Thursday, May 24, 2012

Water van boven


Vandag was absoluut heerlik! Dit het vroeg begin. Ek moes 07:30 reeds by die konferensie wees. Ons het 'n besigheidsontbyt gehad waartydens die nuwe president van die IIMC ingelyf en ingesweer is. Hieronder word Brenda Cirtin MMC ingesweer.


Die weervoorspellers in Washington State en Oregon moet baie slegte selfbeelde he, want dit is uiters moeilik hier om die weer reg te voorspel. Gisteraand bevestig die TV dat vandag, more en Saterdag heerlike sonskyndae gaan wees. Nodeloos om te se reen dit toe die hele dag! Maar ons het ons nie laat afsit nie.

Ons eerste stop na ons vertrek uit Portland, is die pragtige Multnomah Falls 30 myl oos van Portland.
Een van die goed wat ek baie van die Amerikaners waardeer is dat hulle altyd sorg dat 'n uitstappie in die natuur 'n hele ervaring word. Hulle vat jou tot binne-in die ding! Kyk die brug wat hier gebou is. Die paadjie vat jou tot in die waterval se mis. Die boonste val is 542 voet hoog en die onderste een is 69 voet hoog. Dis regtig iets om te aanskou!


Die bome en blomme is enige tyd net so mooi soos die waterval.


Die blomme is Seattle en Portland en nou hier in Florence, is net ongelooflik om te sien. Hierdie is 'n azalea, maar in 'n verskeidenheid van kleure orals.

Een van die funny goed in Florence, waar ons vanaand slaap, is dat heelwat van hulle bome in kombersies toegedraai is. Hulle verwag seker verskriklike koue! Soos ek nou hier sit en tik, kyk my Pa die weerberig en die wolkbanke le tot by Hawaii! Dit gaan reen!




Florence is 'n baie mooi kusdorpie met 'n groot rivier ook. Dit is die Siuslaw rivier.





Hierdie rooi geroeste pale is baie interessant. Die boardwalk wat daarrondom gebou is, dryf op die water en soos wat die gety inkom, beweeg die hele boardwalk op. Die pale maak dit moontlik.




Julle ken seker die posbusse in Amerika, maar ek het maar weer een afgeneem vir die wat nie weet nie. Elke posbus het 'n rooi vlaggie en as die posman vir jou pos insit, flip hy die vlaggie op sodat jy kan sien jy het pos. Jy kan ook jou ongeposte pos in die posbus los wat jy wil he hy vir jou moet gaan pos. Hulle los selfs geld in die posbus as hulle nie 'n seel het nie en die posman sit 'n seel op jou brief en los vir jou kleingeld! Viva VSA posdiens VIVA!


Ons was ook vandag in Walmart. My eerste keer hierdie toer. Dit bly 'n ongelooflike winkel. Ek het wol en penne gekoop om 'n paar beertjies te brei terwyl ons ry. Daar is 'n self-checkout toonbank waar jy jou inkopies self deur 'n masjien scan en met jou kaart betaal. Niemand naby nie. Sal dit nie 'n wonderlike dag wees as ons in SA mense genoeg kon vertrou om dit te doen nie?

Die ekonomie in Amerika is baie af. Mens sien orals bedelaars (wat ons nog nooit voorheen hier gesien het nie) en aan my tafel vanoggend vertel 'n vrou van Nevada dat hulle ook nou soos al die ander plaaslike regerings in Amerika net 4 dae 'n week werk. Hulle almal moes 'n 'pay-cut' vat om geld te spaar en almal werk nou net 4 dae 'n week. Alle plaaslike regeringskantore is Vrydae toe.

Geniet julle naweek. Maandag is Memorial Day in Amerika en ons word oorval met TV programme en geleenthede daaroor.

No comments:

Post a Comment