Wednesday, May 13, 2020

Die spoed van wit lig...



Die oggendstond het goud in die mond.  Van my dek af geneem in die rigting van die Sederberge se Tafelberg.



Vandag is een van daai dae wat jy na 13:30 besef jy het vanoggend vroeg iewers vir jou tee gemaak en dit staan met ‘n wit vel op yskoud op jou kombuiskas.  Al hoekom ek tyd maak om te skryf is sodat ons sal kan onthou waardeur ons is in hierdie tyd.  Eendag as ons terugkyk...

Orals is mense nou reeds goed gatvol vir die Regulasies en al meer mense tree uitdagend teen die wet op.  En dit bring soveel meer werk na my reeds oorvol tydelike tafel in my huis. Ons loods 'n ondersoek na 'n voorval in een van ons dorpe waar lede van die publiek kla dat ons wetstoepassers hul getraumatiseer het toe hulle hele gesinnetjie teen die wet opgetree het en uitgevang is.  Ek sal wag tot al die verslae in is voordat ek my mind apply. Maar as jy hier lees en twyfel of jy by die reels moet hou... Moenie twyfel nie. If you can't do the time, don't do the crime.

Vanoggend lank na 09:00 warrel 4 tieners in ons straat verby.  Ek groet hulle met goeiemore dames! Ek het lankal opgehou om mense aan te spreek.  Na die eerste 500 probeerslae van hoekom is jy buite die regulasie op straat en hoekom het jy nie ‘n masker aan nie, verskeie vloekwoorde en onnodige trauma na my kant toe gelok het, het ek besluit om dit net te los. Hierdie vier het geen teken van 'n masker naby hul gesigte nie.  Ek vra daaroor en een skree "dis in ons hande Tannie!" terwyl sy haar masker triomfantlik in die lug waai.  Ag dankie tog dat die virus nie deur die lug versprei nie!

Gister lag ek en ‘n vriendin lekker oor die foon toe ek vir haar sê ek het nou besef hoekom hierdie mense nie maskers kan dra nie... Hulle het nie ore nie! ;-)

Ons het nou al 16 positiewe gevalle in Bergrivier Munisipaliteit.  15 is aktief en een het reeds herstel.  Die meeste het amper geen simptome nie en dit gaan goed met almal.  Ook ‘n werknemer by die Munisipaliteit. Ek het pas met die persoon gepraat en dit gaan goed.  In al die statistieke kan mens vinnig vergeet dat dit elkeen ‘n mens is, met familie, met kinders, met vrese, met onsekerhede. Dit kon net sowel ek gewees het.  Ten minste gaan hulle binne 14 dae gesond wees en teen-liggaampies en immuniteit hê teen die virus in die toekoms. 

Ek besluit vandag dat die hele geheimhouding oor wie siek is en wie nie, belaglik is en maak dat dit gestigmatiseer word.  Die rapporteringskanaal maak absoluut geen sin nie.  Ek, as Munisipale Bestuurder, mag bv net weet daar is 16 gevalle in ons area. Nie eers hoeveel in watter een van ons 9 dorpe nie en glad nie wie dit is nie.  Maar ons moet elke huishouding waarin iemand positief toets se vullis anders hanteer en volgens ‘n protokol verwyder. Hoe doen ‘n mens dit as jy nie mag weet wie dit is nie.  Maar gelukkig versprei slegte nuus vinniger as wit lig.  Dit was nog altyd vir my ‘n interessante verskynsel.  Vir meeste mense brand slegte nuus ‘n groter gat in hul sak as geld en moet hulle onmiddellik daarvan ontslae raak en dit so gou as moontlik deel.  Vandag was geen uitsondering nie.  Ek is nog besig om met die Hoof van ons Provinsiale Gesondheid te redeneer oor hoekom hulle vir ons moet sê in watter dorp die gevalle is, toe laat weet my familie uit Pretoria vir my al die detail wat ek nodig het.  Om die wêreld en terug in 80 sekondes, sê ek jou.



Die beste ding in my dag is die aflewering van heerlike tuisgemaakte hoenderpot deur Elfrieda. Dankie tog dat afgelewerde kos in vlak 4 toegelaat word. Anders sou ek nooit iets gesonds in my maag gekry het nie. En ons geliefde Tillies wat op Vrydae ‘n restaurant bedryf om geld in te samel vir ons ouetehuis, het hulself ook ontvorm in ‘n moderne afleweringsdiens met ‘n uitgebreide spyskaart van lekkernye.  In een van my gunsteling Hagar die Verskriklike-grappies is Helga weg vir ‘n week en toe sy terugkom vra sy vir Hagar of hy darem iets groens geëet het.  Ja, sê hy.  Die brood.  Dis hoe dit hier ook gaan.  Ek kyk maar elke dag net verby my kombuisvloer wat smeek vir ‘n vee en ‘n was en knyp oë toe.  This too shall pass.

Ek het na 16:30 besluit ek gaan nou my telefoon ignoreer vir ‘n tydjie.  Net om iets te eet en tee te drink.  Ek kan hierdie vir niemand verduidelik nie.  Vandag probeer met my P.A. maar niks wat jy sê kan die werklikheid weerspieël nie. 17:48 lyk die whatsapp situasie soos volg:


129 boodskappe. En 17 missed calls om terug te bel.  Selfs ‘n please-call-me. Elkeen verwag ‘n vriendelike antwoord.
Dis net ondoenbaar. 

Vroeër vandag bel ‘n kollega en vra hoe dit met my gaan.  Nie die MB nie. Hanlie.  Ek kry tyd om bietjie af te pak en selfs te huil ook. Dankie Viv!  Waardeer.  Jy was nog altyd daai een by die werk wat hoor as my spoed minder word.  Ek kry baie hulp uit die publiek uit ook en waardeer elke gebed, elke boodskap van bemoediging, elke skenking vir die publiek.  Ek probeer ‘n lys byhou en sal so graag na afloop almal hartlik bedank.  Maar laat ek sommer nou al baie dankie sê.  Dis lekker om te weet ons is werklik almal saam hierin en ons sal saam hieruit kom.

My ouers is vandag 59 jaar gekys.  Hulle vier dit vanoggend met blomme by die oggendtee.  Altyd dieselfde rooi shoprite fles met rooibostee in. En tuisgebakte growwe beskuit.  Net dit want 11:00 volg vier cream-crackers met gerasperde kaas en 'n klontjie tuisgemaakte appelkooskonfyt op.  Toe ek in November en Desember 2018 by hulle gebly het na my enkel opereer is, was ek soos Paflow se honde oor daai cream-crackers.  11:00 begin jou mond water en klaar.  My sussie se juis Sondag tydens ons Moedersdag zoom tee dat daar nou 'n groot probleem in hulle huis is...  My Ma se tuisgemaakte appelkooskonfyt is op en appelkoos-seisoen le ver in die toekoms.  Ek wonder op watter vlak van die COVID oorlog ons dan sal wees.






Ons museum is baie oulik en wil hul rol speel om hierdie stuk geskiedenis vir die nageslag te bewaar.

Ook ons Mei-uitgawe van ons Piketberger, plaaslike koerant, want gewoonlik in swart-en-wit uitkom en teen R5 te koop is, word nou in ‘n kleur-uitgawe gedruk en is op bestelling beskikbaar. Sodat ons kan onthou en hierdie stuk geskiedenis wat ons besig is om te maak, kan bewaar vir ons kleinkinders en hulle kleinkinders.  Ja, ons is deel van ‘n unieke tydperk in die wêreld en is besig om hierdie vliegtuig te bou soos wat ons hom vlieg.  Altyd ‘n gevaarlike, maar ‘n opwindende oefening.  My Ma het aan die begin van lockdown al vir almal van ons uitgedaag om dagboek te hou.  Ons gaan dit nodig kry eendag.

Na vele oproepe uit alle sektore is ons President vanaand weer op die kassie.  Soos ‘n vriend dit baie mooi op facebook stel vandag: “Dit is nie ‘n goeie ding dat ons nou op outo-pilot is nie. Die stemtoon van meeste ministers wek nie vertroue nie. Ons mis jou. Waar is jy?”  My Pa het onlangs dieselfde gesê.  Hy is ons President. Ons vertrou hom. Praat met ons. 

Mag meer van ons luister!

Wys jy het ore... Dra jou masker.


Die snaakste grappie wat ek vandag ontvang het.  Laat ons net aanhou lag.  Dis kos vir die siel en goud werd.  Miskien meer as die goud in die morestond!



2 comments:

  1. Ek is seker jy kom nie eers uit by die reaksie op jou blog nie maar glo my ek geniet dit. Seker omrede ek ook 'n vivid imagination het. Laaik jou masker! Hyper modern 😉‼

    ReplyDelete
  2. Die gesinnetjie ... ha ha Shame

    ReplyDelete