Saturday, May 5, 2012




Dag 3 van fietsry is suksesvol verby. Ons het nou al 173 km en minstens 18 ure in die saal deurgebring. Ons is vanaand in Xingping. Ons het vanoggend in Guilin weggespring en deur die dikste verkeer gekom wat jy jou kan indink. Hier vleg almal verkeer. Dis Lean se eerste ondervinding met oosterse verkeer en dis lekker om dit weer deur haar oe te sien en te sien hoe vreesaanjaend dit die eerste keer is. Daar is fietslyne, maar almal ry daarin. Tot motors ook en kinderwaentjies, motorfietse,mense wat stap en almal kom en gaan in twee rigtings in dieselfde eenrigting smal paadjie. Ons moes kophou om bo te bly!

Ons stop 'n paar keer langs die pad. Hoofsaaklik wanneer Farmer Tang honger is en goedkoop noedels wil he. Hulle eet noedels morning, noon and night. Aanvanklik het ek en Lean nee gese, toe probeer en nou is ons uitgeeet en het ons genoeg familiariteit met Tang om sommer net nee te se.

Na 45 km vandag klim ons op 'n bamboo boot en vaar twee ure (met ons fietse ook op die boot) na Xingping. Dis 'n pragtige dorpie langs die Li rivier. Die fotos wat julle hierbo sien is die bekende karst berge wat hierdie area so bekend maak. Ons het presies die prentjie vandag gesien wat op hul 20 Kuaui noot is. Op die noot staan Yuan, maar die plaaslike mense praat van Kuaui.

Ek en Lean het nou so in ons kamer gelag, want daar is derduisende muskiete langs hierdie rivier. Ons moes omtrent oefeninge uithaal om almal dood te kry. Twee aande terug in die Butterfly Valley het die opsigter sommer so klap klap die kamer ingekom. Ons dog hy probeer ons aandag aftrek van die muwwerige mat of vuil mure, maar besef later hy slaan muskiete dood soos hy beduie waar die badkamer en aircon is. Gelukkig het hulle muskietmatjies.

Gister langs die pad fiets ons verby 'n tea garden. Voor die tyd se ons gids ons kan daar stop en tee drink. Ek is al so lus vir tee (het eers opgegee op Earl Grey want China doen dit glad nie) en vra nou niks meer as 'n gewone koppetjie black tea nie.Ek sien visioene van 'n lekker beker tee soos net my Pa dit 23:00 in die aand kan maak. Toe ons op die tee plaas aankom, vra ons dadelik vir die gids wat ons die plaas wys of hulle black tea het. Natuurlik! beduie sy. Great! My mond water. Later bied sy vir ons die tee aan en dit is getrou aan hulle tee tradisie koppetjies so groot soos 'n 50 sent stuk met flou black tee wat met Litchi gegeur is. Verder green tea en alles word op die tradisionele tee seremonie manier bedien. Sonder melk en suiker! Nou ja! So leer ons.

Vanmiddag vaar ons verby 'n polisieboot. Ons meneer in beheer van die bamboo boot moet 'n lisensie gaan koop om drie nie-chinese op die rivier te vat. Tang gaan gratis as toergids. Ons parkeer langs die polisieboot en sien dat 'n hele groep van hulle om 'n tafel sit en dobbel met hopies geld voor elkeen. Ons het ook 'n tweede interaksie met die polisie gehad wat vir ons boekdele vertel het van die chinese kultuur. Ons ry met 'n skerp afdraend. Ek ry voor (swaartekrag op 'n afdraend is baie goed vir my), met Cheche net agter my. Om 'n skerp draai le 'n chinese man langs die pad.Hy lyk lights out. Ek slaan remme aan en Cheche ook. Ons wil eers kyk of die man okay is. Toe Tang daar aankom, is hy baie vies vir ons. Hy het eers gedink ek of Cheche het die man omgery. Hy skel ons sommer. Cheche het hom gou reggehelp. Toe wil hy glad nie he ons moet 'n ambulans bel of die polisie laat weet nie.Hy is letterlik vreesbevange en se ons sal in die moeilikheid kom en hulle sal dink ons het hom doodgemaak. Op die ou end swig ons onder sy druk en ry aan. Gelukkig kry ons 'n polisiestasie baie naby en gaan rapporteer die bewustelose man. Dis hoe die meeste Chinese is. Hulle is vrek bang vir die owerheid en onthou nog baie goed die wreedhede van die verlede.

Ons keuses van kos deur die dag is baie moeilik, want Tang gaan na baie shaky plekke om so goedkoop as moontlik te eet. Hy kry 'n kostoelaag, maar spaar die meeste vir sy familie. Nou stop ons by uiters vuil plekke waar hy 2 kuaui kan betaal vir noedels. Ek en Lean het hom ferm dog vriendelik laat verstaan dat as hy wil he ons moet iets eet, moet hy 'n skoner plek soek. Ons kan net die bekostig om siek te raak nie. En siek sal jy raak van hierdie onhigieniese toestande. Vandag se Cheche "the chinese will only be clean if you force them to be clean."

Twee nagte terug word ek wakker in ons kamer met iets wat klink soos 'n mot wat homself te pletter vlieg teen die muur. Ek luister en besef dit is druppels wat val. Ons kamer lek! En nie net op een plek nie, maar baie! Ek vlieg op om seker te maak dis nie op ons beddens nie. Lean word wakker in die geskarrel en maak 'n baie skerp opmerking: Ons het nou baie gesien dat China baie kan maak, ons wil nou sien dat hulle iets goeds kan maak. Dit sien 'n mens nerens nie. Die kwaliteit van alles is shaky! Alles!

Gister was ek baie kwaad vir die chinese. Hulle ken glad nie vrouens in fietsryklere nie en veral nie 'n vrou van my 'size' op 'n fiets nie. Oral maak hulle onsmaaklike opmerkings en probeer skelm fotos neem. Vanmiddag stap 'n chinese man reguit op my af en voel aan my bo-arm spier! Nou moet julle vir Tang sien om dit te waardeer. Die gemiddelde chinese vrou weeg seker tussen 35 en 42 kilogram. Tang is 1,2 meter lank en dra 'n klein nommer 13 skoentjie. Sy plakkies lyk soos iets wat ek voor in my motor wil ophou oor die spieeltjie. So in hulle konteks is ek en Lean soos 'n sirkus op wiele! Ek sal nie verbaas wees as daar 'n foto van ons op 'n chinese poskaart verskyn nie! Dis erg irriterend. Ek praat maar kliphard in afrikaans terug na hulle toe en dis nie altyd die vleiendste opmerkings nie. Ek is eintlik net redelik keelvol vir hulle ombeskoftheid en kan nie wag vir Amerika dat ek weer soos 'n 'midget'kan voel nie.

More is ons laaste dag van fiets. Ons moet 42 km doen vanaf Xingping na Yangshuo. Daar is 'n baie goeie lig vertoning wat ons wil gaan kyk en oulike markte. Tang het vir ons drie moontlike opsies van roetes gegee en ons sal more die weer bekyk en dan besluit. By die een is 20 hillies.(sy beskrywing van 'n bult).Die ander ene is plat en die ander een baie lank. Ek het klaar besluit watse een my sal sien, maar ons sal more kyk wat die res wil doen.

Mag elkeen van julle die "hillies" in julle eie lewens met mening pak! Hier is ons gelukkig! Ons weet min of meer wat kom (as ons Tang gereeld vra, want informasie gee is nie sy sterkste eienskap nie). In die werklike lewe kom die hillies sonder dat mens dit weet of verwag. Mens weet ook nie hoe lank hulle gaan aanhou nie. Ons spot baie met Farmer Tang want gister het hy my verseker dis die laaste hillie vir die dag en toe kom daar nog 9! Vandag voel hy baie sleg daaroor en was spot-on met sy skattings vandag!

Baie liefde

Hanlie en Lean

NS. Bid asb nog steeds vir ons veiligheid in hierdie vreemde land.

No comments:

Post a Comment