Saturday, June 2, 2012

Honey I shrunk Hanlie!


In China het ek gereeld soos 'n reus gevoel tussen al die klein mensies. Japan was selfs erger. Ek kon nie wag om in 'n Amerika te kom nie. Hier is die mense GROOT en rond. Vandag kry ons hierdie uitstalling van 'n reus se ontbyt tafel by die Seattle Pacific Science Center net langs die Spaceneedle in Seattle. Ek kon lanklaas my voete swaai op 'n stoel.

Ons het ook 'n IMAX fliek by dieselfde plek gaan kyk wat handel oor 'To the Arctic'. Dis baie interessant. Hulle vertel die storie van hoe aardverwarming die pole beinvloed en hoe dit inspeel op die oorlewing van diere. Hulle fokus veral op ysbere en vertel die verhaal van 'n ma met twee kleintjies wat sukkel om aan die lewe te bly en wat die Ma als sal doen om haar kleintjies te beskerm. Dis werklik pragtig en die moeite werd om te sien. Die verbruikerskultuur in Amerika is erg en slaan mens amper elke dag teen die bors. My Pa se neef en sy vrou bly in Florida en kry baie son, maar sy maak hulle klere winter en somer in 'n droer droog. Hulle aircons is dag en nag aan dwarsdeur die jaar. By elke eetplek is ons verstom oor die hope en hope papier en goeie sterk weggooibare borde wat net weggegooi word.



In die Science Center is 'n Hurricane Simulator. Ons het staan en kyk hoe 'n paar seuns dit uitprobeer en dit was baie snaaks. Daai wind waai hoor!


'n Uitsig oor Seattle nadat ons 16 blokke gestap het om by REI uit te kom. REI staan vir Recreational Equipment Incorporated. Dit is 'n massiewe buitelewe winkel met alles waaraan jy kan dink. Hulle hoofkantoor is in Seattle. In 2004 het ek al my toerusting hier kom koop vir Kilimanjaro. Ons het baie ver gestap met die verwagting dat ek vir my 'n stap-broek kan koop. Ek het een oor die internet bestel en hulle het dit in SA by my huis afgelewer vir halfprys van wat ons in SA betaal. Gister was ek egter teleurgesteld. Na baie ver stap om daar te kom, is dit wraggies goedkoper om iets oor die pos te bestel as wat dit in die winkel is.


Oppad terug na ons hotel klim ons van die trein af by Chinatown en stap deur 'n paar winkels net vir die snaaksigheid.


Ons kry vanaand 23:52 vir Hannalie op die lughawe. Ons beplan om almal met die shuttle na die lughawe te gaan en haar te ontmoet.

Ons kan nie wag vir die cruise na Alaska nie!

No comments:

Post a Comment