Maar min het ons geweet...
Daar was nou al drie geleenthede waar ek regtig bly was dat ek juis nou in die VSA toer. Vandag was so 'n dag. Die eerste van die drie was in Seattle die dag net na ons in die VSA aangekom het. Dit was 18 Mei 2012 en die dag waarop Facebook genoteer is. Dit was 'n belewenis om die Amerikaners se reaksies te sien en hier te wees om die verwagting, teleurstelling en opwinding te beleef. Die tweede was op 28 Mei 2012 toe Amerika Memorial Day gevier het. Maggies, hierdie mense kan 'n ding vier, hoor. Hulle gaan GROOT! Vandag is National Flag Day en elkeen wat 'n vlag het, het dit uitgestal. En glo my elkeen het 'n vlag.
Dit was op 14 Junie 1777 dat die 50 sterre en 13 rooi-en-wit strepe vlag as die amptelike landsvlag van die Verenigde State van Amerika aanvaar is. Die 50 sterre is vir die 50 state en die 13 strepe simboliseer die 13 kolonies waaruit Amerika eers bestaan het.
Ons begin vanoggend in die historiese kern van Kalispell. Ons is oppad Missoula toe. Dis net 121 myl ver, maar ons beplan heelwat afdraai-paadjies. Kalispell het pragtige ou geboue en daar is natuurlik 'n vlag voor elkeen vandag.
Naby Kalispell oppad na Missoula kry ons die Flathead Lake. Dit is massief! Om die waarheid te se: dis een van die 100 grootste natuurlike mere in die wereld en met 'n oppervlaksarea van tussen 496 vierkante kilometer en 510 vierkante kilometer kan mens dit verstaan. Vandag is 'n wonderskone blou lug dag en ons gaan mal met die fotos. Terwyl ons hier staan en die foto neem, trek 'n man 'n vis uit die meer en slaan hom net daar met 'n byl se rugkant dood. Dit was verskriklik om te sien.
Ons ry vir amper 50 myl langs die meer af en sien die mooiste huise. Die meer is 113 meter diep op sy diepste. Dis vrek diep. Die meer is ook bekend as een van die skoonste mere in die wereld. Die water is eintlik emirald groen van skoongeid.
Net soos met die Loch Ness Monster word daar ook geglo dat daar 'n gedierte in hierdie meer woon. Hy is in 1889 vir die eerste keer gesien. Baie goed in die dorpie is vernoem na die Flat Head Monster. In 1980 het iemand 'n 181 pond sturgeon vis in die meer gevang en almal het geglo dit was die monster. Maar sedertdien is die monster menigde male weer gesien.
Hierdie is die American Magpie. Dis 'n pragtige voel wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Ons sien vandag heelwat van hulle.
Oppad besoek ons Polson dorp. 'So onverwags en tog so voorspelbaar' se my Pa eet ons by Pizza Hut. Nou moet ek net eers iets vertel oor die Amerikaners se kos. Alles is stroopsoet. Behalwe dat hulle stroopwafels en donuts eet vir ontbyt, kry ons appel kaneel pizza vir middagete (ons kon darem ook van 'n paar soutes kies) en ook hulle breadsticks is vanmiddag soet soos 'n kaneel donut. Die appel pizza brand eintlik jou lugwee so soet is dit. Gister by 'n tee plekkie, vertel die eienares vir ons dat sy ook verstom is oor hoeveel suiker sommige van haar gaste in hulle tee drink. Ons hele gesin doen bitter koffie en tee. Dis net soveel lekkerder. Nie hier nie!
Die Amerikaners eet ook nie met 'n mes en 'n vurk soos ons nie. Hulle eet net met 'n vurk wat hulle in hul regterhand vashou. As hulle iets wil sny vat hulle 'n mes in hul regterhand en sny en sit dit dadelik weer neer. Hulle draai glad nie hul vurk om soos wat ons eet nie. Te 'funny' om te sien. Ons het saam met Monica Simmons ontbyt geeet en sy was al Amerikaner saam met vyf SAners. Ons het gelag toe sy probeer eet het soos ons. Hannalie is 'n arbeidsterapeut en se dat die kinders in SA baie makliker leer skryf as hulle reeds kan eet met 'n mes en vurk, want ons hou ons mes soos ons 'n potlood of pen hou. Sy werk in Amerika en se dit is baie moeilik om 'n kind hier te leer skryf want hul vingers kan nie doen wat hulle moet nie. Baie interessant.
Net anderkant Polson lees ek in die Let's Go USA van 'n museum by Polson en ons draai terstont om. Dit is 'n museum met als en nog wat van goed van die vroee 1900's. Die binnekant is pragtig, maar die buitekant lyk soos 'n groot scrap yard. Daar is 40 hektaar om te sien. Party van die goed is regtig oulik.
Hier is 'n paar: Nou moet julle net nie julle ouderdomme weggee as julle hiervan onthou nie.
Hierdie het ons baie geniet! Kan jy jou indink? Kyk veral 5, 6 en 7.
Hier sit my Pa en Ma op die stoep van die General Store.
Dis omtrent net Vicks wat hul 'brand' behou het. Lyk my Cherios was eers Cherioats.
Jy kon 'n ekstra dame saambring dans toe vir net 25c. En daar is 'n middagete bedien by die dans! Seker voor sononder klaar gemaak.
Maar die vrouens het reeds Cosmo gelees.
Hierdie was vir my die snaakste: Kyk net die pyn en lyding waardeur jy moes gaan om jou hare te laat krul. Elke kruller is aan krag gekoppel wat dit moes warm maak. Goeiste!
Die Mission Mountain Range was absoluut pragtig met die laaste sneeu van die winter op.
Ons besoek vanmiddag die National Bison Range. Dis 'n wildtuin waarin mens 19 myl lank ry en diere soek. Ons sien white tail deers, elke, pronghorns, mule deers, bisons en magpies. Die flippen swart beer wil hom net nie laat sien nie!
Hier is 'n hoop elk horings. Die elk is die tweede grootste deer naas die Moose en dra sulke pragtige horings. Hulle gooi egter elke jaar hulle hele horing af en groei 'n nuwe een. Die hoop horings was baie interessant.
Ons sien seker 100 van die 600 Bisons in die park. Met baie kleintjies ook.
Kyk die moeite wat ingaan om een pers bossie op die voorgrond van die sneeuberg te kan kry. Hierbo is die 'evidence' dat dit gewerk het! Dis rerig 'n fees om fotos te neem as dit so mooi is rondom jou!
Vandag was wonderlik lekker! Hierdie land is net mooi op soveel verskillende maniere.
Ek groet eers. Baie geluk aan my vriend Ulrich Bruwer met sy verjaarsdag. Dis nou nog die 14de by ons, maar dit is reeds na 07:00 by julle op die 15de Junie 2012.
No comments:
Post a Comment