‘n Lughawe is altyd ‘n opwindende plek. Die atmosfeer is net anders. Of miskien is dit my binnekant wat verander as ek ‘n lughawe binnestap. Dis moeilik om in woorde te beskryf, maar ek voel of ek verander in ‘n bruistablet wat te groot is vir sy glas en by die rante oorloop. Hierdie keer is ek op pad Denemarke en Swede toe. Vir ‘n program van die ICLD (International Centre of Local Democracy). Dit is dieselfde program waarvoor ons Zambië en Zimbabwe toe was vroeër vanjaar en einde verlede jaar. Hierdie is die tuisveld been van die Sweedse program. Ons gaan drie stede in Swede besoek in twee weke naamlik Malmö, Stockholm en Gävle.
Maar vannag en môre is dit eers ons en Dubai en Denemarke (Copenhagen). Die ons is ek en ‘n kollega van Bergrivier Munisipaliteit, Alletta van Sittert. Gelukkig is ons vriende ook, so dit behoort ‘n goeie reis te wees.
Ek het twee jaar terug aansoek gedoen vir hierdie program en het toe ‘n ‘dear John’ briefie ontvang om te sê hulle vat nie aansoekers uit SA nie, want hulle werk net met die 49 armste lande in die wêreld. Net om middel verlede jaar ‘n epos te kry met goeie (slegte!) nuus. SA het gearriveer! Welkom op die kursus. Ek het nie geweet of ek wou lag of huil nie. Maar nou maak ons die beste van ‘n sleg saak en gryp die uitdaging met beide hande.
Van ons projek van verandering in Porterville vertel ek later. Nou eers deur die hekke gaan en paspoort beheer. Die Phelophepa gesondheidstrein in hierdie komende week in Piketberg en die helfte van my gedagtes is daar. Mag hierdie week vir ons almal goeie gesondheid en groot ervarings bring. Ek is veral opgewonde oor Swede. Ek vertel later hoekom.
Friday, September 14, 2018
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment