Tuesday, December 20, 2016

Duik op die rif in die Karibiese See

Cuba: Dag 3

Ons is nou al die oord gewoond, word nie meer onderstebo geskok deur die hoeveelheid keuses by die buffet nie, is half en half uitgeslaap en ken nou al die dagprogram. So dit gaan baie goed. Vandag was besonder lekker. Ons het gisteraand laat gaan slaap na die uitstekende waterballet uitvoering by die swembad. Ek het heerlik geslaap, maar was reeds 05:30 wakker. Vanoggend was ek op 'n mission om vir ons vroeg die beste plek by die see te gaan annekseer wat ek kon kry. Net na 06:30 sit ek af see toe met drie handdoeke en genoeg klere om daar te los om ons plek te merk. Ek kry 'n stunning spot onder die bome en 'n afdakkie reg voor dit sodat ons kan rondskuif soos die son beweeg, want hier gaan ons lê tot laat in die middag. Wat ons ook gedoen het. Na ontbyt sak ons af see toe. En sak is die regte woord. Daar moet net nog 'n pak ook by kom.

Vandag gaan ons snorkel. Elizan en Matthys het my vooraf gewaarsku dat ek my eie snorkelgoed moet bring, want as jy hier in 'n ry moet gaan staan vat dit lank. En wie wil 'n duikbril en snorkel opsit wat al deur honderde neuse en monde is? Nie ek nie. Wel, ons het ons byna doodgelag toe dit instaptyd word want die prentjie voor my geestesoog in Mr Price Sport in Canal Walk in Kaapstad was heelwat meer grasieus as hoe ons vier die water in is. Vier, want Daniël se vraag of sy ouma ook gaan snorkel het 'n 'hopenlik nie' as reaksie uitgelok.

Maar toe ons eers in is word dit lekker en sien ons die mooiste goed. Die rif is erg beskadig deur storms wat hulle hier gehad het, maar dele is pragtig. Dit voel of jy binne 'n akwarium tenk rondswem met vissies van alle kleure en geure. My sussie Elna verjaar vandag en ek bel haar van die noordkus van Cuba af. Hulle lyne is goed en dit klink of sy langs my staan. Maar sy, Braam en Elisma is in 'n winkelsentrum in PE, Suid-Afrika.
Een van die swembaddens by die oord.









Na middagete wat net uit vrugte moes bestaan, maar ontaard het toe die buffet ons oorval, is ek en Elizan poskantoor toe om twee poskaarte te pos vir mense wat my gevra het daarvoor. Hoop julle kry dit gou. Vanoggend vroeg het ek ook die ekskursies gaan bekyk en het ek geboek vir 'n daguitstappie na Santiago de Cuba. Dis die tweede grootste stad in Cuba en die plek vanwaar Fidel Castro die rewolusie geloods het. Die dag sluit allerhande kulturele ervarings in en strek van moreoggend 07:15 tot 20:00. Ek sien baie uit. Die res van vandag bring ons by die see deur. Ek het nou kom stort om die dag se seesand af te kry, want ek en Elizan wil gaan stap. Ek het reeds 13695 treë geklok vir die dag, maar met alles wat ons inneem kan ons nooit genoeg oefening kry nie. Iets ongeloofliks van hierdie oord is dat alles waaraan jy kan dink om te eet en te drink gratis is. Ingesluit. Alle alkohol ook. En tog het ek nog niemand hier dronk gesien nie. Gisteraand het ons almal 'n daquery probeer en vanaand is dit 'n mojito.

Vanmiddag het ek en Elizan ure langs die see lê en gesels. Ek dank die Here so gereeld vir ons vriendskap! Wat 'n fees! En 'n groot genade. Mag sy en haar hele familie oneindig geseënd wees. Ook daar in Kanada waar hulle Hom elke dag dien.

Ek sit 'n paar foto's op.  Dis nou 20 Desember 2016

No comments:

Post a Comment