Saturday, June 17, 2023

Van die Kaap van Storms na die Land van Vuur en Ys!

 


Dis eers toe die plakker onder my voete sê ‘international passengers only’ dat dit my hard tref. Ek was lanklaas oorsee. Voor covid laas. Dis tyd. Die opwinding in my beur om uit te kom. Ysland! Vreemd. Onbekend. Nuut. Anders. Dis wat ek nou nodig het. 


Ek vlieg met Qatar lugredery van Kaapstad na Doha. En weer met hulle van Doha na Dublin en dan met Icelandair na Reykjavik. 

Die Tannie langs my op die eerste vlug vra of ek asb die Oom se selfoon op ‘airplane mode’ kan sit en haar help om by ‘n fliek uit te kom. Dis immers beter as ‘n skreeuende baba en ek doen dit graag. Die tegnologie het baie verander sedert 2019. Invlug wifi, kaartbetaalskandeerder in elke sitplek, kragpunte orals en 360grade kameras reg rondom die vliegtuig wat mens op jou skerm kan bewonder. Fantasties. 



Hierdie interessante foto het my selfoonkamera geneem van binne en buite die vliegtuig. Ja dis die fliektannie wat die photobomb ding doen🤣


Die eerste vlug is 9 uur en 40 min en daar is baie tyd om die wêreldkaart op my skerm te gebruik om Ysland verder te bekyk. Ek en my ouers het reeds my hele toerplan op google earth deurgetoer en daars so baie om na uit te sien. 



Hoekom Ysland? Baie van julle het gevra. Wel, dis buitengewoon, anders, nog relatief ongerep en ek het al so baie dokumentêre daaroor gekyk. Paul Hollywood se City Bakes reeks het die laaste strooi op hierdie kameel se rug gesit en siedaar!

Ysland het die oudste aaneenlopende demokrasie in die wêreld (sedert 930 na Christus) en die Golden Circle avontuur wat ek vanaand begin, sluit ‘n besoek aan hulle parlement is. Bier was heeltemal verbode in Ysland tot 1989. Een uit elke tien Yslanders het al ‘n boek gepubliseer. Hierdie Vikings kook! Maar ek hardloop nou my storie vooruit… Op die oomblik sit ek nog in ‘n lounge op Dublin se lughawe en het 14 Euro ekstra betaal vir ‘n venstersitplek oppad Ysland toe. Ek het ook hier geld geruil en het vir die eerste keer Icelandic Krona in my hand. Nogal ‘n 5000 Krona noot. Daar is 7 IKS op ‘n Rand. 






Ek toer Ysland saam met G Adventures. 12 mense in die groep. Ek ken nog niemand nie, maar dit sal vanaand verander. 

Hierdie pragtige gesegte kry ek op Kaapstad Internasionaal. Dit is erg toepaslik op ‘n paar vergaderings waarin ek die afgelope tyd was. 




Warm liefde en groete uit die koue!
Hanlie


No comments:

Post a Comment