Sunday, June 19, 2011

Gevriesde vrede + vriendskap




















Die Transkaroo was vir my nog altyd net 'n trein... Tot verlede Donderdag. Ek het 'n langnaweek gemaak saam met Jeugdag en Woensdag vertrek om vir Jan in Colesberg te gaan kuier. Hy bly sedert Maart 2011 daar. Ek het in Laingsburg oorgeslaap en in papnat weer en baie koue vertrek Colesberg toe. Jan kon nie wag om vir my die dorp te wys nie. 'n Uitstappie wat minder as 6 minute geneem het. Al sy gunsteling eetplekke was toe op die vakansiedag. By die Barracks het die eienaar spesiaal vir ons oopgesluit en ons getrakteer op 'n rooiwynglas vol medium cream sjerrie. En dit nog voordat die vliegtuig ordentlik oor was.

Jan bly op 'n heerlike plaas 30km buite Colesberg. Hy is daar om nuwe brue en paaie op die N1 en N9 kruising te bou. Hy is goed met padbou en geniet dit. Hulle kantoor is in die ou hospitaal op Colesberg. Ons vertrek later die middag om die Transkaroo Voetslaanpad te gaan stap. By Noupoort gaan niks meer aan nie. Dit het 'n spookdorp geword. Al die paaie rondom Noupoort word aan gewerk. Rietfontein plaas van Lindo en Elmarie van der Merwe is 'n verrassing en hulle oorlaai ons met gasvryheid. Ons basiskamp is so 8 km van hul huis af in die kloof op. Ek vergeet weer my Touran is nie 'n 4x4 nie en ons ry elke klipperige driffie asof dit die N1 is. Die plaashuis waar ons uitstappie begin en eindig, is 'n pragtige ou plaashuis met 'n groot stoep, geen krag, heerlike kaggel en baie spasie vir niksdoen.

Dis koud! Ons stook daai kaggeltjie vir 'n vale en sleep ons beddens tot voor die vuur. Die volgende dag is dit 'n besonderse mooi dag sonder wind en ons begin stap. Die pad is goed gemerk en ons pad vat ons in 'n pragtige kloof op met die skoonste water en heerlike swempoele. Ja, julle het reg gehoor, Jan durf toe die swempoel aan en my motor het 'n halfuur van te vore nog 3 grade gewys! Die uitsigte later op die roete is asemrowend en ons geniet dit baie. My been geniet sy eerste ernstige uitstappie na hy gebreek het in Okt 2010. Als gaan goed. Ons slaap die tweede aand in 'n ou skuur en ek vergaap my later aan die pragtige sterre en die volmaan. Die Karoo is besonders! Dis windstil en yskoud en ons weet dit gaan ryp. Ons maak vuur, braai vleis en probeer so lank as moontlik die onvermydelike uitstel - om in 'n koue bed te gaan klim. Jan gebruik 'n lee OBS bottel (ja ons het hom kaf gedraf!) met kookwater in as 'n warmwatersak en ek gebruik my Nelgena bottel. Dit help. Die volgende oggend is die wereld spierwit gevries. Die longdrop is ver van die huis af en yskoud. Ons stap eers amper 12uur want dis te koud. Die derde aand slaap ons terug by basiskamp.

Die transkaroo voetslaanpad is 'n aangename verrassing en baie lekker. Goeie gasvryheid, goeie roete, baie atmosfeer en die mooiste omgewing. Dit is regtig die moeite werd en waarde vir geld.

Ek het amper 1600km gery om drie dae in rus en vrede saam met 'n goeie vriend die karoo te gaan beleef... Ek het die bossies geruik, die vleis geproe, die sterre en maan gesien, die koue gevoel, die stilte gehoor en die vrede ervaar. En ek sal nooit weer dieselfde wees nie...

No comments:

Post a Comment