Thursday, May 10, 2012

Nuwe werelde

Voor gister was al wat ek van Kyoto geweet het die feit dat daar 'n belangrike protokol geteken is wat iets met aardverwarming te make het. En dit is inderdaad so. In 1997 is die Kyoto Konferensie hier in Kyoto Japan gehou en is die Verenigde Nasies se Raamwerk op Klimaatsverandering om aardverwarming tee te werk, hier onderteken deur 191 lande. Die enigste uitstaande handtekening is die van die VSA wat steeds weier om aan die protokol te voldoen. Selfs SA het geteken.

Na vandag weet ek baie meer van Kyoto en van die mense hier. Ek het vandag die beste dag op my toer so ver beleef en definitief een van die top-10 dae in my lewe! Miskien is dit omdat ek dit so geniet om nuwe dinge te leer ken, of omdat my waarde van nuwe ervarings so hoog op my ranglys is, maar vandag was fantasties!

Maar laat ek by die begin begin: Ek is gisteroggend per trein vanaf Osaka na Kyoto. Dis 'n 77 minute reis met hulle bullet train. Als in Japan verloop seepglad en op tyd. Die trein moes 11:16 uit Osaka Bus stasie vertrek. Vanaf 11:10 begin hulle sy aankoms per half minuut aftel en presies 11:12 trek hy in. Langs my op die perron vlieg 'n deur oop en 'n peloton skoonmakers kom uitmasjeer en word in elke trok ontplooi. Oor die luidsprekers vra hulle dat nuwe kliente asb eers terugstaan terwyl die trein skoongemaak word. Dit alles vat 2 minute. Die stoele in die trokke draai elektronies om sodat jy weer vorentoe kyk vir die rit en die trein word van bo tot onder gestofsuig en skoongemaak. Hulle spuit ook iets in. Seker disinfektant of iets. Ons klim in en presies 11:16 vertrek ons. Die skoonmakers dra almal blou uniforms en toe die trein vertrek draai hulle almal in 'n rytjie om en salueer die vertrekkende trein. Ek voel soos iemand in 'n Disney movie!

My roete:


Die splinterskoon stasie in Osaka. Die kondukteer het my om presies 10:55 kom wys op watter teel ek moet staan en wag vir trok 4, want ek het 'n 'non-reserved' kaartjie (dis goedkoper!) en moes agter in die 'non-reserved' rytjie inval.


Die ontplooide skoonmakers! Blitsig 'polish' hulle so 'n trein. Baie effektief!


Terwyl die skoonmakers die trein voorberei vir ons vertrek, hang hierdie bordjie by die ingange wat se hulle is jammer vir die ongerief, maar of ons asb buite sal bly totdat hulle klaar is. Ek het van my teel af verskuif tot naby die deur om hierdie foto te neem en amper vir die kondukteer 'n ligte hartaanval besorg! In Japan staan almal in rytjies, weet presies wat hulle moet doen en doen presies dit! Ek sidder om te dink wat sou gebeur as hierdie trein in China gestop het.


Ek het hierdie foto geneem met my selfoon by die trein se venster uit.


In Japan gee hulle baie goeie inligting in Japanees en Engels en mens weet die hele tyd waarheen om te gaan. Ek het op die internet gesien ek moet bus no 206 kry vanaf platform A3 by Kyoto stasie en ek kry dit maklik. Die busrit was vir my 'n totale skok na China! Ons is 25 mense op die bus. Almal sit tjoepstil en niemand praat nie. Letterlik! Ek sit heel agter in die bus en kan die flikkerlig van die bus hoor.

Dis ironies dat Kyoto beteken: luister. En daar is ruimte om dit hier te doen. Die Japanese is kalm, bedaard, vriendelik, gasvry, baie gedissiplineerd en wonderlike mense.

Ek bly in Kaede Ryokan. 'n Ryokan is die tradisionele Japanese huise met die papiermure en bruin hout shutters. Dit lyk net soos in die Japanese flieks. Mens trek jou skoene by die deur uit en kry 'n huis kimono om aan te trek. Ons Ryokan is in die Machiya steil gebou en baie mooi. Daar is gidse wat jou touwys maak en 'n kaart van die stad gee en vertel wat gesien moet word en hoe om daarby uit te kom. Ek sit my goed neer en vat die strate.

Ons Ryokan is net voor een van die bekende tempels naamlik die Nisji Honganji Tempel. Dit is waar die Shin-Buddisme sy ontstaan gehad het. Ek is nou nie eintlik een vir tempels nie, maar die gebou is mooi en die tuine ook. Kyk hoe snoei hulle die dennebome!





Ek eet by die Japanese restaurant Ichoya. Hierdie is hulle weergawe van kerrie en rys met black tea en melk. Soos daai koppietjie swart tee nie daar lyk nie, kos hy R42! Die slaaitjie is gerasperde iets wat soos gerkens smaak. Nogal lekker.


Als in japan is duurder as waaraan ek nou in die Ooste gewoond is. 'n Busrit in Japan kos R22 teenoor die 40 sent in China. Ek ry Earl Grey tee by 'n winkel, maar dit kos R60 per koppie. Gelukkig vang my oog die groen letters van 'n starbucks verder af in die straat en ek laat spaander. Hier kos starbucks Earl Grey 'n skamele R39 vir 'n 'grande'. Een sal moet doen vir die week!

Ek besoek die Japanese kostuum museum en geniet dit baie. Ek het 'n kimono aantrek sessie bespreek vir more en verkyk my aan die lae en lae klere. Die museum is so lewensgetrou gemaak en elke toneel word in engels verduidelik.





'n Winkeltjie in ons straat.

My kamer in die Ryokan. Hierdie is die westerse opsie. Die Japanese opsie se beddens is op die grond, maar vir twee nagte het ek nie kans gesien daarvoor nie. Ja, ek weet! Ek moes, maar na my knie gebreek is, staan ek moeilik op van die grond af. Die toilet is klaar so ingewikkeld en as ek nog sukkel om daar te kom, sal ons dalk sports he.



En toe kom vandag! Ek word 09:00 opgelaai by my hotel deur 'n baie fancy taxi met 'n chauffeer in uniform en Yayoi. Sy is die engelse gids wat my op vandag vergesel.

Ons eerste stop is die huis van Kouji en Harumi Waki. Sy is die Kimono Teacher en gaan my in 'n kimono op-dress.


Hierdie is Yayoi wat my vandag vergesel. Sy dra ook 'n kimono.
 Daar is twee kimonos om van te kies en ek kies die seegroen een regs. Daar is drie tipe kimonos. 'n Uitgaan een, 'n minder formele dag een en die inhuis een. Hierdie een wat ek gaan aantrek is die uitgaan een.
 Ons sit eers en gesels en drink groen tee met 'n groen lekkertjie en 'n rooi boontjie koekie. Nou nie ouma se melktert nie, maar interessant.


Harumi Waki. Sy is een van die gaafste mense wat ek al ontmoet het. Wow, ek het sommer dadelik tuis gevoel. 'n Deel van haar huis is tradisioneel Japanees en sy wys my rond. Haar engels is swak, maar ons verstaan mekaar dadelik. Haar hele gesig lag!
Die pikante sokkies wat ek moes aantrek. Hou in gedagte dat die gemiddelde Japanese vrou se voet tussen 'n nommer 2 en 3 is. My no 8 trappers het dit moeilik gevat. Ek het maar geknyp, gedruk en uitgehou. My Oumie het altyd gese: As jy wil mooi lyk, moet jy uithou! Harumi het na die tyd vir my 'n pragtige paar pienk toonkousies soos hierdie persent gegee. My sussie se kinders sal dit moet erf, want ek sal nie weer my voet daarin kry nie.


Dit het twee vrouens meer as 40 minute gevat om my aangetrek te kry. Mens doen verskeie lae en baie toutjies en strikkies orals. Maar jy voel soos 'n prinses!
Na die dressing stap hulle saam met my drie blokke verder na die naaste tempel om te gaan fotos neem. Almal op straat wil fotos saam met ons neem en die ouer Japanese vroue is almal baie beindruk. Ek moes my voete in 'n no 4 Japanese platvormpie kry wat uiters ongemaklik is. Maar uithou sal ons uithou!




Agter op jou rug kom 'n kussing! Dis baie snaaks, maar baie gerieflik. Jy kan sit net waar jy wil. Jy dra jou eie stoel saam. En met hierdie skoentjies is gereeld sit 'n moet!


Mnr Kouji Waki. Hy het fotos geneem en toe ek later groet, kry ek drie gedrukte kleurfotos om saam te neem.


En toe is ons daar weg en oppad na die Shusi en Japanese Cuisine Teacher se huis toe. Sy is Yumiko Ueda. Ons drink 'plum tea' uit baie mooi koppies en sy gee vir my 'n resepteboekie en begin verduidelik wat ons gaan doen. Ek hou dadelik van haar ook. Sy het al in Australie gewoon en het twee groot dogters. Sy is goed engels magtig en ons gesels lekker. Sy het 'n hondjie wat sy Pinot noem na haar gunstelik wyn.


Soos Yumiko nie hier lyk nie, is sy reeds 60! Die groen tee help!
 Hierdie is spinasie slaai wat ons gemaak het deur die spinasie blare vinnig te blansjeer en die te meng met geroosterde, fyngemaalde sesame saadjies. Dit is heerlik!

Ons maak sushi! Ek is mal oor sushi en wou nog altyd presies weet hoe. Yumiko deel haar ouma se geheime resep met my en dis beter as enige sushi wat ek al geeet het. Nee, ek gaan dit nie hier deel nie. Ek het baie daarvoor betaal! Julle sal by my moet kom eet! Sy meng die sticky rys met allerhande wonderlike goed.
 Ons sit seewier en rys en versier dit met komkommer, omelet, sampiene en crab-sticks.


So lyk my eerste pogings! Not too bad!
 Verder maak ons Mizu sop en tempura. Ons braai garnale, sampiene, pampoen, eiervrug, blare en soetpatat in 'n tempura deegie. Die vloeistof in die bakkie is nie die sop nie. Dit is die tempura sousie.
Ek en Yumiko by ons handewerk.
 Ons finale bord. Die Mizu sop is in die swart koppetjie. Dit en die blou bakkies kom uit haar ouma se porseleinstel.

Toe Yumiko hoor dat ek na die tyd die Golden Pavilian (Kinkaku Rokuon-ji Temple) wil besoek, bied sy aan om my te vat! Sy is so gaaf. Ek nooi haar en haar man na SA en ek hoop hulle kom.


 Die tempel is ook 'n Wereld Erfenis gebied sedert 1994. Die tuine is pragtig hierdie tyd van die jaar.

Vanaand gaan ek net 'n bietjie op my bed le en dink oor al die nuwe werelde wat vandag vir my oopgegaan het.

Mag daar ook vandag nuwe werelde vir jou oopgaan. Onthou, ons is nooit te oud om elke dag iets nuuts te doen nie. Dis beter as 'n vakansie!

No comments:

Post a Comment