Thursday, May 31, 2012

Shop 'til you drop!

Ja, nee - dit is toegetrek en dit reen vandag in Seattle. Ons kan maar 'n besoek aan Mount Rainier op ons magies skryf. Net daar verander ons dag in 'n 'shopping spree'. Te heerlik! My Pa soek 'n Wal-Mart Superstore in sy Rand McNally boek (dis 'n straatkaart boek van Amerika wat ons gebruik). Dit word deur Wal-Mart uitgee en agterin is alle WM's aangedui. Die Superstore is so 30 minute se ry van ons af.

Nou moet ek vir julle verduidelik wat 'n WM superstore is. Dis 'n belewenis op sy eie. 'n Mens kan ure en ure daarin rondloop en als kyk. Jy kan jou kar laat diens, al jou kwekery benodighede koop, jou hare laat knip, eet, als koop waaraan jy kan dink en dan sal jy nog nie deur die hele plek wees nie. Toe ek in 1997 vir die eerste keer in die VSA gekom het, kon ek nie glo wat my oe sien nie. Nou is ons al meer gewoond aan al die goed wat nou ook by ons beskikbaar is. Amerika se WM is net baie goedkoper as by ons. Maggies, hulle kry goeie kwaliteit badhanddoeke vir onder 4 dollar! En dan is dit die reuse 'bath sheets'. Dis net meer as R30! As ek net dink wat ons vir goed in SA betaal!

Ek kry 3 langbroeke (onder andere 'n jean) wat baie mooi pas. By ons 'cater' die klerewinkels nie vir minderheidsgroepe nie en ek sukkel om broeke te kry wat ordentlik pas. In die VSA kom my Amerikaanse bloed handig te pas en kan ek instap en broeke koop wat perfek pas. Lekker!

Enumclaw waar ons bly, is 'n baie mooi kleiner plek naby Seattle. More gaan ons terug Seattle toe. More-aand laat land die vierde lid van ons boot-ekspidisie na Alaska. Hannalie van der Westhuizen het saam met my sussie Santie studeer en later saam met my sussie Corne 'n huis gedeel. Sy is reeds meer as 15 jaar woonagtig in die VSA in Waterville, Maine (heel noord aan die ooskus net onder Kanada). Sy is 'n arbeidsterapeut. Ons sien baie uit daarna om haar te sien. Sy is 'n tonik en dis heerlik om saam met haar te toer. Ons kry haar more-aand half 12 op die lughawe. Saterdagaand slaap ons in Seattle by die Munisipale Bestuurder van Seattle, Monica Simmons. Ek het haar verlede jaar in SA ontmoet by 'n Plaaslike Regering Konferensie waar ek 'n spreker was. Sy het genooi dat ek moet kom kuier en toe ons besluit ons vat die plesierboot na Alaska, het ek haar gekontak. Die boot vertrek van naby haar huis af.

Sondagoggend klim ons op die boot vir 7 nagte. Ons doen die 'inner passage' na Alaska. Ek kan nie wag nie. Dit gaan heerlik wees! Ek is nie seker wat die wifi-situasie op die boot sal wees nie, so as julle niks van my hoor nie, weet ek le iewers langs 'n swembad met 'n pina colada in my een hand.

Maar nou eers terug na die inkopies. Die snaakste ding wat ek vandag gesien het, is 'n sak marsmallows die grootte van klein kussings. Dit is spesiale reuse marsmallows wat die Amerikaners oor die vuur braai. Ek het my vrek geskrik toe ek dit die eerste keer sien. Dis reusagtig! Ek wou vandag 'n foto neem in Wal-Mart, maar het gewonder of die mense sal dink ek is mal om marsmallows in 'n winkel af te neem. Ek geniet hulle kosafdeling baie. Daar is allerhande snaakse goed. Die Amerikaners is lui en alles is reeds gemaak. My ma vertel vir my dat sy spesiaal 'n paar jaar terug 'n elektroniese resepteboek van Amerika gekoop het om 'n 'hashbrown' resep te kry. Toe sy die resep lees staan daar wraggies: Take a packet of hashbrowns...! Hulle kry alles kits, klaar en reg vir gebruik.

Later in Junie gaan ek aansluit in San Francisco by my beste vriendin. Elizan, en haar gesin. Ek ken vir Elizan van Universiteit af. Ek soek 'n paar geskenkies vir haar seuntjie. Elizan, as jy hierdie lees, moenie vir Daniel se nie. Wal-Mart het die wonderlikste kinder speelgoed.

Hierdie pragtige standbeeld staan regoor ons hotel in Enumclaw. Dit vertel van die 'logging legacy' wat hierdie dorp het. Hier is hout so volop en ons sien bome orals.




Vanaand pak ons al ons tasse uit en weer in. Nee ons soek nie iets om ons mee besig te hou nie! Ons probeer die goed wat nie saam op die boot gaan nie, een kant sit. Ons kyk 'n fliek op die TV en eet sommer 'n broodjie in die kamer. Ek brei 'n truitjie vir Elna se nuutste baba, Janko en my Ma hekel 'n baadjie vir die tweede jongste. Na 'n stappie deur Enumclaw is ons reg vir die bed. Dit word baie laat donker hier waar ons nou is. Dit is heerlik. Jy kan na 21:00 nog buite wees. Natuurlik help die feit dat hulle nie te veel kriminele aktiwiteite het nie. Dit was 'n baie rustige dag. Ons is reg vir die boot!

Baie sterkte aan al my vriende wat die naweek die Comrades hardloop in SA. Baie sterkte! Mag dit goedgaan met elkeen en mag julle bereik waarvoor julle geoefen het. Ek dink aan julle. Dankie vir elkeen se e-posse en sms'e. Ek waardeer dit baie. Al kan ek nie almal persoonlik antwoord nie. Ivan en Esme, ek dink in die besonder aan julle. Sterkte!

No comments:

Post a Comment