Thursday, December 29, 2016

Die res van die storie...

En nog is dit einde niet. Maar dankbaar dat ek nie toe al geweet het wat alles nog sou volg nie. Ons vlugtyd 11:00 het gekom en gegaan. Teen 12:03 is daar 'n afkondiging dat ons nou eers 13:30 vlieg, want ons nuwe crue is nog nie op die lughawe nie. Dit beteken dat die kaartjie Kaapstad toe wat Elzanne se vennoot Mia uiteindelik vir my kon kry, ook nie sal kan werk nie. Ons vliegtuig staan nog verlate hier op die vlak en die mis raak al dikker. 'n Halfuur terug kon mens hom nog sien. 

Dis 13:50 en ons bestyg nou die vliegtuig. Jinne, maar hier is 'n paar mense wat kan moan. In sulke situasies leer 'n mens gou saam met watter nasies jy in 'n krisis sal kan oorleef en Ghana is in my top 5 om te alle tye te vermy. Die meeste SAners doen wat ons altyd doen in 'n krisis: hanteer dit met humor. Hier is 'n hele familie van 18 pax en hulle Oupa het veral 'n baie goeie sin vir humor. Ons geniet dit. Ons is verbaas om presies dieselfde bemanning as gister te sien. Ook hulle vakansie is gekanselleer. 

Die grondpersoneel van Abidjan het ons in twee strome laat inboek vanoggend. Die een stroom het nuwe sitplekke toegeken aan die passasiers en die ander stroom het almal se ou sitplekke gehou. Ek val in laasgenoemde. My kaartjie sê duidelik (welliswaar handgeskrewe want die rekenaar het gevries) 57A. 'n Sitplek wat nou reeds soos huis voel en waarop ek al 16 ure gesit het en nog 'n hele paar moet doen. (Op die stadium het ek nie geweet dit sal 'n verdere 13 ure wees nie) 'n Resep vir 'n groot baklei toe ons op die vliegtuig kom en talle dubbelbesprekings kry. En ja julle het reggeraai: Ghana lei die veldslag. Tot die kaptein ingryp en almal terugjaag na hul oorspronklike plekke. Die volgende afkondiging is meer ontstellend. Ons gaan nie in die afsienbare toekoms vertrek nie, want daar is 'n aantal passasiers wat hulle wangedra het in die laaste 24 uur op wie daar nou sekuriteitsinspeksies gedoen word. Elke lugwaard en waardin doen 'n koppetelling in hulle seksie op versoek van die vlugkaptein en rapporteer voor. Ons wag.

Die skrif is aan die muur: ek slaap vanaand in nog 'n lekker hotel op die rekening van SAL. Hopenlik in SA.

Die vlieenier vra groot omverskoning vir die hele vertraging sedert gister en steek 'n pragtige prekie af. In die middel sê 'n moedelose oom vier rye voor ons: 'Can we just go!' Tot groot vermaak van die res. En toe kom die Ivoorkus Polisie aan boord en beweeg deur die kajuit. Hulle stop hier en daar en vra mense om vorentoe te kom vir ondervraging. Ons wonder waarvoor hulle soek, want duidelik weet hulle presies.

Net soos ek dink ons het die ergste gesien en van nou af kan dit net beter gaan, dan gebeur die volgende ding. Julle sal later dink ek oordryf en ek neem julle nie kwalik nie. Hierdie is 'n sirkus. Dis nou nog 50 minute later en nou hoor ons die storie so stukkie vir stukkie in die vliegtuig-gange.
Drie mense word gearresteer, want toe hulle vandag die vliegtuig bestyg het, het hulle die vlieenier weer gedreig. Dis dieselfde span wat die rewolusie in die besigheidslounge gelei het gister. Nou kyk! Internasionale Lugvaart laat dit nie toe nie! Die kaptein is verantwoordelik vir die veiligheid van almal aan boord en hy maak die laaste call. Die drie moet die vliegtuig verlaat. Ek het nog altyd gewonder hoekom hulle weier om my breipenne toe te laat op 'n vliegtuig, maar dan gee hulle vir elkeen 'n metaalmes by ete. Vandag sal die metaalmes in die hande van rampokkers die verkeerde uitwerking hê. Viva Kaptein Viva! Die lank en die kort is dat ons nog steeds op 'n geparkeerde vliegtuig is wat staan op 'n stukkende stuk sement in Abidjan. En dis alweer nege ure sedert ons vanoggend op die lughawe aangekom het en iets geëet het.

Na 15:10 en ons wag steeds. Hulle soek die drie wat afgelaai is se bagasie. Intussen doen hulle 'n koppetelling vir hotel akkommodasie vir almal wat moet aansluit vir Durban en Kaapstad. 'n Derde van die vliegtuig se hande gaan op.

Die kaptein (drie sterrehoof van die bemanning -nie die vlieënier nie) kom gesels by ons en vertel wat gebeur het. Die drie was deel van 'n groep mense wat gistermiddag in die besigheidslounge die vlieënier en personeel wou aanrand. Vandag toe hulle op die vliegtuig klim draai hulle links in plaas van regs en gaan dreig die vlieënier weer. Toe besluit die bemanning dit is te erg, bel hoofkantoor in SA en kry toestemming om hulle af te laai. Dis Ghanadese Amerikaners. Very vocal and extremely rude. Die kaptein kom vra of hulle my besigheidskaartjie kan kry om 'n beëdigde verklaring af te lê indien nodig.  Die drie is deel van 'n groep van 25 aan boord en hulle verwag moeilikheid. Hier is ook 'n amerikaanse ambassadeur aan boord. 

Die vlug na Accra is net 40 minute. Hier is geen kos of drank (of selfs water) op die vliegtuig nie en ons het ook nie oorfone nie. Ek is bevrees as hulle nie kos laai op Accra nie, loop die kaptein die risiko om dalk weer gedreig te word. Vanoggend se ontbyt om 05:30 lê baie ver terug. 

Om 15:17 hoor ons die motore dreun. Uit-freaken-eindelik! En so taxi ons agteruit en agteruit en .... stop. Om 15:31 hoor ek die diep sug in die vlieënier se stem: Ladies and gentlemen, I regret to inform you that we have technical problems and must return to the bay. Wat?? Dit wat 30 minute terug 'n kleinerige sirkus was, is nou 'n Boswell Wilkie. Later verduidelik hy dat die no 4 engin se start valve die technician op die grond laat wonder het en hy wil weer daarna kyk! Ag Accra!! Ek kry 'n glimlag op my gesig as ek die drie wat gearresteer en afgelaai is se gesigte voorstel as al 298 van ons weer voet aan wal sit. Nommer 4 kan blykbaar nie self oopgaan nie en moet nou per hand oopgemaak word. 

Kyk, nou's ons besig om SA se naam gat te maak. Kan die Jona op hierdie skip asb nou opstaan en afspring, want teen hierdie spoed kom ons nêrens nie. Die lugwaardin kom verby en dis ooglopend dat sy alle oogkontak vermy. Nou net wil iemand vir haar iets vra. In die ry voor my sit Pa en Ma Gouws (Etienne en Elsa) met vier klein dogtertjies. Ons ken mekaar nou al baie goed en is dwarsdeur al die gewone topics: ons onderskeie vakansies, familie, agtergrond, werk, hyt iewers gelees van die Bergrivierkoor en ek gee hom 'n blow by blow van ons oorsese toer. Enigiets om ons aandag af te trek van no 4 engin se valve wat nie wil oopmaak nie. Die kaptein verduidelik dat SAL nie technici het op Abidjan nie, want dit is nie normaalweg op enige van hul roetes nie. Hulle maak gebruik van Air France technici. Ek hoop hulle verstaan 'n boeing. Ek herroep ons besoek aan Seattle se boeingfabriek en die bekende spreuk: If it's not a boeing, I'm not going! Wel, even in a boeing we are not going!!! Ek kan maar net lag. Gelukkig het die res van die belhammels hulle stil geskrik na die arrestasies en maak niemand meer negatiewe geluide nie. 16:00 kom en gaan. Dis 18:00 in SA.

16:23: Ek begin om vir die suurstof-diabeet-tannie afrikaans te leer. Die kaptein sê hulle het geen gebottelde water aan boord nie, maar sal dringende behoeftes bevredig uit die vliegtuig se watertenk. Intussen verseker hy ons dat hulle besig is om kiste gebottelde water aan te koop uit Abidjan en dat Ma's en hul klein kindertjies eerste sal kry. Ek oorweeg dit om een van my earl grey teesakkies stadig te begin kou.

16:30: ons kry verdere slegte nuus van die kaptein: Accra lughawe is weer
toe! Die Accra passasiers moet disembark en later vanaand met 'n ander vlug vlieg. Hierdie raak nou epic. Epidermiese proporsies! En so begin die oefening om die helfte van die passasiers af te laai, al hul bagasie te verwyder en totsiens te sê. Voor gister het ek nog nooit van Accra gehoor nie. Nou is ek op die punt om nie weer van hulle te wil hoor nie! Elsa maak 'n goeie punt: dank die Vader vir engin no 4, anders het ons nou weer sirkel na sirkel gevlieg oor Accra lughawe en later uitgewyk Abidjan toe. En ons almal ken reeds die einde van daai hoofstuk. 

Ons moet weer re-fuel, want gister het hulle ons net genoeg brandstof gegee om Accra te haal. Nou moet ons Johannesburg haal.

17:04: een van die Accrane het hul handbagasie aan boord vergeet. Ons word gevra om almal op te staan en ons handbagasie op ons skote te neem sodat hulle kan sien wat oorbly. Intussen kry die kinders elkeen 'n piepklein glasie water. Ons vra die lugwaardin om die flieks aan te sit vir die kinders (my idee omdat ek my sussie se kinders ken) en deursoek alle leë sitplekke vir verlore oorfone. 'n Oorsese tannie bring 'n speletjie, Pass the Pigs, vir die Gouws gesin om die kinders besig te hou. Meer sodat hulle moet vergeet hoe honger hulle is.  Die verlore tas is 'n shocking pienk tas met swart kolle. Hoe iemand dit kan vergeet gaan my verstand te bowe. Maar daar het sover vandag redelik min dinge gebeur wat nie my verstand te bowe gaan nie. 

17:17 ek tap die laaste bietjie son deur die venster om my sonpaneel batterypak te laai. Kaptein Michael Badenhorst kom verby. Etienne is vlymskerp en vra of hy gekom het om ons aandete order te vat. Medium rare asb. Die kaptein lag versigtig. Ons dink die tyd vir grappies staan einde se kant toe. Ek is nou reeds 60 uur in transit. Die re-fueling is klaar. Ons wag vir noodrantsoene. 

17:40: ons hoor niks weer van no 1 oor no 4 nie. 'n Lugwaardin, Vinnie, word loodskajuit toe geroep vir haar franse taalvaardigheid. Hulle het water gekry. 

17:55 die ligte op die aanloopbaan gaan aan. Dit was oggend en dit was aand. Die derde dag in transit

18:11 twee kiste bier word aanboord gedra. Ek kan sien die organiseerder is manlik. 'n Vrou se eerste prioriteit sal nooit bier wees nie. Maar nogal 'n slim besluit. Bier les dors en maak vol. Ek sien darem 24 fantas en 24 cokes ook. Ek skat ons is omtrent 140 aan boord. 40 liter melk word verby gedra. Ek smag na 'n teetjie. Die melk word gevolg deur vier emmers ys. Vermy Abidjan se water en ys, weergalm my fb vriendin se woorde. Ek sal warm bier drink. 

18:27 die gemoed op die vliegtuig is aansienlik beter vandat die Accrane afgeklim het. Dis 'n vaardigheid wat meeste SAners het en wat ek nou weer sien: aanpasbaarheid en gelatenheid. Ons het ook 'n lojale streep en staan bankvas agter die bemanning. 

18:31: pakke en pakke buns word aanboord gedra. 'Cabin crue close doors and cross check'. Jippie!!!! Ons is weer oppad. Vir die tweede keer spuit hulle die kajuit met pesbeheer. 

18:45: Air traffic control het 'n vol inkomende program en ons wag ons beurt af vir 'n kans om op te styg. Agter my sitplek in die klein kombuisie is die vlugpersoneel skarrelend besig om die maksimum waarde uit die buns en vloeistof te probeer haal. Die engins gaan aan en ons hoor daar's 'n verdere 20 minute vertraging aangekondig deur die lughawe-toring. Ons vermoed hulle is ook nou al 'n bietjie moedswillig.

18:52: Dis al pikdonker buite. Ek het my bloedverdunningsinspuiting 13:00 gevat omdat ons 13:30 sou vlieg. Seker nou al uitgewerk. Wel, niks wat ek nou daaraan kan doen nie. Ek sal net 250 treë per uur moet gee deur die nag. 

19:11: Ons beweeg. 'Lift off' word spontaan gevolg deur 'n vreugdevolle handeklap. Ons is oppad. Mag die Here gee dat ons veilig in SA aankom.  Die hoender en mayo bun smaak vorentoe. Daar was 'n tuna keuse ook. Ek kry tot tee met melk en 'n botteltjie merlot! Laat niemand sê dat 'n mens nie keuses het tot die bittereinde toe nie! Ek het baie oor keuses geleer die afgelope drie dae. Ons kan nie kies wat met ons gebeur nie, maar ons kies ons gesindheid daaroor. 'n Paar van ons vriende op die vlug het swak keuses gemaak. 

Om 03:00 (SA tyd) 01:00 in Abidjan land ons veilig by ORThambo Internasionale lughawe in Johannesburg. Ek het dwarsdeur 'n slaappil nie 'n oog toegemaak nie. Ons nerwe is dun. Ons hardloop letterlik by die vliegtuig uit en draf die lang gange na paspoortbeheer. Hier wag 'n verdere groot skok. Passasiers uit Abidjan het 'n geelkoorssertifikaat nodig en hulle wil ons nie inlaat nie. Ek grawe in my handsak en is skielik uitbundig bly dat ek nie tyd gehad het om my handsak skoon te maak voor die trip nie. Daar is my geelkoorsertifikaat wat ek laat hernu het net voor ons Peru-trip in Oktober. Ek is een van 'n handjievol. Die res van die passasiers is meer as ontsteld. Ek kry die kaptein by die bagasieband en smeek hom om in te gryp. Niemand van ons het gekies om in Abidjan te land nie!  Om alles te kroon wil die oom by 'nothing to declare' nog my oranje tas uitpak ook. Ek gebruik my laaste greintjie krag om vriendelik en geduldig te bly en laat hom sy gang gaan. Kruip Fiela.  Toe sit ek af na SAL se herinboek toonbank. Daar is niemand. 'n Verlate wag lê en slaap. Ek maak hom wakker en hy beduie ek moet Terminaal B toe gaan. Ek hier staan ek voor 5 toe deurtjies. Hier is niemand niemand niemand. Informasie sê hulle maak 04:00 oop. Dit is al 11 minute oor.

Abidjan en ander janne

Dag 2 in Abidjan
Gisteraand na 'n heerlike aandete in die hotel, sien ons 'n handgeskrewe nota opgeplak langs die lifts wat sê dat ons 11:00 Abidjan-tyd vlieg en dat die busse vertek om 05:45, 06:00 en 07:20. Ek slaap min, maar geniet dit om my bene in die lug te hê. Die stort en relatiewe skoon klere uit my tas is heerlik. 06:20 begin hulle die 05:45 bus laai, maar die vertraging sorg vir 'n heerlike koppie Russian Earl Grey tee en ek kla niks. Daars nie kookwater nie en ek drink dit met kookmelk Cuban style. Ek sien op fb dat vriende my waarsku om weg te bly van Abidjan se water en ys. 

Die meeste mense het oornag hul lot aanvaar en is vanoggend minder opstandig. Ons moet links en regs SA verdedig. 'n Seun langs my in die bus oppad terug lughawe toe sê sy ma was gister in die besigheidslounge en die spulletjie het die arme vlieenier omtrent uitgehaal. Wat kan hy nou doen aan 'n sandstorm in Wes-Afrika? Dankie tog hyt nie probeer land nie. En skielik verstaan ek hoekom hulle die vlugpersoneel nie tussen ekonomiese klas kon los nie. 

Ek kyk met nuwe oë na Abidjan vanoggend en sien pragtige kersliggies en tonne mense oppad werk toe om 06:30 in die oggend. By die lughawe val ons in die ry en wag. 93 minute gaan verby en ons leer ken die mense in die ry. Daar kry ek wraggies vir Marius Alberts van Watertite wat Bergrivier se watermeters voorsien! Die wêreld is klein. Om die 300 paspoorte uitgedeel te kry is 'n operasie van 'n ander aard. Ek vergaap my aan mense se ongeduld en onaanpasbaarheid. Hier is veral 'n groepie Ghanadese wat nou in Amerika bly en Amerika paspoorte het. Hulle is mensmoeilik! Ek neem sommer 'n video van die een vrou net om te onthou hoe om nooit te wees nie. Ons is veronderstel om 11:00 te vlieg, maar die meer as 40 minute wat ek alleen voor by die inweegtoonbank spandeer, laat my wonder. Hul rekenaars is erg stadig en die kantoorpersoneel wat ingespan word as ekstra inweegtoonbanke ken nie die stelsel nie. Later kry ek 'n handgeskrewe kaartjie😂.

Ons weet nog nie of ons Accra om terugvlieg nie. Ons sal moet sien. 


Wednesday, December 28, 2016

'n Vreemdeling in 'n vreemde stad

Ek sit in 'n onbekende lughawegebou in Abidjan, Ivoorkus. As ek geweet het wat sou kom, sou ek die rubber omelet vir ontbyt teësinnig afgesluk het. Ek is op 'n SAL vlug vanaf Washington Dulles na Johannesburg. SA210. Gewoonlik stop hierdie vlug op Dakar in Senekal om brandstof vol te maak. Die passasiers bly op die vliegtuig, die bemanning ruil skofte en 'n uur later is mens in die lug en oppad SA toe. Maar as gevolg van die moeilikheid in Senekal en Liberië is die roete verander en maak dit nou brandstof vol in Accra in Ghana. Of dit was die plan.

Ons het lekker gevlieg. Die sitplek langs my was oop en ek het 'n slaappil gedrink saam met 'n gin en tonic by aandete. Die slaap was aan en af, want die tannie oorkant die pad is 'n diabeet sonder beheer en die bemanning gee vir haar suurstof deur die nag. Omtrent 'n gewoel met suurstoftenks en maskers. 

Toe ons begin daal vir die landing in Accra, kom die vlieenier oor die interkom en sê dat Accra lughawe tans toe is as gevolg van digte mis en dat ons sal sirkel bo die lughawe totdat ons kan land. Ons begin sirkel. Ek verloor tred met die aantal rondtes, maar later besluit die vlieenier ons het nie genoeg brandstof om verder rondomtalie te speel nie en moet uitwyk na Abidjan in
die Ivoorkus. Dit is 859 myl sê die kaart op my skermpie. Ons wyk uit en land in Abidjan.  Ek was nog nooit in die Ivoorkus nie. Ghana ook nie, vir wat dit mag werd wees. Aanvanklik bly ons op die vliegtuig en wag vir instruksies. Vier ure gaan traag verby en af en toe kry ons verdere inligting. Die digte mis is toe nie mis nie, maar 'n sandstorm oor die hele Wes-Afrika. Na vier ure word ons gevra om die vliegtuig te verlaat. Dit is versengend warm! Die diabeet tannie kry weer suurstof vir die skok. 

Ek dink nie hier land gereeld groot vliegtuie in Abidjan nie. Hulle is verstom om die nagenoeg 300 van ons te sien en nog meer verstom dat hulle ons moet akkommodeer. Hulle praat Frans. En betaal in Wes-Afrika Frank. Die ruilkoers met dollar is 631,67 frank op 'n dollar. Dis 13:15 toe ons afklim. Dit vat meer as 'n uur om ons deur hulle sekuriteit te kry.  Hier is wifi en kragpunte, toilette en teen 14:50 kry elkeen van ons 'n glasie koeldrank of water. Ek geniet dit om te sien hoe verskillende mense ongemak hanteer. By twee geleenthede skaam ek my vir my nasie! Ek kyk hoeveel verskillende paspoorte ek kan tel terwyl ons in die water-ry staan. Sover is hier SA, Zimbabwe, Italië, Botswana, Mexico, VSA, Ghana, Nigerië, Engeland en Duitsland. Soos altyd kla die wat die minste gewoond is die heel meeste. 

Hier is 'n piepklein business lounge van Air France, maar hulle weier om enigeen van ons in te laat. Van ABSA se Dragon Pass het hulle nog nooit gehoor nie! Groot is my verbasing toe ons vliegtuigpersoneel almal saam verbykom en reguit in die besigheidslounge instap. Ek neem 'n foto wat ek graag later vir SAL se hoof sal stuur. Ongelooflik!  Die bestuurder van SAL in Abidjan (ja daar is so 'n persoon) het vandag 'n rowwe dag by die werk. Sy is skaars langer as 1,2 meter en hardloop haar beentjies nog stomper. Ons hoor dat hulle wag om 'n nuwe stel crue hier te kry, want volgens Internasionale Lugvaart se reëls het ons vlieënier sy maksimum vlugtyd bereik. Ek begin verstaan hoekom mense vliegtuie kaap. Dis 'n magtelose gevoel. Die lughawe op Accra is nog toe (dis nou al 17:08) en die crue wat daar moes opklim, kan nie uitvlieg nie. Ons sit. 

Om 17:38 maak hulle 'n aankondiging dat SA210 na Johannesburg môre vertrek om 20:30 pm. PM! Sy klink heel in haar noppies dat dit môre al is. Grootskaalse pandimonium breek uit. Dis veral die Ghanadese wat die kwaadste is. Hulle lyk na 'n moeilike spulletjie!  Nog 'n uur later val ons weer in 'n ry. Hierdie keer vir 'n hoendertoebroodjie vir elk. Ek wonder waar hulle genoeg toiletpapier gaan kry as hierdie 300 mense hoender eet wat warm geword het. Na nog 'n ruk roep hulle ons om deur paspoortbeheer te gaan. Ons het eintlik 'n visum nodig en daarom hou hulle ons paspoorte! Iets wat baie ongemaklik op my sit. Ek wil eers met die Poliesman baklei daaroor, maar hy het die 100 voor my reeds oortuig dat dit die enigste manier is wat hulle ons in die stad toelaat. Asof ons nie kan wag om onwettig hier agter te bly nie! Nou is ek 'n vlugteling in 'n baie vreemde en ongeorganiseerde land sonder 'n paspoort! Ons kry ons bagasie en word ingedeel by hotelle. Dit wat hier in een sin staan, vat meer as 'n uur. Daarna volg ons 'n Novotel beampte na buite en laai ons goed in hulle bus-shuttle. As die vervoer enige aanduiding is van die hotel, het ons probleme. Intussen ontmoet ek baie mense. 'n Amerikaanse meisie en haar Mexikaanse boyfriend is oppad vir hul eerste vakansie in Kaapstad. Twee ouens van Toronto ook. Vir hulle is dit honeymoon. 'n Ander gesin van Midrand is hier met vier klein dogtertjies waarvan die oudste 8 jaar oud is. Hulle was by Disney Florida en sleep sakke vol sagte speelgoed-dolfyne en Mickey Mouse agter hul handbagasie aan. 'n Ander couple van Pretoria (kompleet met die geteasede hare) vra of daar ander hotelle is vir besigheidsklas. Nee meneer. Dieselfde swanger hitte, dieselfde foamalite glasie water, dieselfde warm hoender en dieselfde ure en ure se wag. Dis nou 19:06 in SA. Ek sou nou al geboard het vir Kaapstad. 
En steeds wag ons. 19:15. 
Hulle gebruik dieselfde Yutong busse as in Kuba. Ek staar by die venster uit en dink weer oor 'n sêding wat ek ken: Toe die Europiers horlosies gekry het, het Afrika tyd gekry. Niemand beweeg vinnig of doelgerig nie. Niemand. Oom jy kon maar my paspoort teruggegee het. Ek sou nie hier wou bly nie. 

Ek vind die Afro-Amerikaanse vroue die ergste. Hulle probeer nie eens nice wees nie! 'n Uur of wat later is ons by die Novotel Hotel. Dis pragtig en moet vir SAL bankrot maak. Hier het ons weer wifi en lees ek dat Abidjan die ekonomiese hoofstad van Ivoorkus is en die digsbevolkte stad in Wes-Afrika. In 2014 was hier al 4,7 miljoen mense. Dit lê teen die kus langs die Noord Atlantiese See en is 'n baie belangrike hawestad. Ek neem 'n paar kiekies uit die bus se venster oppad na die hotel.














Tuesday, December 27, 2016

Washington Dulles na middestad

Washington Dulles na Wit Huis oor en uit

Gisteraand toe ek begin pak en my goed bymekaar kry vir die terugtog, besef ek ek het 'n agt ure stop op Washington Dulles Internasionale Lughawe 35 myl buite die middestad. Wat 'n ongelooflike geleentheid! Ek kyk die weer en alles lyk reg vir 'n uitstappie na die Huis sonder Kleur. 'n Pel van my spot nog en sê: Just don't get trumped at the door!😂 Wel, oor drie en twintag dae verwissel daai huis van eienaars en ek moet dit miskien nou sien voordat dit soos 'n hotel-toring begin lyk.

Ek was in 1997 laas in Washington DC. Tot verlede jaar se Cederberge, was dit die warmste wat ek nog ooit gekry het. Ons familie was saam daar en teen die tyd dat ons tot by die Lincoln Memorial gestap het, wou ons in die refleksiepoel swem. Vandag is dit 16 grade, bewolk en is net die tyd teen my. Ek moet betyds terug wees om my SA210 vlug te vang via Accra na Johannesburg.

By Dullies soek ek die eerste info toonbank om seker te maak dat die inligting op google nog akkuraat is. Dit lyk of die ouetehuis die toonbank beman tussen Kersfees en Nuwejaar, maar na twee keer se verduidelik kan die tannie my hoor (die res van die lughawe ook) en my aksent verstaan. Dis heel eenvoudig. Jy gaan uit by Gate 4. Een vloer af. Oor die straat. Soek vir busstop 2E en bus 5A. Dit vat jou 50 minute later na L'Enfant Plaza net twee blokke weg van die meeste besienswaardighede op my spyskaart. Ek is opgewonde! Ek mis die eerste 5A met 50 meter (as die tannie net beter kon hoor!), maar vat die 09:55. Dit gee my drie en 'n half ure in die middestad. Hopenlik genoeg!


Ek bestudeer die kaart en merk die Capital, die Wit Huis, Lincoln Memorial, Jefferson Memorial en alles tussen-in. Ek sal moet wikkel. Die meeste ander mense saam met my op die 5A is oosterlinge
met baie groot tasse. Die man agter my praat in Mandaryns en al wat ek uitmaak is ziCapital. Eers
dink ek hys baie opgewonde, maar toe onthou ek die chinese fliek met onderskrifte wat ons gesien het op die vliegtuig na Guilin in China. Die man gryp die vrou aan die keel en skree drie chinese woorde. Net toe ek dink hier volg 'n moord, lees die onderskrif: I will love you forever! Hulle klink maar so.

Ek ry nou verniet (gratis) op hierdie bus, want ek het net 'n honderd dollar noot wat ek via my Pa by my Oom Bob gekry het. Die rit stad toe kos 7$, maar die geldmasjientjie voor gee nie kleingeld nie en die Tannie sê ek kan maar opklim. Amerika se publieke vervoer is baie goedkoop en effektief.

Ons ry 50 minute stad toe en voor 11:00 het ek al talle fotos geneem van die Lincoln Memorial en Capital Hill. Daar's baie besoekers wat die mooi weer uitbuit en die besienswaardighede is vol. Ek geniet my gate uit. Daar is te min tyd om in te gaan by enige museum en ek stap buite rond in die heerlike koel lug. Vir 'n Starbucks Earl Grey tee sê ek nooit nee nie en waag dit binnetoe. Die negatiefste ding vir my in die winter in Amerika is hoe warm hulle geboue binne gemaak word. Jinne! Onuithoudbaar. Piketberg hitte in Februarie slat my toe ek die deur oopmaak en voordat tee kan bestel, loop die sweet my letterlik af. Ek trek lae en lae uit. Nee man! Kan 'n mens nou krag so mors!

Washington is 'n pragtige stad. Daar vlieg 'n helikopter reg oor my kop en ek waai vir Trump en dra groete oor van President Zuma. Langs my in Starbucks sit 'n vrou wat al haar albasters verloor het. Sy is botteltjieblond en seker 60. Eers dog ek sy praat kliphard oor die foon, maar toe nie. Haar linkerhand is oor haar mond en linkeroor soos ‘n CIA agent en sy praat onophoudelik. Ek verluister my so dat my tee koud word. Haar ontevredenheid gaan vanoggend oor 'n groot partytjie waarheen sy wou gaan, maar hulle wou haar nie inlaat nie. Sy het haar security pass en volle name gegee maar niemand wou haar help nie. Ek sit en wonder wat gebeur het dat haar albasters weggeraak het.
Shame.





Daar het 'n paar interessante standbeelde bygekom sedert ons besoek in 1997.















Veilig terug by die lughawe en deur sekuriteit, is ek terug by wifi en kan ek julle vertel van my dag. " Word jy nooit moeg nie, vra my Christa-sussie oor whatsapp. Ek dink nogal lank daaroor en besef my lus vir nuwe goed sien en my nuuskierigheid wen altyd. Nogal 'n interessante ondekking. My fitbit sê ek het 9000 treë gegee vandat ek uit is by die lughawe vanoggend totdat ek weer terug is. Regtig die moeite werd om Washington DC se ou historiese deel te sien. As jy ooit 'n paar uur moet doodslaan op Washington Dullies. Moenie twyfel nie. Klim op bus 5A. Bring 'n 100$ noot. Dalk ry jy ook gratis.

Monday, December 26, 2016

'n Wit Kersfees in New Market, Toronto, Kanada

Kyk! Cuba put 'n mens uit!

Hier is ons op die lughawe terwyl ons wag vir die CAA om ons motor se dooie battery weer aan die gang te kry. Ons het net voor 03:00 geland in Toronto uit Cuba uit en moes wag tot 05:00 om die tas te kry waarin die goed is wat ek vir die Strausse moes koerier. Dit is leerriempies vir hulle houtstoele wat hulle uit SA uit saamgebring het 12 jaar terug en velsorgprodukte vir Elizan. Toe ons 05:30 niksvermoedend by die motor kom, wil hy nie reageer op die remote in Matthys se hand nie en ons moed sak in ons skoene. Gelukkig is hulle lid van die AA en binne 40 minute is hulle daar en kan ons padvaardig raak. Ons goeie voorneme om ook op Oukersaand kerk toe te gaan, is later die middag uitgestem! Ons slaap die dag om. Later kry ek my ma se pannekoek-resep via whatsapp en maak ons pannekoeke gevul met kerriemaelvleis.


Ek het die Strausse voor die tyd gewaarsku. Die laaste en enigste ander keer wat ek nog ooit Kersfees nie by my familie was nie, was aan die einde van st 9. Ek het stranddienste gehou in die Strand en kon nie 'huis toe' gaan nie. My familie was in Stilbaai en ons stranddienste het weer die middag van Kersdag om 16:00 hervat. Toe het 'n oud-onderwyser van my goedgunstiglik ingewillig dat ek Oukersaand en Kersfees by hulle spandeer. Ek het gedink dit sou okay wees, maar het amper die hele 
tyd net gehuil. Ek kan nie regtig onthou hoekom nie. Die mense het so sleg gevoel dat hulle laat die aand van die 24ste probeer het om vir my Somerset-Wes se liggies te wys om my op te beur. Toe huil ek eers! So Elizan en haar gesin was gereed en reg vir die ergste.  Maar ek kan eerlik sê dat ek nog nie nodig gehad het om 'n traan te stort nie!


Elizan-hulle se agterstoep!


'n Regte wit Kersfeees.


Die Strausse moes die leeswerk doen in hulle kerk op kersoggend. Dit was 'n baie mooi diens met hartlike mense. 


Andrea Bowman ('n vriendin van die Strausse) 
se kersfees skeppings. 





Matthys sê meer Kanadees kry mens nie! 


By hulle voordeur. Ek gaan hierdie foto print en saamvat Nuwerus toe in die Cerderberge en probeer onthou hoe koud dit was as ons daar lê en sweet in 48 grade!

Friday, December 23, 2016

Te perd na Christopher Columbus

Dag 5 en 6:
Wanneer laas was jy op 'n perd? Vir my was die antwoord so ver terug dat ek nie regtig kan onthou nie. Miskien toe ek 'n student was en ons op 'n SR-toer in die Vrystaat op 'n plaas gery het oppad terug, of saam met Elize van Deventer wat saam met my in Harmonie was by die US se perdryklub by Coetzenburg se dam waar die perdryklub se stalle is. Of miskien was die laaste keer toe ek saam met Braam en Elna Swaziland toe getoer het voor Elizna se geboorte. En sy het pas 15 geword!

So nou weet julle. Verroes was nie die woord nie. Maar dis soos fietsry. Mens kom gou weer in ritme. Ons rit gister in Cuba was op 'n uitstappie na 'n plaas naby Playa Pesquero. Ons het eers op die 'automatic red farari' gery. Dis 'n ossewaentjie wat ons lekker laat lag het. Daarna het ons die perde bestyg en vir so 20 minute tot 'n halfuur gery na die punt waar Christopher Columbus sy voet aan wal gesit het in op 28 Oktober 1492. Hier kry ons iets om te drink en ons kies 'n Cuba libre. Dit is rum en coke met suurlemoen. Heel lekker. Vreemd hier is dat hulle selfs alkoholiese drankies deur 'n strooitjie drink! Ons sien 'n snaakse vertoning waar die inheemse volke se taal en gedrag nagemaak word. Hier is geen inheemse volke oor in Cuba nie, want die Spanjaarde het meer as die helfte vermoor en die ander het gesterf aan die siektes wat die Spanjaarde hier aangebring het. Ons middagete is op 'n baie pragtige plek met 'n uitsig oor die baai. Die see is kobaltblou vandag. Ons het pragtige weer. Die middag spandeer ons soos die vorige dag tussen die see (snorkel) en die swembaddens. Tussendeur wissel ons dit af met ping-pong (Daniel en enige vrywilliger) en koejawel-roomys.  Ek en Elizan stap na die twee oorde regs van ons en sien die mooiste voëls. Cuba het 323 soorte voëls waarvan 8 net hier voorkom en nêrens anders in die wêreld nie.

Vandag is ons laaste dag. Ons vlieg vanaand 22:00 en word 19:00 opgelaai by ons oord. Ek gaan nou vroeg ontbyt eet sodat ek nog vir oulaas die heel meeste uit hierdie dag kan haal.  Vir die van julle wat al ooit gewonder het of julle Cuba toe moet kom, kom! Dis 'n wonderlike, interessante plek met vriendelike mense en pragtige natuurskoon. En die feit dat wifi skaars is was 'n groot pluspunt!