Saturday, June 17, 2023

Petta Raddest!





En so land ek vir die eerste keer in my lewe op Keflavik Internasionaal net buite Reykjavik in Ysland. Dit laat my baie dink aan Patagonië in Suid-Amerika. Ons gaan deur paspoortbeheer en stryk aan bagasie toe. Na ‘n goeie dertig minute se sinkende gewag vir my tas, moet ek die tragedie in die oë kyk. My tas is nie op die lopende band nie. Ek voel verslae en stap maar aan na die tannie agter die sekuriteitsglas. Sy gee my ‘n papier om in te vul en vra my adres en sê hulle sal dit by my afgelewer voordat ek oor 9 dae Ysland verlaat. My kop hardloop deur my tas en deur my intense behoefte om na drie lang vlugte te stort en skoon klere aan te trek. Ek is stom. En hulle noem ons ‘n derdewêreld. Na nog minute sê ek vir haar ek gaan net nog een keer terugstap na die band toe. Ek bid kliphard. En daar op die vlak langs die ander vervoerband staan my oranje tas in sy blou plastiek gewaadjie wat op Kaapstad Lughawe opgesit is. Prys die Here! Ek hardloop na die Tannie agter die glas en haar halleluja is harder as myne. Sjoe! Dit was amper. Nie weg nie. Net by die buurband afgelewer. 


Die ‘flybus’ is die beste manier om van die lughawe af in die stad te kom. Dis 25 minute se ry tot by die Flybus terminaal in die stad en daar klim ons oor. Die bruin lyn bring my tot voor Hotel Cabin. Ons ontmoet vanaand ons groep en toerleier. 18:00 in die ontvangsarea. 


Ek stap gou Kronan 8-21 toe en dit kon net sowel ‘n kleiner SPAR in Piketberg gewees het. Baie dieselfde. Behalwe die self uitcheck en betaal geriewe. Hande-arbeid is duur en skaars hier. 


Ons is ver meer as 12 in die groep. Eks nog nie seker hoekom nie. Francois, ons toerleier verduidelik dis na Covid getalle. Hul webblad moet nog die na Covid opdatering beleef. Maar dis oulike mense uit Amerika, Switserland, Australie, SA, Canada en Tasmania. Almal toer gereeld en ken van. Die ouderdomme wissel van 30 tot 80, maar ek skat ek val in die jong helfte. 

Dit is vandag Ysland se onafhanklikheidsviering. Dis hoekom Icelandair vir ons almal ‘n stukkie karamelkoek met ‘n vlaggie gegee het. Hulle het in 1944 onafhanklikheid verkry van die Deense Koningskap. 79 jaar later. 


‘n Gedeelte van ons groep.

Francois is ons toerleier. Hy is ‘n Belg wat al 11 jaar hier bly en met ‘n vrou van Singapore getroud is. 

My aandete by Hill2 restaurant. Hierdie week sal ek mooi moet beplan. Die slaai en sparkling water was R600. 😳

Ons 4x4 bus vir die week. 



Dit is nou 21:50 en dis hoe lig dit buite is. Die son gaan hier bykans nooit onder nie. Van 01:30 tot 03:30 raak dit 1 skakering dowwer. Dis al. My kamer met blokgordyne, maar ek is so moeg, dit sal my nie eens pla nie. ‘Goddanot’ beteken goeienag. Ons moet 06:30 ontbyt eet om 07:15 te ry. Môre gaan erg opwindend wees. Ons ry meer as 2000 km hierdie week reg rondom die eiland!


Die mense hier glo:

No such thing as bad weather, just bad clothing.

Hulle slogan is Petta Raddest! Alles sal reg uitwerk. Hier hoef jy bv nooit te vra vir ‘n aparte rekening by ete nie. Almal betaal apart en jy gee geen ekstra tips nie. Dis alles reeds ingesluit. Baie maklik. 


17 Junie is ook Tannie Colla se verjaarsdag. 


Goeie nagrus. Goddanot!

1 comment:

  1. Lekker om te lees Hanlie. Ek vlieg niu van Windhoek af Ondangwa toe.

    ReplyDelete