Sunday, December 18, 2016

Playa Pesquero in Cuba

Cuba Dag 2:
Vanoggend is ek vroeg op en oppad na die ontvangsarea van Playa Pasquero (ons oord) om by wifi te probeer uitkom om iets op my blog te kry. Dit klink makliker as wat dit uitgedraai het om te wees. In Cuba is wifi nie 'n prioriteit nie. Jy moet 'n kaart koop by een van die winkels wat nou nog toe is. Maar die ou agter die toonbank by ontvangs probeer my help en sê omdat die winkel nog toe is, kan ek dit by hom koop. Dis twee Pesos vir 'n uur se toegang (moenie opgewonde raak nie - hul wifi is so stadig dat 'n uur baie min tyd is). Die catch is dat mens nie in dollar (of rand - ek het probeer ;-)) kan betaal nie, maar net in Pesos. Die bank is net om die hoek en maak 07:30 oop. Dis nog 12 minute. So ek vat solank 'n glas komkommerwater en komkommer my nie meer nie.

As jy hierdie op die blog kan lees, sal jy weet dat ek reggekom het by die bank.






















Cuba: Dag 1:

Dit is na 01:00 toe ek en Tannie Jean ingeskut is in blok 49 kamer 07. Ons het uitgepak, gestort en gaan nou 'n bed behoorlik seermaak. In SA is dit al 08:00 môreoggend. Ek het min geslaap op die twee lang vlugte, selfs deur een somnil slaappil op elke vlug. Miskien is ek net te opgewonde.

Ses ure later is ons wakker en gereed om die dag met mening te pak. Ontbyt is oorweldigend om die minste te sê. Ek is veral beindruk met die vars uitgedrukte pomelo, pynappel en komkommer smoothy. Sal dit definitief weer bestel. Bia kom eet by ons ontbyt. Sy is 'n local toeroperateur wat perderitte verkoop en ons moet net keer of ons spandeer môre te perd vir 23 Pesos. Die kubaanse Peso is vas aan die dollar. Ironiese liefdesverhouding tussen twee aardsvyande.  Die resort is redelik vol. Hier is mense van oral, maar veral Kanadese. Maar die een ding wat ons opval is hoe die grootte van die resort die mense absorbeer dat dit rustig voel.

Dis koel vandag met 'n lekker luggie. Ek sit later onder 'n pynappelblaar afdakkie langs die noordkus van Kuba en tuur oor die water. Ek hou ons stoele terwyl die ander ons handdoeke en duikgoed gaan haal het. Salig.

Drie swemme later lê ek nou in ons lugverkoelde kamer. Die nasmaak van die heerlike ontbyt was skaars uitgespoel in die seewater, toe sit ons aan vir middagete. Ek kies 'n talapia vis met groente, slaai en klapper-roomys vir poeding. Hulle kos is werklik heerlik en die verskeidenheid is eindeloos.

Daniël sien al die hele dag uit na 16:15 se sokkerwedstryd. Dis deel van 'n dagprogram wat die hotel aanbied. Jy kan besluit of jy wil deelneem. Die ouma en ma moes gaan sokker kyk. Ek haal verlore slaap in.
En dan trek ons mooi aan en gaan eet in die Caribeno Restaurant waar ons bespreek is vir die aand. Eksoties! Ons eet seekos voorgereg, kreef wat gevlambraai is vir hoofgereg (van die ander eet varkfilette wat net so goed lyk) en daar is drie soorte poeding om van te kies. Van ons het gou blaze geraak in die buffets en verwys met minagting na net drie poedings ;-)! Ek noem nie name nie!
Wat 'n fantastiese dag!! Later speel ons 'n paar rondtes uno terwyl ons die dag analiseer en ons hoogtepunte met mekaar deel. Ons beddens roep ons vroeg. Ek het 17769 treë gegee vandag en gaan nou diep en lekker slaap. Dankbaar vir so baie seëninge.

Nou gaan ons eers ontbyt eet sodat ons dag 2 met mening kan pak. Vandag wil ons duik op die rif hier naby en boogskiet gaan doen op die strand. Ek sien baie uit!

No comments:

Post a Comment