Tuesday, June 19, 2012

Napa Valley en St Helena

Die groot vraag is nou? Lyk Napa soos Franschhoek en Stellenbosch? Ek het die hele dag gewonder...

Dankie vir almal wat vir my laat weet het julle was al in SF en wat ek behoort te sien. Dit help baie. Die meeste van julle noem net goed op om te eet en ek het SF ook so beleef gister. Daar is vele dinge om te eet. Nou ek was nog nooit bang vir eet nie en sal my beste gee!

Vandag was baie lekker. Ek en Maureen was op 'n 'mission'. Ons het die kinders by 'summer camp' afgelaai nadat ons eers vir Colin na 'n swemles geneem het. Dis was so 'cute' om dop te hou hoe die vrou ses kleintjies gelyktydig in die swembad het en elkeen doen iets anders. Sy doen dit definitief nie van gister af nie.

Die kep wou net nie sit soos hy moet nie.


Selfs die kleinste kindjie wat vandag daar was (seker 2 of 3) spring reeds van die duikplank af. Hulle leer heel eerste hoe om hul koppe onder die water te hou en borrels te blaas deur hul neuse. Sy kry dit reg dat hulle glad nie bang is vir die water nie, maar dit geniet! Hier vang ek Colin in die middel van sy duiksprong.


Glenda en Colin voor die ander kinders opgedaag het.


Ma, ek het gedink Ma sal van hierdie Krismisrose hou. Dit staan op die wynplaas waar Maureen se suster die wynmaker is. Hoe gerieflik is dit? My toergids vir die dag, Maureen, se suster, Danielle, is die wynmaker op St Clemens en ons kry voorkeurbehandeling oral waar ons gaan. St Clemens is toe vandag. Dis nie al nie. Danielle se man is die wynmaker op die plaas net oorkant die pad en ons kry 'n gratis wynproe by hulle. Maureen was ook in die wynbedryf en ons kan haar kaart en haar suster se naam gebruik en kry 50% af op al ons aankope. My tas se stukkende wieletjie sal moet sterk staan.


Die uitsig van St Clement wynplaas af.


Die wynproe lokaal op St Clemens.




Maureen se sy het ook lanklaas die toeris ding gedoen en het die dag baie geniet. Vir my was dit heerlik! Ons het die scenic roete ingery in die Napa Vallei en die groterpad uit.


Vir my vriende wat soos ek die groter prentjie wil sien van wat aangaan... (ek het die prentjie gedraai so noord le nou soos aangedui regs bo in die google earth uittreksel)

Napa dorp is die begin van die Napa Vallei. Daar is drie ander dorpe naamlik Yountville, Rutherford, St Helena en Calistoga. Cornelie, Rutherford waar jou vriendin bly het net 524 inwoners.



Met die uitkomslag uit die vallei uit, besoek ons een van die meer kommersiele wynplase naamlik Beringer. Dit is in 1876 begin deur die Beringer familie en is die oudste wynplaas in die Napa Vallei wat sonder onderbreking as 'n wynplaas bedryf is.




Beringer is veral bekend vir hul Cabernet Sauvignon en ons proe die Private Reserve Cabernet Sauvignon 2006. Dis HEERLIK! Ek wil vir my 'n bottel koop, maar skrik toe my oog die prys vang. 115 dollar! Per bottel! Dis R977,50 per bottel. Selfs met die afslag wat Maureen vir my kan kry is geen wyn so lekker nie. Ek koop wel vir my 'n bottel Cabernet Port waarvan ek vreeslik baie hou.

Hier is die Private Reserve. Ek het toe maar 'n foto geneem van die bottel om dit te onthou. Baie goeie wyn uit die Napa Vallei.


Ons sien op Facebook dat Bruce middagete eet by die Rutherford Grill en ons gaan kyk later of hy nog daar is. Hy is nie en daar is 'n tou mense so ons sit af terug na Napa vir 'n Mexikaanse middagete.


Vanaand braai Cobus vir ons steak. Maureen 'treat' my met 'n artichoke (nou weet ek vir die eerste keer hoe dit moet smaak en hoe mens dit gaar maak) en ek bak vir hulle Suid-Afrikaanse pannekoek met kaneelsuiker vir poeding. 'n Feesmaal wat almal baie geniet. Ons maak tot braaibroodjies ook. Eg Suid-Afrikaans selfs met Mrs Balls Blatjang op.

Na 'n wonderlike dag van baie ervarings antwoord ek graag soos volg: Napa dorp lyk glad nie soos Stellenbosch nie. Maar die Napa Vallei lyk beslis soos die Weskaapse wynlande. Ons berge is net meer dramaties, maar op Beringer vandag kon ek net sowel op Boschendal of Meerlust gestaan het.

Julle is genooi om my R550 se Port te kom proe!

No comments:

Post a Comment