Wednesday, December 21, 2016

Santiago de Cuba

Vandat ek gehoor het Fidel Castro is dood wou ek Havanna besoek om in sy voetspore te gaan loop. Toe ek sien hoe ver ons oord was van Havanna, was ek eers teleurgesteld omdat ek besef het ek sal nie daar uitkom nie. Maar toe ek begin navorsing doen en google lees, besef ek Santiago de Cuba is die Fidel-storie-stad en nie Havanna nie. Wat 'n voorreg om dit vandag te kon besoek. Ek het meer gekry as waarvoor ek ooit kon hoop...

Cuba Dag 4:
Ek sit op 'n skuttende bus oppad terug van my daguitstappie na Santiago de Cuba. Dit is 17:46 en al sterk skemer in Cuba. Dit was 'n baie besige fantastiese dag en ek wil so vinnig as moontlik my gedagtes neerskryf. Waar sal ek begin? Santiago is die tweede grootste stad in Cuba naas Havanna, maar verseker die mooiste en belangrikste in terme van die geskiedenis van die rewolusie en Fidel Castro. Dit is vanwaar hy die rewolusie teen die Batista regering gelei het. Hy is ook hier begrawe. Maar laat ek by die begin begin.

Ons is 07:30 opgelaai by Playa Pesquera. Die vrou van die bank het spesiaal vroeër oopgemaak sodat ek 100$ kon ruil vir 87,60 pesos. Ek leer ook later vandag dat Cuba twee geldeenhede het. Een vir toeriste, die CUC, en een vir die locals. Dit noem hulle die CUP. Beide is Pesos, maar lyk verskillend.

Die eerste wat my opval vanuit die busvenster is al die kinders wat oppad is skool toe. Cuba het 'n geletterdheidssyfer van 99,8%. Ek wonder wie die arme ongeletterde drommels is en hoekom geleerdheid by hulle verbygegaan het!
Die omgewing buite lyk soos leeuwêreld en die paaie lyk soos die wildtuin s'n met mopanie boompies kompleet. Orals sien ons papaja boorde. Piesangs, pynappels en mango's ook.
Ons toergids is Idel. Soos Fidel maar sonder die F sê hy.
Ons sien die plek waar Christopher Columbus geland het toe hy Cuba ontdek het. Dis drie ure se ry na Santiago en nog drie ure terug. Dis 'n goeie bus, maar met net een CD wat die hele ses ure net een liedjie speel: "Guantanamera"!

Gelukkig is ons hotel se mense tweede opgetel en kon ek nog 'n venster sitplek kry. Idel sê ons kom 21:30 terug en nie 20:00 nie. Daar gaan aandete. Ek maak die volgende kriptiese notas oor Cuba op my ipad in die bus:
Toer is in engels en Russies. Hoofstroom ekonomie is uitvoer van suiker. Hy wys ons 'n suikermeul. Daar is 150 suiker rafinaderye (spelling?) in Cuba. Reën hard oppad. Maar die son wil-wil deurkom en ek bid vir die beste. Baie boerdery bedrywighede langs die pad. 60% landbou
Eiland is 60% plat maar bergagtig by Santiago de Cuba (SdC). Hulle ry aan die regterkant van die pad.
SdC is waar Fidel Castro die rewolusie gelei het teen die Barista regering.
Hy wys ons baie mango boorde. Hulle dra eers in Augustus vrugte. Hier in Cuba is meer as 'n 100 soorte mango's.

Alle onderwys in Cuba is gratis. Ook op tersiêre vlak, maar dan werk hulle drie jaar terug vir die staat. Idel vertel ons dat elke dorp in Kuba wetlik drie goed moet hê: 'n primêre skool, 'n staatsdokter en 'n staatswinkel waar produkte gesubsideërd verkoop word slegs aan Kubane.
Teen 08:35 is die son uit en sien ons blou lug. Langs die pad sirkel met werker op n fiets wat die gras sny met n sekel.
Ons stop eers buite Holgiun (sagte h) op die vrugte plaas waar al die vakansie-oorde se vrugte verbou word. Idel woon hier naby en ken almal. Ons sien talle donkie karretjies langs die pad. Sommiges is ingerig as taxi's. daar is nêrens 'n aparte donkiebaan nie en dit maak die verkeer uiters stadig.

Geloof: 35% katoliek, 33% protestants en 3% indigenous gelowe waarvan die meeste in Cuba as land glo.
Tans grootste ekonomiese bydraes = suiker uitvoere, toerisme, uitvoer van professionele dienste (onderwysers, verpleegsters en dokters na lande in Latyns Amerika en Afrika - soos SA) en nikkelmyne. Ook uitvoer van sigare. Alle sigare in van Havanna. Almal handgemaak.

Die rede wat Idel gee vir die ou motors in Kuba is dat die mechanics in Kuba so goed is 😂   Dit mag so wees, maar hul paaie is baie sleg.
Met ons aankoms in Santiago stop ons eerste op Revolution Square met die swart en rooi massiewe vlag van 26 Julie 1953 wat Fidel se aanval op die Moncada Barracks in Santiago de Cuba herdenk. En die standbeeld van Antonio Maceo op sy perd. Dit is 16 meter hoog en die grootste standbeeld in Cuba. Die Square is meer as 53000 vierkante meter groot en indrukwekkend.

Santiago het nagenoeg 100000 inwoners waarvan 80% swart mense is van Haiti wat as vlugtelinge hierheen gekom het. Hulle het koffie en sjokolade na Cuba gebring.

Ons stop by die begraafplaas waar groot name begrawe is. Ook die apostel Martiz (kubane noem hom 'n apostel) en die nuutste toevoeging tot die begraafplaas, Fidel Castro. Daar is op versoek van hom niks fancy op sy graf nie. Dis net 'n groot klip. Ons kyk ook die changing of the guards by Martiz se graf. Aanvanklik kon ek nie verstaan hoekom die wagte elke 30 minute ruil nie, maar na 15 minute tussen die spierwit marmer grafte in die hittige son, verstaan ek dit goed. Hulle het nog volle stepout uniforms ook aan!

Daarna stop ons by La Barrista en proe rum en die duidelike verskil tussen Havanna rum en die van Santiago. Laasgenoemde is vir my die lekkerste. Rum is eg Kubaans en word gedistilleer uit suikerplant byprodukte soos molasse en ander. Ek koop 'n kubaanse sigaar vir Oom Mof. Ek kies die handgemaakte een wat hulle Winston Churchill noem. Winston het sedert 1895 Cuba gereeld besoek en leer sigare rook. In 1946 het hy Havanna besoek en is sy naam verewig op 'n Romeo y Julieta sigaar wat in 1875 begin maak is. Ek lees op google (dan moet dit waar wees😂) dat John F Kennedy 1200 sigare uit Cuba laat kom net voordat hy die verbod op handel met Cuba ingestel het.

Santiago de Cuba is die warmste plek in Cuba en ons voel dit vandag.  Ek was nou al in drie Santiago's in die wêreld. Die een oomblik is dit onuithoudbaar warm en die volgende oomblik val daar 'n reënbui wat elke boer in Bergrivier se hart warm sal laat klop. Na middagete besoek ons die Castle de Morro teen die kus. Dit is pragtig! Die idee was dat dit seerowers moet weghou van Santiago en die inwoners moet beskerm. Dit is in 1638 begin bou en het 70 jaar gevat om te voltooi. Van hier het mens die mooiste uitsig oor die Santiago baai waar die finale slag van die oorlog tussen Amerika en Cuba afgespeel het. Daarna sit ons af middestad toe en klim eers die vyf vloere na die dakrestaurant van die Grand Hotel om 'n uitsig oor die stad te kry. Daar is 'n foto-uitstalling van Fidel Castro op die plein in die middel. Daarna stap ek en Judit vir 'n uur deur die strate en vergaap ons aan die lekker vibrant atmosfeer tussen die mense. Almal doen kersfeesinkopies. Ons gaan in by 'n paar winkels en is verstom oor die min goed op die rakke en die beperkte keuses. Eintlik skokkend min. Judit is van Romenië, maar woon in Ottawa in Kanada waar sy 'n engelse professor is by die universiteit. Ons kliek lekker en sal probeer kontak hou.

Ek vind vandag uit dat Kuba twee geldeenhede het. By die begraafplaas moes ons vyf Peso betaal om ons kamera te mag inneem. Idel sê 5 CUC. Ek vra uit en hoor dat die CUC die Peso is wat die toeriste gebruik. Die CUP is die geldeenheid wat die plaaslike bevolking gebruik. En die nota lyk anders. Op ons s'n staan convertible. Dis die CUC. Komende van Bergrivier wat ook sy eie geldeenheid het naamlik die BRAND vind ek dit baie interessant.

Vandag was fantaties! Ek het soveel meer om te vertel, maar gaan nou eers ontbyt soek saam met die Strausse sodat ons kan duik op laagwater vanoggend. Die liedjie Guantanemera sal nog baie lank in my ore suis en alles wat ek beleef het gister in Santiago sal ek soos 'n goeie sigaar stadig rook en verwerk en deel soos ek kan.  Wat 'n goeie ervaring is dit nie elke keer om 'n nuwe land met nuwe mense te leer ken nie. Ons leef in 'n interessante wêreld!

Ek sit 'n paar foto's op en sal later met beter wifi byskrifte bysit.























No comments:

Post a Comment