Monday, April 13, 2020

Het jou 4x4 'n spaar tenk?



Dis asof selfs die virus weet dit is Paasnaweek…

Dit voel vir my of ek gister en vandag op ‘n go-slow is in die lockdown.  Dit is erg. Ek doen niks. Of in elkgeval so min as moontlik.  Die kospakke van die Departement van Sosiale Ontwikkeling het gister al gekom. Baie vinniger as wat ons ooit kon droom en dit help baie. Daar is soveel mense vir wie die Paasfees nie gister ‘n skaapboud, kerrievis of hot cross buns opgelewer het nie en ook nie gaan in die volgende maande nie. Ons gee vandag ondersteuning aan DSD om die pakke almal op die regte plekke afgelewer te kry. 

Felicity klink moeg toe ek met haar oor die telefoon praat. Daar is ‘n magdom mense agter die skerms besig en hulle is besig om moeg te word.  Ek sien dit ook gister in Kapt Hunt se gesig toe ek hom en Timmie op die N7 sirkel in Piketberg kry. Ek bied vir hulle verjaarsdagkoek aan wat ek agter in my kar se "boot" rondry om uit te deel aan die essensiële werkers. Victor wys dit van die hand. Hy is nie ‘n soetmens nie, maar vra dat ek syne ook vir Timmie gee.  Die afgelope drie weke lê in harde lyne oor sy gesig. Onwegsteekbaar.

Ek onthou toe ons in 1997 as gesin saam getoer het Amerika toe op koeksister-verkope geld en aangevuur deur ‘n droom van my Ma, het die onderwêreld van Disney World in Florida my erg beindruk.  Hulle noem dit die “utilidor” wat bestaan uit “utility tunnels” wat onder elkeen van Disney se Parke loop.   Dit gee toegang tot al die agter-die-skerm-werknemers om die ondersteuningswerk te verrig sonder dat enige van die miljoene toeriste dit ooit sien. Fasinerend.  Die ondergrondse tonnels in die Magic Kingdom in Florida beslaan 3,6 hektaar en al die tonnels is in verskillende kleurkodes om dit maklik te maak vir personeel om te weet onder wat hulle is op enige gegewe moment.  Die personeel kruis die tonnels per voet en ook met battery aangedrewe karretjies.  Dit is ook nodig omdat daar 70 000 mense werk en deur die 68 miljoen besoekers ‘n jaar vertrap sou word.  Maar ek raak meegevoer…

Terug by ons marathon en ons moeë werkers.  Onder en agter ons COVID Kingdom op die oomblik hardloop daar ‘n magdom moeë mense sonder battery aangedrewe karretjies teen ‘n spoed wat meer gemaak is vir ‘n korter afstand.  Daar is ‘n paar goed wat ek geleer het tydens die marathonne in my lewe.  Nee, ek het nooit verder gehardloop op ‘n keer as ‘n 21,2 km (halfmarathon) nie. Ek dink die 25 km by Rooi-Els saam met Fiefie toe ons studente was, was die verste.  Ek was byna dood daardie dag, want ek het vergeet ek het gaan bloed skenk in die week vooraf, maar dis ‘n storie vir ‘n ander kampvuur.  My marathonne was die berge wat ek geklim het in my lewe, die ultra bergfietsmarathonne wat ek gery het, die opdraende pad om weer te loop nadat ek my knie gebreek het met river-rafting op die Wit Nyl in Uganda gedurende Oktober 2010 en die pad van vergifnis en herstel nadat die ex-Burgemeester van Stellenbosch my sonder rede 24 uur kennis gegee het in ‘n e-pos na 18 jaar diens daar.

Sulke uithou-geleenthede leer ‘n mens baie:
Jy moet na jou lyf luister.
Jy moet jou pas hou en nie probeer om by iemand langs jou aan te pas nie.
Jy moet genoeg stoppe langs die pad inwerk.  Al kos dit tyd op die korttermyn, is dit al manier hoe jy die langtermyn haal.
Jy moet die einde kan visualiseer. Jouself voortdurend daaraan herinner en dit in jou kop afspeel.
Jy moet waak oor jou gedagtes. Daar is ‘n rede hoekom die Bybel sê: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. 
Jy moet weet dat ophou nie ‘n opsie is nie.  The distance is nothing… It is only the first step that counts. 
In my jaar in SALVKOL het ek geleer dat as jy doodmoeg plat val na ‘n jaag-sessie deur Kpl Longland van ure, dan het jy nog net ‘n klein persentasie van jou krag gebruik. Jou reserwe krag skop dan eers in en dit is baie meer en baie sterker as wat jy weet.  Ek dink altyd aan ‘n 4x4 voertuig met ‘n spaar brandstof-tenk wat veel groter is as die primêre tenk.  As jy net met die 4x4 in die dorp rondry en gereeld diesel ingooi, sal jy nie eers weet daar is ‘n spaartenk nie. Dit is eers as jy sonder brandstof gaan staan in digte sand in die woestyn van jou lewe, dat die 4x4 outomaties oorskakel na die spaartenk wat veel groter is.  Ons gaan in die volgende paar maande ons spaartenke nodig kry. Is joune vol?


Ons President stuur ook vandag ‘n brief oor die skokkende geweld teen vroue en kinders wat tydens die COVID bedreiging in die wêreld hoogdy vier.  Nie net in SA nie, maar in baie lande van die wêreld is dit ‘n groot probleem. My sussie skryf: “Dis ondenkbaar erg! Wens hulle kon al daai “abusers” saam op een plek isoleer” en verwoord daarmee my hart ook.  Ons sal die advertensies moet verander van BLY TUIS! Na HOU JOU HANDE TUIS! (nadat jy dit vir langer as 20 sekondes gewas het natuurlik!)  Ek is ontsteld hieroor. Dit is die heel laaste ding waaroor enige vrou of kind nou moes worry. Geweld in die plek waar jy nou die veiligste moes voel. 

Ek dink ook vanoggend lank oor die uitdroogpad van baie in hierdie tyd.  Met drank en dwelms wat ook nou in lockdown is, sal baie middel-afhanklike mense in hul eie huise uitdroog. Normaalweg vind dit plaas in ‘n sentrum waar opgeleide personeel die onttrekkingsimptome en uitbarstings hanteer. Nous al baie mense deur onttrekkingsimptome gaan in hul eie huise en by familie wat nie hiervoor opgelei is nie.  Ons gebedslysies is reeds lank, maar ek sit vanoggend hierdie ook op asb.  Vir wie bid jy almal?  Ek hoop vir elke leier, vir elke gemeenskapswerker, vir elke gesondheidswerker, vir ons President (ja hy is ook in die leiergroep ingesluit, maar ek dink hy verdien sy eie gebedslot), vir die mense wat nie kos het nie en nie kan werk om die moontlikheid van kos te bring nie. 
Ons het ook so baie om voor dankie te sê.  Een van die groot lekkerkry oomblikke in my Paasnaweek was om te hoor dat die 34 hawelose mense in Piketberg Vrydag hul eie opvoering gehou het oor die kruisgebeure.  Seker kompleet met die geskenkte klere, soos wat ons as kinders met die rommelklere gespeel het voordat dit verkoop is. ‘n “Perk” van ‘n predikantskind wees.

Gister vertel Kapt Hunt my van B wat ‘n week terug op Piketberg aangekom het. Hy is bekommerd oor haar en gee haar adres dat ek haar situasie vir Badisa kan deurgee sodat ons ook vir haar kan aansoek doen vir ‘n kospakkie.  Later whatsapp hy my haar volle name en ID nommer. Ek klim in my kar en gaan soek haar. Sy kruip tans weg in ‘n bouval in Piketberg. Ek kyk deur die venster wat met ‘n los plank oopgehou word en die vloer van die twee vertrekke wat ek kan sien in die half skemer in die huis, is papnat.  Sy loer deur die venster met skaam gesakte oë. Sy vertel haar storie omdat ek uitvra, maar onwillig. Ek gee vir haar twee sakke met goed wat ek inderhaas bymekaar gegooi het. Ek voel simpel oor die eiers. Sy het net ‘n ketel en die elektrisiteit in die bouval is ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur. Ek skat haar seker 40. Sy het ‘n seun van 23 wat in die Kaap is. Sy kom uit ‘n safehouse in Gauteng. Ek voel sleg omdat ek wonder hoeveel van hierdie die volle waarheid is. Ek bid vir wysheid en onderskeidingsvermoë.  Later vra ek of ek vir haar kan bid. Ons beide huil die gebed deur en ek sê nie amen nie. Die gebed sal vir dae nie klaar wees nie. Haar vaal oë bly voor my sedert gister en sal nog vir lank. Hoeveel kan een mens in hul lewe verduur? Ten minste het die marathonne in my lewe elkeen ‘n begin en ‘n einde gehad.

Mag die marathon waarmee jy tans besig is, uithoudbaar wees. En mag jy weet dat dit altyd te vroeg is om op te gee...

Baie liefde, 

Hanlie

Saturday, April 11, 2020

Genade in oorvloed...



As jy vir my twee maande terug gesê het dat ek my verjaarsdag in ‘n masker sal deurbring, sou ek gedink het ons praat van ‘n maskerbal!  Nie die heel beste fliekskrywer kon hierdie uitdink nie.  En so word ek 50 in lockdown en word dit miskien my heel beste verjaarsdag ooit!

Gisteraand bel vriendin Marietha en sê ag shame Hanlie, jy gaan nou alleen wees met jou verjaarsdag en wil ek haar nie 08:00 in SPAR kry nie, dan kan ek haar darem sien en kan ons twee meter uit mekaar uit loop en inkopies doen.  Dit klink toe heel opwindend en ek sien uit.  Gistermiddag het ek selfs parfuum en lippe aangesit om op my straathoek te sit en tee drink saam met twee buurvroue (elkeen in ons klein hoekie natuurlik), so hoekom sal ek ‘n uitstappie SPAR toe van die hand wys.  Ons parkeer agter en stap om...



 En daar word ek verras met bokse en bokse en bokse vol geskenke wat al my vriende in Piketberg deur die week vir my daar gaan afgee het. 






Wat ‘n fenomenale idee! Dankie Marietha! Ek sal dit nooit vergeet nie. En dankie aan elkeen wat ‘n geskenk vir my daar gelos het. Ek is nog besig om deur die kaartjie en al die bokse te gaan en wil die lekker so lank as moontlik rek.  Daars net iets aan plattelandse gasvryheid en hartlikheid wat mens nêrens anders kry nie. Ek is oorweldig met goedheid en guns.

Half tien is my volgende afspraak by SPAR met nog twee vriendinne, Carina en Sonja.  Ons het afgespreek om mekaar op die onderste parkeerplek te kry, maar dis die Saterdag van Paasnaweek en daar is vrek baie mense en nie plek vir “social distancing” nie, so ons besluit om uit te wyk na Shoprite se parkeer-area (ja julle is reg – die keuses van winkels is redelik beperk).  Daar kry ek hartlike elmboogdrukke en nog geskenke en gesels ons soos mense wat mekaar in 2018 laas gesien het.


Later ry ek huis toe onder luide gesang van Jo Black, maar vandag val sy “ons is gemaak om uit te gaan!” nie lekker op my oor nie.

Tussendeur lui my telefoon onophoudelik van lekkerte en kan ek nie glo hoe spesiaal dit is om van almal te hoor nie.  Snaaks hoe gewone goed wat ons ‘n maand terug nog as vanselfsprekend aanvaar het, skielik belangrik raak.  Vandag bel almal, ook hulle wat voor lockdown-tye miskien net op facebook of whatsapp sou geluk sê. ‘n Besonderse voorreg.  Selfs die personeel van die Ouetehuis sing: O Heer my God en Happy Birthday op 'n video!  Hoe bevoorreg kan een mens wees?



12:00 braai ons.  My bure aan die bokant, CP en Riana bring hul braaidrom tot op die hoek van hulle erf, ek sit op my hoek, Alida op hare en Japie en Magda op hulle hoekie en ons kuier.  Die tafelgebed was erg spesiaal en Oom Japie is aan die woord.  Ons strek ons arms uit soos mense wat in ‘n kring staan en handevashou. Myle uitmekaar uit, maar een in gebed.  Ek het ‘n koek gebak eergister en gister versier vir die okasie.  Nogal drie lae diep en ‘n nat karringmelk donker sjokolade gedoente wat die regiseur van Koekedoor sou laat aandag gee het en ons geniet elkeen ‘n stukkie vir poeding.





Laat oggend parkeer ons nood tandarts in my oprit en lewer hy die volgende pakkie by my af.  


Die instruksies is duidelik: Moenie oopmaak nie! Wag vir ‘n oproep. Hanteer baie versigtig!  Ek vrek oor ‘n verrassing.

Vanmiddag 16:30 hou ons ‘n zoom partytjie met die hele familie.  Eers het almal maskers op en daarna partytjie hoedjies en elke gesin het ‘n koek gebak vir my verjaarsdag.  






Ek kan uiteindelik die pienk boks oopmaak!  Ons steek gelyk kersies aan en blaas dood en hulle sing…  Nou sing oor zoom is ‘n interessant kanon, want die spoed van die wifi in elke huis verskil, maar ons steur ons min. Hulle kom darem almal op die ou end by 50 handeklappe uit (‘n fitbit se droom in hierdie droogtetyd). Daar is ‘n pragstuk van ‘n koek in die pienk boks wat Elsabe Truter op Piketberg gebak het.  ‘n Regte wow koek!


Later whatsapp video call ek verder met almal en nog wat ek kan nie wag om by al die boodskappe op whatsapp uit te kom nie.  ‘n Rykdom van jare se vriendskap.  Geliefd. Dis hoe ek voel. Ge-eerd en begenadig.  Dankie vir elkeen wat die moeite gedoen het om te bel, te whatsapp, te sms, op facebook te gesels, video’s te stuur, spesiale boodskappe te los en blomme gestuur het. Ek waardeer elkeen opreg.

My Hannes neef bel uit Panama.  Hy is daar vir Lockdown.  Hulle essensiële uitstappies om kos te koop mag slegs geskied gekoppel aan die laaste syfer van jou ID boek of paspoort.  Syne is 9 en daarom mag hy van 8 tot 10 op straat wees vir enige van sy essensiële behoeftes.  Nooit gedurende enige ander tyd nie. Nogal ‘n interessante manier om die lading te versprei.  My Elizan vriendin in Kanada bel laat middag.  Sy is saam met my in stomme verbasing oor die Here se genade in ons lewens.  Ons ken mekaar nou 30 jaar.

Hans en Femke uit Belgie.
Ivan en Esme uit Stellenbosch.
Wat sou ons sonder tegnologie gedoen het!

In die week voor my verjaarsdag het my familie elke dag 'n ander baba foto van my op ons familie whatsapp-groep se profielfoto gesit. En 'n aftel-speletjie gespeel waar elkeen elke dag se hoeveel dae daar oor is na my verjaarsdag toe.

Hier is die collage wat Corne hiervan gemaak het.

Iets om te raam as die raamplekke weer oop is eendag.

Die kleinkinders in die familie verras my ook met 'n video. Kinders is skaam en as dit nie vir Lockdown was nie, sou hulle nooit kon se wat hulle hier op video se nie. Heerlik! Die lied wat hulle as agtergrondmusiek gebruik se alles: Voel jy die genade? Ek doen!


Ek wens ek het woorde gehad om reg te laat geskied aan dit wat ek vandag ervaar het. Woorde ontbreek my. 




Toe die son vanoggend so oor Piketberg opkom, moes ek geweet het dit sou die spesiaalste dag word wat ek nog beleef het. Maar niks kon my voorberei vir dit wat sou kom nie. So baie dankie vir elkeen wat 'n aandeel hieraan gehad het. Ek lief julle.

Hanlie




Thursday, April 9, 2020

Brood wat lewe gee...


Gisteraand sit ons aan by ‘n virtuele nagmaaltafel saam met ons gemeente. Die video uit Johan en Marlien se eetkamer is al 203 keer afgelaai van youtube af. As huisgesinne dit saam gedoen het, soos wat die fotos op whatsapp na die tyd bewys, dan is dit definitief meer mense as wat ooit gisteraand so ‘n diens in ons kerk sou bywoon. Ek sou so graag die geografiese verspreiding van die nagmaalgangers wou sien, want dit ken nie gemeentegrense nie. Is COVID-19 besig om ook die liggaam van Christus te breek oor die wêreld en te versprei? Ek glo so.  My nagmaalwyn is Rum uit Cuba. Al wat ek in my huis het. Dis lockdown.


Johan herinner ons daaraan dat hierdie verhaal uit Lukas Jesus se lewe gekos het.

“Jesus het brood gevat en vir God dankie gesê:”

My gedagtes hardloop oor die afgelope twee dae en die brood waarvoor ons so dankbaar is. DSD se protokol en riglyne het uiteindelik gekom en ons kan begin aansoek doen vir die kwesbaarste gesinne vir kospakkies. Die Provinsie is in streke verdeel en elke humanitêre groep is ingedeel by ‘n streek. Ironies genoeg is die Islamic Relief Group verantwoordelik vir die Weskus.  Ons werk deur ons geregistreerde NGO’s en elkeen van hulle moet die gesinne wat sonder kos is identifiseer, vorms in drievoud invul en instuur nadat hulle bevestig het dat hulle die huis besoek het en weet dat die mense daar besig is om te sterf van die honger.  Ek hoop ons gaan kospakkies sien voor Kersfees.  Net in Bergrivier is dit 20 organisasies wat hiervoor verantwoordelik is en elkeen van hulle en hulle vrywilligers moet ‘n permit kry om te mag beweeg.  Ons deel ook vandag 400 kospakke uit wat deur die Munisipaliteit self aangekoop is. Ons het al die orige wyksgelde bymekaar gesit, nog oorgedra uit ander fondse en op tender uitgegaan.  Selfs in ‘n Nasionale Ramp moet al die regte prosedures gevolg word en waar ons afwyk moet dit by die eerste Raadsvergadering gerapporteer word. Ons mense kan sterf, maar comply sal ons comply. Was nog altyd vir my ‘n frustrasie. Nou nog meer.
Soos alle ander Munisipaliteite kry ons ook wonderlike skenkings van die groot maatskappye binne ons grense en ons is so dankbaar daarvoor. ‘n Produsent op die berg skenk 800 kg appels, individue skenk geld (aan ons en aan die NGO’s) waarmee ons kos kan koop, boere skenk aartappels wat alles so baie sal help om mense deur Paasnaweek te trek. Ons haweloses het aangegroei.

“Dit is my liggaam wat so gebreek word…”

“Jesus vat toe die beker en sê: die wyn staan vir die nuwe ooreenkoms waarin ons staan omdat my bloed gevloei het vir jou…  Onthou wat Ek vir julle gedoen het.”

Dit sal die eerste Paasfees in my hele lewe wees wat ek alleen tuis is. Gewoonlik is ons familie in Stilbaai almal saam en gaan ons saam kerk toe.  In 2001 het ek na die Diener-kinders gekyk terwyl Pieter en Elsje oorsee is. Dit was oor ‘n Paasnaweek en ek en die kinders was in Stellenbosch vir die Vrydagoggend stil-nagmaal en het later daardie dag Pearly Beach toe gery.  Volgens google is daar 104 mense dood op SA paaie oor die Paaslangnaweek in 2019. Ons dodetal in SA vir Corona staan tans op 18.  Mens hoef nie goed te wees in wiskunde om te weet dat ons die Paasnaweek begin met -86 nie.  Dit kan dalk die Paasnaweek word met die minste mense dood in menseheugenis. Wie weet.

“He gives us shelter…”

As jy my ‘n maand terug gevra het hoeveel hawelose mense het ons in Bergrivier, sou ek nie geweet het nie. Ons weet van 12 onder die brug by die N7 en nog ‘n handjievol onder die treinbrug en een wat langs Jet slaap en in Velddrif van ‘n paar, maar ons het nog nooit ‘n Nagskuiling gehad nie.  Nou weet ons. In Piketberg is daar nou al 35 in die tydelike skuiling. In Velddrif meer as 50 in tweeman tentjies op die Smit Sportsgrond, in Porterville 20 op die skougronde en die sportgronde.  Gewoonlik onsigbare mense wat ons nou elke dag face en goed leer ken. Elkeen iemand met ‘n storie, met ‘n familie iewers, hopenlik met ‘n toekoms.

Die res van gister gaan in reëlings vir die “community testing” wat uitgerol word. By ons gaan Departement van Gesondheid Woensdag begin en via die mobiele kliniek die digsbevolkte gedeeltes va Piketberg eers screen en dan die mense toets wat die aftik-vraelys gedop het.  Omdat daar so baie “fake” nuus die rondte doen oor hoe die toetsing plaasvind, vra ek spesifiek uit. Nou hier is dit:  Die screening gedeelte is ‘n vraelys wat ‘n gesondheidswerker een-op-een met jou behandel en vir jou vrae vra oor met wie jy in aanraking was en watter simptome jy het. As een of meer van jou antwoorde ‘n regmerkie tot gevolg het, stuur hulle jou deur na die mobiele kliniek op die toneel en word jy deur ‘n opgeleide verpleegsuster getoets met ‘n keelswap.  Ek ken hulle goed want toe ek nog in Stellenbosch Munisipaliteit gewerk het, het iemand een middag met ‘n koevert in my kantoor opgedaag (ek was Hoof Regsdienste – so dit was voor 2001) waaruit wit poeier gesyfer het.  Toe is ek en my kollega Jo-ann in ‘n rooi brandweerlorrie Somerset-Wes toe gejaag om 6 ure in ‘n wagkamer te sit om geswap te word.  ‘n Swap lyk soos ‘n lang oorstokkie met watte net aan sy een kant. Die suster sal dit in jou mond druk en ‘n vinnige vee gee agter in jou keel. Dit is niks seer nie en vat ‘n sekonde of twee. Dan stuur hulle die swap na ‘n laboratorium en begin die wag om te kyk of jy positief is.  Met die Anthrax bedreiging het ‘n 23 jarige aspirant dokter ons huis toe gestuur en gesê as ons nie môreoggend dood is nie, was dit nie Anthrax nie.  Ek het die Dieners gebel op Stellenbosch en gevra of ek asb die nag by hulle kan kom doodgaan.  Wel, die dokter was reg. Dit was nie Anthrax nie.

Ons betrokkenheid by die community screening is die kommunikasie vooraf via sosiale media en met ‘n megafoon deur die strate die dag vooraf, die veiligheid van die mobiele kliniek en die personeel in die gemeenskap, die skare beheer tydens die operasie en dan as die toetse terugkom en iemand toets positief en moet geisoleer word, dan begin die werk.  In die digsbevolkte gebiede is daar geen kans vir tuis-isolasie nie. Hier bly 12 – 15 mense in een RDP huisie so groot soos ‘n garage.  Dan moet die Munisipaliteit en die Departement van Gesondheid “Isolation Sites” voorsien waar hierdie mense kan bly vir minstens 14 dae. Natuurlik met kos, toesig, toegangsbeheer, slaapgeriewe, wasgeriewe en wat nog nie alles nie. Ons ondersoek tans ‘n klomp moontlikhede en het darem nog 7 dae om dit uit te rol.

Johan sluit af: “Where there is no peace on Earth… There is peace in Christ.”

Later bevestig ons President: twee weke meer. So vandag is weer dag 1. Dis so eenvoudig soos dit.

Ons kan en ons sal, want Christus het.





Wednesday, April 8, 2020

Sit jou ligte op dim...



My fitbit is kinderlik opgewonde vanoggend. Ek het ‘n hele 8 uur en 38 minute geslaap laas nag! ‘n Rekord vir my. Fitbit beloën my met ‘n 88 sleep score. Oor die aantal tree sê ek eerder niks. 
Die afgelope twee dae was besonder moeilik.  Ek deel dit hier omdat ander leiers in die COVID-stryd dit ook moet hoor.  Die voordeel van in die voorste linie veg, is dat jy ook in die voorste linie van genade staan.  Maar dit het ek Maandagaand vir ‘n oomblik vergeet en het dit ‘n baie goeie vriend gevat om my daaraan te herinner.  As ek nou terugkyk het dit begin by die grafte tel en lykshuis-spasie opname.  Vir toekomstige gebruik: dit is nie goed vir jou gemoed nie.  Ons het 9785 grafte beskikbaar in Bergrivier en iewers in die Uniegebou dink iemand dit is nie genoeg nie.  Ons lykshuise kan maksimum 30 sterfgevalle hanteer en ons naaste Krematorium is in Paarl Drakenstein.  Volgens ‘n direktief van die Departement van Gesondheid moet alle sterfgevalle wat deur COVID-19 veroorsaak is, veras word.

Ek voer gesprekke met al ons begrafnisondernemers.  Daar is 11 in Bergrivier en ons maak planne.  Ons het nog nie eers een positiewe geval in ons hele area nie, maar modellerings wat Provinsie doen gebaseer op wêreldtendense lyk nie goed nie en ons moet beplan op die ergste scenario’s.
En so vorder die dag van donker na dieper en teen die aand word ek oorval deur ‘n oordrewe sin vir verantwoordelik (ons spot altyd in ons huis hieroor – dat ons almal gebore is om gereeld ‘n verantwoordelikheidsaanval te kry).  In meeste leierskapsposisies kom dit gewoonlik handig te pas.  Ek stuur vir vriendin M ‘n eerlike boodskap waarin ek erken dat ek moedeloos is en my antwoorde opgeraak het. Gelukkig deel sy dit met haar man M wat ook een van my beste vriende is, saam met my in ‘n bybelstudiegroep en sommer net my vertroueling van altyd af. My go-to person as die wêreld jou klap dat jy lê. Al vir 8 jaar.  Hy gaan oor tot aksie en ek kry ‘n whatsapp boodskap wat skiet soos ‘n masjiengeweer met opdragte ten bate van my. Iets wat ek op daardie stadium uiters nodig gehad het en nie vir myself kon doen nie.  Ek het hom vroeër die dag gesê dat ek sal bel voordat ek inkonk.
Sy boodskap is eerlik en reguit: “As jy bel voor jy inkonk, bel jy te laat…  Onthou jou brein raak moeg van so aanhoudend moet dink. Ek weet jy meen jy kan nie nou jou brein afsit nie, maar jy moet.  Gaan in jou kop na ‘n plek waar jy werklik kon rus en bly daar. Haal deur jou maag asem. Luister Pray-as-you-go se Go Deeper (christelike) meditasie. Stop en gee aandag aan jouself! Dit is jou lewe en jou keuse! He’s got the whole world in His hands – vertrou Hom en los. Jy mag maar dim vanaand.”  En net daar red hy my.

As ek nou terugkyk besef ek die leiers in ons land is so besig om lewens te probeer red, dat ons fokus kan verloor en dink dit hang van ons af.  Dank die Vader, daar is ‘n Almagtige God en dit is nie ons nie.  Net die wete het my so goed gedoen.  So gister was my ligte op dim. Ek het myself gedwing om ook te kan afskakel en het selfs ‘n fliek gekyk met popcorn en al!  Vandag is ek verkwik en reg vir opkyk en die Groot Generaal volg in die veldslag.  As jy tyd het iewers vandag, bid asb vir die leiers in ons land en in die wêreld.  Dat ons almal sal weet waar ons Krag vandaan kom.

Gisteroggend bel ‘n vriendin uit my SALVKOL dae onverwags.  Wat ‘n fees om haar stem te hoor. Een van die goed waaroor sy oortuig is, is dat die Here die regte leiers opgerig het op die regte plekke vir hierdie stryd. Hoe vorder jou gratitude journal in hierdie tyd? 

Ek is diep dankbaar dat die WesKaap Regering al hul gesubsidieerde voedingsskemas in skole oopgemaak het vir die volgende twee weke. 485 000 kinders in die WesKaap gaan hierdeur vir minstens twee dae per week kos kan kry wat hulle ook kan huis toe vat vir hulle gesin.  In Bergrivier beteken dit 14 skole en 2800 kinders.  Die Departement van Sosiale Ontwikkelingsdienste het ook ander voedselsekuriteit-planne aangekondig.  Vanoggend se oproepe gaan meestal oor die gewysigde regulasies oor kinders van geskeide ouers.  Hulle beweging is ook beperk en mag slegs geskuif word op grond van ‘n hofbevel of ‘n ooreenkoms wat by die familie advokaat geregistreer is.

Gister bel ‘n Oom my uit Vredenburg en sê hy kan nie verstaan hoekom ons ‘n padblokkade het op die Carinusbrug tussen Vredenburg en Velddrif nie.  Sy Ma het haar lewe lank (vandat sy haar verstand gekry het sê hy) al in Velddrif vis gekoop. Sy is na bewering nou te oud om te verstaan hoekom sy dit nie nou kan doen nie en hy dring aan om deurgelaat te word.  Ek wonder wanneer hy sy verstand gaan kry om te besef dat hierdie ‘n Nasionale Ramp is.  Watter deel van Lock of Down verstaan mense nie?

Die uitsig van my stoep af lyk elke dag anders…



Mag ons almal vandag onthou dat God in beheer is. Dat Hy die wêreld in Sy hande vashou en dat net Hy in beheer is.  ‘n Bevrydende gedagte!


My familie is besig met ‘n aftel-speletjie na my 50ste verjaarsdag toe Saterdag. Vandag is hierdie foto van 46 jaar terug op ons familie whatsapp groep as profielfoto.  Ek gaan nog ‘n stuk skryf oor wat ek graag vir hierdie klein dogtertjie wil sê en wat ek haar graag sal wil spaar.

Lief vir julle

Hanlie

Monday, April 6, 2020

Op my nugter maag...




Dit het lekker gereën by ons laas nag. Al die veld is vrolik en die voëls hier buite op my stoep het geen idee van die gewigtigheid van die sake wat ek vanoggend moet hanteer nie. Gisteraand laat kom ‘n skrywe in vanaf Nasionale COGTA. Dit is Plaaslike Regering se Nasionale Departement.  Die waarnemende Direkteur Generaal (ek wonder vir ‘n sekonde waar die regte DG is, maar het nie tyd om te lank daarby stil te staan nie) het die brief al op 3 April 2020 geteken en ek wonder op wie se tafel het dit so lank gehuiwer, voordat ons dit kry. Dit maak ons antwoord tyd omtrent nul.  Maar niks waaraan ons nie lankal gewoond is nie.  Vir die meeste parlementêre vrae wat ons weekliks beantwoord het ons 2 ure, so hierdie is heel doenbaar.  Hulle soek ons gewysigde begrotings voor 12:00 vandag en ook ‘n aanduiding van alle privaat begrafnisondernemings in ons gebiede (met GPS koordinate), lykshuise en krematoriums en wat elkeen se kapasiteit is en ‘n aanduiding van hul huidige funksioneringskapasiteit.

‘n Ander skrywe van Departement van Gesondheid dui aan dat alle COVID-19 sterfgevalle veras moet word.  Ek onthou die dae en nagte se publieke deelname wat ons al hieroor met gemeenskappe gehad het om begraafplaas-spasie te spaar en gemeenskappe aan te moedig om eerder die opsie van verassing te kies en ek weet net hierdie gaan ‘n tammaletjie wees. Epidermiese proporsies sou Oom Oubaas gesê het. En die trauma wat daarmee gepaard gaan, gaan ons nog lank oor studies doen in die toekoms.  Ons moet ook aandui watter van hierdie gevalle is toegerus/gesertifiseer om Corona-verwante gevalle te kan hanteer.  Wie sou hulle gesertifiseer het? Wanneer sou dit gebeur het?  Ons moet ook aandui hoeveel grafpersele ons beskikbaar het in elke Munisipaliteit.  Ek doen op die oomblik “intermittent fasting” oppad Paasfees toe en moet al hierdie goed op ‘n nugter maag hanteer.
Later het ons ‘n MS Teams vergadering tussen al die Munisipale Bestuurders in die Wes-Kaap en die Hoof van elke Provinsiale Departement en gee Departement van Gesondheid vir ons ‘n oorsig soos wat ook elke dag in skrif deurgegee word. Daar was teen gisteraand 460 gevalle in die Wes-Kaap wat positief getoets het vir die Corona virus. Die plaaslike oordrag raak meer. 26 gevalle is in hospitale opgeneem en daar is meer siek mense in ICU’s. Die Wes-Kaap begin vandag met “community screening” (jammer vir al die engels, maar dis hoe ons dit kry) en ons hoor waar al die plekke beplan word. Twee oefenlopies is die naweek afgehandel.  Hierdie gemeenskap-toetsing sal meer gevalle uitwys en ook patrone uitwys waarby ons kan leer.

Dwarsdeur die hele vergadering maak ek net een aantekening in my boek se kantlyn: Onthou dis mense! Elkeen van hierdie statistieke is ‘n mens. Met ‘n familie, met ‘n geskiedenis, met ‘n toekoms!
Ek lees in die Daily Maverick (wat skielik elke dag in my inboks beland het sonder dat ek dit bewustelik gekies het) dat die Eerste Minister van Engeland, Boris Johnson, in die hospital opgeneem is vir Corona (welliswaar volgens die media net as ‘n voorsorgmaatreël) en dat Koningin Elizabeth ‘n toespraak gemaak het.  Slegs haar 5de openbare rede aan Engeland in haar lewe! Ek kyk daarna op my rekenaar en kan nie glo sy is 93 nie. Formidabel.  Ek verstom my aan die slap maatreëls wat Engeland in plek het. Almal loop in parke rond en al voorsorg wat hulle het is spasie tussen mekaar. Geen lockdown nie.  En dit met 48 000 positiewe gevalle en amper 5000 mense reeds dood.  Ek is baie dankbaar vir ons Regering en die spoedige lockdown in SA. Ja, dis ongerieflik, maar dit kan ons red.

Gster het twee groot hoogtepunte opgelewer: die bakkie tamatiebredie wat Tannie Alta van Dyk vir my op haar stoep gelos het en ek gekry het toe ek haar inkopies gaan aflaai en 'n video deur my Elna-sussie se vier kinders oor hoe hulle lockdown oorleef. Beide goud werd!

Tannie Alta mag maar tamatiebredie maak...

Later skryf my Ma vir my op 'n whatsapp: "Jy bly tussen goeie mense. Ek is baie dankbaar daaroor."  Ek ook.

Ek moet nou eers grafpersele tel.  Mag ons hopeloos te veel hê vir dit wat kom.

Thursday, April 2, 2020

As 'n spekboom se blare hang...


My foon was stil laasnag… Dis asof die gemeenskap nou hul lot begin aanvaar.  Die duisende vrae en argumente het plek gemaak vir gelatenheid.  Die eerste oproep kom eers na 06:00 in toe ek al met my tee op die dek sit en kyk hoe Porterville wakker word.  Ek weet wat julle dink, maar dit is nie ‘n Oom met ‘n hond nie, selfs hulle is nou stiller.  Ons moet die publieke toilette in elke dorp met ontsmettingsmiddels spuit voordat die landbouers hul mense vandag en môre inbring winkel toe.  

Ons spanne werk hard. Ek is so dankbaar en trots op hulle.  Daar is die wat kanse vat, soos in enige situasie. Selfs ‘n groepie wat ‘n lang brief geskryf het (duidelik iewers ‘n verveelde jong prokureur) oor die “danger pay” waarop hulle in hierdie tyd geregtig sal wees. Nice try.

Die wind het gedraai iewers deur die nag. Ek ruik my kaggel tot in my oop vertrek met die wêreldkaart teen die muur wat wys waarheen ek al orals getoer het.  Dit staan nou op 53 lande en 26 state van Amerika. Hulle tel ek apart omdat my Ouma ‘n Amerikaner is en ek in my ouers se voetspore al 50 state wil toer eendag.  Ek wonder of toer ooit weer dieselfde sal wees. 

Gisteraand net voor 22:00 het die wêreld gesamentlik die 1 miljoen bevestigde geinfekteerde merk bereik. Met 52 000 (afgerond) sterfgevalle waarvan corona.tuply.co.za se trekker weet.  Ek kyk gisteraand oor Sky News ‘n dokumentêr oor die Noordelike Provinsie van Italië wat tans nog die episenter van die virus is. Hulle wys hoe lyk dit in een van hul beste hospitale. Wêreldklas, maar totaal ontoerykend.

Ek spuit my tuin nat. Reg rondom die huis. Die voëls het aangegroei. Die suikerbekkies is geil by die rooi bottel en selfs ‘n Jan Groentjie ook vanoggend. Hy is geniepsig en jaag die rooibandjies.  Ek praat met die Jan Frederick en die duiwe wat so mors en stap om na die voortuin om ook die aalwyne en spekbome nat te gooi. Hannie en Mark het ‘n hele rytjie spekbome aan die gastekamer se kant langs die muurtjie tussen my en Leon se oop erf geplant. Met sy toestemming natuurlik. 

Die spekbome se blare hang. Ek steek vir hulle ‘n prekie af. Dis nou sommer nonsens. Hulle is gemaak om in die moeilikste omstandighede te moet oorleef. Hulle moet koolstofdioksied omsit in suurstof lank nadat alle ander plante moed opgegee het. Hulle is ons voorste soldate in die oorlog teen klimaatsverandering en nou wil hulle gaan lê oor ‘n virus en as Piketberg vir een dag weer ‘n onverwagse 37 grade uitslaan soos gister. Se voet.  En ek weet eensklaps ek praat met myself. Dit slaan my volrond voor teen die kop. Dis wat sedert lockdown in my kop woeker. Wat as die spekboom se blare hang?

‘n Goeie vriend stuur gister hierdie boodskap: Sterkte Hanlie. Die Here woon in jou. Tel tot tien en laat die Gees verbykom en jou rus gee. Ek dink hierdie kan ‘n lang afstand raak en ek weet nie van impakspelers op die bank in jou plek nie…

Ek weet twee goed: Die Here is al impakspeler wat ons nodig het. Altyd.  Dit sê die Bybel op soveel plekke. Met my God loop ek ‘n oormag storm. Met my God spring ek oor ‘n muur. En die dag as die spekboom se blare hang, sal die Here ander plante oprig om in vol blom te staan. Dis so eenvoudig soos dit.




My lessenaar tuis kyk uit op my dek. Dit is waar ek my tydelike kantoor opgeslaan het. Ek het gister ure spandeer om namens al die Munisipale Bestuurders in die Weskaap (en ander wat dit wil gebruik) sin te maak van al die wetgewing wat die laaste twee weke uitgekom het. Daar is 41 stukke sover. Dit beslaan 324 bladsye en 6 is al weer gewysig ook. Een is selfs teruggetrek sonder wysigings. Selfs deur al hierdie wetgewing is daar steeds talle onduidelikhede: Mag sigarette verkoop word of nie? Elke bron verskil hieroor. Hang seker af hoe sterk die bron se afhanklikheid is.

Sterkte vir elkeen van julle vir dag 8 van lockdown. Mag al die spekbome in jou en rondom jou stewig staan. En mag hulle weet waar hul Krag vandaan kom in die dae wat hul blare wil hang...

Wednesday, April 1, 2020

Read my lips: Nee. No. Nein. Ara. Laa. Votch. Ne. M hai. Nej. Nada!




Dis dae soos vandag wat ek wens dat alles net ‘n April fool’s grappie was.  Ander mense kyk gereeld wat die nuutste infeksietempo is.  Ek tel hoeveel mense my bel en ‘n permit soek om met hul honde te kan gaan stap. 22 sedert gisteroggend hierdie tyd. Seker al oor ‘n 100 sedert die begin van grendelstaat. Hondemense is uithouers. Hulle veg vir hul regte en staan saam. Ek weet. Ek is ook ‘n hondeliefhebber.  Die een man stuur selfs vir my ‘n brief van sy veearts in Somerset-Wes om te bevestig dat sy ras-egte bloedjies elke dag minstens 3 kilometer moet stap. Ja meneer, in normale omstandighede glo ek jou, maar ons is in die middel van ‘n Nasionale Ramp. Ek weet nie meer hoe om nee te sê sonder om ongeskik te klink nie. Read my lips: Nee. No. Nein. Ara. Laa. Votch. Ne. M hai. Nej. Nada!  Dankie tog dat ons nie ‘n plaaslike diskresie het nie. Dit sou dit moeiliker gemaak het, want elkeen se storie klink beter as die vorige een s’n.  Die probleem is dat die Final Lockdown Regulations soos uitgevaardig op 26 Maart 2020 deur die Nasionale Regering “movement” gedefinieer het as om van jou erf af te gaan vir enigiets behalwe die vier essensiële uitsonderings.  En boonop daarvan ‘n kriminele oortreding gemaak het. Daarom kan ek nie vir enigeen toestemming gee om ‘n kriminele oortreding te begaan nie, al wil ek ook hoe graag.  Dit is so eenvoudig en so kompleks soos dit.

Vanoggend hou ons ‘n zoomvergadering tussen alle Munisipale Bestuurders in die Wes-Kaap. Vir party van die ouer mense ‘n eerste ervaring en goeie leerskool. Ek het al my studies die afgelope drie jaar oor zoom gedoen en ken dit gelukkig. Nog ‘n goeie gebruik waarmee ons na Lockdown kan voortgaan.  Ons is net drie vroulike MB’s tussen 27 manne. Vanoggend stem ons al drie saam dat video erg onnodig is vir hierdie vergadering en bly ons net op audio. Hulle hare lyk seker soos myne… Ek sit nog in my pj’s.

Ons ervaar maar almal dieselfde uitdagings deur die bank. Ons stem saam dat ons nou weet hoe dit moet voel om met ‘n haelgeweer geskiet te word. Die aantal regulasies en besluite wat daagliks geneem en verander word en wat ons moet implementeer is net ondoenbaar. Gisternag kom die 7de wysiging van die Transport Regulasie deur en natuurlik is dit met onmiddellike effek. Ek wonder of een van die mense in die Uniegebou al ooit ‘n dag in ‘n Munisipaliteit gewerk het, maar dit is ‘n geveg vir ‘n ander keer. Nou implementeer ons, sonder vrae, sonder teenstribbeling. Net kop neersit, deurdruk, vorentoe, almal saam. Ons vergadering is kort en kragtig en almal stem saam. Iets wat nie altyd so maklik gebeur tussen 30 MB’s nie. Help om ‘n gemeenskaplike onsiende vyand te hê.
Nog iemand bel oor hul hond… ek het nooit geweet hier word so baie honde gestap in ons gebied nie. Ja, ek is regtig jammer om van Rex se moeilikheid te hoor. Ek besef dit sal gewelddadige gedrag in hom aanmoedig en hom verder hardlywig maak. Ek is werklik jammer. As ek kon, sou ek.

Die integriteit van die data is vir ons belangrik en dit help nie as die bronne se inligting verskil nie. Dit maak mense ongemaklik en verward en laat hulle twyfel aan die korrektheid van enige inligting. Die afbreek va getalle in substreke is telkes verkeerd en moet dringend aandag kry. Vandag is die laaste dag van Sassa uitbetalings en van môre af behoort dit rustiger te gaan. Dit gaan goed met ons haweloses. Hulle is veilig, versorg (danksy verdure wonderlike skenkings van mansklere deur ons kerk), gevoed (danksy so baie vrywilligers en donateurs) en dankbaar. Die Voorberg Gevangenis in Porterville help ons daar om 1500 etes per dag te voorsien aan die armste gesinne.  Die Voorberg kombuis gee nie om om mense in lockdown te help nie. Hulle is immers gewoond aan kliente wat normaalweg in lockdown is ;-) Nee, alle grappies op ‘n stokkie. Hul kombuis is amper al een wat aan al die streng vereistes voldoen van publieke kombuise in hierdie tyd.
Die nuutste stel reëls gaan oor vullisverwydering vanaf huise waar daar iemand positief getoets is. Dit is omtrent ‘n affêre en sal nog vir een of twee of 5 huise kan gedoen word, maar nie op grootskaal nie. Ons vra dat Provinsie dit herbedink en weer met ons kommunikeer hieroor.
Intussen moes elke Munisipaliteit hul raadsvergaderings, wat gewoonlik op die laaste Dinsdag van Maart gehou word, verskuif tot voor die lockdown om die hersiening van ons Geintegreerde Ontwikkelingsplanne en volgende drie jaar se begroting en tariewe in konsep goed te keur.  Ons s’n is inderhaas verskuif vanaf 31 Maart 2020 tot 26 Maart 2020.  Nou gaan ons in virtuele publieke deelname vir die eerste keer in ons lewens. Gewoonlik gaan ons op ‘n roadshow in April na al ons dorpe en wykskomitees en bespreek die konsep-begroting en strategie van die Raad. Nou sit ons almal in lockdown en word daar aan die wet voldoen deur virtuele publieke deelname. Alles is op ons webwerf (www.bergmun.org.za) en ons het ook die terugvoerdatum verleng van 21 dae na 30 dae sodat almal genoeg kans kan kry om insette te lewer.

My foon lui weer. Bernard wil met Bruno in Dwarskersbos langs die see gaan stap. Bruno se hare dreig om uit te val… As dit nie vir elke aand se Marsterchef Australia was nie…

Ons is ook besig om ‘n video te maak om die virtuele publieke deelname nog beter te kommunikeer en ek skryf die teks vir die voice-over.  Ons Hoof Kommunikasie sit in Paarl by sy familie en werk van daar af. Wat sou ons tog sonder tegnologie gedoen het? My PA sit in Porterville en sal weer die Afrikaanse stem op die video wees. Dankie Matthew en Jessica vir julle harde werk.
Ek stel vandag my testament op. Niks met die onderwerp van die tyd te doen nie, maar iets wat lankal op my lysie is waarby ek nog nie uitgekom het nie. Is jou testament in orde? Ek vra maar net.
Gisteraand praat ek met ‘n oud-kollega en vriendin in die Helderberg-kom. Sy en haar Ma is alleen by haar huis. Ek hoor ‘n gerinkink en sy verduidelik haar bure het gaste! Tweede aand in ‘n ry! Ek raai haar aan om die Polisie te bel. In watter wêreld van ontkenning leef sekere mense.  Ons hoor vanoggend die eerste sterfgeval in Gauteng was ‘n skoolmaat van my Pa en onlangs nog saam met hom by ‘n skoolreunie. Hoe nader dit kom aan ons, hoe harder gaan dit slaan.

Ek hoor ook baie positiewe stories van gesinne wat werklik hierdie tyd sinvol benut. Van mense wat geestelike reise doen oppad na Paasfees. Kom ons konsentreer op dit wat werklik saak maak. Kom ons bly gefokus op die Een wat op Sy troon sit en regeer.



Tuesday, March 31, 2020

Nuut elke more...




Ek was die hele nag op ‘n lughawe besig om my tas te soek. Carina, jy was saam met my daar en het geduldig by jou tas sit en wag. Ook vriende wat ek lanklaas gesien het en selfs een saam met haar ex-man het hul verskyning gemaak. Nodeloos om te sê is die tas steeds soek. Asof ek nou kan bekostig om moeg op te staan in die oggend! Gister was ‘n vol dag. Ons was by die werk besig met essensiële dienste.  241 van Bergrivier Munisipaliteit se personeel lewer essensiële dienste aan die publiek tydens die Lockdown-periode en agter die skerms moet aankope, uitgawes, inkomste en alles aangaan soos normaal. Gister kry ons verdere skenkings vir die haweloses (baie dankie almal!) en trek ek kontrakte op vir elkeen om te verseker dat hulle weer ons persele sal verlaat na afloop van die 21 dae.  Nie maklik nie. 

Ook steeds talle navrae oor wat gedoen mag word en wat nie.  Een van die winkels in ons regsgebied moet aangespreek word want hulle stuur publiek huis toe wat daar aankom sonder maskers. Ai.  Die oorvloed inligting maak almal deurmekaar. Op versoek van die Polisie verkort ek die handelsure van huiswinkels en spazashops.  Dis net te moeilik om hulle te kontrolleer na donker in die aand. Ons Polisiehoof in Porterville bel my toe sy die bevestiging daarvan kry en sê sal gaan my oopmond soen as die virus eers verby is ;-)

Gistermiddag kon ek darem met my bure aan die bokant oor die straat staan en gesels terwyl ek tuin natspuit. Was heerlik! Ons beplan sommer ‘n straatbraai vir wanneer alles verby is.
Vandag is dit ons en kwarentyngebiede.  Saam met Departement van Gesondheid moet ons in al ons dorpe plekke identifiseer wat gebruik kan word vir wanneer hospitale nie meer die lading kan hanteer nie. Vir mense wat simptome het, maar nie siek genoeg is om ‘n hospitaalbed te regverdig nie.  Weskus Distriksmunisipaliteit bevestig dat die Departement van Sosiale Ontwikkeling verantwoordelik sal wees om die mense in kwarentyn kos te gee. Die hoe moet nog uitgewerk word.
Vanoggend vroeg hoor ek al die wetstoepassingsbakkie in wyk 4 Piketberg rondry en oor die megafoon mooi vra dat mense vandag net swartsakke sal uitsit en die herwinningsakke sal los. Wat ‘n wonderlike span mense het ons nie. Gister sit een van ons wetstoepassing-manne langs my by my lessenaar (op die oorkantste hoek – ons is versigtig) en lees die lang lys name met ID nommers vir my af vir elke kontrak. Hy sukkel met die Xhosa name en ek help hom uit my dae in die SANW se Groep 40 in Khayalitsha. So gesels ons sommer oor sy lewe en myne en dink ek later: wanneer sou ek en hy nou ooit langs mekaar opgeëindig het langs ‘n lessenaar vir ‘n geselsie as dit nie vir die virus was nie.  ‘n Mooi geleentheid.

Die hoogtepunt van my aand gisteraand was om met my hele familie ‘n zoomgesprek te hê. Ons het eers almal na die President geluister om 19:40 en toe gepraat.  Die President se boodskap is gerustellend en help ons, maar dit bring ook nuwe uitdagings wat ek nog nie weet hoe ons dit gaan implementeer nie. Die kwarentyngebiede is een daarvan.  Wie gaan vir hierdie mense sorg? Hoe sit jy iemand wat reeds griepsimptome wys in ‘n tweeman tent op ‘n sportveld? Ons het nog baie wysheid nodig.  Ons sal dit van God bid.
Zoom werk lekker en gee gratis 30 – 40 minute gesprekke en in ‘n COVID-oomblik gee hulle vir ons nog tyd pasella aan die einde.

Ek moet net gou eers die baas van die moontlike kwarentynperseel in Velddrif bel en reëlings tref. Nou terug… Dit bly fantasties hoe almal bereid is om te help en om saam te werk.  Dankie SA.  Ek was al in ‘n paar benoude situasies op my toere deur die wêreld en elke keer beindruk die SAners my. Ons ken van resilience, ons ken van aanpas, uithou, saamwerk as dit moet en die meeste van ons se harte en se hande is oop en bereidwillig. Ek onthou Desember 2016 toe ek gestrand gesit het op ‘n lughawe in Abidjan in die Ivoorkus na ‘n sandstorm in Wes-Afrika SAL verhoed het om sy vlug SA210 (dis soos jou weermagnommer, jy vergeet dit nooit nie) vanaf Washington Dullies voort te sit. Die oorspronklike plan was om brandstof vol te maak in Dakar, Senekal, maar met die destydse moeilikheid daar met Liberië mik hulle toe vir Accra in Ghana en land ons 860 myl van roete af op Abidjan as gevolg van die sandstorm.  Dit sou twee dae vat saam met klomp verskillende lande se mense om die krisis te oorleef. Daar het ek gesien Ghanese is die ergste. Kan niks vat nie en het geen aanpassingsvermoë nie. Ek het toe reeds besluit as ek ooit eendag op ‘n eiland moet strand saam met hulle is daar net een uitweg… Eet hulle eerste op of stem hulle eerste uit – afhangende van die storie waarin ons ons bevind. Ek vat enige dag eerder SAners met ons lekker humorsin, ons uiterste geduld in die gesig van moeilikheid. Gister was weer so ‘n bewys. Daar sit ‘n lang ry van minstens 50 mense buite op stoele voor ons kassiere in Piketberg. Ons laat 2 meter tussen elke kliënt toe en die wag is lank, maar elke persoon is gemoedelik, geduldig, vriendelik en laat nie toe dat die krisis hulle onderkry nie. Almal laat toe dat hul hande gespuit word.  Ons het so baie om voor dankbaar te wees.
Twee verdere mooi stories gebeur gister…  Solly Kayster van ons parkespan bel my en vra of hy nie asb uit isolasie kan kom om die saadjies te gaan natgooi wat hy orals in die dorp geplant het nie.  Hy wil hulle so graag sien groei.  Ongelukkig toe nou nie, maar ek bied aan om die spuiters oop te draai op die Munisipale gronde. Later praat hy my stap vir stap deur die oopdraai-proses, want dit is nie net eenvoudig nie. Hy is so kinderlik opgewonde oor sy plante wat sal bly leef, dat ek dit baie geniet het.  Solly, ek sien daar word reën voorspel by ons vir Sondag. Die Here sal self na jou saadjies kyk.
En in Porterville vat ‘n kollega vir die heel kwesbaarste gesinne elk ‘n kospakkie. By die een huis sê die Tannie hulle kan maar eers by haar verbyhou, sy en haar gesin het nog genoeg (my kollega kan sien die kaste is uiters karig).  Dit is vir hierdie mense wat ons standbeelde moet oprig!
Hoe voel jy vandag? Hou jy nog moed? Waaroor is jy vandag dankbaar?


Ek geniet ons mense se humorsin. En net soos julle kry ons gereeld grappies. Dis 'n SA ding.  Ons hanteer harde tye met humor. Dis wie ons is.

Lekker dag vir almal. Bly veilig. Bly tuis.
Lief vir julle. Hanlie