Friday, June 15, 2012

My 1 miljoenste tree!

Voor my toer begin het, het ek een nag gedroom dat ek 'n boek skryf oor my toer en dat die titel is: Een miljoen tree...

Ek het toe vir my 'n pedometer gekoop by Game en die oggend op die lughawe in Kaapstad saam met my sussie Corne en vriend Jo, die eerste tree gegee op my toer om die wereld. Vandag, op 15 Junie 2012, het ek my miljoenste tree gegee! Wat 'n voorreg! Ek was gesond genoeg om dit te kon doen. Dank die Here vir Sy groot genade!

My pedometer tel net tree tot by 9999 en ek moes elke aand my tree opskryf. So nou het ek 'n dagboek vol opskrywings van elke dag deur die hele drie maande en drie dae. Daar is nog 16 dae oor. Die meeste tree wat ek op 'n enkele dag gegee het was 22072 tree. Dit was op 26 Mei 2012.

En soos dit nou maar gaan, is vandag juis die dag waarop ek my pedometer verloor het! Ai, man, sal mens nou drie maande deur duisende plekke toer en nooit die ding verloor nie en vandag van alle dae... Ons was in downtown Missoula en nadat ons die wereld daar bekyk het, gaan ons gou na die 'restrooms'. Hier praat niemand van 'n toilet nie. Als is 'restrooms'. Die toilet is bloedrooi-oranje geverf en dit was seker dit wat my afgeskrik het. Ek sit toe my pedometer langs my op die toiletpapierhouer neer en vergeet dit daar. Ons ry na die Elk Foundation toe en kyk hul fliek van so 20 minute, ons loop daar rond en neem talle fotos en skielik voel ek my pedometer is weg! Dit moes in die restroom downtown wees. Nou kyk! Amerika is baie dinge en gelukkig is een daarvan dat hulle baie eerlik is. In SA sou dit seker nie eers gehelp het om terug te ry nie. Maar ons spring in die motor en ry terug downtown toe (nogal ver). En sowaar as wat padda 'n manel dra, daar is hy nog net waar ek hom vergeet het! My ma is van mening dat dit ook vir die Amerikaners oor higiene gaan. Hulle sal nie aan iets vat wat iemand anders in 'n restroom vergeet het nie. Hoe dit ookal sy! Hy is weer aan my sy!

Ander statistiek van my toer is dat ek altesaam 69 uur en 10 minute in die lug sal wees op 18 vlugte. Ek sal 50 008 km vlieg om die wereld in 93 dae. As mens die tyd in die lug en op lughawens bymekaar tel is dit 141 ure of 5,875 dae! (Vyf punt agt sewe vyf dae) My langste vlug is tussen Washington DC en Johannesburg en duur 16 ure en 15 minute.

Nou as dit nie vir my nog 'n bloedklont gee nie, sal niks darem seker nie!

En ek het elke oomblik daarvan verskriklik geniet!

Vandag was weer so... Ons het tyd om rond te le en gaan kyk eers na Rattlesnake Recreation Area. Daar is eintlik niks nie. Net bome en stappaadjies en die dorpenaars van Missoula gebruik dit om te stap en te draf met hul honde. Die midde-dorp is nie so mooi soos wat ons gehoop het nie. Die Clark Fork rivier loop hierdeur, maar die mense van Missoula maak nie so baie van die rivier soos wat mens sal hoop nie. Ons doen vandag ongewone dinge.

Die Thrift Store in Amerika is soos die Hospice winkels in SA. Ryk mense vat al hul ou goed soontoe en dit word verkoop ten bate van die armes. Ons wonder al die hele maand hoe lyk dit daar binne en was vandag aangenaam verras. 'n Regte boutique. Ons koop 'n 1000 stuk legkaart vir 2 dollar en 'n swart bloes vir my ma vir 2 dollar. Daar is 'n los-bodem koekpan wat my ma al jare soek op 'n 'special'. Dit kos 3 dollar, maar omdat hulle 25% af het op kombuisware op die oomblik, betaal ons 2 dollar 25 sent! Dis 'n kerk in Missoula wat dit bedryf. Ek is seker die Missoula 3:16 sinspeel op Johannes 3:16 in die Bybel.


Ons besoek vandag die Elk Foundation se besoekers-sentrum. 'n Elk is 'n imposante bok. Dis een van die grootste soorte bokke in die wereld en een van die grootste land soogdiere in Noord Amerika. Die mannetjies het massiewe horings (antlers). Ons het vandag gevoel hoe swaar dit is en kon dit amper nie glo nie. Die ongelooflikste is dat hulle elke jaar in die lente die horings afgooi en nuwes uitgroei. Die nuwe horings het velvet om hulle vir die somermaande hier en dan val die velvet ook af. Die elk is baie gewild onder jagters en hulle horings en velvet word in Asie gebruik vir tradisionele medisyne. Dit word seker gemeng met Renosterhoring van SA.

Ons het gister 'n paar elke op 'n afstand gesien in die Bison wildtuin en in 2004 het ons 'n paar van baie naby gesien. Hul lyk eintlik komieklik met die verskriklike horings.



Ons spandeer die hele middag in Walmart! Hier was my ma se waentjie nog leeg. Toe ek na meer as 2 ure by die kassiere kom met 'n wa vol goed, is die totale bedrag 50 dollar. Dis 'n skande dat ons so baie in SA vir goed betaal. Hier is alles net soveel goedkoper. Ek en my Ma het bv die grimering bekyk. Die duurste lipstiffie van Revlon waarvoor ons ver meer as R100 in SA betaal is hier minder as R40. Hul handdoeke is belaglik goedkoop. Ek kon vandag 'n dik 'bath sheet' (handdoek vir my mansvriende wat hierdie lees) van baie goeie kwaliteit (dis die grootste handdoek wat gemaak word) kry vir 3 dollar 47 sent. Nou hoekom kos dit R150 in SA?


Vanaand eet ons by Cracker Barrel. My ma is rasend opgewonde oor die Lupiene bos voor die ingang. Dit groei uitbundig hier. Vir my sussies - dis die restaurant waar ons in 1997 ook geeet het met die outydse winkeltjie aan die voorkant en die lekker plaaskos.


Ek reel vanaand my laaste goed vir my trip na San Francisco. Ek moet nog twee nagte se verblyf kry en SF is baie duur met 20% belasting. Ek gaan Maandag en Dinsdagnag by vriende van my sussie in die Napa vallei bly. Dis omtrent 'n uur se ry uit SF en blykbaar die VSA se Stellenbosch/Franschhoek wynlande. Hulle sal moet uithaal om my te oortuig dat enigiets so mooi soos Stellenbosch en Franchhoek kan wees. Maar ek sien baie uit daarna. Teen volgende Vrydagaand land my beste vriendin van universiteit en haar gesin en toer ons saam vir my laaste week. Wow!

Vir die van julle wat vir die Julie vakansie op reis gaan - geniet elke oomblik. Reis is lewensveranderend. Mag dit ook vir elkeen van julle so wees.

No comments:

Post a Comment