Wednesday, May 16, 2012

'n Vinnige sien van Tokyo

Ja, ek wens dit was ek wat hierdie foto geneem het, maar nou ja. Sulke goeie weer kom net een keer in 'n blou maan na Tokyo. Dit was nie vandag nie.


Berg Fuji het my nog altyd beindruk. Eendag nie te ver in die toekoms nie, gaan ek hom nog klim. Dis baie gepas dat hy so mooi ewekantig is, want dit is tipies van Japan.

Vanoggend vlieg ek met All Nippon Air (ANA) vanaf Osaka na Tokyo. Toe ons al lankal gestop het, en ek my bagasie afgehaal het van die stoorruimte, kom ek agter dit is net ek wat staan in die vliegtuig. Al die Japanese sit geduldig en wag dat die klokkie moet lui en die sitplekgordel-liggie moet afgaan en toe dit gebeur, staan hulle soos een man op en hardloop by die deur uit. Hulle is werklik gedissiplineerd en soos klein robotjies.

Ek land op Haneda lughawe suid van Tokyo stad en moet weer vertrek vanaf Narita lughawe. Haneda het lankal (vroee 1960's) te klein geword vir die vlugte na en van Japan en hulle het Nerita lughawe gebou in 'n voorstad van Tokyo. Ek kies om met die bus te ry sodat ek soveel as moontlik van die stad kan sien. Dit vat 75 minute om van die een lughawe na die ander te ry, maar gelukkig het ek baie tyd.

Dit is geneem vanuit Osaka Kansai Lughawe. Die hele lughawe is op 'n mensgemaakte eiland en verbind met 'n baie lang brug aan die hoof-eiland. Oorkant die water reg langs die 'ferris wheel' sien julle my hotel. Hulle het 'n gratis busdiens vanaf en na die lughawe. Die vliegtuig stert in die foto is my vliegtuig van All Nippon Air. 'n Japanese binnelandse lugdiens (hulle vlieg ook internasionaal maar meestal binnelands in Japan)

 Kyk die oulike Japanese oom wat vanoggend saam met my vir die vliegtuig wag. Sy kleindogter het saam met hom gevlieg en toe sy haar botteltjie Coke oopdraai het alles op die vloer en oor sy skoene uitgespuit. Hier is sy weg badkamer toe om te gaan skoonmaak. Hy was nie te opgewonde daaroor nie.

'n Foto uit die vliegtuig tussen Osaka en Tokyo.
Een van die ongelooflikste goed wat ek in die hele Japan sien, is dat hulle lughawens meestal in die see gebou is. Hulle maak mensgemaakte eilande en bou aanloopbane daarop of sommer sulke drywende aanloopbane soos hierbo. Natuurlik wonderlik in geval van 'n aardbewing, maar ek dink dis 'n groot risiko in geval van 'n tsunami. Die Japanese dink die volgende tsunami gaan in die Tokyo omgewing wees.

Tokyo is 'n baie groot stad. Ek kry nerens op google die presiese aantal inwoners nie. Hulle speel met definisies tussen 'urban' en metropool. Dit klink vir my of daar 10 miljoen mense in die stad bly en soveel as 35 miljoen in die omliggende metropolitaanse gebied. Die stad swel met meer as 3 miljoen mense gedurende werksure. Wat ek wel lees is dat sekere dele van Tokyo so ver as 1850 km van hul sentrale deel af gelee is. Dit is eilande wat deur Tokyo bestuur word. En die Franschhoekers kla dat hulle aan die agterste speen van Stellenbosch suig. Hulle is 36 km van Stb af.

Haneda lughawe net nadat ons geland het.
 Hierdie is die ingangsgebou van Tokyo se Disney World. Ons het verby dit gery oppad na Nerita Lughawe. Ek kon splash mountain, die magic castle en vele van Disney se tipiese geboue en ritte uitken.

Die 'lounge' waarheen ek mik op Nerita Lughawe is eers aan die anderkant van immigrasie en die inboek toonbanke maak eers 12:30 oop. Ek slaan 90 minute dood deur bietjie inkopies te doen en natuurlik 'n lavender earl grey teetjie by starbucks te geniet.

Die oom hieronder praat baie goeie engels en was tot al in Stellenbosch. Hy is 'n wynkenner wat die sake-wyn bemark. Hy is baie vriendelik. Ek moes talle soorte by hom proe. Hulle alkohol inhoud is bietjie hoog (15 - 17 %) so ek moes later maar mooi vir hom se dat ek nou nie meer kan proe nie. Ek het amper 'n bottel gekoop. Dis ryswyn en baie bekend in Japan. Dis nou nie SA se wyngehalte nie, maar ook nie sleg nie. Hulle wissel van droog tot baie droog! By die sushi teacher in Kyoto het ek 'n baie lekker soeter een geproe, maar vandag s'n was woestyndroog!


Ek sit nou in die lounge en sip aan 'n glasie goeie skotse whisky met drie blokkies ys in. Voel amper soos die beskawing. Japan se lounges is baie dun op kos en baie groot op drank. Eks honger en het juis nie geeet nie om te wag vir die heerlike kos wat ons tot dusver in elke lounge gehad het. Hier is Japanese sop en norri sushi. Dis nog twee ure voor ek moet board. Ek is board!


No comments:

Post a Comment