Thursday, June 28, 2012

Yosemite

Ek sit met 'n earl grey teetjie in die gaste sitkamer in Curry Village in Yosemite. Die Strausse het gaan fietse huur om bietjie te ry. Ek wou net eers die fotos van die afgelope twee dae met julle deel.

Yosemite moet een van die mooiste plekke op aarde wees. Dis ongelooflik mooi! Ons het gisteraand 18:00 se kant hier aangekom en ons tent no 636 bestyg. Ons bly in Curry Village. Hier langs my is 'n ou besig om vir 'n groep in die sitkamer te vertel dat hy besig is om van Mexico te stap na Canada. Hy probeer die meeste van John Muir se paaie te stap. Sy baard is al lank en hy klink redelik eksentriek, maar ek haal my hoed vir hom af. Mexico na Kanada. Dis vrek ver. Nou is hy in Yosemite. John Muir was ook die ou waarna die Muir Woods in San Francisco vernoem is. Ons het gelees dat John Muir elke jaar gestap het vanaf sy huis tot by Yosemite (meer as 500 km).

Yosemite is reeds in 1890 as 'n Nasionale Park verklaar deur President Lincoln. Dit is meer as 3000 vierkante kilometer en bestaan uit graniet rotse, hoe watervalle en baie inheemse bome. Die 5de en 7de hoogste watervalle in die wereld is hier in Yosemite. 5 van die hoogste tien is in Poland en die 2de hoogste waterval in die wereld is natuurlik in SA. Die Tugela rivier val oor die Drakensberge en val 2800 voet ver. Dit maak dit die tweede hoogste. Die hoogste waterval val 3200 voet ver en is in Suid Amerika in Venezuela. Yosemite word jaarliks deur 13,7 miljoen mense besoek. Net om dit in perspektief te plaas. Die besoekers aan die Kruger Wildtuin in SA wissel tussen 800 000 en 950 000 per jaar.

Ons ry vanoggend Badger Pas tot by Glacier Point. Dit word beskryf as die mooiste uitsig in die wereld. Maar dan weer... Amerikaners toer nie juis vreeslik nie en noem sommer maklik iets die grootste of die mooiste in die wereld. Dit beteken eintlik maar net 'hulle wereld'.


Daniel is 6 en 'n half jaar oud en in Graad 1. Hy lees baie goed en is gedurig met sy neus in 'n boek. Ons het eintlik moeite om hom te kry om ook so nou en dan by die venster uit te kyk. Hier in Yosemite het Elizan sy boek afgevat, want anders sien hy niks.


Oppad hierheen het ons ons verkyk aan die hoeveelheid landbou bedrywighede. Interessant genoeg was dit alles Suid-Amerikaners wat werksaam was op die lande. Hierdie is alles kropslaai. Ons sien ook langs die pad hoe hulle dit pluk. Daar is orals stalletjies langs die pad en ons koop kersies en appelkose.


Pragtige graniet rotse in Yosemite!


Die tente dorp in Curry Village. Google en Trip Advisor waarsku mens vreeslik oor hoe oorbevolk dit sal wees en hoe klein die tentjies is. Vir ons was dit wonderlik. Baie skoon en netjies en weggesteek tussen die bome.



Ons tent van binne. Ons moes al ons taase uitpak en alles wat na kos en toiletries lyk en ruik uithaal en in die 'bearbox' voor die tent toesluit. Hier is bere blykbaar aktief in die nagte. Ek het gedink om ietsie buite te los sodat ek darem net 'n beer kan afneem, maar later daarteen besluit!


Ek wil nog soveel goed vir julle skryf, maar die wifi hier is net te stadig om fotos op te laai. Ek is nou al amper twee ure besig met hierdie paar. Die ou met die baard raak al hoe weirder. Intussen vind ek uit sy naam is 'Tickled Pink'. Hy is blykbaar ook op Facebook. Terwyl almal op hul laptops besig is hier en doodstil sit en hul eie besigheid afhandel, vra hy kliphard vir die hele kamer: Any questions for a real PCT hiker? Oh, just busy on your divices. Anyone who need to talk to me, just raise your hands... Ons almal het net gesteurd opgekyk. Wat is 'n PCT hiker? Wel, ek het so pas die geleentheid laat verbygaan om eerstehands uit te vind.

Ek sit nog fotos by sodra ek vinniger wifi het. My toer is amper op 'n einde. Ek kan dit nie glo nie. Ek sal moet waak om nie 'n antiklimaks gevoel te kry nie. Bis asb vir my daarvoor. Dankie Lizel en Teuns dat julle reeds laat weet het dat julle bid. Ek waardeer dit. Mal oor julle.

No comments:

Post a Comment