Wednesday, June 28, 2023

Afdag in Dublin

 Vandagoggend reën dit lekker en ek skuif van verblyf. Dit klink makliker as wat dit is. Op die oomblik sit ek in Nero Café en kry my asem terug. Langs my (eintlik bo-op) is ses vriendelike jong manne van Somalië. Elke kort-kort kom nog een in en bied ek aan om nog bietjie op te skuif. Cosy!


Ek brei. My nuwe verblyf vra 100 Euro om voor 16:00 in te boek, so dit gaan nie gebeur nie. Maar ek kan doen met ‘n rusdag. Dit is nou twaalfuur. Daar is meer as vier koffie/tee plekke tussen my en Beckett House op Summer Hill en ek gaan ‘n safari-kuier daarvan maak. ‘n Uur in elkeen teen 3Euro per koppie warm iets, dan spaar ek 88 Euro!

Nou het ek net 600 meter om te gaan. Grootste werk is gedoen!



Na Ina se aanbeveling gisteraand oor Booterstown, het ek dit nagevors op google en besluit om Vrydagoggend te gaan. Dis in die baai van Dublin en lyk baie mooi. Per trein lyk die maklikste en my nuwe verblyf is redelik naby Connolly stasie. Nog ‘n vriend sluit aan by ons kringetjie. Ek skuif op. Ek verstaan geen Somalies nie, maar kan sien dat die res baie bly is om hierdie vriend te sien. Ek vra wat die okasie is en kan net ‘celebration’ uitmaak. Maar waaroor weet ek nie. Hulle gesels dat die spoeg spat en ek hoor South Africa en Cape Town en neem aan hulle verduidelik vir die nuwe vriend wat die tannie met die breiwerk in die sirkel doen. Ek hoop die verduideliking sluit in dat ek heel onskuldig eerste alleen hier gesit het voor die Somaliese inval😁.

Ek het probeer televisie kyk die afgelope vier dae. Interessant genoeg het Ierland amper geen eie programme nie. Selfs die oggendprogram is uit Londen uit. Vanoggend kyk ek twee episodes van die Amerikaanse Fraser wat ek reeds op skool gekyk het in SA.  Nogal van die oudste programme van voor Niles en Dafny nog bymekaar gekom het. Seker maar terug op aanvraag soos The Nanny by ons. Nog twee vriende skuif in en die verduideliking begin van voor af. As ek hier kon uit, sou ek. Maar ek sit.  

In die volgende uur sluit nog vier vriende by ons aan. Is daar nog iemand oor in Somalië? Net vir interessantheid google ek die immigrasie na Ierland en dis baie interessant: die meeste immigrante kom van Australië en Kanada. Daar is ook in 2022 13 492 assielsoekers goedgekeur uit Georgia, Algerië en Somalië. Mag hulle groot vreugde en vrede vind hier.  Half twee groet ek die steeds groeiende groep en word vriendelik weggewuif! Dit was ‘n interessante 90 minute vir almal van ons. 

Dit ontaard in ‘n mooi sonskynmiddag en ek skuif Booterstown vorentoe in my beplanning. Beckett House is studente akkommodasie, maar in die vakansie huur hulle dit uit. Baie gerieflik en goed. Eie ensuite badkamer en gesamentlike kombuis , wasgoedgeriewe, tv en sitkamer. 

Tradisionele Ierse Koolbredie met mash en varkvleis. Massiewe porsies hier. Ek het die helfte laat inpak vir vanaand. 

15:50 staan ek voor Beckett House om 16:00 te in. 

Die Darter (Irish Rail) na Booterstown kos net 3,85 euro retoer. Moes 11 minute se rit wees, maar ons ry al 28 minute. Het op ‘n brug gaan staan en is ‘n vertraging afgekondig. Trein is tjokvol, maar niemand knip ‘n oog nie. Moet redelik gereeld gebeur. 

Booterstown lê in die Dublin Hawe suid van die stad. Daar’s baie vleiland rondom en ‘n ernstige visreuk ook. 


Op facebook vertel vriendin Ina Gouws van Bloemfontein my van The Old Punch Bowl in Booterstown waaraan sy goeie herinneringe het. Dit is ‘n rugby pub. En daar gaat ek!







Daar is ‘n Sting konsert in Malahide Kasteel vanaand en die trein is Beijing-vol. 

Oppad terug is daar ‘n betoging voor die Ysland Winkel. Hulle betoog vir beter salarisse. Dis ‘n groot ding die afgelope vier dae in Ierland nadat dit uitgekom het dat een aanbieder van die publieke uitsaai korporasie, Ryan Tubridy, hopeloos te veel betaal is oor ‘n lang tyd. Dis al waaroor die nuus gaan vir vier dae lank. Die volle Raad is gevra om te bedank. 




My nuwe verblyf het ‘n terras op die dak. Hier is die Dublin Spire van ‘n afstand af. Ek wil 23:00 vanaand gou die sonsondergang gaan afneem. 

Ek het vandag ‘n hele paar goed geleer. Veral dat dit ‘n massiewe aanwins is as ‘n land ‘n veilige en betroubare publieke vervoerstelsel het. As iemand in die bestuur van Transnet hier lees: Komaan! Ons kan dit ook doen. Ons het dit so nodig!







No comments:

Post a Comment