Thursday, December 15, 2016

Cuba via Frankfurt en Toronto

My beste vriendin bly in Toronto. Vroeër vanjaar besluit ons om saam vakansie te hou in Desember en ons deel met mekaar ons drome. Cuba verskyn op altwee droomlysies en daar gaan ons. Hoekom Cuba? mag jy dalk dink. Wat wil 'n mens daar gaan maak? Wel, Cuba was nog altyd so bietjie misterieus vir my en ek wil gaan sien wat daar aangaan. Veral voordat die Amerikaners hul verbanning ophef. Dit is in 1962 ingestel en mens weet nooit hoe Cuba in die toekoms lyk as Trump met hom klaar is nie.

Ek het baie oor Cuba gelees die afgelope tyd en deel graag 'n paar interessante feite:

1.  Dit het nog net een keer gesneeu in Cuba. Dit was op 12 Maart 1857. So ons kans op mooi weer is seker goed. Ek is bly ek het my swembroek ingepak.
2.  Minder as 5% van Cuba het toegang tot die internet. So hierdie mag dalk my laaste blog wees oor die land en ek sit nog op Kaapstad lughawe!
3.  Cuba is nog onder kommunistiese bewind en die enigste land in die wêreld waarvoor Amerikaners regeringstoestemming nodig het om te besoek. Ek hoop nie hulle vind uit van my Ouma nie.
4.  Die manjuari is 'n vis wat net in Cuba voorkom en nêrens anders in die wêreld nie. Ons sal 'n plan moet maak om hulle te sien.
5.  Die VSA betaal 4000 dollar per maand aan Cuba as huurgeld vir Guantanamo Bay vlootbasis. Volgens google het Cuba nog nooit een van hierdie tjeks gewissel nie.
6.  Cuba is die natuurlike tuiste van die bee hummingbird. Die kleinste voëltjie in die wêreld.
7.  Die lugfoto van die eiland lyk soos 'n krokkodil. Ons resort is by sy linker-voorpoot.
8.  Daar is meer as 250 verskillende strande in Cuba.
9.  Kersfees het eers in 1997 'n amptelike vakansiedag geword in Cuba.
10. Tot 2008 was dit verbode om 'n selfoon te besit in Cuba!!

Wel, nou weet ek so bietjie waarvoor ek in is. Ek wou so graag vir Fidel Castro ontmoet het, maar twee dae nadat my vliegkaartjie uitgereik is, is hy oorlede. Miskien het hy gehoor ons kom...

Ek sien so uit na hierdie vakansie en kan nie wag om Elizan en haar familie te sien nie. Mag elkeen van julle 'n baie geseënde Kerstyd hê vol liefde, vreugde, vrede en hoop. Alle eer aan God ons Vader wat Sy eie Seun nie gespaar het nie, maar laat sterf het sodat ons kan lewe.

No comments:

Post a Comment