Sunday, June 25, 2023

Laaste indrukke van Ysland

 My gemoed is vol waar ek op die Keflavik lughawe in buitelandse vertrekke sit. My vlug met Icelandair na Dublin, Ierland is met twee ure vertraag en die Tannie by die lounge wil niks weet van nie-besigheidsklas-mense soos ek nie. 

Dit gee vir my meer tyd om te reflekteer oor wat ek alles die afgelope week beleef het. Ek het pas vir Coco en haar Ma, Christián, van Switserland by hek A11 gegroet. Kan nie glo ek ken hulle net ‘n week nie. Christián is franssprekend en verstaan nie ‘n woord Engels meer as goodbye en hallo nie, maar ons harte verstaan mekaar. Dit kan nogal senutergend wees om alleen in Ysland aan te kom en by ‘n groep van 17 aan te sluit as jy niemand ken en niks van hulle weet nie. My grootste vrees was ‘n spul kinders. Dis net nie my sterkste suit nie. Maar ‘n beter groep kon mens nie kry nie. Baie divers, maar almal avonturiers met ‘n lus vir toer en nuwe goed ervaar. 

Ysland het my heel grootste verwagtings oortref en is definitief in my top 3 van alle tye saam met Japan. Ek los die ander podiumplek doelbewus oop om ruimte te laat om verras te word. Dalk is dit Ierland, waarheen ek nou oppad is. 



Hierbo in rooi aangedui is die roete wat ons saam met G Adventures in hierdie week gedoen het. Beste besluit ooit. Moet asb nie die fout maak om te dink Reykjavik is Ysland nie.  Die heel mooiste goed was aan die Noord, Noordoos, Oos en Suidkus van Ysland. 

Ons gidse sê die Westelike Fjords in die Noord-westelike hoek van die land is ‘n definitiewe besoek werd in die toekoms. 

Suid-Afrikaners het ‘n visum nodig en mens kry dit deur VFS in Kaapstad. Die Deense Regering reik dit uit en dit word gedruk in Dubai. 


Die heel beste vervoermiddel vanaf en na die lughawe is die Flybus. Baie dankie Elzanne van Allabouttravel! Alles in Ysland is duur en hierdie was nie ‘n uitsondering nie. Maar dis sigbaar, op tyd, skoon, gerieflik en laai jou by jou hotel se deur af. 

Taxi’s is nie so verkrygbaar nie en veel duurder. Vanoggend moes Coco-hulle meer as 30 minute wag vir hulle taxi. 




Die meeste mense in Ysland gebruik hierdie elektriese skopfietse. Dis orals. Mens laai ‘n app op jou foon af en koppel dit aan jou kredietkaart. As jy ‘n ryding soek, gaan jy na die app en kry die naaste een aan jou. Dit wys ook hoeveel battery op hom oor is. Nadat jy betaal het, sit die app die skopfiets aan en daar gaan jy. By jou bestemming gekom, los jy hom net daar en stop roete op app. Die app sit dan die fiets af. Werk fantasties in ‘n eerstewêreldland. Ek weet wat julle dink en ek het met dieselfde lysie vrae en risikos opgeëindig oor die toepasbaarheid by ons. 






Hierdie plaaslike whiskey is gerook met skaapdrolletjies🤣. 

Hul lamsvleis is uitstekend. Die vis ook. Hoender is skaars en bees selfs meer as Puffin. In hierdie week het hulle parlement ‘n verbod ingestem op walvisjag. Maar dit en haaivleis was nog op al die spyskaarte. 




Die kos is 5-10 keer duurder as in SA. Verbasend was gister se draairoomys net R80. Vir ‘n middagete betaal mens gemiddeld 4200 KSI wat R600 is en dan is daar niks by nie. Aandete kan jou maklik R1000 kos per ete, so mens moet slim werk. Die laaste twee aande het ons in Reykjavik die foodhalls besoek waar die locals uithang en dit was beter. Gisteraand het ek ‘n Wok ete gehad vir R460. Nog steeds minstens trippel as waarvoor mens ‘n stunning steak in SA kan eet, maar elke sport het sy beserings en as jy op die veld wil uitdraf moet jy die beserings in die gesig staar en die beste daarvan maak. 
Ek lag nou weer as ek vir Shumi onthou van Shumi’s place in Kayamandi. Jare terug… ek dink 2005 omtrent, wil ek my bestuurders en hoofde blootstel aan iets nuuts en bespreek ek ontbyt by Shumi. Daardie dae kon jy ‘n buffet ontbyt met alles en nog wat by die Protea Hotel in Tegnopark kry vir R42 per kop. Shumi sit koffie, mieliepap, hoenderpoot en sheba voor en vra ons R50 per kop. Toe ek sê sy is darem aan die duur kant, antwoord sy sonder huiwering… ‘You know Hanlie, Stellenbosch is expensive!’😃
Wel, Ysland ook!

Nou toe, laat ek aanstryk na my vliegtuig toe. Ek kom definitief weer! Wie kom saam?


No comments:

Post a Comment