Tuesday, June 19, 2012

San Francisco!


Hierbo is google earth se weergawe van die SF baai. Vanaand en more-aand kuier ek by Cobus en Maureen Theunissen in die Napa Vallei. Dis 15 myl van Vallejo af. Ek het vanmiddag met 'n ferry oor die baai gereis vir 'n uur van SF na Vallejo. Cobus het my daar kom haal.

Okay, ek en julle het geweet ek gaan van San Francisco hou. Ek het net nie geweet hoeveel nie. Wow! Hier is 'n 'vibe' wat ek baie moeilik lekker genoeg vir julle sal kan beskryf. Ek kom bietjie laat eers aan die gang vanoggend. Miskien het my hart geweet ek sou moes afskeid neem van iets waaraan ek baie geheg geraak het. Van my hotel af kry ek na ontbyt 'n gratis shuttle terug na die lughawe en vandaar vat ek SF se BART trein na die 'downtown area'. Dit kos 8 dollar en 10 sent vir die trein. Dis baie skoon en gerieflik. Ek klim af op Embarcadero stasie in Market Street en stap na die Ferry Building. Ek trek my tas en het my rugsak op my rug. My tas is veronderstel om baie ligter te wees as in die verlede, want ek kon 23 kg se goed saam met my ouers terugstuur. Maar vanoggend is hy lood! Ek verstaan dit glad nie en dog ek het 'n sissie geraak in die gehuurde motor en verleer om met my bagasie te toer. Ek druk deur. Die plek waar ek my bagasie wil los vir die dag is die Visiting Centre by Pier 39. Dis 3 myl van die ferry building af. Ek besluit om dit te stap, want my tas is mos op wiele. Halfpad soontoe is ek papnat gesweet en kan ek letterlik nie verder nie! Ek verstaan nie wat aangaan nie. Dis eers toe ek langs my tas op die sypaadjie neerplons, dat ek sien sy een wiel is heeltemal pap en ek sleep hom al meer as 'n myl ver. My moed was in my skoene, maar die army het my baie dinge geleer en om uit te hou en aan te hou is een daarvan.

By Pier 39 los mens jou bagasie vir 5 dollar per stuk. Die vrou verduidelik vir my waar ek 'n nuwe tas kan gaan koop. Ek is hartseer oor my tas, want dit is die enigste companion wat my hele toer sover met my meegemaak het. Old Faithful en nou is hy stukkend en gedaan. In my kop beraam ek allerhande planne. Ek sal 'n nuwe groter tas koop en my hele ou tas binne-in sit. Die opsies is almal baie duur en die wat ek wil bekostig is swak kwaliteit. Ek bedink die spulletjie oor 'n sushi middagete en besluit om nie my tas weg te gooi nie. Old Faithful sal saam met my in Kaapstad aan land gaan. Stukkend of nie stukkend nie. Ek gaan terug na die bagasie winkel en koop 'n trollie waarop die stukkende tas pas. Met groot 4x4 wiele wat maklik sleep. Probleem opgelos.

My tas met sy pap wiel. 80 dae se toer het hom sat gemaak!


My nuwe trollie vir my tas. Nou laat waai ek en die Oros man weer!


My eerste uitsigte oor SF uit die vliegtuig.


Daar is twee sulke lang brue oor die baai, bo en behalwe die 'golden gate' brug en 'n paar ander korteres. Water skrik nie Amerikaners af nie. Hulle het verskriklik baie water en bou doodeenvoudig elle lange brue.




Fisherman's Wharf in SF. Matthys en Elizan het so 'n lekker skedule uitgewerk vir ons toer wat Vrydag begin, dat ek op my eie net die goed wil doen wat ons nie gaan sien nie. SF is definitief die gay hoofstad van die wereld en eerskomende Sondag is die groot Gay Pride parade in downtown SF. Dit sal 'n belewenis wees om te aanskou.




By die wasmuseum ontmoet ek vir Angelina Joly en Barak Obama. In daai volgorde.



Ek sien vandag weer nuwe interessante t-hemde en se-goed.





Hierdie straat kunstenaar het baie aandag getrek en sakke vol geld gemaak. Oulike idee. Dis nou skoolvakansie in Amerika tot begin September. Hulle kry baie lang skoolvakansie in die somer en omtrent niks die res van die jaar nie.


Die SF skyline vanuit Fisherman's Wharf.


Ek kon nie glo hoe naby Alcatraz aan die land is nie. Dis klein. Robbeneiland moes 'n baie beter tronk gewees het.


Die bagger boot maak die hele eiland toe.


Die weskus van Amerika is bekend vir hul kersies. Ons het naby Seattle heelwat gekry en geproe. Hier is hulle net so volop en heerlik! Natuurlik word hulle hier in sjokolade gedoop. Amerikaners eet niks wat gesond is nie.



Die pragtige ferry building in SF. Van hier af vertrek my ferry na Vallejo vanmiddag 17:15. Dis 'n uur se trip.


Ek het tyd vir 'n Earl Greytjie by Starbucks.


Kyk die lang ry wat wag vir die ferry. Dis 'n gewone staatsferry wat gewone daaglikse commuters vervoer. Die meeste mense wil net by die huis kom en stel nie belang in die beste uitsig sitplekke nie. Ek staan so vyf plekke agter die tannie in wit. Die boot kan gelukkig 320 passasiers vat. Die trip kos 13 dollar.


'n Pragtige uitsig oor SF se hawe en finansiele distrik.


Ek ontmoet drie wonderlike jongmense op die boot. Dis regtig anders om alleen te toer. Terwyl ek by my ouers was het ons min kontak gehad met ander toeriste. Almal sien en hoor jy praat 'n ander taal en hou verby. Maar as jy alleen toer, begin almal geselsies met jou en ontmoet jy stunning mense. Hierdie is 'n uitruilstudent van Frankryk wat tuisgaan by studente van Oregan. Hulle wys vir haar SF. Ek en Alayna (die vriendin van Oregan) gesels heerlik en ruil adresse uit. Ons sal kontak hou. Kyk hoe nat is die Franse meisie se bril. Ons was later papnat maar doodgelukkig.


Hierdie mooi lighuis staan halfpad tussen SF en Vallejo. Regtig iets besonders.


Ons klomp agter op die boot. Die oom langs my is amper afgetree en werk in Vallejo. Langs hom sit Alayna en haar twee vriende.


Cobus en Maureen Theunissen. Dis so 'n voorreg om by hulle te kan kuier. Hulle gaan uit hul pad uit om my lekker te laat kuier. Cobus werk vir 'n energie maatskappy in Houston en is meestal van Maandae tot Donderdae in Houston (3 en 'n half ure per vliegtuig). Maureen is 'n stunning ma en 'n wonderlike gasvrou. Hulle vat my vanaand om te gaan sushi eet in 'n plaaslike sushi restaurant.


Ek en die twee seuns. Kyk net hoe het die son my vandag bygekom! Ek sal moet smeer vanaand. Daniel (links op die foto) is 7 en die oudste. Colin is 5. Hulle is dierbaar en ons het mekaar dadelik gevind.


Die poeding vanaand was 'n baie spesiale verrassing. Die restaurant maak roomys lolliepops met liquid nitrogen. Die kelner kom maak dit by jou tafel en dis heerlik om te sien. Die kinders was net so mal daaroor.



Hierdie is popcorn wat hulle vries in die liquid nitrogen en as jy dit dan in jou mond sit kom daar rook by jou neus uit. Hulle noem dit Dragon Breath! Ons het almal 'n beurt gekry.


Dragon Cobus!


Vandag was heerlik! More gaan ek saam met Maureen bietjie rondry om die kinders na hul 'summer school' te vat en dan gaan ons by haar suster kuier. Sy is 'n wynmaker op een van die Napa wynplase. Hulle het ook hulle fiets vir my geleen om rond te ry in die omgewing.

Nou is dit al 00:39 by ons. Ek moet nou in die bed klim, anders gaan ek more min van my opgeruimde persoonlikheid oorhe.

No comments:

Post a Comment