Sunday, June 17, 2012

Vertraging op lughawe: Seattle

United Airlines het my nog net teleurgestel. Van Japan na Seattle het ons met die oudste vliegtuig denkbaar gevlieg. Meer as tien ure se vlieg sonder 'n TV of die opsie om 'n fliek te kyk. Nou sit ek weer by hul 'boarding gate' N15 op Seatac lughawe in Seattle en my vlug na San Francisco is vertraag met twee ure. My ouers sit minder as 'n kilometer van my af by S 'gate' op Seatac en wag vir hulle vlug na Dubai. Ek wou nou eers by hulle gaan kuier totdat hulle moet aanboord gaan, maar ek het op S geland oppad in Amerika in en as jy by die hekke kom gaan jy deur Paspoortbeheer en die oom sal nou nie verstaan dat ek nog 'n bietjie met my Pa en Ma wil kuier nie. Selfs al is dit Vadersdag en alles!

Hurry up and wait. Ek was in die weermag en ken dit baie goed. Die positief is dat Seatac gratis wifi het vir almal en nou kan ek op my rekenaar speel en hoef ek nie my vingers te tel nie.

Ons het in 'n Best American Value Hotel geslaap naby die lughawe laasnag met 'n gratis shuttle na die lughawe. Vanoggend is my Pa alleen in stad toe om die huurmotor te gaan teruggee en toe stap ons na die naaste Denny's 12 blokke van die hotel af om te gaan Vadersdag 'brunch' eet. Dit was heerlik.

Nou is ek oppad San Francisco toe en my ouers oppad terug na SA via Dubai met Emirates Air. Die kortste pad vanaf Seattle na Dubai loop reg oor die Noordpool en hulle vlieg so. Dan wag hulle 8 ure op Dubai en vleig na SA. As hulle 32 uur later daar aankom is dit reeds Dinsdagmiddag. Emirates het langs oorstaan tye, maar was R11 000 goedkoper vir hulle twee as enige ander lugredery. Op Dubai bied Emirates vir hulle gratis vouchers om na 'n nabygelee hotel te gaan. Nie sleg nie.

Die rede hoekom ek United Airlines vlieg is omdat hulle deel is van Star Alliance en my world hop ticket is met Star Alliance. Die res van Star Alliance se vliegtuie was baie goed, maar United moet hulself nog bewys.

Ek sien so baie uit na San Francisco. Ek het nou alles gelees wat ek kon en gaan die meeste maak van my paar dae in SF. Gelukkig het ek nou nog tyd om navorsing te doen. Ek sal julle op hoogte hou van hoe dit is.

...

'n Paar uur later en ek sit veilig in die hotel in San Francisco. Dis die Howard Johnson. 'n Massiewe kamer met 'n king size bed vir 'n goeie prys. Ons vlug was toe verder vertraag en ek het eers 20:30 by die hotel gekom. Dis twee ure se vlieg van Seattle na SF. Die man langs my is baie behulpsaam met wat ek als moet sien hier en sy idees is vars en baie eerlik. Oor sekere goed se hy sommer: Oh, that is crap! Don't do that! Of 'that is just too expensive..." Hy en sy vrou (wat drie rye voor ons sit - op hulle versoek) was die naweek Seattle toe. Hy se sy probeer so drie keer per jaar om hom soontoe te vat om te sien of hy nie genoeg daarvan hou om soontoe te trek nie. Hy lag en se sy mors haar tyd. Hy gaan nie Seattle toe trek nie, maar hy geniet die 'outings'.

In die derde stoel in ons rytjie sit 'n baie ou tannie. Regtig oud. Ek bedoel amper 100. Ek kyk haar so en bewonder die feit dat sy nog vlieg en toer. Toe my oog later die boek vang wat sy lees, bars ek amper kliphard uit van die lag: "A lesson before dying." Ek is seker dit is nie oor wat ek dink dit is nie, maar dit was net snaaks om haar dit te sien lees.

Ons was geskeduleer om op Terminaal 3 te land. Oppad kondig die kaptein aan dat ons nou hergeskeduleer is en ons sal op Terminaal 1 land. Nou ek het lanklaas saam met soveel ongelukkige mense gevlieg soos vandag. Almal wat aansluitingsvlugte moes kry het dit nou reeds verpas as gevolg van die vertraging en nou land ons op die verkeerde terminaal. As julle kan kies, vermy United Airlines. Ek vlieg nou met hulle tot in Johannesburg. Ek gaan nou glo die wat kom sal beter wees.


No comments:

Post a Comment