Saturday, May 9, 2020

Dettol-verslawing en ander lesse...





Vanoggend se stappie was meer sweef as stap en ek leer my volgende les in die dra van ‘n masker: Stadig met die dettol! Ek het drie hakke in my voorhuis wat aangewend word soos nodig. In die winter is dit vir my serpe en my mus. Tydens Escom beurtkrag word dit gebruik vir my kopflits en sonpaneel-liggie.  Tans is dit ‘n masker-rak.  Hoe vorder jy met jou maskerades?  As ons eerlik is, sal ons erken dat meer as een van ons al 'n President oomblik beleef het.  Het benoudheid jou al oorval?  Ek raak al meer gewoond aan myne.  Begin al kaal voel as ek by die voordeur uitstap daarsonder. Ek het geleer dat ek ‘n gevestigde roetine moet hê.  My rooi plastiek kommetjie staan reg op my wasbak en sodra ek inkom met ‘n gebruikte masker, word dit dadelik in warm seepwater gesit (sunlight liquid werk goed) en gewas en opgehang om droog te word.  Stadig met die dettol anders sal jou stappie ook ontaard in ‘n swefie.


Intussen het die Provinsie ‘n App ontwerp om die prentjie te skep van hoeveel kos word uitgedeel in die Provinsie.  Elke Munisipaliteit rapporteer op die App en kan verslae trek.  Dit is weer ooglopend hoeveel goeie dade daar uit die privaatsektor uit kom en by ons wil ek graag weer elke landbouer bedank vir elke geskenkte produk, elke kerkwyk, elke individue wat sop en ander kos skenk, elke NGO wat huise besoek en kospakkies uitdeel, elke besigheid wat skenkings maak.  Ons waardeer dit opreg en dit help regtig dat nie een huis kan sê dat hulle honger ly in hierdie tyd nie.  Ek is die App operateur vir ons Munisipaliteit en het al 147 verslae gelaai op Survey 123 for ArcGis, sodat die Kabinet kan weet hoe die prentjie van voedselsekuriteit in die Wes-Kaap lyk.

Is dit net ek, of was daar een baie positiewe ding tydens lockdown?  Natuurlik twee.  Die nie-verspreiding van die virus is natuurlik die grote.  Maar na die 10de oproep gister en vandag vanaf ‘n call centre, besef ek skielik dit was regtig lekker toe hulle in lockdown was en ons geen ongewenste oproepe kon ontvang nie.  Ek stem vir level 5 vir hulle. Permanent.

Is daar nog mense wat dink haarkappers behoort essensieel te wees? My grys begin nou uitgroei en ek dink ek het genoeg om oor vaal te voel in hierdie tyd sonder dat my hare dit ook nog invryf.  Ek hou baie van Oprah Winfrey. Sy het by geleentheid gesê sy raak woedend as mense vir haar vra of dit haar eie hare is, want wie het miskien daarvoor betaal?  Nou, my auburn hare is my eie haarkleur want ek het self daarvoor betaal.  Ek gebruik ‘n ou Hannon Intense Copper Infusion Shampoo wat ek in my badkamerkas ontdek het, maar dit kom nie naby Lindy se magic nie.  Van my kollegas wat gewoonlik Kojak styl gaan, sien ons die eerste keer met hare. Ander moet al begin bokstertjies dra. Hierdie gaan ‘n interessante seisoen raak...  

My Pa met sy harem in Jordanie.

Tydens ons toer van Israel en Jordanië in 2015 het ons geleer om ‘n winterserp baie kreatief te dra sodat geen hare uitsteek nie.  Ek kan nie wag dat dit koel genoeg word in Piketberg nie. By ons is dit nog sop-suur-word-warm hierdie week.  Ek weet, want ons voedingsgroep moes juis besluit om die uitdeelpogings in Piketberg eers ‘n week of wat te staak omdat presies dit gebeur het.

Ons het nou al 6 bevestigde gevalle in Bergrivier.  Almal gekoppel aan een tronk in een van ons 9 dorpe, wie se naam ek nie mag noem nie, want die protokol verbied dit.  Tot baie groot frustrasie van ons almal.

Ek besef vanoggend met verbasing dat dit al amper ‘n week is sedert ek laas geskryf het. En ek kan nie eintlik vir julle sê waarheen hierdie week verdwyn het nie. Zoom vergadering op zoom vergadering, regkry van die werksplek, al ons essensiele werknemers laat screen en die toets wat moet.  Dit bring sy eie stress, want sewe uit die 271 essensiele werkers van Bergrivier Munisipaliteit word gestuur vir toetse en moet dadelik in self-isolasie gaan.  Ons het na 4 dae nog geen uitslae nie en volgens DoH kom dit eers Maandag.


Ek het 'n klein lemoenboompie in my tuin.  Heel weggesteek in die onderkantste regterkantste hoek van my erf.  Ek bly nou 3 jaar hier en hy het nog nooit juis vrugte gelewer nie.  Hierdie jaar is hy oortrek met die heerlikste klein soet lemoentjies.  Te heerlik!


En so het ons gisteraand 23:00 die 4 miljoen merk in die wereld oorgesteek.  Ek het op 15 April 2020 in my blog geskryf dat dit meer as drie maande gevat het om by 1 miljoen uit te kom. Op die 1 miljoen kerf was daar 51 000 mense in die wereld dood as gevolg van die virus.  Die tweede miljoen bereik ons na 13 dae en 'n verdere 76 493 mense dood.  Die derde miljoen kom na nog 12 dae (27 April) en 'n verdere 82 780 mense dood. Op daardie stadium het SA het 51ste plek in die wereld beklee met aantal bevestigde gevalle.  Net 11 dae later is ons by die 4de miljoen met 'n verdere 65 150 mense dood (totaal nou 275 423).  Amerika het by verre die meeste bevestigde gevalle en die meeste sterftes met 1,322 miljoen en 78 616 onderskeidelik.  In SA is daar vandag 8895 bevestigde gevalle met 178 mense dood.  Die meeste hiervan in die Wes-Kaap.  Die interessante vir my is egter die klein nommertjie op die SA-vlag hierbo.  Toe ons die 3de miljone bereik het was SA 51ste in die wereld.  Nou is ons al 44ste in die wereld en hierdie is nie rugby of olimpiese spele waar jy die podium wil haal nie.


Gister bel Jeremy Vlotman van Meals on Wheels en bevestig die slegte nuus wat ons ook al uit die Microsoft Teams vergadering met die Provinsiale HOD's gehoor het verlede Sondagaand.  Die Nasionale Regering se geld is op en daar sal geen verdere kosvoorsiening wees aan hawelose mense nie.  Jeremy doen sy uiterste bes en kom lewer nog een besendinkie af in Piketberg.  Hoe ons die haweloses aan die lewe gaan hou, sal net die Here weet.

Daar gebeur ook weer 'n hele paar interessante dinge:
Op een van ons whatsapp groepe rapporteer 'n vrou dat iemand met 'n "drone" laag oor hulle huis vlieg en dan verdwyn die ding in die rigting van Redelinghuys.  Almal bespiegel oor wat dit kan wees.  Van 'n UFO tot 'n "flare" word geraai.  Later word die raaisel opgeklaar.  Dit is maar net vriend So-en-so wat met sy "drone" kyk of die ry by die winkel kort genoeg is om te gaan ;-).

Die snaakste prentjie wat ek hierdie week kry:




More is Moedersdag!  Hierbo is my Ma by die blomme wat ons vyf dogters en twee skoonseuns vir haar laat aflewer het via 'n vriendin.  Nadia, baie dankie vir jou moeite! 
Verlede jaar hierdie tyd was ek en my ouers op 'n MSC Plesierboot vanaf Durban oppad na Venesie in Italie en het ons Moedersdag op die see gevier.  Hierdie jaar is dit anders.  Gister vra die publiek my hoe hulle moet maak om hierdie jaar blomme op hul Moeders se grafte te gaan sit.  'n Pragtige gebruik in die platteland en seker op baie ander plekke ook, waar gesinne op Moedersdag die grafte besoek van hul Ma's wat al oorlede is.  Dit sal nie hierdie jaar moontlik wees nie.  Ek moedig hulle aan om hul Ma's op ander kreatiewe maniere in hul huise te vereer deur bv 'n kers aan te steek en almal kans te kry om 'n mooi herinnering aan hul Ma met mekaar te deel.
Ons familie gaan 11:00 saam tee drink oor zoom en al die Ma's in ons familie eer.

My Ma is 'n besonderse vrou wat 'n reuse effek op my lewe het.  Ek het 'n paar jaar terug 'n Ode geskryf aan my Ma en ek sal dit more weer lees.  My Ma glo as jy nie iets moois kan se van iemand anders nie, bly jy stil. Sy is 'n diep gelowige mens by wie ons ook ons liefde vir Jesus gekry het en sy is 'n rots in ons familie.  Mamma, ek wens met my hele hart dat dit moontlik was om Mamma more in persoon te sien, maar nou is dit nie.  Gelukkige Moedersdag!  Ek proe al die tee en die lekker gesels.

Mag Moedersdag vir almal spesiaal wees.  Dis een ding wat almal van ons in gemeen het. Ons het almal 'n Ma of het almal 'n Ma gehad.  Dink vandag oor jou Ma en wat sy alles opgeoffer het in haar lewe vir jou.  Waardeer dit en se dit.  Verkieslik elektronies.

Baie liefde
Hanlie








1 comment:

  1. Ek besef ek was nog nooit my ma se gunsteling kind nie maar ek is al wat sy tans het en moontlik ons Vader se wil dat ons tyd het om saam te kuier en op te maak wat ons gemis het . .

    ReplyDelete