Tuesday, May 15, 2012

Hiroshima, Japan

Ek sit nou al vir langer as 'n uur en staar na my rekenaarskerm. Ek sukkel om te verwoord wat ek vandag beleef het.

Ek het al twee keer vantevore ook so gevoel...

Albei kere was in 1993.  Die eerste keer in Juliemaand toe ek en Lorraine Kuun stad toe gery het om die film Schindler's List te gaan kyk. Dit handel oor die Tweede Wereldoorlog en Oskar Schindler wat duisende Poolse gevangenes se lewens gered het deur vir hulle werk te gee in sy fabriek. Ek het baie nagte daarna niks geslaap nie en telkens sommer net spontaan begin huil. Asof oor niks.

Die tweede keer was in Desember 1993 toe ek en Elizan deur Europe getoer het en ons die Checkpoint Charlie Museum besoek het in Wes-Berlyn. Die museum vertel die grusame verhale van mense se ontsnappingspogings vanuit Oos-Duitsland na vryheid oor die muur. Ek en Elizan het vir ure nie 'n dooie woord vir mekaar gese nie. Net verslae rondgestaan en ons vergaap...

Vandag is die derde keer.

Ek was by die Hiroshima Peace Park Memorial. Dis jammer dat 'n pragtige stad soos Hiroshima met baie ander uitstaande kenmerke vir altyd en altyd net onthou sal word vir die eerste atoombom wat ooit as deel van oorlogvoering tussen lande gebruik is. Dit was 6 Augustus 1945. Dit was 08:15 die oggend. Gewone, normale mense in Hiroshima het wakker geword die oggend en niksvermoedend hul pap geeet en hul kinders skool toe gestuur. Om 08:15 het die grootste bom wat ooit sover ontwikkel is, oor hul stad afgegaan en 160 000 mense in 'n oogwink verwoes.

Die Amerikaanse regering onder leiding van Franklin D Rooseveldt was nog nie oortuig daarvan dat Japan gaan oorgee nie en het 'n 2de atoombom drie dae later op 9 Augustus 1945 op Nagasaki laat ontplof. Altesaam is 245 000 mense dood.

Die memorial in Hiroshima is amper 'te'. Daar het deur die jare soveel goed bygekom. 'n 'Peace promenade', 'peace gates', 'n 'prayer' fontein, 'n vlam wat brand totdat die laaste atoombom skadeloos gestel is, 'n kinder gedenkplaat, 'n vredesloopvlak met ligte, en, en, en! Asof die harde werklikheid van wat gebeur het jou nie hard genoeg in die maag en tussen die oe slaan nie.

Wat ek nie geweet het nie, is die betrokkenheid van Albert Einstein. In 1939 het 'n hele paar wetenskaplikes van Duitsland na Amerika gevlug omdat hulle oorlog vermoed het. Hulle het geweet dat Duitsland reeds atoomenergie ontdek het en wou President Rooseveldt oortuig om in atoomkrag te bele. Hy wou nie byt nie en hulle het Albert Einstein gebruik om 'n brief te skryf aan die President om hom oor te haal. Rooseveldt het ingestem en vanaf 1939 het Project Manhatten begin en is die eerste atoombom suksesvol in New Mexico getoets in 1944.

Lande wat vandag atoombomme het sluit in Rusland, Amerika, China, Frankryk en Brittanje.

A picture tells a thousand words...

 Heiwa odori - vredes laan.
 Die peace gates aan die onderkant van die park.
 Twee groot wit kruise uit blomme by die ingang.
 Die gebedsfontein.
 Ingang na die museum.
 Die presiese tyd waarop die bom afgegaan het op 6 Augustus 1945. Daar word elke jaar op die datum en tyd 'n gedenkdiens gehou in die park.
 Albert Einstein se betrokkenheid.
 Die oorblyfsels van die stad na die atoombom ontplof het.

'n Replika van die enigste gebou in die middestad waarvan stukke oorgebly het.

Japan poog om alle ander lande te kry om hul te steun in hul veldtog teen atoomwapens.  5238 stede in 153 lande het reeds die deklarasie onderteken.
 Hiroshima voor en na die atoombom.
 Ek teken my naam in 'n boek. Onderaan is my ingangskaartjie.
 Deur die vredesboog sien mens die vlam wat sal brand totdat die laaste atoombom vernietig is en die vernietigde gebou. Hulle het die gebou net so gelos as 'n gedenksteen.
 Die vlam.
Die gebou van naby. Hy staan reg langs ground zero. Alle eer aan die argitek en bouers.


Hoe verder ek stap, hoe kwater word ek. Vir die skeefgetrektheid van ons wereld. Hier is 'n hele vredespark opgerig en miljoene mense besoek dit jaarliks en is diep geraak deur wat hulle sien. Ja, dit is verskriklik! 245 000 mense dood binne vier dae.

My kop hardloop na die 310 000 mense wat net in 2011 dood is aan VIGS in SA. Waar is ons park? Hoeveel mense is aangegryp en ontsteld daaroor? Hoeveel stede in die wereld het ons gekry om te teken dat die miljoene mense wat sterf op ons paaie agv dronkbestuur sal ophou? Dan begin ek nie eers dink aan die sterfgevalle as gevolg van kriminele aktiwiteite nie.

En ons doen niks! Ons leef in SA met verskeie atoombomme wat jaar na jaar afgaan. Nie een in 67 jaar nie. Elke jaar! En ons leef daarmee saam. Gebrekkig, maar darem.

Dit het my laat dink.

Mag die Here Jesus Christus in Sy groot genade gee dat so iets soos Hiroshima nooit weer op aarde gebeur nie.

1 comment:

  1. Kry nou net macha kit kats. Toe dink ek smr baie aan jou! Carina

    ReplyDelete