Tuesday, June 12, 2012

Glacier National Park: Montana

Jene, maar julle kan kerm! Maar ek 'like' dit! Dankie vir almal se baie positiewe terugvoer oor my blog. Ek lag lekker vir almal se ongeduld oor meer fotos van Alaska. Die probleem is dat ek nou my Pa en Hannalie se fotos saam met myne op my rekenaar het en sukkel om die tien bestes vir julle uit te soek. Vanaand het ek tyd en ek belowe ek sal nie gaan slaap voordat ek dit vir julle ge'post' het nie.

Gister en vandag het ons baie ver gery. Tussendeur het ons die mooiste goed gesien. Ons is gisteroggend vroeg weg in Moses Lake, Washington State. Die Moses het toe niks met die Bybel te doen soos ons gedink het nie, maar die dorp is vernoem na die meer wat weer vernoem is na Chief Moses, 'n Native Indian leier uit die verlede.

Die dorpie le al langs die meer en elke huis het 'n pragtige meer uitsig. Vanoggend toe ons opstaan skyn die son en ons het blou lug om af te neem. Dit maak so 'n groot verskil!





Ons moet vandag 580 km ry. Dis nie te ver in SA nie, maar hier ry hulle heelwat stadiger as ons op hul paaie en ons kies ook die mooier paaie. Daar is soveel besienswaardighede langs die pad, dat ons kort-kort in en uit en in en uit die motor is. Ons gaan vandag deur drie state. Ons begin in Washington State, ry later Idaho binne en ons slaap vanaand in Montana. Die wit Jeep agter op die Idaho foto is ons nuutste huurmotor. Nogal 'n 4 x 4.


By elke ingang tot 'n nuwe staat is 'n Visitor Center. By Idaho se ingang kry ons gratis tee en koffie met chocolate chip koekies. Dis baie vriendelike ontvangs.


Leesstof oor die drie state wat ons vandag sien.



Die 121 na ons slaapplek in Kalispell is in Myl. Ons verloor ook 'n uur toe ons in Montana ingaan, want ons skuif van Pacific Time na Mountain Time op die Amerikaanse Time Zones.


Van alles wat ons gister gesien het was die Kootenai Falls die grootste verrassing. Wow! Sommer so in die middel van niks is 'n bord en gelukkig besluit ons dis tyd vir 'n stappie en stop ons. Kyk net hoe mooi is dit. Die Kootenai Rivier ontspring in Kanada in die Canadian Rockies, loop deur Montana in die VSA en dan terug na Kanada waar hy in die Columbia Rivier inloop oppad na die Pacific toe.




Ons slaap die volgende drie aande by die Hampton Inn in Kalispell in Montana. Dis omtrent 35 myl van die Glacier National Park af. Hierdie is die uitsig uit ons kamer. Ons kom baie laat in Kalispell aan, maar hier gaan die son eers 22:00 onder.


Vanoggend slaap ons bietjie later en geniet 'n baie lekker ontbyt by die hotel. Dis 'n full spread in teenstelling met die meeste Amerikaanse hotelle wat net 'n donut of 'n wafel gee. Ja, die Amerikaners eet soet goed vir ontbyt. Vanmiddag eet ons by 'n Pizza Hut en vat die 'soup, salad and bread sticks special'. Dis 'all you can eat' vir 6,99 dollar. By hul slaai tafel is sjokolade kits poeding en ingelegde perskes. Hulle eet dit vir slaai! Ons het dit vir poeding geeet na die tyd.

Maar terug by vanoggend... Ons staan op met pragtige weer en baie blou lug. Ons is gereed vir die Galcier National Park. Die hoogste pad deur die park is nog nie oop na die winter nie. Ons gaan hom met 'n paar dae mis. Hulle kyk maar hoe die weer lyk en tans voorspel die koerante dat dit Vrydag sal oopmaak.

Maar die res is net so mooi: Hierdie is McDonald Lake.



Binne-in die Park kan mens met hierdie rooi wa gratis deur die park gery word.


Die water is kristal helder.





Hierdie is Avalanche Creek. Daar is die mooiste Cedar boom woud. Die Amerikaners kry dit reg om mens teenaan die mooiste goed te bring met paadjies en bruggies.


'n Rooi ceder boom.


Hierdie boom het omgeval en sy wortels le soos 'n groot skildery by een van die ruspunte langs die pad. Dit was so mooi!





Vanaand probeer ons bietjie vroeer terug wees by die hotel om ons goed te sorteer en te begin pak. Eintlik wil ons net weet hoeveel plek oor is in die tasse vir inkopies. Ek sorteer al my goed in drie hope. Die wat definitief saam met my gaan San Francisco toe. Die wat definitief saam met my ouers teruggaan en 'n derde hoop vir die wie se toekoms nog onseker is.

Vandag was stunning! Die natuurskoon in Montana is asemrowend. Daar is so baie van my vriende wat se hulle wil nie VSA toe kom nie. Dan vertel hulle dat hulle dink dis plasties en aangeplak. Wel ek moet getuig dat van alles wat ek die afgelope drie weke in Washington, Alaska en Montana gesien het, was net mooi niks plasties of aangeplak nie. Dit is PRAGTIG en definitief die moeite werd om te sien.

Oppad terug vandag sien ons die mooiste perfekte reenboog net om my te herinner dat die Here in beheer is en altyd goed na ons sal kyk soos Hy belowe het.



No comments:

Post a Comment