Thursday, April 30, 2020

Who let the dogs out?



Staatskoerant 43258 met Regulasiekoerant 11098 Vol 658 het 21:03 in my inbox geland.  Ons Hoof van Kommunikasie stuur dit onmiddellik aan al ons wykskomitees, publieke groepe, sosiale media platforms en belange groep met alle Raadslede en bestuurders.  Ek stuur dit na ‘n paar whatsapp groepe in ons omgewing.  Om 21:04 kom die eerste vraag per whatsapp in en julle is reg.  Dis oor honde.  Artikel 16 sê elke persoon is beperk tot sy of haar plek van woning, maar brei die uitsonderings uit met ‘n nuwe paragraaf f) wat bepaal dat ‘n persoon mag stap, draf of fietsry (die volgende vraag sal oor skaatsplanke en rolskaatse gaan) tussen 06:00 en 09:00 binne ‘n 5 kilometer radius van hul woning en dit mag nie in georganiseerde groepe gebeur nie.   Maar is dit nou met jou hond of sonder jou hond?  Ag f!

Ek google alles wat ek kan en lees die Regulasie ‘n paar keer deur (40 bladsye!) en daar is slegte nuus.  Dit is sonder jou hond!  In Piketberg en die ander dorpe van Bergrivier kan niemand kla oor die radius nie, want 5 km vat jou tot ver buite die dorp, maar ek kan my indink dat die bergfietsryers in Stellenbosch baie kreatief sal wees tot groot frustrasie van die veiligheidsmagte.  Hul frustrasie sal groei as hulle lees tot by paragraaf 26 en 27 van die regulasie.  Geen drank, geen sigarette.
Gister was ‘n baie besige dag.  Ons aankopers by die Munisipaliteit het hul uitstekend van hul taak gekwyt en die volle R600 000 wat ons van die Departement van Plaaslike Regering in die Wes-Kaap gekry het, is nou omgesit in produkte (meer as 8 ton) en die papierwerk is gedoen.  Baie van die op- en aflaai van die produkte is deur die Munisipale werkers self gedoen en vervoer, want dit moes met spoed en dringendheid gebeur.  Ons kerk help ons baie en het 50 vrywilligers per dag uit al ons gemeenskappe wat help pak.  Elkeen met ‘n masker, handreiniger en elkeen se koors word gemeet voor die dag kan begin.  Dis ‘n verskriklike werk en gisteraand sou daar baie seer lywe orals gewees het.  Die eerste 730 kospakke (11 kg elk) is gister reeds uitgery na hul bestemming in die 4808 vierkante kilometer wat Bergrivier Munisipaliteit is.  3270 om te gaan.  Ons is dankbaar!  Die behoefte is so groot.
Ek plaas nie tans enige fotos van die kospakkery op sosiale media nie, want gister het een van die jeugdiges wat help net 'n foto op hul fb page geplaas en 10 minute later het die Polisie ons laat weet dat daar 'n groep van 50 oppad is om te kom kos haal.  

Ek en ons Burgemeester vergader ook gister met die Departement van Sosiale Dienste oor die uitdeel van kospakkies in ons area.  Sedert begin April 2020 tot gister het hulle 193 kospakke uitgedeel en is daar nog oppad vir die volgende paar weke.  Ons bespreek die strategie, want in sommige dele het dit nou te gevaarlik geraak om met ‘n gemerkte voertuig in te gaan en moet ons nuut dink oor die aflaai daarvan.  Die behoeftiges op plase in die omgewing is ook ‘n uitdaging.  Praat van uitdagings. Ons kry ook gister ‘n Parlementêre navraag van ‘n Parlementslid (ek sal nie sy van hier noem nie, maar dis soos die land met die meeste positiewe gevalle tans (meer as ‘n miljoen en hulle het ‘n President met ‘n snaakse haarkleur en snaakse maniere) wat soos volg lui: Is daar enige Munisipaliteit in die land wat uitdagings ervaar met die hantering van COVID-19 en indien so, watter Munisipaliteit en wat is die uitdagings?  Wat?! Kuier die Parlementslid hier van Mars af?  Waar was hy sedert 15 Maart 2020?  Ek skryf elke dag dik verslae van ons Local JOC na die Distrik JOC en via die Prov JOC na die National Commend Centre oor juis dit.  Waar het hy die verslae gemis?  Daar is sekerlik nie een Munisipaliteit wat kan sê dat hierdie ‘n sondagskool-piekniek is nie.  Lys die uitdagings!  Hoekom vat ons nie sommer die woordeboek van A tot Z nie.  En dit nadat ons reeds twee weke terug as MM Forum met Provinsie ooreengekom het dat ons geen Parlementêre Navrae antwoord tot na Lockdown nie.  Ek bespreek die vraag met ons Burgmeester en ons besluit saam dat die Lid ‘n TV moet kry en dit op kanaal 403 moet sit.  Ek antwoord die navraag met twee sinne.  Ek leer ook hieruit.  Deel van leierskap is om te kan onderskei wat regtig belangrik is in ‘n gegewe situasie en daarop te fokus.

Ek is ‘n vlak 4 werker en het gedink ek kan van komende Maandag af vir Katrina kry om te kom help met my huis.  Dit sal definitief meer as ‘n dag vat om hierdie sakie reg te ruk.  Sy was 25 Maart laas hier en is in vir ‘n verrassing.  My tuinman ook.  Maar toe ek hulle bel, is hulle so ontsettend bly dat hulle kan kom en dit gaan nie oor die geld nie. Hulle is beide vol betaal vir die hele tyd.  Hulle wil werk.  En Katrina smag na die stilte van my huis.  Ek sal maar in my kantoor gaan werk Maandag dat ek haar nie pla nie.  LET WEL: Toe die Regulasie uitkom toe verskil die gepubliseerde van die geantisipeerde en is hulp in 'n huis steeds verbode.

Hierdie plantjie het Sonja vir my gegee vir my verjaarsdag en hy gee sy beste hier in my voortuin.  


Gister was ook 'n groot dag vir ons familie. My sussie is klaar met 25 bestralings teen borskanker.

Intussen het die Wes-Kaap die middelpunt van die virus geword in SA. Om 17:00 op 28 April 2020 (die laaste getalle wat uit is) het die Wes-Kaap 1935 positiewe gevalle gehad, met 624 mense wat reeds herstel het.  38 mense is dood insluitend ‘n verpleegster.  Daar is 30803 toetse gedoen en duisende meer screenings.  84 van hierdie pasiënte is in die hospitaal en 26 van hulle is in ICU.  Volgens hierdie statistieke het Bergrivier Munisipaliteit nou twee gevalle.  Ons weet net van 1. Ek bel die Dokter in beheer van ons Departement van Gesondheid en hy weet ook net van 1.  Toe die statistiek die platforms tref, begin my telefoon lui.  Wie is die tweede geval? Waar bly hy of sy? Hoekom het ek hulle nie gesê nie? Ens, ens, ens.  Nog ‘n uur later is meer as ‘n 100 whatsapp’e beantwoord hieroor en almal weer kalm.  Ek wonder of die persoon wat die statistiek intik in Kaapstad ooit een oproep kry.

My telefoon lui.  Dis ‘n lid van die publiek in Piketberg.  Sy het ‘n krisis.  Haar kat en hond se kos is nêrens by ons te koop nie en sy soek ‘n permit om Langebaan toe te ry.  As ek die aantal kere moet tel wat ek al dieselfde antwoord hieroor gegee het, sou dit meer gewees het as die aantal kospakke wat die kerk vir ons pak.  Jammer mevrou, dit is nie ‘n essensiële diens nie.  Ek probeer haar help om ‘n paar maniere uit te dink om dit hier te kry.  Sy het kos gekoop hier vir haar kat, maar die het toe kristalle in sy blaas gekry en was in die hospitaal.  Ek wonder of die virus weet hoeveel ander siektes dit tot gevolg het.  Gister wou ‘n ander vrou kos vir haar Ma vat in Witzenberg, maar hulle het 193 gevalle in een week bygekry en ons grens na hulle toe is toegemaak.  Niemand kan in of uit nie en as iemand van ons af daar besoek het, wil ons hulle nie weer inlaat nie. Dis net te gevaarlik.  Soos wat die positiewe getalle orals styg, begin mense darem nou uiteindelik besef dat hierdie nie kinderspeletjies is nie en dat dit dodelik is.

Sterkte aan almal met die implementering van vlak 4.  Mag ons die verspreiding suksesvol laag hou sodat ons kan beweeg oor meer vlakke.



Monday, April 27, 2020

Die Poedel-bad-paleis en ander nie-essensiele dienste





En daar het Bergrivier ons eerste bevestigde positiewe COVID-19 geval.  Presies ‘n maand in Lockdown in. Op Vryheidsdag. Die protokol wat gevolg moet word is boeke vol en hou glad nie tred met die werklikheid nie.  In Kaapstad is dit miskien moontlik om so iets vertroulik te hanteer en om nie die persoon se naam en adres bekend te maak nie.  Nie op die platteland nie!  Hier weet almal reeds vir twee dae wat aangaan en ken hulle die persoon se agter-oumagrootjie se nooiensvan.  Dis moeilik om die protokol by die werklikheid uit te bring.  Ek kies ‘n oorweegde risiko midde-weg en word onmiddellik deur die Hoof van Kommunikasie van Provinsie daaroor aangespreek.  Rooi-tapyt! Ons mag nie die dorp bekendmaak nie.  Hallo!  Almal weet dit reeds.  ‘n Lid van die publiek het selfs dit op homself geneem en met ‘n bakkie deur die strate gery en met ‘n megafoon aangekondig dat ons ons eerste positiewe geval het.  Ure voordat die embargo op die inligting gelig is in Kaapstad.  Ons wifi mag stadig wees, maar ons nuus trek met die spoed van wit lig.


Gisteraand het ons ‘n baie lang vergadering tussen al die Munisipale Bestuurders in die WesKaap en die Hoof van die 14 Provinsiale Departemente. Dis ‘n baie noodsaaklike gesprek oor die nodigste goed.  Ons begin met ‘n Gesondheids-briefing deur die HOD.  Daar sal van môre af ‘n lewendige dashboard wees met die totale gevalle in die WesKaap, die totale getalle van mense wat herstel het en die positiewe gevalle afgebreek tot op dorpsvlak.  Ja, hulle mag dit bekendmaak. Dit is net die Munisipale Bestuurder in ‘n Munisipaliteit wat dit nie mag sê nie.  Julle is reg.  Ek weet ook nie hoekom nie.  Terwyl die wêreldgetal nou oor die 3 miljoen gegaan het vroeg vanoggend, gee ek weer bietjie getalle hier deur sodat ons in die toekoms sal kan weet waar ons op hierdie stadium (‘n maand in lockdown in) gestaan het.


Soos ek nou hier tik staan die wêreld op 3, 044, 897 bevestigde positiewe gevalle met 210 273 mense dood.  Dit is 6,91%.  In SA is daar nou 4546 bevestigde gevalle met 87 mense dood.  1618 van hierdie positiewe gevalle is in die WesKaap en 32 van die sterfgevalle. Die sterfgevalle in die WesKaap is 1.97% van die getal bevestigde gevalle.  In die hele SA is die sterfgevalle as ‘n % van die aantal bevestigde gevalle 1,91%.  Ons kry ‘n video van die WHO waar SA spesifiek gelukgewens word vir ons leierskap en hantering van die siekte.  Ook ons Stedeband vennoot uit België korrespondeer met my en wens ons geluk met ons deeglike inligting en openhartige kommunikasie met ons publiek (hulle hou dit dop via Facebook) en sê dat dit ongelukkig nie by hulle die geval is nie.  Bykans 'n miljoen van die 3 miljoen bevestigde gevalle is in die VSA.  Hier sal 'n mens ook seker iets moet se oor die leierskap.

Ander interessante inligting uit die Gesondheidsgesprek is die twee nuwe hotspots in die WesKaap naamlik Khayelitsha en Ceres.  Ek kan nie help om te dink aan die video van die jeug wat die eerste nag na lockdown in die strate van Khayelitsha gedans het om te wys dat hulle hulle nie sal laat voorsê nie.  Die Premier maak vanmiddag bekend dat Khayelitsha 158 positiewe gevalle het en reeds ‘n veldhospitaal vereis.


Die beste scenario-voorspellings wys dat die peak ons nou einde Augustus behoort te bereik en dat die 12 – 18 maande kan vat om by vlak 1 uit te kom.  Ons bespreek ook doodsbegeleiding en die hantering van massa-verlies in die land en hoe ons dit gaan hanteer in ons gemeenskappe.
Die kwarentyn en isolasie fasiliteite lok ook baie gesprek uit.  Die Departement van publieke werke lei die gesprek en die HOD daar is baie goed georganiseerd. Ons werk met elke spesifieke distrik op hul eie manier want elkeen se behoeftes verskil. Die operasionele handleiding kom môre uit en ons moet dit bestudeer en insette gee.  Waar sal ek nog tyd daarvoor ook vind, wonder ek.  Gelukkig is dit die stoof wat self die sop maak. Ek is nou by 262 liter sop sedert verlede Saterdag en wonder of ek ooit weer sop sal eet in my lewe.  Toe ek en Elizan oorsee getoer het net na Universiteit het ons onder die broodlyn geleef en meeste dae net ‘n pakkie kitssop en ‘n granola-bar geëet.  Beide vat ek nou nie aan nie.  Ook Weetbix is lewenslank verban uit my kas, want Bokomo in die Paarl het grootmaatsakke vir goedkoop verkoop en net soos ons gedink het nou het ons uiteindelik ‘n sak deurgewerk, bring my Ma die volgende een by die agterdeur in.  Nooit weer nie.

Die ander belangrike onderwerpe tydens die vergadering handel oor die Humanitarian Response. Provinsie se R16,2 miljoen is oorbetaal en elke Munisipaliteit is besig om aankope te doen en sal aan die einde van hierdie week kan begin kospakke uitdeel aan die wat dit die nodigste het. ‘n Groot kwessie is die veiligheid van kos.  Nie voedselsekuriteit nie.  Ek het ook eers so gedink.  Nee, hoe om die voedsel veilig te hou teen diewe en stropers en die vrot aartappels in elke gemeenskap. Ander onderwerpe sluit in die skole se wanneer, hoe, wat en waar, Veiligheid en die ontplooiing van die 73 000 weermagpersoneel wat nou opgeroep is, die kwesbaarheid van polisiestasies (8 van die 151 polisiestasies in die WesKaap is reeds toe agv COVID-19 verspreiding.  Ons bespreek ook water, sanitasie, backyard dwellers, die installasie van die geskenkte watertenke, die ekonomie en vele meer.  

Daar was selfs tyd vir ‘n bietjie humor.  Soos altyd in goeie geselskap in SA.  Die vlak 4 besigheidstoelatings is nog oop vir insette vanaf die publiek en die eerste inset wat verkry is, was van die Poedel Bad Paleis in Kaapstad wat ‘n hewige argument voer oor hoe essensieël hulle is.  Ons drie vroulike Munisipale Bestuurders saam met die vier vroulike HOD’s wou nog iets sê, maar ons manlike kollegas spring ons voor en stel voor dat haarkappers en skoonheidsalonne darem seker voorkry sal kry lank voor poedels gebad en gegroom word.

‘n Ander ding waaroor ek lank dink die afgelope week is die reg op menswaardigheid wat elke mens in SA se grondwet het.  
Een van ons kollegas by die Rampbestuursentrum het hierdie ding weer in my getrigger.  Tydens ons DCF (District Coordinating Forum) verlede Donderdag stel hy voor dat ons seker maak dat daar nie “double dipping” gebeur met die uitdeel van die kospakkies nie, deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie se beproefde metode te gebruik van jou regterduim met ink te merk.  Op die oog af mos nou ‘n stunning plan. Die familie ontvang ‘n kospakkie en ons merk almal in die familie se duime met ink en vola!  Ek skrik vir die wrewel wat in my opwel en ek moet my inhou om my beurt af te wag om iets te sê.  My mentor in Sosiale Ontwikkeling, Tannie Audrey van Wyk, van Stellenbosch het my baie dinge geleer en een daarvan is hoe om altyd op te kyk na die mense wie jy dien en nooit nooit nooit af te kyk na hulle nie.  Om aan ‘n Nasionale Verkiesing deel te neem is iemand se trots en die ink op jou duim raak ‘n trofee wat baie mense fotos van geneem het en op sosiale media versprei het om te wys dat hulle deel is van iets groters.  Vir ‘n Pa (of ‘n Ma) wie se instink dit is om vir hul familie te voorsien en wat nou bakhand moet gaan staan omdat hy of sy hul vermoë verloor het om te voorsien, is hierdie nie ‘n trofee oomblik nie. Dit bring trauma.  Skaamte en kopsak.  Die ink sal hul ontneem van hul laaste bietjie menswaardigheid.  Daar is so baie goed om aan te dink in hierdie tyd.  

Daar is nog baie sulke skoolgeld-oomblikke.  Snaakse dinge ook:



Hierdie bakkie laai ek by een Tannie op wat laat weet sy het ook bakke vir die sop. 

Nothing Dad, I just smiled.


‘n Ander ligpunt in my dag is die hawelose mense in Piketberg.  Hulle doen vanmiddag kuns en maak draadkarre.  Elke dag word drie gemaak en ek is genooi om Vrydag die beoordelaar te wees by die groot resies. Ek borg ook die eerste drie plekke se pryse. Dit sal sjokolade van allerhande aard wees en is groot in aanvraag.  Wie weet, miskien hou ons ‘n Bergrivier toernooi aan die einde van Lockdown tussen Velddrif, Porterville en Piketberg se hawelose-draadkarre!





Ek het nou al 32 pare bedsokkies gebrei in Lockdown vir Steinkopt in die Noordkaap.

Net in die tyd wat dit my gevat het om hierdie blog te skryf, is 960 mense dood aan COVID-19. Dis erg om dit so grafies te sien.

Mag Vryheidsdag ons ook altyd herinner aan die Ware Vryheid wat nie net demokrasie insluit nie, maar die Ewige Lewe wat nou reeds in Lockdown begin het vir ons wat glo.

Kom ons leef soos mense wat weet dat ons waarlik vry is...

Lief vir julle,  Hanlie




Friday, April 24, 2020

Super mark!



Onthou julle hoe ons in die ou dae vir mekaar sou sê: “Ek gaan gou winkel toe.”  Dis so 2019.  Vanoggend staan ek 51 minute (ja dis hoe my kop werk – van altyd af tel ek dinge) aan die buitekant van die winkel (gelukkig in die koelte) voordat ek die voorkant van die tou bereik en toe weer 16 minute in die afgebakende ry om te betaal.  Maar ons kla niks nie.  Ek ontmoet selfs vir André in die ry voor my. Hy is bekommerd oor die risiko vir hulle gesin, want sy dogter studeer medies en sy ander kind werk in die apteek.

Ek kry ook weer vir Tannie Rosie. Sy was een van die eerste engele wat ek ontmoet het toe ek Piketberg toe gekom het. Sy het by De Berge Gastehuis gewerk waar ek die eerste maand en ‘n half van my Piketberg-lewe gebly het toe ek in Desember 2012 hier begin het.  Tannie Rosie het vir my uitgekyk en baie noodsaaklike weet-dinge van die dorp met my gedeel.  Sy is intussen afgetree en ek het haar nog nie weer gesien tot vanoggend in die ry nie. Sy het intussen ‘n heupvervanging gehad en staan swaar in die ry.  Die 51 minute vang haar en ons soek later ‘n stoel om haar te help. Sy hang later sommer oor die vullisblik.  Ek dra haar swaar pakkie wat sy reeds by ‘n ander winkel gekoop het. Hoe sy met alles by die huis gaan kom weet ek nie. 

Die COVID-19 plakkate opgeplak by Boland Superspar.

SPAR doen die regte ding en laat niemand in sonder ‘n masker nie. Ek gaan soek ‘n spaar masker in my motor vir Tannie Rosie.  Ook André leen een by my om in te gaan.  Ek onthou later van sy hoë risiko familie en gooi die geleende masker dadelik in dettol by die huis.
Ek gaan laai ook groot sakke geskenkte sopvleis by Liebco op en Jacobus gooi pakke gevriesde groentemengsel ook in die boks. Hoe sal ons ooit die storie kan vertel van al die welwillendheid in Suid-Afrika.  Die grootste biblioteek sal te klein wees.  Tuisgekom laat weet ek twee kerkwyke, wat ook besig is om sop te kook vir die ACVV en Badisa, van die vleis en dat ek sal aflewer vir wie ookal kan gebruik.  Een Oom se vrou stuur later ‘n boodskap terug en sê die Oom vra of ek nie ook by TOPS ‘n skenking gekry het wat ek uitdeel nie. Ek is mal oor ons humorsin.  So sal ons dit maak. Grappie vir grappie.



In die ry in die supermark, waar ons wag om te betaal, verluister ek my aan die ekspert agter my wat genoeg ure voor die kassie deurgebring het en aan die hele winkel uitsaai wat sy weet oor die virus.  Sy is erg verontwaardig dat hulle kan dink om die skole oop te maak in Mei en is later amper emosioneel oor die 750 kinders in die skool wat 35 in ‘n klas is en wat almal gaan aansteek.  Ek kan sien dit pla haar regtig, want die masker wil-wil nat word aan die bo-kant.  Ek wou haar sê dat ek meer bekommerd is oor die ander skool op ons dorp met die 2400 kinders wat 58 per klas sit, maar wou haar nie verder ontstel nie. Miskien het sy regtig nie die vermoë om nou verder te rou as net haar eie omstandighede nie.  Dis verstaanbaar.

By die Munisipaliteit het die Provinsiale Regering se Departement Plaaslike Regering R16,2 miljoen gaan uitkrap en prioriteite verskuif om aan die 24 Plaaslike Munisipaliteite in die Wes-Kaap geld oor te betaal om kospakkies (hampers) aan behoeftige huishoudings te voorsien.  Bergrivier Munisipaliteit kry R600 000.  Alles wat ek hier in een sin sê het verlede Maandag in ‘n Kabinetsbesluit begin, is in die Government Gazette afgekondig die volgende nag en is per kontrak beklink tussen die HOD van Provinsie en die Munisipale Bestuurder van elke Munisipaliteit voordat geld oorgedra kan word.  Nou begin die supply chain management proses aan ons kant en moes Nelmarie, Israel en Andrewline ure spandeer om kwotasies te kry. Ek keur ‘n afwyking goed vir noodaankope en daarom hoef ons nie nog 7 dae op tender ook uit te gaan nie.  Ons sukkel om genoeg voorraad te kry. Samp is lankal uitverkoop aan die Rampbestuursentrums in SA en mieliemeel en koekmeel is so skaars soos hoendertande. Ons wil ons geld so ver as moontlik rek om soveel as moontlik huisgesinne te kan help en gebruik die 37 bladsy riglyn-dokument wat DLG uitgestuur het om die inhoud van die hamper te bepaal.  Ons Burgemeesterskomitee neem die finale besluit oor die inhoud en ons bel elke verskaffer binne ons grense en baie daarbuite om te sien hoe vinnig ons die hamper-inhoud hier kan kry.  Ons werk saam met die kerk vir stoorplek en hulle maak ook 100 vrywilligers bymekaar om vroeg volgende week die hampers te pak.  Daarna sal dit na al die wyke in Bergrivier versprei word.

Ons kry ook wonderlike skenkings van die besighede in ons omgewing en ek sal nooit genoeg kan dankie sê nie.  Ook aan elke individu wat hand in eie sak steek en skenk wat hulle kan.  Dis ‘n aangrypende tyd om mens te wees.  Ek lees weer my eerste COVID 19 blog-inskrywing op 27 Maart 2020 en besef dit waarvoor ek gehoop het het presies so gebeur en baie meer.  Net sodra ek wil moedeloos word of moeg word, dan bel iemand wat sê die Here het my nou so op hulle hart gesit hulle kon nie anders nie.  Dankie aan almal!  Hou asb aan bid.  Ons gaan hier deur kom. 
Ek ruik nou eers sop wat brand!
Vanoggend vroeg whatsapp video call ek met vriend Stephan in Kolbe in Japan. Hulle kry ook baie swaar daar.  Van julle sou al sy video’s op facebook gesien het. Indien nie, google Missie Japan of soek Stephan op facebook.  Hy is ‘n predikant en een van die boodskappe wat die Here op sy hart gesit het tref my opnuut vanoggend.  Ons sê altyd as daar hoop is, is daar lewe.  Seker agter Anne Frank se bekende aanhaling aan.  Maar die waarheid is: as daar lewe is, is daar hoop.  Christus is die weg, die waarheid en die lewe daarom is daar Hoop!


Ek besef gistermiddag dat ek 15 Maart laas aan enigiemand gevat het of enigiemand aan my.  COVID-19 no touch zone!  Dit slaan my soos ‘n hamer voor my kop.  Na 50 jaar is ek nogal ‘n ekspert op enkellopend wees en pla dit my meestal min.  Okay, sekere goed is moeiliker as ander.  Ek het geen probleem om alleen te gaan fliek nie, maar alleen in die kerk sit is moeilik en as ek oorskiet-kos eet voor die heruitsending van Noot-vir-Noot op ‘n Sondagmiddag 13:00, sou ek net sowel my polse met ‘n stop skêr kon afsny.  So, ‘n mens leer om pro-aktief te wees.  Ek sorg dat ek al teen ‘n Woensdagaand my uitstappies saam met vriende vir die naweek gereël het en as ‘n familie my net te hartlik groet by die kerk, nooi ek myself vir middagete by hulle.  Dis hoe dit is. Dis hoe enkellopendes oorleef.  En so is daar duisende mense in SA wat alleen deur Lockdown is.  Wees versigtig as julle ons groet na 1 Mei.  “Social distancing” kan problematies raak. :-)

Gisteraand het die President weer vir ons “marching orders” gegee.  Ek is so trots op hom. Okay! Spot maar! Hy het gesukkel om sy masker deur die ore te werk, maar wys my een mens wat nie daarmee sukkel nie. Gelukkig het hy geen gebrek aan leierskap, geloof, geloofwaardigheid of karakter nie. Hy sê dat ons sedert 1 Mei 2020 op vlak 4 sal wees en dat mense mag sigarette koop en met hul honde gaan stap.  Ek het nie een van die laasgenoemdes nie, maar is dankbaar want dit gaan ‘n groot % van die oproepe verminder.  Ek het klaar besluit wat ek op 1 Mei gaan doen...  Ek gaan 07:00 die oggend die bergpad stap in Piketberg. As ek bo by die reservoir op die kontoerpad klim, gaan ek uitkyk oor die voorbereide lande van die koringboere in Bergrivier en gaan ek saam met Jo Black skree: Voel jy die genade....! 

Mag elkeen van julle elke dag in die res van Lockdown Sy genade tasbaar voel.


Wednesday, April 22, 2020

In die regte hande...



Die moeilikste ding vandag was om te onthou om diep asem te haal. Alles gebeur absoluut gelyk. Ek kan nie dink dat ek ooit gedink het 2019 was ‘n moeilike jaar nie. En dit was.  Maar hierdie is op ‘n ander plato wat ons nog nooit op enige skaal beleef het nie. Selfs toe ons 17 dae se water oorgehad het in drie dorpe van Bergrivier Munisipaliteit in April 2017, was die kyk van wanhoop nog nooit so duidelik sigbaar in ons gemeenskap se oë soos nou nie.  Ek kyk lankal nie meer in ‘n spieël nie. Te bang vir wat ek in my eie oë sal sien.

Hoe “pace” ‘n mens jouself in hierdie tyd?  Dis almal se goedbedoelde raad.  Ek verstaan dit. Die “peak” kom eers in September en ons moet nog momentum oorhou om daar te kom.  Dis makliker in ‘n groot stad waar baie hulpbronne is.  In die platteland het ons nie ‘n Departement van Arbeid waarheen mense kan gaan as hulle sukkel om UIF te kry nie. Hulle kom Munisipaliteit toe.  Hier is nie internet kafees waar bekommerde ouers kan gaan aanklop om te smeek vir ‘n laptop waarop hul kinders kan skool gaan nie. Hulle kom Munisipaliteit toe.  Hier is nie een van die 92 voedingskemas van die Departement van Sosiale Ontwikkeling nie. Hulle kom Munisipaliteit toe. Staan in onhanteerbare lang rye voor raadslede se huise en smeek vir kos, spring voor jou motor in as jy ry om sop op of af te laai en almal se oë sê presies dieselfde ding: help ons.  Ek het vandag ‘n kort draai deur die dorp gery om ons drie vullistrokke te gaan soek om vir die aanhouers iets te ete en te drinke te vat. Ek het gewens ek kon die masker oor my oë ook trek.

Die tsunami van e-posse en whatsappe is ondoenbaar. Ons hou nie by nie. Ons rapporteer uurliks en daagliks aan Joint Operating Centres op Distriksvlak, Provinsiale Vlak en Nasionale Vlak. My PA gaan deur die e-posse en sit vir my net die goed waarna ek dringend moet kyk in ‘n aparte inbox vir elke dag. En ek sit kop neer en staan nie op voordat vandag s’n nie klaar is nie, want more is die volgende inbox vol.  Vir elke verandering wat die President of enige Minister aankondig, bel dieselfde vlaag van 1000 mense om te hoor hoe hulle nou die Regulasie moet interpreteer. En niks is klinkklaar nie.  Niks nie.  Ek spandeer ure op ‘n dag met my neus in my rekenaar en die res op my knieë.  In elke brief wat uitgaan moet jy opgewek klink en mense motiveer, want almal is oormoeg.  Op 27 Maart het ek ‘n aantekening in my boek gemaak dat ek op 18 April (wanneer alles verby is) ‘n week verlof gaan vat.  Ek is iemand wat altyd iets moet hê om na uit te sien.  Dit het my deurgedra. Hoe naief was ek nie. 

Die segsman aan die woord.








'n Netjiese spulletjie!


Meals on Wheels.

Daar is baie ligpunte ook in die dag. Vandag kom Meals on Wheels weer op hul twee-weeklikse rondte en gee vir ons wonderlike rantsoene om die haweloses mee te voed.  


Ek kom agter dat Jeremy en Abe baie streke besoek en kos aflaai by vrywilligers, maar nooit die mense ontmoet wat baat uit die kos nie.  Ek vra of ek hulle gou Rhinopark toe kan vat waar 43 van ons haweloses in Piketberg tans bly. Hulle is lus en volg my soontoe. 
Ek bel gou vir Moshwin wat daar in beheer is namens die sportraad en 5 minute later stap ons in.  Dit is almal mans wat tydelik daar bly. Die saaltjie in ongekend netjies. Daar staan ‘n pot vars tuinblomme wat ‘n Tannie gebring het sodat hulle kan aanhou om die mooi in die lewe te sien. Die tafels is in ‘n perdehoef gepak met die matrasse om die kante. Op die tafels is die koerant, legkaarte, domino’s en ander speletjies geskenk deur ons biblioteekdiens.  Die beddens laat my dink aan my tyd in die weermag. Almal kraakvars opgemaak soos voor inspeksie. Ek vra wie is so agtermekaar en kwaai met hulle en die klaskaptein-tipe word gou uitgewys.  Ek stel hulle voor aan Jeremy en Abe en vertel hoekom ons hier is. Dit word spontaan gevolg deur ‘n deeglike handeklap wat die Proteas op Nuweland sou geniet het na ‘n goeie wen.  ‘n Segsman staan op en kom doen die woord namens die span. Kort en kragtig en dankbaar en dierbaar. In die middel van die vertrek staan ‘n houtkruis met ‘n doring-kroon op en ‘n verblykte stukkende rooi lap.  Dit was hul verhoog-prop uit hul Paasfees konsert. Die kruiswoorde is opgeskryf op ou stukke karton en opgeplak langs die tydelike reëls van die sentrum.  ‘n Netjiese bedryf.  Ek wonder hoe hulle ooit weer tevrede gaan wees met die treinbrug, maar dit is post-lockdown se probleem. Nou trek ons hulle eers net deur.

Die absolute hoogtepunt van my dag was tweerlei:  Ons virtuele uitgawe van die Piketberger kom uit. Marietha en Barbie se Lockdown uitgawe is skitterend. Ek soek 'n hardekopie in kleur om as 'n trofee te bere. Gaan google gerus Die Piketberger en lees saam met ons.



Die tweede hoogtepunt is vriend Gert se oproep met hartstories en sy wenner karringmelkbeskuit-resep. 


Daar is die wat kritiseer en kla ook.  Dit is altyd so. Ek onthou toe ons Kilimanjaro gaan klim het in 2005 hoe kinderlik opgewonde ons was oor die matrassie wat in elke tent aan ons gegee is die eerste aand, want gewoonlik slaap ons op die grond op sulke uitstappies.  Teen aand drie het ons begin kla en teen aand vyf was ons gereed om ‘n rewolusie te lei oor die onreg wat ons aangedoen word oor die matrassies so dun is. Dis menslik! Ons glans verwelk gou.  Dis ook deel van ons rou-proses tans. Ons afskeid van die bekende.  Die fases van woede en ontnugtering en opstand wat hulself afspeel in ons gemoed. Dis normaal.  Een van die kassiere by die groothandelwinkel waar ek die vullistrokmense se eet en drink wou koop, weet ek werk iewers in ‘n posisie by wie sy kan kla en pak uit!  Sy is nie seker watse posisie ek presies in werk nie en maak seker sy cover al die kante. Hulle moes self vir hul maskers betaal. Hul handreiniging maak haar naels sag en haar vel skurf. Hulle skofte is te lank en waar kan sy nog gaan kla, vra sy.  Ek pak later self my goed in ‘n sak en loop sonder ‘n woord.  Selfs een van die haweloses hardloop vanoggend agter my motor aan om te kom sê die pap was nou die oggend ‘n halfuur laat! Hoe laat het julle pap gewoonlik onder die brug gearriveer? vra ek, maar gelukkig verstaan hy te min Afrikaans om die blatante sarkasme op te tel.  Later lag ek en die twee oormoeg vrywilligers wat die kos maak, uit ons maag uit. Van skok en sommer net om te keer dat ons kwaad word. By hulle hekkie staan die rye onophoudelik. Ek moet my motor ver onder die afdak intrek dat niemand sien ek laai kos af nie. 

En dan, net voor alles te veel word, kry mens weer boodskap op boodskap van mense wat laat weet dat hulle bid en my Ma bevestig “julle is in die Here se hand.”  Dis ‘n waarheid wat ek soos ‘n mantra fluister deur die dag: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. My sussie se matriekseun leer homself kitaar speel soos wat my oorlede swaer so goed kon doen en hy sing “Don’t worry about a thing....”  Dit klink makliker as wat dit is.  

Hoe sou ons ooit hierdie oorleef het as ons een oomblik buite die hand van die Here was? Nooit nie. 

Tuesday, April 21, 2020

Sop vir Afrika!


Dit was aand en dit was more... die 27ste dag van Lockdown.

My Ma was reg... dink ek toe ek die laaste soplepel van 44 liter sop sedert Saterdag in ‘n 1 kilogram Flora margarine bak skep en in my kampvrieskas pak. My staanvrieskas en kisvrieskas is reeds vol. "Flora Regular High in Omega 3 and 6" lees ek op die bak. My Ma is reg oor baie dinge.  Maar toe sy drie jaar terug vir my aangemoedig het om ‘n elektriese drukkoker aan te skaf, sou ek nooit in my wildste drome kon dink hoe handig dit in hierdie maand sou wees nie.  Dit het my welliswaar 'n volle jaar gevat voordat ek die drukkoker op die Black Friday Sale vanaf Takealot bestel het.  

Ek het nog nooit so baie sop gekook nie. Liter 45 en verder is reeds oppad. En so word daar uitgespring in duisende huise in SA en is ek so trots om ‘n Suid-Afrikaner genoem te word.  Jinne, maar ons kan saamstaan as dit moet! Ook in Bergrivier is elke vrou in elke huis wat kan en selfs die wat nie kan nie, besig om behoeftiges te help.  Tussendeur hou ek my brein besig met allerhande onsinnighede en maak ek ‘n studie van wie gebruik watse margarine of botter op ons dorp, wie verkies watse geur feta of joghurt en watse roomys word in grootmaat verorber in watter huishoudings. Dit is ook duidelik wie koop graag by Woolworths in die stad, maar ek belowe ek hou die inligting vertroulik.  Interessante studie sê ek jou.  

Vir die verskaffers: julle moet asb nou julle nonsens uitsorteer voor die volgende krisis.  Hoekom pas ‘n Fairest Cape joghurt bak se deksel nie op ‘n Parmalat houer nie? Dit is sommer twak en sou ‘n vrywilliger se werk soveel makliker gemaak het.  Nou moet ‘n mens legkaart bou om elke draai. Die 1 kg Flora bakke werk die beste en kry die meeste sop in die kleinste spasie in die vrieskas.  Dan laai ons af by die ACVV of Badisa en is die spasie beskikbaar en begin ons weer van voor af.  Party bakke is al soveel keer herwin.  Op een van die deksels staan “best before 7/4/2013”. Kudu’s!

‘n 90 jarige geliefde Tannie op ons dorp wat tans by haar kinders is in Clanwilliam (ja julle weet tog ek praat van Tannie Colla) reël dat haar herwinningsgoud in haar motorhuis ook uitgehaal word en deel vorm van die poging om soveel as moontlik mense van honger te red.  Dankie aan elkeen! Elke bietjie help en saam sal ons dit maak.

Intussen het die Wes-Kaapse Regering besef dat die huidige plan van kospakkies uitdeel nie vinnig genoeg resultate lewer nie en het hulle verdere fondse beskikbaar gestel wat Munisipaliteite kan gebruik om voedsel-sekuriteit mee te doen. Ons is oneindig dankbaar en kry kans om tot vanmiddag 16:00 insette te lewer oor die proses en die plan.  Daar is baie insette om te lewer.  DSD leer ook intussen uit hul huidige prosesse en sit ‘n verbeterde Food Relief Stage 2 op die tafel.  Elke Munisipaliteit is gelys behalwe Bergrivier.  Ek staar in stomme skok na die skerm en kan nie glo wat my oë sien nie. Gelukkig het ek oor jare baie goeie verhoudings opgebou oor al drie vlakke van Regering en kan ons dit gou regstel.  My hart klop nou nog onreëlmatig.

Gisteraand gaan laai ek sop af by Hannie. Sy is verbonde aan Badisa. Vir baie op Piketberg is Hannie Badisa.  Ek gee ook vir haar geld wat 'n vriend uit China geskenk het vir behoeftige gesinne. Wonderlik hoe 'n hele wereld kan saamstaan.  Oppad terug ry ek onderom na my huis toe om 'n slag aan ander honde die kans te gee om bietjie te blaf, en so wrintie waar sien ek 'n buurvrou doodluiters draf.  Ek haal my voet van die dieselpedaal af en gly my motor met momentum tot langs haar. Ek draai die ruit af en was reg om iets te se, maar kry niks uit nie. Ek trek my skouers op en beduie met my hande in 'n opwaartse posisie asof om te vra: Wat doen jy?  Ek dink sy kon die moedeloosheid in my oe sien. Probeer eers verskonings maak. Sy draf net van haar huis tot by die buurvrou twee huise verder se hek.  Ek staar haar aan in algehele onvermoe en vra of sy weet dat dit 'n kriminele oortreding is.  Vannag sou ek heelnag rondrol hieroor.  Wat doen ons as die goeie mense nie meer geduld het nie? Dan is ons in die moeilikheid. Ons het nie die personeel of krag om goeie mense te patrolleer nie. Ek vra weer baie mooi.  Beskerm asb uself en almal van ons en bly tuis. Ja, dis verskriklik dat jy nie mag draf in die straat nie. Ek verstaan dit. Ek stap ook minstens 3 keer per week die bergpad in Piketberg, maar ons is nou in 'n Nasionale Ramp. Dit is wat dit is. Bly tuis. Jy is nie net 'n krimineel as jy uitgevang word nie. Jy is 'n krimineel as jy die wet oortree. 


Intussen stuur mense mooi goed vir mekaar oor whatsapp en hou ons zoom-vergaderings dat dit klap. Ek sal na dese ‘n handboek kan uitgee oor hoe om jou serp so te knoop dat mede-zoom-kollegas nie agterkom dat jy jou pj’s aanhet nie.  Saterdag was so ‘n geval.  Ons vriendekring hou ons tweede sundowner zoom en dit is absoluut fantasties om almal te sien en saam te lag en te gesels. Ons klomp kamp gewoonlik saam van net na Kersfees af tot verby Nuwejaar en ons like mekaar kwaai.  Saterdagmiddag besef ek my haarstyl is minder zoom-kamera vriendelik en stel ek ‘n tema voor vir die partytjie: hoede! Ons klomp maak altyd van Oujaarsaand ‘n fiasko en Blyda is die voor-in-die-koor-organiseerder met hope kreatiwiteit.  Wat ek die meeste van die klomp kampfietstoerders geniet is hulle entoesiasme.  As mens sê hoede, is almal onmiddellik game en almal speel saam. Voorwaar ‘n spesiale klomp!  En ons was nie teleurgesteld nie!




Ek het hierdie whatsapp verspreiding baie geniet:



Sterkte met tuis bly.  Moenie dat jou ongeduld van jou 'n krimineel maak nie. Asb!


Ons NGO vennote deel appels uit in die Eendekuil omgewing saam met kos.  Mag 'n appel 'n dag steeds die dokters laat wag.


Friday, April 17, 2020

Twee vissies en vyf broodjies

Foto: Velddrif


Nog nooit het hierdie wonderwerk meer betekenis gehad in my lewe as nou nie. Baie van ons (ek ingesluit) gaan nou eers verstaan wat dit beteken as ‘n baie groot deel van ‘n gemeenskap honger is.  En skielik word ‘n kospakkie en die uitdeel daarvan ‘n kommoditeit waarvoor mense bereid is om te moor.  Die Daily Maverick skryf vanoggend oor die protesaksie en plundering van koswinkels wat in SA plaasvind.  Iemand word aangehaal wat sê hulle sal eerder sterf van COVID as van honger. In baie se gemoed die enigste twee keuses.  In hierdie geskarrel besef SASSA en die Departement van Sosiale Ontwikkeling hoe ontoereikend hul voetspoor is.

Terwyl ek hierdie tik lui my telefoon. Dit is een van ons grootste vrugteverwerkingspakstore in Piketberg.  Hulle wil my sien oor planne oor hoe om die afgekeurde produkte wat net bietjie te ryp is vir die uitvoermark en afgekeur is by die grens, te versprei aan ons gemeenskappe via die NGO’s.  Ek is dankbaar verby. Terwyl ek in hul raadsaal sit wys die Here ook vir my hoe goed ons hulle sal kan gebruik as ekstra lykshuisspasie.  Die twee vissies raak meer en meer en ons kan honger gesinne help.  

Voordat hierdie blog klaar geskryf is, het nog talle mense en organisasies gebel wat graag wil help.  Die Here is getrou soos altyd.  Die kerke en besighede is aan boord en reik uit, maak sop, versamel yoghurtbakke, skenk produkte en maak die NGO’s se hande sterker en sterker. Maar die aanvraag is onophoudelik en oorweldigend. Die Provinsiale Regering se projeksies wys dat ons piek sal kom by September 2020 en dit is ‘n marathon wat ons skuifelpas-agtig moet aanpak om die einde voortdurend in sig te hou.  Ek vra weer vir almal wat hier lees… Wees bewus van die nood rondom jou. Skenk wat jy kan. Soveel as moontlik. Onophoudelik.

Ek ry later om joghurt- en roomysbakke, wat gisteraand per whatsapp vergader is en op die sypaadjies uitgesit is, te gaan versamel en om sop te gaan oplaai by vrywilligers.  Toe ek by die ouetehuis in Tillalaan verbyry, vang my oog ‘n Tannie wat haar een arm woes waai om my aandag te trek.  Haar ander arm leun op ‘n kierie.  Ek skrik en slaan remme aan. Spring uit om te kyk waar ek kan help. Ek dog iemand is dood en hulle kry nie ‘n ambulans in die hande nie.  “Goeiemore Tannie, hoe kan ek help?”, skree ek nog in die hardloop na die hek toe.  Sy vra of ek vir Marie by Winkel-so-en-so ken. Dit is haar dogter. Sy is mev So-en-So. En sy trek weg en vertel my die A-Z van wat aangaan in die ouetehuis sonder om op te kom vir asem.  Selfs hulle wat kos het, smag na oorlewing. Uitgehonger vir gesels. Ek vra uit en maak ‘n paar grappies.  Sy vra uit oor wat in die dorp aangaan. Hul onderwerpe vir gesels is lankal op.

Ek bel vanoggend vir Katrina wat by my werk.  Haar broer is ook in hierdie tyd oorlede. Hy was ‘n asmalyer.  Ek kry haar 15 minute later by Carstens Begrafnisondernemers om haar volgende twee weke se geld te gee en ‘n sak produkte. Ons mis mekaar en kan nie wag om mekaar te sien nie. Sy sê sy mis ook die stilte van my huis waar sy twee keer per week haar dag kan begin deur eers stiltetyd te hou.  En ek luister later vandag met nuwe ore na die stilte in my huis wat my gereeld teen die dak uit dryf.


Maar kos bring ook frustrasies: Ek het in ‘n vorige blog hierdie foto gedeel van die droë rantsoene wat ek in Malmesbury gaan haal het vir die vrywilligers wat drie etes per dag maak vir die talle hawelose mense wat ons in drie tydelike sentrums het.  Die vrywilligers sukkel om voor te bly en is al so moeg. Daar word al van 27 Maart 2020 af kos voorsien.  Vanoggend kry ek ‘n e-pos van Meals on Wheels met twee dokumente wat die vrywilligers daagliks moet invul en terugstuur.  Daarin moet hulle sê wie elke dag die kos gekry het (per naam en ID nommer), die venue waar dit verskaf is, die spesifieke spyskaart en die ontvangers moet elkeen teken dat dit in ‘n goeie toestand ontvang is.  Nou kyk! Daar is niks wat my so frustreer soos wanneer sinnelose “red tape” in die pad van dienslewering kom nie. Ek het letterlik rooi gesien en dit salt el as een van die min kere in my lewe dat ek kwaad was.  20 minute later toe ek by ‘n sekuriteitsgebied wou inry en my temperatuur geneem word, was dit steeds net 33 grade, so het ek my uit my bloedsomloop uit vererg vir die spulletjie. Daar is nie ‘n manier dat ek van ‘n doodgewerkte vrywilliger kan verwag om nog sinnelose vorms ook in die vul nie.  Nou vul ek hulle maar self in. Asof ek nie genoeg goed het om te doen nie. Gelukkig doen ek nog niks tussen 03:00 en 04:00 in die oggend nie! Later toe ek weer deur dieselfde sekuriteitshek ry en my temperatuur net 34,5 grade wys, noop dit my om te google oor die saak. Ek vermoed hul apparaat is foutief! My familie sal almal getuig van my warmbloedigheid.

Die beste ding wat in hierdie tyd kon gebeur in die Weskus en Weskaap, is die snoekrun! ‘n Vriend stuur ‘n video van vissers op ‘n boot wat net nie kan voorbly met snoeke uittrek nie. Ons het gebid dat twee vissies meer moet raak en die Here voorsien een van die beste snoekrun-jare in ‘n lang tyd. Dit bring ook uitdagings met permitte vir vissers, akkommodasie vir die wat in ons gebiede moet oornag, verwarring oor wie nou eintlik watter permit moet uitreik en weet ek ook vir die eerste keer wat “langanas” is waaroor Pieter Pieterse in sy Weskus kookboeke skryf en Uys Krige in sy bekende gedig: Ken jy die see, meneer?  Vir die meeste van die vissers beteken dit meer as 80% van hul jaarlikse inkomste! Geseënd!


Tussendeur raak ons eksperts op zoom vergaderings.

Gesels ons met vriende en familie op whatsapp video call asof dit dood natuurlik is.

En brei ek die een episode na die ander van Masterchef om. Naweke is lank daarsonder en ek is so bang dit raak op. Ons is juis reeds by "finals week"!


Daar gebeur nog ‘n paar sinnelose dinge en ek skryf dit hier sodat ons kan onthou. Om beter te probeer doen in die toekoms.  Die President se lockdown afkondiging was skaars gemaak op 23 Maart 2020 toe hoor ons dat die Nasionale Regering vir elke Munisipaliteit water tenke gaan skenk.  Ons kry ‘n e-pos van die Departement van Menslike Nedersettings wat sê ons kry drie 5000 liter tenke en die Minister wil dit self kom oorhandig.  Op 6 April 2020 daag die drie tenke by ons op.  Nou in Bergrivier Munisipaliteit is daar nie ‘n enkele huis wat nie toegang tot water het nie en die Regering weet dit want dit word op verskeie platvorms gerapporteer en is in al ons dokumente. Maar mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie en ons ontvang die tenke. Ons BK besluit dit moet in Goedverwacht kom op die sportveld sodat die gesinne in die laer dele van Goedverwacht toegang daartoe kan hê. Die hele Goedverwacht het water en ons en Provinsie het die afgelope 3 jaar nog R4 miljoen spandeer om hul waterbron te beskerm en die gehalte van hul drinkwater te verbeter, maar daar is ‘n paar waterdiewe iewers wat maak dat die water nie uitkom by die laerliggende huise nie. En ons kies die sportveld, want die tenke word die eiendom van die Munisipaliteit en ons mag nie eiendom aanheg aan grond wat nie ons s’n is nie. Die sportveld behoort ook aan die Morawiese Kerk tans maar ons is in die proses van Dorpstigting ens ens (te lang storie om hier te verduidelik – kom al jare aan).  Ons bou die sement platvorms waarop die tenke moet staan, installeer die tenke, maak hulle vol water, sorg dat die water drinkwater SANS gehalte is, sorg vir die veiligheid van die water, sorg vir die verspreiding daarvan, die kommunikasie van die projek en wat nog alles, maar die Minister wil op die foto verskyn vir sy Portfolio of Evidence.  Geen probleem daarmee nie. Ons reël die funksie vir die volgende Woensdag. Hoekom hulle in lockdown na ons toe wil kom en hoekom ons vreemde mense wil toelaat in ons gebied wat nog geen positiewe gevalle het nie, vra niemand nie en die wat dit dink het nie tyd om dit uit te spreek nie.  Die dag vooraf kanselleer die Minister.  Twee dae later (8 April) bel Rand Water en sê hulle is by Winkelshoek op die N7 met 6 water tenke vir Bergrivier Munisipaliteit. Ons vra of hulle seker is dit is vir ons, want ons het nie beplan om ‘n watertenk-winkel oop te maak nie, maar hulle is seker en laai die tenke af. Dit het 2500 liter kapasiteit per tenk. Ons weet nog nie waar om dit te gebruik nie en hou dit solank in veilige bewaring in ons tegniese dienste depot.  Op 16 April 2020 kom ‘n “dubble cab” bakkie met ‘n Gauteng registrasienommer en twee insittendes by ons aan en sê hulle wil asb die watertenke sien, want hulle is die moniteringsspan. Ons gaan wys hulle die tenke en hulle merk hul lys af en verkas oppad na Saldanha. Baie tevrede dat die tenke afgelaai is en dat daar ses is.  ‘n Uur later stop daar nog ‘n “dubble cab” bakkie met ‘n Gauteng registrasienommer en twee insittendes en vra hulle wil asb die tenke sien, want hulle moet die stickers plak om te wys dit kom van die Nasionale Departement van Water en Sanitasie! Ek lag maar hieroor sodat ek nie huil nie.  Wil jy nou vir my sê die moniteringsspan en die sticker-plak span van Rand Water toer nou deur SA na 257 Munisipaliteite om watertenke te tel en te merk waarvoor ons nie gevra het nie en wat ons nie krities nodig het nie. Ek kan nie wag om te sien wie volgende by ons gaan opdaag nie.  Maar ek maak notas. As ek die dag intrek in die ouetehuis gaan ek begin skryf aan my boek (of miskien skryf ek reeds daaraan!) en gaan ek ook verbygaande motoriste tot stilstand waai met my een arm terwyl my ander arm op ‘n kierie rus. En dán gaan ons gesels en al hierdie ou stories opdiep en uitruil!



Wednesday, April 15, 2020

Ek sou kon doen sonder ‘n miljoen (of twee)…



Die eerste Corona-virus geval is in Desember 2019 in Wuhan in China gediagnoseer.  Meer as drie maande later, op 2 April 2020, haal die wêreld die eerste miljoen positiewe gevalle met nagenoeg 51 000 mense dood.  Net 13 dae later, iewers in die nag tussen 14 en 15 April 2020, haal ons die tweede miljoen met 127 493 mense dood.  Eksponensieël! Ek wonder hoe lank gaan die 3de miljoen neem?



Tot my verbasing lees ek dat die eerste Malaysiese tier, Nadia, ook positief getoets het vir die Corona-virus. Miskien is dit fake nuus. Wie weet.

Die grootste deel van my dag gaan in kos soek vir honger gesinne en donasies van mense aanvaar, bewyse uitreik, dankie sê namens ‘n hele gemeenskap en regsopinies gee en soek oor of ‘n Munisipaliteit kospakkies mag aankoop om uit te deel. Ons kry wonderlike skenkings van landbou-produsente wat ons via die NGO’s gaan uitdeel.  Dankie aan elkeen wat skenk, elkeen wat help verpak, elkeen wat rondry en uitdeel. Dis ‘n massiewe masjien van miernes aktiwiteite. Die probleem is: Voedsel sekuriteit is die grondwetlike funksie van die Department van Sosiale Ontwikkeling en hulle bedoeling is goed.  In die WesKaap alleen het die Provinsiale Regering miljoene bewillig om via DSD vir mense kos te gee.  Hulle doen wat hulle kan.  Maar die kriteria wat hulle uitgedink het vir gesinne om te kwalifiseer werk nie tans nie.  Daar sal sekerlik redes wees vir hulle kriteria waarvan ons nie weet nie, maar ek sien die gevolge daarvan op grondvlak.  My een sussie werk by Cape Mental Health en by hulle het dit ook baie slegte gevolge.  Sy laat weet my dat in Kaapstad kom DSD se pakkies nie by die regte mense uit nie. By ons ook nie.  Hulle pasiente wat op kroniese medikasie is, kry erge newe-effekte van hul medikasie as hulle nie ordentlik eet voordat hulle die medikasie neem nie.  Ons brainstorm so bietjie oor whatsapp oor die situasie en wat mens kan doen en die goed is net nie eenvoudig nie.  As jy hierdie lees en jy is by magte om te help in jou omgewing, doen dit asb dadelik. Kontak jou naaste NGO soos Badisa, ACVV, geregistreerde sosiale ontwikkelingsgroepe wat voedsel sekuriteit doen en skenk wat jy kan.  Asb. Ons het almal ‘n oordosis wysheid en onderskeidingsvermoë nodig soos net die Here kan gee.



Eergister ry ek Malmesbury toe om droë rantsoene te gaan oplaai wat DSD versprei via Meals on Wheels.  Ons is dankbaar vir elke korrel rys.  Hulle laat weet my dit is gereed en ek bied aan om hulle halfpad te kry. Hulle kom uit Mitchellsplein uit.  Oppad soontoe wonder ek of ek nie iewers ‘n sleepwa moes leen om te hak nie.  Dit is Porterville en Piketberg se kos vir 54 hawelose mense vir twee weke.  Groot was my ontnugtering. My kar se kattebak was net halfpad vol. Darem nog ‘n boks met blikkies vis op die voorste bank ook.  Die sjef bied aan om vir my hul spyskaart te stuur, maar dit is okay. Ons sal dit moet aanvul uit ander skenkings. Dit is net onmoontlik om 54 mense hieruit vir 2 weke kos te gee.  Ek dink terug aan my dae as Kosma van Stranddienste in Melkbosstrand. Dit was 1992 se kant en ek moes met R5 per kop per dag werk.  Daardie tyd was dit natuurlik baie meer as nou en het ons dit net-net gemaak.  En dan kom daar spanlede aan wat vir jou sê dat hulle allergies is vir Oros en net vrugtesap drink. Too bad. Jammer om van jou moeilikheid te hoor.  Dit sou ‘n droë paar weke vir hulle wees.  Ek sien op die voorblad van vandag se Burger dat Mitchellsplain brand as gevolg van die uitdeel van kospakkies.  Ironies da tons Meals on Wheels droë rantsoene juis van daar af kom. Ai! Mag elkeen wat kos ontvang en ook hulle wat nie ontvang nie, wysheid ontvang om hul menswaardigheid te behou.  

Deur dit alles voorsien die Here.  Vanoggend whatsapp ‘n vriendin en vra hoe kan sy en haar vriendekring help, dan bel een en vra waarvoor kan hulle bid. Dit is wonderlik. Dankie ook vir elke gebed. Dit hou ons staande.

Vanoggend kry ek ‘n e-pos van Daleen Turner, ‘n mede besigheids coach.  Sy stuur ‘n pragtige video van Crispin Swart oor leierskap in krisistye.  Ek sal dit graag aanstuur vir almal wat dit nodig het. Whatsapp my jou e-pos adres of los dit as ‘n kommentaar op die blog.  Crispin deel sy eie verhaal en belewenis van lockdown op ‘n baie eerlike en oorspronklike manier en deel die vaardighede wat hy gebruik om hierdeur te kom. Ons moet almal onsself bemagtig en sorg dat ons saam heel aan die anderkant uitkom.  Hy gebruik ‘n baie praktiese definisie vir leierskap naamlik: “Anyone who authentically influences to create value”. Die kern van sy boodskap is dat ons hierdie moet sien vir die verlies wat dit is en dit hanteer soos om iemand aan die dood af te staan. Vir baie van ons beteken dit verlies aan inkomste, verlies aan kontak, verlies aan ‘n werk, verlies aan ruimte, verlies aan beweging, verlies aan geliefdes…  Die stadiums van verlies en rou naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, hartseer en aanvaarding sal in almal van ons se lewens afspeel een of ander tyd. Dit is ook nie liniêr nie en jy is heel normaal om meer as een van hulle gelyk of almal saam te ervaar.  Laat jouself toe om dit te ervaar. Dis okay.  David Kassler het gesê: If I can feel it, I can heal it.  Ek wil sê: If I can feel it, He can heal it!
Jy is ‘n leier in jou gemeenskap, jou gesin, jou vriendekring, jou werksplek, jou maatskappy en jy het invloed. Maak seker dat jy die verlies wat lockdown bring erken, ervaar, reg hanteer en verwerk sodat jy die mense rondom jou positief kan beinvloed en ook daardeur kan help.


By ons in Piketberg het hulle vandag met Community Screening and Testing begin. Die span van die Departement van Gesondheid is in beheer daarvan en gaan 510 huise in ASLA toets.  Ons sal die uitslae oor die naweek terug ontvang. Die Munisipaliteit moes help met kommunikasie aan die gemeenskap, skare-beheer, veiligheid van die mobiele kliniek en die personeel en algehele orde tydens die uitreik.  Mense kan gou paniekerig word.  Dankie aan elkeen wat gehelp het.  Ons waardeer dit.

Ek whatsapp video call lekker met my ouers en oudste sussie wat tans by hulle bly vir die grendelstaat.

Wat sou ons sonder die gebruik van hedendaagse tegnologie gedoen het?

Dis koud by ons. My vuurtjie brand...My kersie gee sy lig... (maak Martin die gedig klaar toe hy die foto sien)


Vanaand sukkel ek met ‘n balanserings-triek om die kontantvloei van die Munisipaliteit so lank as moontlik te rek, maar om soveel as moontlik finansiele verligting aan die publiek deur te gee.  Nie ‘n maklike oefening in die onseker tye waarin ons ons bevind nie. Dankie tog vir ‘n baie goeie CFO en baie toegewyde Raadslede wat die belange van ons volle gemeenskap op hul harte dra en dat ons met mekaar in eerlikheid en openhartigheid kan verskil om by die heel beste moontlike antwoord uit te kom. Verg erg baie knieë werk. Hoe sal ons ooit weet of ons die regte besluite neem. Ons kan net wysheid vra en mooi luister en kalm bly en die beste moontlike besluit neem met die huidige scenario en feite voor ons. Dis soos om oor ‘n afgrond te spring en net te vertrou. Angswekkend!

Sterkte met die groot besluite in elkeen van julle se huidige omstandighede.  Ek kan my net indink!

Baie liefde

Hanlie