Sunday, June 24, 2012

'n Dag van vreemde gesigte!

Jong, laat ek eers omverskoning vra vir die lang stilte. Hierdie keer is dit nie die Chinese regering wat my verhinder om te skryf nie. Ons kuier net so 'n hond uit 'n bos uit dat ek stokflou in die aand op my bed neerval. Ons het ons laaste twee aande in San Francisco gehad en nou omtrent als gesien wat daar te sien is. Elizan, Matthys en Daniel het veilig aangekom en ons geniet mekaar verskriklik. Elizan is my beste vriendin van Universiteit af. Sy en haar gesin bly in New Market naby Toronto in Kanada. Daniel is hulle seuntjie en hy is 6 jaar oud en te slim en oulik vir woorde.

Gister was ons op twee toere. Die eerste een was fantasties. Ons was Muir Woods toe. Dit is 'n Nasionale Park wat die groot Red Woods bewaar. Dit was heerlik om te sien. Oppad soontoe stop die busbestuurder vir ons by 'n mooi uitkykpunt vir die Golden Gate brug. Die weer is fantasties. Ja, julle is reg. Ek en Elizan moes 'n hele paar probeerslae doen om hierdie foto reg te kry. Goeie oefening in kommunikasie.


Ons kry hierdie Bard Owl in die Muir Woods Forest.


Die bome kan baie oud word. Die oudste een in Muir Woods is 1200 jaar oud.







Die kleur van die Golden Gate brug is International Orange. Dit is gekies omdat skepe dit die maklikste sal sien in enige weersomstandighede. Die brug was vanjaar 75 jaar oud.



Een van die mooiste uitsigte oor die stad is van Twin Peaks af. Die mooigeid van die dag hou net nie op nie. Die helderheid in die lug is ongekend aan SF. Dis immers die stad waar die jaarlikse Fog Festival plaasvind. Hierdie pienk vra vir verduideliking: SF is sekerlik die gayste stad in die wereld. Hierdie naweek is die jaarlikse Pride Parade. Hier teen Twin Peaks is 'n groot pienk driehoek opgesit wat kilometers ver gesien kan word. Dit vertel van die vernedering wat gays deurgemaak het in Duitse konsentrasiekampe. Daar is blykbaar pienk driehoeke om hul nekke gehang.


Ons monde hang oop sover as wat ons ry en loop. Ons het meer ongewone mense en dinge gesien die afgelope twee dae as op my hele toer. Dit vat kreatiwiteit om Daniel se gesig in die regte rigting gedraai te hou dat hy die opwinding mis. En nog meer kreatiwiteit om sy onskuldige vrae te antwoord: Mom, why is he dress like that? ...


Vanoggend woon ons 'n erediens by in die middestad van SF. Daar is egter meer eer gebring aan justice, peace en civil rights as aan Jesus Christus. Miskien is dit net omdat dit vandag die Pride Parade is, maar ek was maar bekommerd oor die tekort aan evangelie.


Daniel se vakansie persent van sy ouers is 'n klein kameratjie. Ai en is hy in sy noppies! Hy kon nie ophou goed afneem nie. Ons het eintlik 'n probleem gehad in Alcatraz, want elke keer as hy 'n foto wil neem, sit hy sy oudio vertelling af. Mans kan waarskynlik van kleins af al nie twee goed gelyk doen nie. Later het ons meer gefoto as gevorder! Maar ons wou nie sy opwinding demp nie.


Daniel op die plein voor die Ferry Building besig om als wat beweeg op film vas te le.


Later ry ons die bekende Cable Car op en af en op en af! Dit was stunning! Nou kan ons maar SF verlaat! As mens die Cable Car gery het, het jy SF gedoen! Wow, dis 'n belewenis.



Kyk net die uitsigte. Die strate is vrek steil, maar die Cable Car doen sy ding!


China Town.



Daar is werklik nie baie fotos van die Pride Parade wat ek graag op my blog wil sit nie. Dis onbegrylik hoekom gay issues so dikwels met eksplisiteit gepaard moet gaan. Ons het als gesien. Van heeltemal kaal mans, tot onbeskaamd geklede vrouens, baie dronk mense en 'n groot groep grapjaste wat so snaaks as moontlik probeer aantrek het.

Hierdie groep veg vir veiliger skole, maar lyk self soos iets waarteen ek my kind sal wil beskerm!


Die groepie kry ons voor die 'water feature' in Market Street. Duidelik net daar vir die pret.


Die street cars in SF is net so bekend soos die Cable Cars en vandag ry ons hulle ook.


Ons was nie seker of hierdie tannie haar dag so begin het of net so geeindig het nie. Sy moes maar eerder na haar Ma geluister het!


Die spulletjie kry ons op die bus. Liefske loven! Oom Johann Gebardt van Wellington se ma sou gese het: And when you're 85, you still don't do it!


Ons slaap vanaand by die pragtige kusdorp Pacifica. Toe ons inry gaan die son net onder. Dis 'n wonderlike einde aan 'n fantastiese dag.

Ek weet daar is baie van julle wat wag vir die fotos van Alcatraz. Ja ons was vanmiddag daar. Ek het egter nog 'n dag nodig om dit wat ek daar beleef het te verwerk, voordat ek daaroor kan skryf. Dit raak mens diep.


Ek dink vandag weer baie oor vriendskap en hoe geseend ek is om sulke wonderlike vriende te he. Ek en Elizan het in 1993 ook saam oorsee getoer en hierdie is eintlik ons reunie. Daar is min mense saam met wie ek so lekker vakansie hou.

No comments:

Post a Comment