Sunday, September 16, 2018

My Oupagrootjie Olof Olson

Ons is ingeboek in ons hotel in Swede en het lekker aandete geëet by ‘n ander hotel as ons s’n.  Nou is ek terug in my kamer, nadat ‘n reëntjie ons vinniger kamer toe gestuur het as beplan en kan ek julle vertel hoekom ek eintlik so opgewonde is oor Swede toe kom. Ek was nog nooit voorheen hier nie.  Ja, dit beteken ‘n nuwe rooi sterretjie op die wêreldkaart in my toerkamer (twee, want Denemark ook). Maar dit is nie al rede nie.
Daar is ‘n baie groter rede as dit.

My Pa se Ma is in Amerika gebore, in Chicago.  Haar Ma, Wilhelmina Louise Peterson en haar Pa, Olof Olson is beide van Swede afkomstig.  My Pa se Oupa, Olof Olson, is hier in Mälmo (waar ek nou is) gebore in 1863. 155 jaar gelede en hier stap ek vandag en hierdie week hier rond.  Ek sou wat wou gee om te weet presies waar hulle gebly het.  As gevolg van finansiële uitdagings het baie jongmense van Swede in daardie jare Amerika toe gegaan per skip met die hoop op ‘n blink toekoms. My Oupagrootjie en Oumagrootjie het apart gegaan en mekaar in Amerika leer ken, nadat beide Minneapolis in Minnesota gekies het. Daar het hulle ontmoet en verlief geraak en is later daar getroud. My Ouma, Anna Olson, was die vyfde van nege kinders en het in Chicago grootgeword. Hulle het gebly in 843 North Lombard Avenue, Oak Park, Illinois.  Toe ek in Maart 2016 Chicago toe is, het ek op my Ouma se voetspore teruggeloop en hulle huis gaan soek.  En dit gekry.  Dit was ‘n spesiale oomblik.  Soos nou.
Hier is hul huis in Chicago.





Daar is sy geroep om sendingwerk te doen in die Kongo in Afrika en het op 1 September 1926 per skip na Suid-Afrika vertrek. Sy was 25 jaar oud. Voor haar sendingwerk, moes sy eers ‘n kursus doen in Antropologie by UCT en het sy daar my Oupa ontmoet.
My Oupa, Hannes en Ouma Anna op hul troudag in 1932.


No comments:

Post a Comment