Saturday, May 23, 2020

Enigiets anders waarmee ek kan help, Meneer?




Toe ons klomp pelle Desembermaand saam gekamp het by Eikebos naby Greyton, het ek vir ‘n vriendin gesê ek dink my tyd in Plaaslike Regering is amper verby.  My kontrak by Bergrivier Munisipaliteit is nog tot 2022.  Ek vra nooit te lank vooruit vir die Here waar Hy my wil gebruik nie.  “Hoekom? het sy gevra en die hoofsaaklike rede was: ek is verveeld.  Ek werk nou 24 jaar en 4 maande in ‘n Munisipaliteit en in Desember het ek gedink alles het nou “same-old, same-old” geword.  Niks maak my meer kinderlik opgewonde nie, het ek my lot by haar bekla.  Toe gebeur COVID en nou, 5 maande later klink verveeld vir my soos ‘n eksotiewe droom wat ek met my hele hart begeer.  Ek wil net een dag iets doen wat ek al voorheen gedoen het en wat ek kan doen sonder om te dink.  Roetine.  Ek is seker dit gaan in jou werk net so.

Ons wat in ‘n Munisipaliteit werk, het besonderse uitdagings op die oomblik.  Kom ek probeer iets vertel van wat tans by ons gebeur.  Miskien kan jy identifiseer.  Miskien nie.  Plaaslike Regering is die vlak naaste aan die mense.  In my kantoor is my lewensdoel groot opgeplak:  Ek verander gemeenskappe!  Dit is waarvoor ek op aarde geplaas is en waarvoor al die talente wat die Here my gegee het aangewend word.  Daar is baie satisfaksie in, maar ook ellendig baie klappe, skreeue en stote.  Op die oomblik is die meeste mense in die rou-fase van woede.   Dit is orals duidelik sigbaar.  En ons wat by die Munisipaliteit werk ontvang baie daarvan.  Die Polisie ook ‘n gedeelte en die NGO’s wat mense probeer versorg, kry ook hulle deel.  Ek en Hannie stap elke tweede oggend in die tydgleuf tussen 06:00 en 09:00. Sy werk by so ‘n NGO en ons gebruik die volle 50 minute van stap om net by mekaar af te pak.  ‘n Stortvloed van woorde en rou emosie.  Of soveel soos wat ‘n masker en ‘n Piketberg-steil bult ‘n mens toelaat. 

Mens kan gou perspektief verloor, want die woede speel uit in verwerping, aggressie en die meeste mense wat deur rou-woede gaan se vernislagie is baie dun.  Donderdaglaatmiddag bel ‘n Oom my uit Velddrif.  Ek ken hom.  Kom ek noem hom M.  Sy telefoonnommer is op my foon gestoor as Velddrif Klaer no 1. Hierdie keer bel hy van sy vrou se foon af.  Ek kan hoor ek is op speaker-phone en sy vrou stook vuur vanuit die kombuis.  Hy het die ordentlikheid om die gesprek te begin met: Mevrou, vandag moet ek net op iemand skree....  Ek sit die telefoon op speaker aan my kant en sit dit op my bedkassie neer.  Ja, ek het 5 minute voor die oproep ingekom het op my bed gaan lê om asem te skep.  Hy gaan haal hom ver. Skree uit volle bors en in erg gekruide taal oor die korrupte regering en die sadistiese reëls wat rassisties toegepas word. Waar hy soek vir ‘n woord, tjip sy vrou in en gee selfs ‘n paar volkleur voorbeelde.  Na 26 minute skep hy vir die eerste keer asem.  Dit klink vir my of hy spoed verloor en ek vra: Is daar enigiets anders, meneer, wat jy graag onder my aandag wil bring?  Nee dankie sê hy.  Hy voel nou baie beter.  Lekker aand meneer.  Mag jy baie geseënd wees.  Dis net ek wat nie beter voel nie.

Daar is selfs mense wat dink dat elke Munisipaliteit self kan besluit watse Regulasies gevolg moet word en watter nie.  Asof ek in 'n luukse restaurant sit en kies van 'n uitgebreide spyskaart af. Chicken of beef.  Hoe mis ek nou vliegtuigkos!  Daarom stuur baie publiek e-posse, briewe, whatsapp's, telefoonboodskappe en wat nog alles oor hoe hulle dink ons die Nasionale Regulasies moet interpreteer of ignoreer en wat ons hier behoort te doen.  Ander kyk internasionale nuus asof dit hier by ons van toepassing is.  Nee meneer, ons president se van begin met 'n R, nie 'n T nie.  

Die aand vra John my hoe ek dit regkry om kalm te bly. Hy sou teruggeskree het.  Na 24 jaar en 4 maande weet ‘n Munisipale amptenaar ‘n paar goed.  Een daarvan: We don’t have the luxury of losing our tempers...  Elke omroep is ‘n versekeringseis wat wag om te gebeur. Volksbesit.  Die helfte van die mense dink jy pas die reëls te streng toe. Die ander verguis jou oor slapgatgeid. En niemand doen dit in stilte as hulle die aand op hul kussing gaan lê nie. Nee, daarvoor is facebook en instagram en twitter net te gerieflik.

Ek tel gister net vir interessantheidshalwe.  Een van ons raadslede (ons het 13) het teen gister al vir my 177 navrae gestuur sedert die begin van grendeltyd.  Daar het nou al 88 regulasies uitgekom waaraan ons moet voldoen. Ek het sedert 15 Maart 2020 925 e-posse geantwoord net oor die interpretasie van die Regulasies!  241 essensiele werkers moet elke oggend gescreen word, elkeen moet ‘n vraelys invul om moontlike simptome te identifiseer.  Oor elke behoefte van die publiek wat buite die regulasie val, moet ons met die vakbonde onderhandel.  Is daar nog enigiets anders waarmee ek kan help meneer?

Ek het ‘n paar goed geleer in die afgelope twee maande:
In krisistye moet jy weet in Wie jy glo. Jy moet vasgeanker staan in geloof en jou geloof moet geoefen wees. Toe ek nog langafstande gehardloop het, het ons afrigter altyd gesê jy kan nie net wedlope gebruik om te oefen nie, want wedloop-mode is anders as oefen-mode. Oefen leer jou patrone en vangnette waarop jy kan terugval in ‘n krisis.
In krisistye moet jy weet wat jou doel is.  “Ek verander gemeenskappe.”  En as die hele wêreld verander is ek gereed om eerste die onbekende braaf in te stap, sodat ander met hoop en vertroue kan volg.
In krisistye moet jy LIG en HOOP wees.  In elke gesprek.  In elke situasie. 
Meer as ooit weet ek dat dit juis vir ‘n tyd soos hierdie is dat ek in Plaaslike Regering neergesit is.  In oefentye en in wedstryd-mode.  Ek glo dit is ook waar van jou!  Jy is ‘n onderwyser, ‘n bankbestuurder, ‘n besigheidspersoon, ‘n verpleegster, ‘n ingenieur, ‘n dokter, en noem maar op ...  juis vir ‘n krisistyd soos nou! 




Vanoggend die wonderlike voorreg gehad om MMC Global 2020 saam met duisende ander te luister.  Baie geseend.


Hierdie vetplant het Hannie in my tuin geplant die Saterdag voor lockdown.  Hy het weggespring en 'n lang steel gemaak met baie blommetjies. Uitbundig mooi!


Vanoggend 08:20 het 20 stappers by die Ouetehuis in Tillalaan verbygestap en begin sing vir die bejaardes. 

'n Belofte van reen in die lug. En 'n sneeu waarskuwing vir Maandag.




Hierdie COVID sandkastele het my baie beindruk. Dit is op Puri strand aan die noordoostelike kus van Indie gebou deur 'n befaamde sandkunstenaar Sudarsan Pattnaik.  Gaan kyk 'n bietje op google na sy werk.  Ongelooflik!


Mag die voorspoed jou verveel en mag ons droom van verveling net vir een dag weer waar word.

#staysafe.  Maar vir more en Maandag: #staydry en #staywarm

Mal oor julle.  Hanlie


No comments:

Post a Comment