Thursday, March 22, 2018

El Calafate

Na ‘n vinnige ontbyt laai dieselfde taximan ons op om ons te neem na Malvinas Argentinas Ushuaia International Airport. Hy is baie vriendelik, maar praat geen engels nie. Maar met genoeg handgebare verstaan ons mekaar. Die lughawe is net 10 minute se ry, want dit lê net 4 km suid van die dorp en is geopen in 1995. Dit is die mees suidelike internasionale lughawe en bring veral gaste wat van hier af vertrek na Antarktika.  Die naaste punt van Antarktika (Drake passage) lê 1000 km vanaf Ushuaia. Ons sien baie plesierbote in ons tyd hier. Ek sal moet begin spaar.

Hierdie foto neem ek vanoggend vanaf die lughawe se parkeerterrein terug dorp toe.  



Ons opregte dank aan ons toergids vir die venstersitplek aan die linkerkant vandag. Dit het amper opgemaak vir Sao Paulo.    
   
Ons bly in die Rincon La Calafate hotel en die wifi is hier so stadig dat ek en Sonja nou al in die voorportaal parkeer het met die hoop op meer spoed. Ek wag dat 221 fotos aflaai op my google photos sodat ek hulle kan gebruik in my blog. Daar is 168 oor.

Die vlug tussen Ushuaia en El Calafate is net ‘n uur en vlieg oor al die eilande van Chile. Die weer was besonder goed en ek het my vergaap. Mag môre net so ‘n mooi dag wees as ons die Perito Morena gletser gaan besoek.
  

       

Die foto het ek geneem van Ushuaia lughawe met Ushuaia dorp in die agtergrond net nadat ons opgestyg het. 


El Calafate se omgewing laat ons baie dink aan Laingsburg en die dorp self is soos Banff in die Kanadese Rockies. Ons is te vroeg om in te boek in ons hotel en verken eers die strate.

     
Ons lees nou alles wat ons kan oor ons besoek môre aan die grootste gletser in Patagonia. Ek sien so baie uit. Mag die Here ons seën met goeie weer!

Ons koop ‘n paar herinner-goedjies wat Calafate konfyt en Calafate likeur insluit. Afhangende van ons moegheid môreaand sal laasgenoemde saamkom SA toe of nie.
  


‘n Kaart van waar ons vandag vlieg. 

  
Een van die ander gletsers in die omgewing (daar is 356 in Patagonia) uit die lug uit. 





Tierra del Fuego (vervolg)

Ja, julle is reg. Dis 04:31 en ek is al weer wawyd wakker.  Ons het al ‘n groot skrik gehad vanoggend.  Om 02:15 roep Sonja skielik: ‘Hanlie! Is dit nie al kwart oor sewe nie!’ Ons taxi kom 07:00!  Ek staan met een beweging langs my bed. Los ‘n kort woordjie en gryp my selfoon. Nee, dis 02:15. Kan jy jou indink watse chaos dit sou wees?  Sjoe. Ons moet nog pak en alles regkry. Ons vlieg net na 09:00 na El Calafate.

 
Hierdie is Empanades. Dit is ‘n tipiese tradisionele gereg van Argentinië. Amper soos ‘n pastei in SA. Die een onder was spinasie en kaas en bo was hoender. Sonja het ‘n lamsvleis een gehad waarvoor sy moes blêr vir die kelnerin om te verstaan.   


Ek wil net nog ‘n paar goed vertel oor gister, want sodra die wiele rol vandag, is gister se detail vaag. Ons het die Calafate bessie geproe waarna El Calafate vernoem is. Dis ‘n barberry in engels. Lekker suurderig vir ‘n goeie konfyt.
  
Die bessiebos het baie dorings, as jy eers daar verby is, is die bessie self ‘n groot beloning. 


  
 
Sonja oes bessies. 


Die trein na die einde van die wêreld. 

  
Ons toermaatskappy. Gebruik hulle gerus. Hulle is uitstekend. 

Ek het hierdie van google af gekry om vir julle te wys presies waar die Beagle Channel is. Dit is vernoem na HMS Beagle wat die skip was wat gebruik is toe die Britte die kanaal ontdek het. 

Ushuaia! 

  
‘N nuwe soort earl grey tee vir my versameling! 

Ons hotel in Ushuaia. 

Die inheemse bevolking wat oorspronklik in Ushuaia gebly het is die Yaghan of ook genoem die Yamana. Hulle het heeltemal uitgesterf nadat die Spaanse hier aangekom het en siektes saamgebring het soos pokkies. Carla het ons baie van hul leefwyses vertel. Dit moes so moeilik gewees het om hier te oorleef. Hulle was nomades wat op kano’s rondgetrek het en het geleef van bessies, vis, mossels  en alles wat hulle hier kon vang.  Een van die goed wat my baie lank sal bybly is dat hulle hul kinders eers op hul tweede verjaarsdag ‘n naam sou gee, want die kans dat jy twee word en oorleef is so min.   

Carla maak ook seker dat ons weet daar is ook ‘n ander kant aan Ushuaia. Hier bly 80 000 mense en dit is meer ‘n industriële gebied as ‘n toeriste gebied. Moeilik om te glo. Dertig jaar terug wou niemand hier bly nie en toe het die regering ‘n belastingvrye area hiervan gemaak en nou stroom die besighede hierheen. Darem ligte industrie sonder besoedeling. Ek was verbaas om te hoor dat die meeste hiervan is elektroniese aanmekaar sit van goed. Blykbaar word elke elektroniese ding waaraan jy kan dink van ‘n selfoon tot ‘n yskas of lugverkoeler, hier aanmekaar gesit en dan verskeep.  Hier is ook werkloosheid, armoede, lae koste huise en groot uitdagings met dienslewering. En snaaks genoeg ook inkommers en plakkers.  Maar nie een stukkie diefwering voor enige vensters nie. 


Wednesday, March 21, 2018

Tierra del Fuego

Ek kan amper nie wag om vanmiddag terug te kom by ons De Los Andes hotel in San Martinstraat, Ushuaia nie.  Terug by wifi sodat ek julle kan begin vertel van ‘n fantastiese dag.  Waar begin ‘n mens. Wow! Wow! Wow!

 


Vanoggend google ek en Sonja al ons vrae. Baie vriende laat weet op facebook wat ons nog alles hier moet sien en ons bekyk die tronk, lees alles oor Beagle kanaal, Kaap Horing en wonder weer wat ons ooit sonder google gemaak het.  Ons kan tot die roep van ‘n Condor luister op google.  Bewapen met kennis vir die dag sit ons af voorportaal toe waar ons gids Carla, ons vir die dag kom kry.

Ons het moeite gehad om te besluit wat om alles aan te trek, want vandag moet ons stap langs die Beagle kanaal se kuslyn en roei op yskoue water. Ons besluit op waterdigte baadjies, donsighede vir hitte, goeie sonblok en baie lae tussenin.  Verder lang broeke en goeie skoene en daar gaan ons.  Baie groot was ons verbasing toe ons die volgende geselskap oplaai by die jeughuis drie blokke verder en Charles, Matthew en Sofie doodluiters opklim met kortbroeke!  Ons bespiegel dat hulle verseker van  die suidpool af kom, maar hoor vinnig dat hulle Britte is wat die W-roete gister klaargemaak het en gisteraand oor te veel rooiwyn besluit het om vandag saam te kom. Hul planne werk toe nie uit nie, want al hul klere is toe reeds by die washuis in Ushuaia.  Die ys was gebreek.

Ons gaan vandag na die Tierra del Fuego Nasionale Park 12 km van Ushuaia af en begin daar stap vanaf Zaratiegui Bay al langs die kus van die Beagle kanaal tot by Lapataia Bay en oor die laaste bergie na die grondpad waar die drywer en roei-instrukteur ons kry. Die stap was asemrowend van mooigeid en ook van moegheid. Om julle ‘n idee te gee: In Piketberg stap ek en twee vriendinne, Hannie en Carina elke oggend 05:15 die bergpad. Dit is 4,5 km en op my fitbit verplaas ons 31 vloere.  34 as ek Buitengrachtstraat opstap en nie voor  die ouetehuis verbykom nie.  Op ‘n goeie oggend slaan my Fitbit 7000 treë voordat ek terug is by die huis.  Wel, vandag se stap was 22000 treë en ‘n allemintige 161 vloere! Geen wonder dat my toermaat nou uitgepass lê hier langs my nie. Hard maar lekker!

    
Ons stap die blou roete. 



   

  


   

  

  Kaalbeen  



   

   

Ons gids, Carla, is uiters kundig en het ‘n pragtige manier om jou lief te maak vir haar tuisland. Mens hou sommer dadelik van haar. Die weer speel saam. Beter kon ons nie gevra het nie. Ons sien ook mooi voëls. Veral die Southern Crested Caracara en die Chimango Caracara. Ek kon mooi fotos van hulle ook kry: 
  

  

Na ‘n heerlike middagete van kaas, tamatie en olyf  sosaties en ‘n glas rooiwyn vir voorgereg, hoender potjie vir hoofgereg en vrugteslaai vir nagereg, is ons reg om te gaan roei op die Beagle kanaal. Aanvanklik was ons min lus om nou in die koue water te moet gaan, maar toe ons eers ons reddingsbaadjies, waterdigte oorbroeke en waterbootse aan het, kon niks ons keer nie. Om agt vreemdelinge in harmonie te laat roei verg moeite, maar ek en  Sonja was nie verniet in die weermag nie en ons lei die aanslag. Die wind is vrek sterk en ons moet uithaal en wys. Later tel ons in Spaans, Portugees, Afrikaans, Engels, Duits en toe volg die dae van die week en die maande van die jaar. Die wat die taal ken, sê voor en die res papegaai dit na. Net om almal se spane gelyk in die water te kry. Wel, dit het gewerk! Ons kon vir Beagle wys wie is baas.
 

 


Nou gaan ons rus totdat ons honger word en dan sal ons iets gaan soek om te eet. Dit was ‘n wonderlike dag.




Die einde van die wêreld

‘How long does jetlag last?’ google ek vanoggend toe ek weer 03:47 kiertsregop sit en tik. Google is baie diplomaties en sê dit hang af oor hoeveel tydsones jy verplaas is, maar jou liggaam pas aan teen ‘n tempo van een tot twee tydsones per dag. Okay, so dit gaan nog ‘n rukkie wees.

Ons sien uit na vandag. YR voorspel reën vir vanoggend en dan mooi weer vir die res van die dag. Mooi weer hier beteken maksimum 11 grade. Ons het gisteraand met dankbare harte in die bed geklim. Diep onder die indruk oor die voorreg om hier te kan wees. Die venstersitplek op gister se vlug was ‘n bonus. Ons kon met ons beste aardrykskunde die gekleurde kaart wat in ons reispakkie was volg en kon heerlik die ooskus van Argentinië van nader beskou. Die Chubut streek waar die Afrikaner boere hulle gaan vestig het na die Anglo Boere Oorlog het ‘n baie kenmerkende rivierloop naby die kus en ons kon dit uitken. Die kusdorp is Comodoro Rivadavia. Ja toemaar, moenie sleg voel nie. Ek sou ook nie daarvan geweet het as my buurman in Blumenhof, André Badenhorst, my nie op facebook daarvan vertel het nie. Google dit ‘n bietjie. Vanaf 1903 - 1909 het 800 afrikaanse gesinne na die ooskus van Argentinië gekom. Hulle het gehelp om die dorp te ontwikkel. Volgens google het een van die boere jare terug vir water geboor en olie daar ontdek en vandag voorsien dit in ‘n groot deel van Argentinië se brandstofbehoeftes. Hulle afstammelinge praat vandag nog afrikaans. In 2015 is ‘n film hier gemaak met die naam Boers end World.  Gelukkig is dit nie waaroor dit klink nie. Patagonia staan bekend as die einde van die wêreld.

Die ander bekende landmerk waaroor ons vlieg is die Straat van Maggelaan. Sonja wys dit vir my uit en ek moes baie ver terug onthou na ons Aardrykskundeklas by mnr Spamer om te weet. Maar gelukkig weet google alles. Van julle het ook al vir my laat weet dat julle kinders my blog gebruik vir skooltake (!) so ek moes nou eers weer my feite gaan check.  Die straat van Maggelaan is ‘n  natuurlike water deurgang tussen die Stille Oseaan en die Atlantiese Oseaan en dit was vir jare die 
enigste deurgang totdat die Panama kanaal gebou is. Ek dare jou. Google dit. Dan sien jy presies waar ons nou is. Ons is eintlik nie meer op die vasteland Suid-Amerika nie, maar op die eiland Tierra del Fuego wat geskei word van die vasteland deur die Straat van Maggelaan. Dankie mnr Spamer!


Maar waar ons ookal is, dit is pragtig! Dit slaan amper jou asem weg so mooi is dit hier.

Tuesday, March 20, 2018

Buenos Aires na Ushuaia

Dis moeilik om te glo dat ons vanoggend nog in Buenos Aires was en om 08:10 na die Onse Vader staan en luister het agter in ‘n pragtige kerk. Vandag was vol! Nuwe plekke, nuwe avonture, nuwe kos en nuwe dankbaarheid om hier te kan wees. Ons stap eers vanoggend ‘n uur of wat deur die stad. Sonja was nog nie hier nie en ons sien ‘n paar van die hoogtepunte soos die BA naald wat ook die Jeugolimpiese Spele aankondig wat in Oktober 2018 in BA gehou word. Ons stap ook tot by Evita se draadfoto hoog teen ‘n prominente gebou en vergaap ons aan die spitsverkeer en vinnige voetgangers.

Hier is ‘n paar fotos:























Ons vertrek 10:00 lughawe toe en val in ‘n baie lang ry wat Patagonia toe vlieg met LATAM. Ons kry ons instapkaarte by ‘n kiosk-masjien. Hierdie keer is Sonja langs die venster en ek by die paadjie.  Maar toe ons op die vliegtuig kom, is die hele ry agter ons laat (hulle hardloop seker nog deur Sao Paulo se lughawe) en kan ek ook langs ‘n venster inskuif.  En was dit nie die moeite werd nie! Wow!

Ushuaia (uitgespreek as Oe-swaai-a) is die mees suidelike stad in die wêreld. Okay stad is definitief oordryf. Dis ‘n aandoenlike pragtige dorpie by die kus en teen die voet van ‘n berg met sneeu bedekte pieke reg rondom.
















Ons aandete vanaand bestaan uit King Crab waarvoor hierdie area bekend is en Pisco Sours. Dit was voortreflik!



Ushuaia is ook bekend vir hul pikkewyn-kolonies.  Hierdie een loop ons sommer hier op straat raak.

Die weer is fantasties. Was tot 11 grade vandag. Ons is baie dankbaar vir beantwoorde gebede en baie genade. Nou moet ek gaan slaap, want more pak ons die Tierra del Fuelgo Nasionale Park vir ‘n stap en kanovaart op die Roca meer.

Mag die berge in jou omgewing ook met sneeu bedek wees en mag jy elke dag talle fotos neem van die mooi in jou lewe.


Buenos Aires via Sao Paulo

Dis 04:30 en ek sit kiertsregop op my bed in die Rochester Concept Hotel in Buenos Aires. Jetlag is ‘n rêrige ding. Ek en Sonja het doodmoeg gisteraand hier aangekom na meer as 24 uur in transit en besluit om agt ure te slaap. Wel, my klok is nog op SA tyd en na 4 ure was ek helder wakker. Maar nou het ek tyd om te vertel!

Argentinië is vyf ure agter SA. Dis my tweede besoek aan Buenos Aires en my indrukke is steeds dieselfde. Dis is ‘n vriendelike skoon stad met vinnig-lopende borrelende mense. Aldo het ons op die lughawe gekry met sy taxi-diens en volgens hom is dit die paradys. Ons wonder waarmee hy dit vergelyk en hoeveel ander stede hy al besoek het, maar dit is so ‘n mooi gesindheid om so tevrede te wees met wat joune is.

Maar ons reis gister was nie altyd ‘n paradys nie.  Nie naastenby nie.

Hier is die stuk wat ek op vlug LA8965 gesit en skryf het. Met ‘n baie donkerder gemoed:

19 Maart 2018
De Ja Vu

As ek nou al ooit in my lewe de ja vu beleef het, was dit vanaand.  In Oktober 2016 is ek en Lean Heunis deur Sao Paulo lughawe oppad Buenos Aires toe en het ons  ons vliegtuig gemis, want die Aerolinas Argentinas vlug van Johannesburg na Sao Paulo was laat en daarby is dit onmoontlik om haastig deur hierdie lughawe te kom. Niemand hier praat engels nie. Net Portugees en Spaans en hulle is stom verbaas as jy nie kan verstaan  nie.  Verder is hul borde uiters verwarrend en is die lughawe so groot dat ‘n mens meer as 5 km moet aflê tot by jou volgende vlug. Selfs al wil jy graag in transit bly.  Dit wat op die grond afspeel is net nie wat teoreties deur die reisagent beplan en voorsien word nie.  

Ek is daardeur, ek weet dit is onmoontlik en daarom het ek dadelik ons reisagent gebel toe ek sien ons vlug uit Johannesburg land 17:30 (Braziliaanse tyd) en die  volgende vlug vertrek 18:30.  Sy laat weet in skrif dat sy weer by hulle seker gemaak het en dat dit reg is en moontlik. Sal nie ‘n probleem wees nie, skrif sy.  Groot probleem.


Toe die oom agter die toonbank in Johannesburg vir ons sê hy kan nie vir ons instapkaarte uitreik vir die Sao Paulo na Buenos Aires vlug nie, moes ons al geweet het. Toe hy op sy ouma se graf sweer dat ons tasse deurgeboek is Buenos Aires toe moes ons reeds onraad geruik het. 

Maar nee, ons gemoed is vol vreugde. Liezl sê dis moontlik, LATAM het bevestig.  Ons vra ook die lugwaardin en sy belowe daar is grondpersoneel net sodra ons van die vlug afklim.  Ons sien hulle nou nog.   Wel, 7731 treë en nagenoeg 5 km se hard hardloop met handbagasie by roltrap op en roltrap af, vervoerbande heen en weer en hysbakke op en af, is ons deur ‘last call’ by vlug LA8965 hek 236 in  en sak ek papnat gesweet, maar uiters dankbaar in die middelste sitplek van ry 15 neer.  Ek grawe ‘n suurlemoenlappie uit my tas en probeer red wat daar te redde is.  Die CK One wat ek op OR Thambo gespuit het, is lank reeds vergete.  Ek probeer miskyk dat die man regs van my sy rug op my draai en na die paadjie beur.  Ek hoop maar net ons paaie kruis nie weer nie. (Later gesels ons lekker. Hy is ‘n sakepersoon van Brazilië wat werk vir Volkswagen. Sy naam is Rabelo. Hy kom Buenos Aires toe vir twee vergaderings. Sy dogter was al in Kaapstad)

Twee ander mense het ook gehardloop vir die vliegtuig en dit nie gemaak nie.  In 2016 het dit ons ‘n ekstra dag gekos oppad terug en ‘n nag in ‘n shaky hotel aan die verkeerde kant van Sao Paulo.  Hierdie keer maak ek en Sonja dit met ‘n halwe van ‘n enterprize polonieskil.  Anders was ons dag in Ushuaia daarmee heen.  

Maar dit bly sleg om so te moet hardloop deur ‘n lughawe. Na dese oorweeg ons ‘n inskrywing vir Amazing Race.  En dit op ‘n geswelde been na ‘n 10 uur 40 minute vlug. Nee my reisagent uit Langebaan.Jy sal moet weer dink en oor dink en dit volgende keer anders doen.


Sonja sit twee plekke regs van my aan die oorkant van die paadjie en slaap.  Ons reis het vanoggend (SA tyd gisteroggend) 03:15 in Piketberg begin. Ons wen 5 ure oor die lengte lyne en dit is nou weer 18:39 toe ons hier opstyg.  Wat ‘n dag.


Saturday, March 17, 2018

Patagonia hier kom ons!



Patagonia was nog altyd op my lewensdroom-lys. In 2012 het ek my wêreldtoer daarrondom beplan, maar wou my finansies dit net nie insluit nie. Nou, 6 jaar later, kan my droom bewaarheid word. Maandagoggend 19 Maart 2018 om 06:20 vat ek en Sonja Wend die eerste van baie vlugte via Johannesburg, Sao Paulo, Buenos Aires na Ushuaia. Dit is die mees suidelike stad in die wêreld. Patagonia is ‘n reeks natuurreservate aan die mees suidelike punt van Argentinië en Chile tussen die Stille Oseaan aan die westekant en die Atlantiese Oseaan aan die oostekant.

Ek was lanklaas so uitgehonger vir toer. Ons waterkrisis in die Wes-Kaap eis sy tol op ons nerwe.

Patagonia was verlede week in die nuus toe die ysbrug van die grootste gletser, Perito Moreno, inmekaar gestort het op asemrowende manier, maar ook hartseer omdat klimaatsverandering so duidelik sigbaar is. Die weer is koud nou daar. Ushuaia se max temp vandag is 6 en môre 3 met vreeslik baie reën. Mag die Here ons seën met goeie weer, veilige reise, hope nuwe ervarings en tonne pret.

My onuitputlike wanderlust om nuwe dinge te sien het my sover by 38 lande van die wêreld gebring. Chile sal nommer 39 wees. Ek kan nie wag nie.

Monday, March 5, 2018

Lusaka, Zambia

Ek en ‘n kollega, Alletta van Sittert, is deel van ‘n Sweedse program, ICLD sedert 2017.  Hulle spesialiseer in die versterking van demokrasie in Afrika en 6 lande neem deel met twee projekte per land.  Bergrivier Munisipaliteit was bevoorreg om deel hiervan te wees saam met Ulundi Distriksmunisipaliteit in Kwa-Zulu Natal.
Ons het gister in Zambie aangekom en dadelik het ‘n paar goed ons opgeval.  Eerstens is dit baie groen hier.  Tropies en welig.  Miskien is dit net my uitgehongerde Wes-Kaap-droogte-oë, maar dit is pragtig.  Hier is baie voëls ook en vanoggend verluister ek my aan ‘n spookvoël buite my chalet.  ‘n Geluid wat my dadelik terugneem na Berg-en-Dal kamp in die Kruger Wildtuin waar ons hulle so duidelik gehoor en gesien het in Desember.
Tweedens is die chinese invloed en oorname van Lusaka skrikwekkend.  In your face. Ons drywer sê dit is ‘n groot probleem hier en dat die hele konstruksiebedryf oorgeneem is deur chinese. Daar is 78 tale in gebruik in Zambië, maar die padtekens is in chinees!
Derdens kon ons net sowel in SA gewees het as mens na hul winkels kyk: hier is 70 malls in Lusaka en die winkels sluit in Woolworths, Spar, Shoprite, Pick and Pay, Mugg and Bean, Husser Grill, Edgars, Truworths, Ackermans, Pepstores, Game, Food Lovers Market, Engen met ‘n Quickshop, Toys R Us, Markhams, Hifi Corp, Hungry Lion en Standard Bank. Erger as die chinese influx sê ek jou!



Vanoggend moes elke groep ‘n aanbieding maak om terugvoer te gee oor hoe ons vorder met ‘n ‘change project’ in ons Munisipaliteit. Ek en Alletta doen ‘n projek in Porterville om klein besighede in te bring in die hoofstroom toerisme in Porterville.



My gunsteling nuwe kollega wat ek op hierdie program ontmoet het, is Christabel Mazuba. Sy is die Hoof van Finansies in Lusaka Munisipaliteit. Hul projek gaan oor deelnemende begrotings. Zambië is  nog nie baie goed met publieke deelname nie.