliswaar laat, maar ons vergewe hom, want hy toon groot leierskap en ek is seker die meeste mense in SA is diep dankbaar dat ons nie hierdie krisis in ‘n Zuma-era hoef aan te pak nie.

Soos ek nou hier tik hoor ek hoe twee buurmanne oor die straat met mekaar staan en praat twee blokke van my af. Dis so stil dat ek deel in hul gesprek. Soos altyd die afgelope 12 dae, praat hulle nie oor die weer nie.
Maar ek stel uit…

Miskien wil ek nie so diep in my emosies delf nie, miskien wil ek eers probeer sin maak van wat ek die afgelope twaalf dae beleef het.  Julle weet ek werk vir ‘n Munisipaliteit. Ons is ‘n rat in die groot masjien van ‘n Nasionale Rampgebied, maar ons is die rat naaste aan die mense. En dit bring sy eie uitdagings.  Vir elke sin wat ‘n Minister voor die TV-kameras of radio-mikrofone sê (of nie sê nie), moet daar talle amptenare agter hom/haar dit tot uitvoering bring. Ek is een van hulle.  Soms wil die verantwoordelikheid my oorweldig, maar meestal is ek dankbaar dat ek in die Weermag was, dat die Here my geseën het met leierseienskappe en dat ek ‘n familie en vriende het wat vasgeanker staan in Geloof.  Ek weet ook soos Ester, dat dit juis vir ‘n tyd soos hierdie is dat ek 24 jaar terug geroep is om in Plaaslike Regering te dien.  

Ek het so baie die afgelope twaalf dae van ons volkie in SA geleer.  En so baie teruggedink aan my tyd in Japan in 2012 toe ek my vergaap het aan hoe nakomend (compliant)  die Japanese is.  Dis opmerklik. Ek onthou dat ek agter in ‘n vol bus gesit het en die hele tyd geweet het hier is iets anders aan die gang en ek weet nie wat nie en later besef het ek hoor die flikker lig flikker. Van agter in die bus af.  Almal in Japan het ‘n “compliance” geen waarvan ons nog nooit in SA gehoor het nie.  Die afgelope week praat ek met duisende SAners op die foon wat elkeen vir elke regulasie wat uitkom, tien “loopholes” uitgedink het en dit net met my wil toets. Want hulle wil darem nie in die moeilikheid kom nie.  Daar is die Oom wat Tupperware verkoop in Citrusdal en ‘n ry-permit moet hê, want sonder tupper is die wêreld ondoenbaar.  Dan is daar die Tannie en haar vriendinne wat ‘n essensiële diens wil stig om rondloper katte kos te gee. Nee Tannie, dis nie deel van die Regulasies nie. ‘n Rondloperkat sal sy instink volg en vir homself sorg. Vra die dooie duif in my agterplaas wat vanoggend vroeg al op dag 1 van lockdown gesneuwel het. Dan is daar die jaloerses. Dit is erg genoeg dat hulle nie lekkernye kan koop by die winkel waar hulle ure in ‘n ry gestaan het voor lockdown nie. Maar bewaar die een se siel wat toe wel ‘n Coke te koop gekry het iewers vandag. Dan word die Minister gebel en moet daar oombliklik verdere verfyning van die reëls plaasvind. Want ek sal eerder sterf as om iemand anders iets toe te laat. Is ons nie vreemd nie? Is ‘n Coke nou voedsel of nie? Mag die hoender wat verkoop word warm wees? Mag ‘n slaghuis oop wees? Sluit ‘n petrolstasie nou die winkeltjie by die petrolstasie in of nie? En so hou die vrae net nie op nie. Mag ‘n sopkombuis oop wees. Is sop verwerkte voedsel. Natuurlik, maar iemand moet die haweloses kosgee. En so is daar 1000de goedjies waaraan geen Minister kon dink nie.

Elkeen het ‘n beter plan as die vorige een. Ek en my kollegas moet geduldig na elkeen luister en ‘n uitspraak maak. Asof ons die bewaker van die mensdom geword het.  En dit is nie omdat daar nie genoeg regulasies uitgevaardig is nie. Die 7 afgekapte bome op my kombuistafel getuig daarvan. Dit is net dat ons in SA van elke reël ‘n uitsondering maak (en miskien ook omdat daar geen nuwe sport op TV is om te kyk nie (gisteraand se Wimbledon 2014) en omdat die verslaafdes se sigarette en drank binnekort gaan op wees).  Nou, in gewone alledaaglikse lewe is kreatiwiteit mos ‘n wonderskone ding, maar red nou ‘n nasie van COVID-19 met sulke houdings. By ons SPAR in Piketberg is ‘n bord opgesit voor die parkeerplek vir gestremdes wat sê: Stupidity is not a disability.  Een van my Munisipale Bestuurder-kollegas van ‘n groot Metro in SA stuur nou-nou ‘n whatsapp wat sê: Discipline saved China. Indiscipline drowned Europe. Ignorance will kill Africa.  Gedeeltes daarvan is seker waar. Daar is seker plekke iewers in donker Afrika waar iemand onkunde sal kan voorgooi as ‘n verskoning, maar die tieners wat gisteraand in Khayelitsha se strate dans, die swernote in Hammanskraal wat videos rondstuur van hoe onverganklik hulle is… dit is uiterste “stupidity” en stel ons almal in gevaar.

Ek is seker julle is net soos ek toegegooi met inligting. My buurman sien nou-nou ek sit op my dek en tik en roep vanuit sy erf. Ons gesels ‘n bietjie en gooi nog ‘n paar COVID-gesprekkies rond. Ek bied aan dat hy vir my sy selnommer gee dan kan ek hom ook op die lys sit van die waarmee ek uurliks kommunikeer.  (Ja, hulle het onlangserig ingetrek, ek het nog nie sy nommer nie. Selfs in die platteland het ons grense…;-))  Nee wat dankie, wys hy dit vriendelik van die hand. Hy is reeds toegegooi.

Daar het nog soveel goed gebeur waaroor ek graag wil vertel, maar wees asb geduldig. Dit sal stuk-stuk uitkom. Die wind het nou opgekom en dit is nou koud hier buite op my dek.  Ek groet eers.
Wees asb veilig. Bly binne jou erf en maak seker dat ons sal leef om eendag saam te kan terugkyk.

Lief vir julle. 

Hanlie

1 comment: