Friday, June 22, 2012

City Sightseeing Bus: SF

So warm soos wat dit gister was, so koud is dit vandag. Dit help veel dat ek al my warm klere saam met my ouers teruggestuur het SA toe. California gaan warm wees! So het ek gedink! Wel, ek was verkeerd. Dis vrek koud. Gaan so wees tot Dinsdag. Elizan, red jouself. Bring baie warm klere!

Ek is vroeg op en weer met die gratis shuttle na die lughawe om die BART trein te vat na Powell stasie by Union Square. Union Square is pragtig. Ek moet die City Sightseeing Bus hier kry. Dis 'n dubbele opelug bus wat vier verskillende roetes ry en jou als in die stad wys en oulike stories oor als vertel. Ek is nie so seker of alles 100% die waarheid is nie (party goed klink shaky), maar dit is minstens interessant. Ek doen die groen, pers en rooi roetes vandag. Ek wou ook bly vir die blou aandrit vanaf 18:00, maar dis net te koud daarvoor.


My koppie earl grey tee vir die dag. Vroegoggend op Union Square.


Op drie plekke in Union Square staan hierdie hart-kunswerke. Sedert 2004 word daar elke jaar vier van hierdie harte op dieselfde patroon gemaak en vir vier kunstenaars gegee wat dit verf en dan word dit opgeveil ten bate van die plaaslike hospitaal. Dis regtig indrukwekkend. Chicago se koeie is op dieselfde prinsiep gebaseer.





Die 30 meter hoe standbeeld op Union Square het sy eie storie. Dit is in 1903 op die plaza geplaas ter viering van die oorwinning oor Spanje in 'n seegeveg. Die model vir die standbeeld was Alma de Bretteville. Sy is later getroud met Adolph Spreckels. Hy was die rykste man in SF op daardie stadium en hoof van al die suiker plantasies en suiker raffinaderye. Hy was ook 29 jaar ouer as Alma en die mense in SF het na hom verwys as haar 'sugar daddy'. Dis waar die term die eerste keer gebruik is.

In Pacific Heights (een van die spogbuurte in SF) bou hy vir haar 'n massiewe huis met 56 kamers en 26 badkamers. Ons ry verby die huis. Later behoort die huis aan die skrywer Danielle Steel. Sy bly daar saam met haar twee volwasse kinders en haar vyfde ex-man. Soveel vir roman skrywer! Sy het die huis twee jaar terug verkoop aan nog 'n bekende (wie se naam ek nou vergeet het) vir 65 miljoen dollar.

Hier staan 'n afbeelding van Alma op die oorwinnings-standbeeld in Union Square San Francisco.


The Painted Ladies:

Daar was 48 000 huise in SF wat uit die Victorian en Edwardian eras dateer het. Die groot aardbewing in SF in 1906 en die Twee Wereldoorloe in die Twintigste eeu het redelik onder hulle gemaai. Laasgenoemde omdat daar net 'battleship grey' verf beskikbaar was en alle huise so geverf is.
Sedert die 1970's is daar wetgewing wat hulle beskerm en terugvat na hul vroeere glorie. 'n Huis mag bekendstaan as 'n 'painted lady' as dit minstens drie kleure bevat wat die argitekturele aspekte beklemtoon.

Julle sal onthou dat die huis wat in die TV reeks Full House gebruik is, so 'n huis was. Hy staan vandag nog in SF. Ook die Mrs Doubtfire huis is hier. Ons sien beide vanuit die bus.


Hierdie 7 huise is die bekendste 'painted ladies' reg oor Alamo Park en staan bekend as Postcard Row. Dis regtig pragtig! Ma, ek het so aan ma se tapeserie gedink. Is dit van hierdie huisies?


Een nuwe ding waarvoor ek liefgeraak het op my toer is Mexikaanse kos. Dis lekker as mens eers weet wat om te bestel. Nou geniet ek dit baie. Hierdie is 'n soft taco met steak, avocado en twee brandsousies.



Die civic centre was baie mooi om te sien. Die interessante is dat daar geen duiwe of duifmis op die koepel is nie. SF het 'n massiewe probleem gehad daarmee en het twee valke in die koepel laat nes maak. Nou is die duiwe permanent weg. Hoe slim is dit? Ek dink 'n hele paar besienswaardighede in SA kan hierdie plan volg.


Daar is elke dag talle troues in die civic centre. Dis mode om in SF te trou. Terwyl ons daar was, was daar drie groepe. Julle sal my nie glo nie, maar 'n 'couple' op ons bus is dieselfde oggend hier getroud! Nou ry hulle die sightseeing bus vir hulle honeymoon!! Oookkkaaaayyyyy....

Die rooi blom is 'n baie groot nagemaakte lotus blom. Dit is sedert Mei 2012 hier geplaas en sal bly tot September 2012. Dit word genoem 'the breathing flower' en is deur 'n Koreaanse kunstenaar gemaak as deel van 'n groot Oosterse uitstalling "Phantoms of Asia" in die Asian Art Museum naby die Civic Center. Dit is 24 voet hoog en die blare is meganies en beweeg oop en toe. Dit word verlig in die nag.

Die koepel - jammer oor die lamppaal. Dis uit 'n bewegende bus geneem!


Starbucks is nie net my comfort zone vir Earl Grey Tee nie. Almal hier is mal oor Starbucks. Daar is 85 verskillende Star Bucks winkels net in SF alleen!


Die 'cable cars' in SF het 'n baie interessante geskiedenis. SF is die tweede mees bergagtige stad in die wereld. in 1852 het 'n man met die van Hallidie na SF gekom vanaf Brittanje. Sy Pa het die eerste patent geregistreer vir wire-rope wat toe nog net gebruik is in die myne en om spanningsbrue oor water te sit. Hy het een dag in die winter van 1869 gesien hoe 'n perd vrek toe hy gly op 'n geplavyde steil straat terwyl hy 'n swaar karretjie trek. Net daar het Hallidie sy familiekennis ingespan en in 1873 word die eerste cable car getoets in Jones Straat. Daarvandaan is die res geskiedenis. Dis 'n heerlike manier om die steil strate op en af te gly. In ons bus het ek eers werklik besef wat die verskil is. Die bus het so gesukkel om teen die steiltes uit te kom, maar die trollies ry glad en maklik.





SF se Golden Gate Park was ook vir my baie interessant. Dit is 'n reusagtige park 20% groter as Central Park in New York. Toe dit ontwikkel is in 1860's, het die stadsraad die ontwikkeling eers toegeken aan 'n Mnr Hall. Hy het die grond een kyk gegee en gese hulle is laf. Dit is sanderige seegrond en niks sal daar groei nie. Toe is die projek gestop en later toegeken aan John McLaren. Hy het geweet van 'n groot probleem wat die stad op daardie stadium gehad het met perdemis. Daar was soveel perde wat gebruik is vir transport dat hulle nie geweet het wat om met al die mis te doen nie. John McLaren het twee en twee bymekaar gesit en die stadsraad gevra om 'n wet te maak dat al die perdemis op die 412 hektaar park gestort moes word. So gese so gedaan. In die volgende paar jaar is al die seesand uitgery en al die perdemis ingewerk. Vandag staan daar 'n massiewe groot groen park wat deur 13 miljoen mense van reg oor die wereld jaarliks besoek word. Ek sou dink mnr Hall het 'n 'mis'take gemaak.



Soos ons ry op die bus vertel hulle vir ons dat 60% van die Marina Area van SF op 'landfill' gebou is. Ja, niemand daar kan aardbewingversekering kry nie. In SA het Munisipaliteite groot probleme om hul stortingsterreine binne wetgewende bepalings te hou. Ek dink ons moet 'n mensgemaakte eiland in Valsbaai bou met al die 'landfill' wat die Wes-Kaap in die afgelope 30 jaar opgebou het. Dit sal 'n reuse toeriste attraksie kan wees waarheen mense vaar as hulle klaar Robbeneiland gesien het. Of dit kan gebruik word om vir Atlantis 'n spogbuurt in die see uit te bou waar skatryk mense duur huise koop. Probleem opgelos!

SF het vele interessanthede. Die volgende paar fotos vertel elkeen sy eie storie: Geniet dit!

Advertensiebord van 'n sigaarwinkel:


Lekkergoed bikini by It's sweets.


Die Levi jean is in SF ontwikkel. Hier is hulle 'outlet store'.



'n Mosaik muur by een van die skole. Dit is deur die kunsklas gemaak en die kinders se eie gesigte is daarop.

Nee, ek het nie van geloof verander nie. Dis net vrek koud op die bus!


Hier hang 'n vrou halflyf by die venster uit.


As SF nog nie op jou bucket list was nie... maak 'n plan. Jis, dis 'n lekker stad!

Mag elkeen van ons vandag 'n perdemis-plan uitdink wat nuwe geleenthede vir ons bring en parke vol blomme oplewer. 

1 comment:

  1. Ek lees nou lekker jou stories op die worcester trein uit die Kaap, op pad na Oosterzee. Ja, almal moet n perdemisplan kan sien voor hy daarin trap

    ReplyDelete