Monday, June 25, 2012

Alcatraz

Die Hollywood weergawe van Alcatraz is 'n leuen! Gelukkig is dit.

Ek wou nie regtig Alcatraz besoek nie. Ek was bekommerd dat die Amerikaners die plek sal ophemel en die kriminele as helde sou voordoen. Ek was al drie keer op Robbeneiland in SA. My eerste keer as 'n kind saam met die Voortrekkers. Die boot was wankelrig, die see rof en die meeste mense het siek geword oppad of oppad terug. My tweede en derde kere was nadat ons 'n demokrasie geword het in 1994. Robbeneiland het 'n baie diep merk in my geheue gelaat. Goeie mense wat om politieke redes opgesluit was. Vir die gelukkiges het die eiland van goeie mense nog beter mense gemaak.

Alcatraz is anders. Dit is die hardste kriminele wat hier tyd uitgedien het. Hier het slegte moordenaars nog slegter geword. Ek wou net nie he dit moes wees soos in die fliek 'Dead man walking' waar Sean Penn op sy doodstraf wag en hulle sy kriminele handeling vir 3 sekondes aan die begin wys en die hele fliek gaan oor hoe onregverdig die samelewing teenoor hom is nie.

En toe verras Alcatras my. Al gaan 'n mens glad nie vir die tronk nie, is dit die beste uitsig van SF en die beste uitsig oor die Golden Gate brug. Ons gaan vir al drie.

Daar is 'n baie oulike gratis oudio toer waar elke besoeker oorfone en 'n oudio masjientjie om jou nek kry. Dan begin jy op 'n punt en die vertelling lei jou deur die hele tronk en vertel als wat daar te vertelle is. Ons hoor van Al Capone en Robert Stroud wat ook bekend was as die Birdman of Alcatraz en oor wie se lewe Hollywood 'n fiktiewe Alcatraz lewe geskep het. Die waarheid is dat hy nooit voels op Alcatraz gehad het nie, maar wel in die tronk by Leavenworth.

'n Paar van die feite wat hulle met ons deel:

Daar is nooit doodstraf op Alcatraz voltrek nie. Daar was wel 5 selfmoorde deur gevangenes en 8 moorde. Alcatraz is al sedert 1963 nie meer in gebruik nie. Die VSA, soos SA, gebruik nou rehabilitasie as hoofstrategie vir kriminele en nie net maksimum aanhouding nie. Die geboue op die eiland is almal besig om te verval. Tans is hulle besig om die ou watertenk op te gradeer, maar daar is definitief ander geboue wat ook dringend aandag nodig het.

Die Alcatraz lighuis is pragtig en was die heel eerste lighuis aan die Stille Oseaan en reeds in 1854 in gebruik. Daar was 'n kort onderbreking in 1970 toe 'n brand die lighuis opsigter se huis afgebrand het en die kragtoevoer versteur is na die lighuis. Daar was plek in Alcatraz vir 336 gevangenis, maar die meeste wat ooit gelyktydig daar was, was 302. Daar het 90 offisiere gewerk om drie skofte per dag te vul. Gedurende Alcatraz se lewe as 'n federale tronk was daar 36 gevangenis wat probeer ontsnap het. Almal behalwe 5 is weer gevang. Drie van die vyf het in 1962 gelyktydig ontsnap en is nooit weer gesien nie.

Alcatraz is baie nader aan die land as wat Robbeneiland is. Dis ook veel kleiner as Robbeneiland. Met 'n boot vat dit net 12 minute.

Wat my sal bybly van Alcatraz is hoe 'n mens aanmekaar gesit is om vryheid te wil he. Die meeste getuienisse van die gevangenis daar gaan oor vryheid. Een se dat hulle altyd SF deur 'n klein gat in die muur kon sien en deurentyd herinner is aan wat hulle mis. Op Nuwejaarsdag as die wind reg gewaai het, kon hulle die mense by die kaaipartytjie hoor lag en die musiek hoor speel.

SF is 'n stad wat VRYHEID tot sy uiterste toe vat. Die Pride Parade gister en die besoek aan Alcatraz het hierdie twee goed vir my duidelik onderstreep. Almal wil vryheid he. Honderde duisende mense stap gister om te demonstreer dat 'gays' se regte gerespekteer moet word. Daarmee het ek nie n probleem nie. Natuurlik moet dit. Maar dieselfde optoggangers le dronk op die trein op die bank wat gemerk is vir ouer mense en mense wat leef met 'n gestremdheid. Is dit vryheid? Kan jy veg vir vryheid vir wat jou raak sonder om ander se vryheid te respekteer? Snaaks dat ek die hele dag gister gevoel het ek is nie vry in SF nie. Ons moes heeldag probeer om die parade mis te loop, want daar is net soveel goed waaraan ek myself en Elizan se 6-jarige seuntjie nie wou blootstel nie. Het die ander mense in SF regte?

Die selle op Alcatraz is werklik klein. Die ergste straf was in Saal D waar jy in afsondering in 'n sel gesit is. In isolasie! Al Capone het die meeste van sy 4 en 'n half jaar in Alcatraz in isolasie deurgebring.

Ek staan voor op die boot en kan hierdie besonderse foto neem. Die kaptein was die hele rit in die kapteinshokkie links, maar toe ons naby die eiland kom, het hy die boot kom bestuur van regs voor af. Seker om die fyner draaitjies te kan sien.


Hierdie was een van die offisiere kwartiere wat nou net 'n murasie is. Kyk net die blou lug! Kan 'n mens so geseend wees?!



Die lighuis op Alcatraz wat reeds sedert 1854 in gebruik is.


Daniel het elke gaaitjie op die eiland verken. Dis vir my lekker om die lewe weer deur die oe van 'n sesjarige te sien. Hy vra die ongewoonste vrae en soms lag ons lekker.


Golden Gate brug.




Saal D waar die rofste gevangenes in isolasie aangehou is.


Die tronk se biblioteek was 'n gewilde plek vir die wat kon lees. Daar was genoeg tyd.


In een van die ontsnappingspogings in 1957 het 5 gevangenes probeer ontsnap. Nadat vele goed skeefgeloop het, het hulle 'n riot gehou in die tronk en vir dae die bewaarders aangehou in twee selle. Die uiteinde was 2 bewaarders en 3 gevangenes dood. Die eerste ding wat skeef geloop het was dat die sleutels wat hulle afgevat het by die bewaarder, nie gepas het op die deur waar hulle beplan het dat dit sou pas nie. Nogal 'n redelike belangrike stap in 'n ontsnapping!


Alcatraz het een van die grootste populasies van seevoels aan die Californiese kus. Dit is broeityd. Kyk net die kleintjie regs in die foto. Amper onsienbaar gekamofleer. Tot die voels se groot ontsteltenis waai Elizan se sonbril van haar gesig af en amper binne-in die nes. Ons moes Daniel oor die muur tel om die bril te gaan haal.


Die reddingspoging.



Gisteraand dank ek die Here dat Hy die een is wat ons waarlik vry maak.


1 comment: