Monday, June 26, 2023

Die land van die Vikings en Guinness

Toe ek moes besluit of ek nog ‘n land na Ysland sou bysit op hierdie toer, was Groenland die eerste keuse, maar my bankbestuurder en my pensioenfonds kon dit nie bybring nie, en het ek besluit op Ierland en 6 nagte hier in Dublin geboek. Die plan is om twee dae in die stad deur te bring en dan die Cliffs of Moher en die platteland te sien. 

Almal het my gewaarsku dat dit ‘n anti-klimaks mag wees. Vandag het ek besluit: as mens ‘surf en turf’ bestel in ‘n restaurant sal jy nooit wonder watter een die beste is nie. Dis verskillend. Dis al. En Ierland is anders. Ek het amper meer Islandies verstaan as die Engels hier😁, maar almal is baie gaaf en gou om te help. 









My verblyf vir die eerste drie nagte is net langs die wêreldbekende Temple Bar in Tempel Bar Lane. Die eg Ierse kroeg bestaan al sedert 1840.

Die kamertjie is presies so klein soos dit lyk. Die laaste drie nagte skuif ek noord van die Liffeyrivier. En ja julle is reg. My bankbestuurder was intens betrokke by die besluit. 



Die Temple Bar Lane gebied was die hart van die Pride Parade gisteraand. En ek is met twee tasse oor cobble stone strate deur dit alles. Baie dronk mense. Baie Suid-Afrikaners. Gelukkig het die twee groepe nie te veel oorvleuel nie. 

In O’Connellstraat staan hierdie staal struktuur. Dit is die Spire of Dublin en staan 120 meter hoog. Dis meer as vier van Piketberg se kerke bo-op mekaar. Volgens die Big Bus gids die hoogste kunswerk/monument in die wêreld. Lyk amper bietjie uit sy plek uit as jy my mening vra. Is in 2003 opgerig. Dit word ook genoem ‘the monument of light’.


Was 30 grade gister en vandag 24. Heerlik.



Die Guinness bier storie is erg interessant. Die besigheid beslaan 64 Akker in die stad en maak meer as 30 miljoen pints bier per dag. Die Guinness Storehouse word meer besoek as die Eiffeltoring in Parys. Die grootste Guinness fabriek is in Nigerië, Afrika. Die bier wat daar gemaak word het dubbel die alkohol inhoud as die in Dublin. 


Hierdie pragtige kerk is nou ‘n whisky brouery. Nogal hartseer om te sien.

Die detail orals in die stad is pragtig. 


My middagete van salm en avocado. Kos is baie meer bekostigbaar hier. 







Oscar Wilde het by Trinity College studeer in Dublin. Sy standbeeld en sêgoed is hier aangebring in hierdie park. 

Die beige huis oorkant die straat is waar Oscar Wilde grootgeword het.



Hierdie is die Merrion Hotel waar ek Vrydag gaan vir High Tea.


‘n Pragtige winkelsentrum waar ek vandag was.










Vis en chips is so Iers soos biltong Suid-Afrikaans is. My ete vanaand was uit die boonste rakke. Ek het sommer op google gesoek vir goeie getuienisse en begin stap. Google is nie altyd akkuraat nie, maar vanaand was hulle spot-on. 


2 comments:

  1. En nogal 'n glasie wyn daarby! Heerlik!

    ReplyDelete
  2. Ja! Na Ysland voel die kos hier so goedkoop!

    ReplyDelete