Monday, September 17, 2018

Malmö die mengelmoes kardoes!




Hierdie is die Öresund brug wat in 2000 geopen is en Swede direk met Denemarke verbind. Dit vat nou 24 minute per trein van Copenhagen na Malmö.  Die hele projek beslaan 16 km, maar 8 km 
daarvan is brug. ‘n Indrukwekkende ingenieurspoging. En baie mooi op die oog.
Ons toer vanmiddag per bus na die Westelike Hawe, wat heeltemal herbou word in volhoubare lewensstyl en werklik indrukwekkend is.  Die heel hoogste gebou in Swede en Skandanavia sedert 2005 is die Turning Torso en dit is hier geleë. Hy is nou nie Dubai hoog nie, maar staan darem 190 meter hoog. Dit is eintlik werklik laag as mens die hoogste gebou in die wêreld, die Burj Khalifa in Dubai vergelyk wat 828 meter hoog is.  Maar Swede is trots genoeg op hierdie draende gedoende deur Santiago Calatrava.


Hierdie deel van Malmö is baie duur om in te bly en kos 1900 sweedse krone per vierkante meter om te huur per maand.  Om te koop kos tussen 2 miljoen en 7 miljoen sweedse krone. Daar is twee rand op ‘n sweedse kroon. Dit was die eerste carbon neutrale gebied in die wêreld.
Orals sien ons fietse en fietspaaie . Daar is meer as 500 km se fietspaaie in Malmö alleen.




















‘n Groepsfoto vanmiddag voor die KRAM (beteken drukkie). Ons is 34  uit ses lande naamlik RSA, Zimbabwe, Zambië, Tanzanië, Uganda en Swede.
Vandag was uiters interessant en onvoorwaardelik fantasties. Ek weet nie eers waar om te begin vertel nie. ‘Tot die honde hier gedra hul beter’ sê Alletta toe ons vanaand ‘n bier deel met ‘n pizza by Piccolo Monde op die stadsplein.  En miskien som dit die dag die beste op. Ons monde hang letterlik oop.  Maar laat ek by die begin begin.













Hulle leer darem iets van ons ook.




Malmö is ‘n uiters kosmopolitaanse stad! Met slegs 330 000 mense wat bestaan uit 182 nasionaliteite en  meer as 150 verskillende tale. ‘n Derde van die inwoners is ‘foreign born’ en ‘n verdere 12% is gebore in Swede van buitelandse ouers.  Die immigrasie kwessie na die oorlog in Sirië het 163 000 vlugtelinge na Swede gebring sedert 2015. Baie van hulle was jong kinders uit Sirië en Afghanistan wat opname in weermagte wou vermy. Seuns en dogters. Ons gids vanmiddag vertel dat wanneer ‘n vlugteling onder 18 jaar oud is, word hulle die ‘eiendom’ van die gasdorp. Malmö het 14000 sulke kinders gekry in 2015. Sommiges so jonk soos vyf jaar oud. Kan jy jou indink? Meer as die helfte van die immigrante het nie matriek nie.  Dit het hul mees onlangse verkiesing aansienlik beinvloed (uitslae het verlede Vrydag uitgekom) en heelwat meer regs en konserwatief geneem as in die verlede. Hulle is steeds besig om koalisies te vorm op Nasionale, Provinsiale en Plaaslike  vlak en niemand weet hoe dit gaan lyk nie. Dit het ook die kultuur in Swede aansienlik verander, vir altyd. Interessante tye. 
Die nuwe brug tussen Copenhagen en Malmö het die hele ekonomie van Malmö verander en nuwe geleenthede gebring. Malmö het oor die jare verander van ‘n industriële stad met ‘n ou skeepswerf (wat die grootste werkgewer was) na ‘n volhoubare moderne kosmopolitaanse wêreldstad!

Ek moet darem net ook iets vertel van ons ontbyt vanoggend in die hotel. Dit gee die idee van verskillende keuses totaal nuwe betekenes. Hier is nie net melk nie. Daar is twaalf verskillende  kanne en elkeen is gemerk met organiese koeimelk (koud en warm), non-dairy, fat free, full fat, en die res kan ek nie onthou nie. En so gaan dit vir elke ding. Ons het dit baie geniet. 




No comments:

Post a Comment