Ek is veilig tuis in my huis in Piketberg en besig om alles gelyk te doen voordat ek more begin werk. My vuil klere is in die wasmasjien, my spuitjies is aan om my tuin te red, my geyser is aan om later te stort, my wurms in my wurmkomposplaas is gevoer en my TV is aan met al my opgeneemde programme en ek werk hulle deur een vir een. Dis heerlik om terug te wees! Toe ek vanmiddag hier inry en amper my motor afskryf teen die nuwe spoedhobbel wat ons ingenieursafdeling in die afgelope twee weke in Langstraat aangebring het, toe weet ek... Oos wes, tuis bes! Machu Picchu was fantasties! Maar die goudgeel koring op die landerye langs die N7 maak 'n gevoel in my hart wakker, wat geen ander land kan nie. My tuin is vir my mooier as enige blomme in die reënwoud en my vriende en familie wat kom hallo sê is kosbaarder as die goud in die sonsondergang oor Uruguay.
Reis is 'n groot deel van my lewe en ek sal altyd 'n "wanderlust" in my hê. 'n Geskenk van my vriendin Blyda in my TV kamer beskryf "wanderlust" as die "unwavering desire to travel and explore the world". Ek het dit van altyd af in my. Ek was baie klein toe ek reeds besluit het dat ek altyd in my lewe meer waarde sal heg aan ervarings as aan materiële goed. Daarna is alle besluite maklik.
Ek was nog nooit voorheen in Suid-Amerika nie en het die volgende goed die afgelope twee weke geleer:
Brazil is die grootste ekonomie, grootste land met die meeste mense in Suid-Amerika met Sao Paulo die grootste stad. Sao Paulo is ook een van die tien grootste stede in die wêreld. Suid-Amerika bestaan uit 13 onafhanklike state (ek het altyd net geweet van 10). Hulle is Argentinië, Bolivia, Brasil, Chile, Colombia, Equador, Guyana, Paraguay, Peru, Suriname, Trinidad and Tobago, Uruguay, Venezuela en ook twee nie-soewereine state van French Guiana (Frankryk) en die Falkland Islands van Brittanje (alhoewel Argentinie na die oorlog dink dit behoort aan hulle). Dan is daar ook nog die ABC islands van Nederland en Panama wat deel is van Suid-Amerika. Die Andes gebergtes en die Amazone maak van Suid-Amerika 'n baie interessante plek! Die grootste tale wat gebruik word in Suid-Amerika is Spaans en Portugees na 'n lang geskiedenis van kolonialisasie en slawerny.
Peru was vir ons fantasties! Dit is outentiek en ongekunsteld. Ons het 'n baie goeie toergids daar gehad wat ek vir enigeen sal aanbeveel. Alfredo is trots Peruviaans en kan nie uitgepraat raak oor sy kultuur en land nie. Dit was aansteeklik en baie aantreklik!
Buenos Aires is 'n interessante stad waar die inwoners almal vrek vinnig stap in baie vuil strate wat meestal toegeverf is onder graffiti, maar daar is 'n "vibe" wat skrik vir niks. Die mense is konsidererend met baie tyd vir mekaar. Daar is 'n omgee onder stadsinwoners waarop ons nie regtig ons vingers kon lê nie, maar dit is opmerklik. Dit is asof daar 'n algehele aanvaarding is van mekaar deur almal. Maar hulle is ook uiters uitgesproke en daar is elke dag protesoptrede deur vele groepe. En as hulle betoog gaan hulle groot met 'n marching band en die werke! Die grootste deel van Buenos Aires se bevolking is verslaaf aan Yerba Mate, 'n plant in Suid-Amerika wat hulle as tee drink. Orals en ewig. Daar is kookwaterstalletjies op elke hoek waar mense hul warmwaterbottels opvul vir die volgende Yerba Mate. Op die lughawe kry ons 'n SA ingenieur wat vertel dat sy koshuiskamermaat van Universiteit nou Yerba Mate invoer in SA in vir al die Suid-Amerikaners wat nou in SA bly. Net soos die Peruviane verslaaf is aan Coca tee. En die gemene deler in beide die produkte is caffeine. Net soos ons seker verslaaf is aan koffie of coke.
Die grootste natuurramp waarvan ons die oorblyfsels duidelik kon sien was die 1998 avalanche in Peru se Sacred Valley wat tien dorpies totaal uitgewis het en duisende mense onder die modder begrawe het. My sussie se dogtertjie wil 'n skooltaak daaroor doen en daarom gee ek bietjie meer inligting hier. Dit het begin deur twee avalanche vanuit die sneeu gletsers in die vallei wat gevolg is deur 'n massiewe modderverskuiwing wat 02:00 die nag van 30 Januarie 1998 begin het. Van Santa Maria en Santa Theresa was daar niks oor nie. In die afgelope 18 jaar is die twee dorpies herbou en gelukkig heelwat verder van die rivier af. Maar dwarsdeur die valley op die Inca-trail, kon ons duidelik sien hoeveel plekke daar nog is wat 'n ongeluk is wat wag om te gebeur. Die plaaslike mense skryf die ramp toe aan El Nino wat verskillende vloede en modderstortings tot gevolg gehad het. Volgens hul statistiek is 374 mense dood, 'n verdere 412 is beseer en 600 000 mense is misplaas en huisloos gelaat. 114 000 hektaar landbougrond is oorspoel, 40 500 huise is platgevee en 'n gros skole is vernietig terwyl duisende myle se pad weggespoel is en brue vernietig is wat die 10 dorpies met die buitewêreld verbind het. Dit is hoe ek Peru sal onthou: as vulnerable, maar baie goeie mense wat leef en laat leef en wat trots is op hulle pragtige land en dit graag deel met die wêreld.
As jy nog nie in Suid-Amerika was nie, hoef jy nie te twyfel nie. Dit is 'n plek wat jy sal wil sien! Vat genoeg muskiet afweerder. Sterker as die wat jy by ons kry, want ons s'n werk glad nie! Drink ook Diamox vir die hoogtesiekte en vat minder klere as wat jy dink, want dit is tropiese hoogland en baie warm. Ek het elke oomblik geniet! Die gerug is dat Macho Piccho binnekort toegemaak gaan word vir die publiek as gevolg van die waarde van die plek en die skade wat toeriste daaraan doen. Dit mag net 'n toerisme slender wees, maar wil jy regtig die kans vat? Ek sou nie!
Ek gee weer die mooiste foto net om jou lus te maak. Ek het dit geneem met 'n selfoon ongeveer 07:30 die oggend.
Sunday, October 16, 2016
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment