Tuesday, September 18, 2018

Die suksesverhaal van Röstänga en ander interessanthede

Sjoe, my kop sing behoorlik vanaand. En dit is nie net van hierdie plaaslike ‘ale’ van Röstänga nie.  Waar sal ek begin vertel?  Vandag was ‘n propvol dag.  Ook onder andere propvol sonskyn. Swede ken nie hierdie jaar se weerpatrone nie. Hulle praat reeds van ‘n droogte hier en van boere wat swaarkry, want hulle het geen reën gehad tussen April en Augustus nie.  Dit ken hul glad nie. ‘n Plaaslike melk en heuning boer vertel ons vandag dat hulle nie weet of hulle hul diere sal kan voer deur die winter nie en dun hul kuddes uit. Vandag was 24 grade celsius en vir hulle uiters warm vir hulle herfs.  Wel, ons glimlag al die pad.

Ons toer vandag het geëindig by ‘n baie klein landelike plekkie met die naam Röstänga. 
Op hierdie kaart van google maps kan julle presies sien waar ons vandag gery het. Röstänga is 65km van Malmö en geleë reg bo in die kaartjie langs die Nasionale Park in ‘n pragtige boomryke omgewing.  Dit is ‘n groot suksesverhaal van ‘n klein gemeenskap wat saam hul storie verander het en saam ‘n NGO gestig het en ‘n eiendomsmaatskappy met gemeenskapsbefondsing en alles in die gemeenskap omkeer deur vertroue en harde werk. Dit is ‘n model wat ons baie goed in Bergrivier sal kan en gaan gebruik. Hulle het ook hul eie kunsmuseum en bierbrouery. 




Hierdie is die restaurant in Röstänga wat ook deur die NGO van 120 vrywillige plaaslike inwoners besit word. Ons het vanaand hier geëet. Hul konsep en uithouvermoë is finominaal.

Vroeër vanmiddag was ons by hierdie inspirerende vennote wat ‘n plaaslike winkel bedryf in ‘n landelike dorpie met minder as 500 inwoners in die hele distrik. En hul omset per jaar is R12 miljoen! Die dorpie se naam is Svensköps.  Werklik ‘n plek waar ek sal kan bly en alles moontlik gemaak deur  Lina en Eva, twee jong plaaslike vroue met die regte gesindheid en dryfkrag. Eva se baba is net vier weke oud en die jongste inwoner in Svensköps. 






Ons besoek Lund Universiteit en veral hul Wetenskap en Tegnologie Park Ideon waar ons baie interessante maatskappye ontmoet en leer van start-up companies en incubators. Hierdie man hierbo is die mede-vennoot van SupaMota wat pellets en stowe bemark in Zambië as ‘n alternatief vir kook met steenkool. Laasgenoemde is gevaarlik en sleg vir die kok se gesondheid en maak dat al die boomryke gedeeltes in Afrika uitgeroei word. En dit vir 98% energieverlies teen die tyd dat die steenkool se hitte by die kos uitkom.


‘n Baie interessante deel van die dag was die pitching corner. Klein maatskappye en besigheidsidees word geleer om in een minut hul idees te pitch voor beleggers, kliënte en publiek. Ons het deelgeneem en ek het ‘n groen hoed gekry wat beteken dat ek moes positiewe terugvoer gee.  Daar is ook rooi hoede vir opbouende kritiek, pienk brille vir idees uit ‘n kliënt se oogpunt en wit hoede uit ‘n beleggers oogpunt. Dit was so interessant. Hulle werk met NABC wat staan vir Need, Approach, Benefit en Competition en dit is wat jy alles moet aanspreek in een minuut.


Die lugverkeer in Swede is ongelooflik baie.

Herfs! 

Ons staande ontbyt en netwerk geleentheid by die Science Park. Jinne, ons kan baie leer!
Ek is moeg, maar kan nie wag vir môre nie. 

No comments:

Post a Comment