Monday, May 21, 2012

As 'n potplant te groot word vir sy pot

Die konferensie is verfrissend heerlik! Dis lekker om die SAners te sien. Daar is 6 van ons by die International Institute of Municipal Clerks se 66ste jaarlikse konferensie in Portland Oregon in die VSA. Die ander 5 is van Gauteng en Durban, maar toe ons vlag ingedra word, staan ons 6 en sing ons Volkslied uit volle bors. Eks omtrent al een in my blok, maar sing lustig voort. "Let us live and strive for freedom... In South Africa our land!" Ek het amper geskree: Go Bokke! Maar myself net betyds ingehou.

Dis goed om 'n SAner te wees. Vandag was ek ook trots oor die 25% Amerikaanse bloed in my lyf. Baie mense is krities teenoor Amerikaners omdat hulle 'loud', verwaand en trots is. Vandag het ek weereens hul gasvryheid beleef en elke oomblik geniet. Die konferensie is puik georganiseer en oral waar jy kom is mense gul van gasvryheid. Langs my in die saal sit 'n vrou van Illinois. Sy was nog nooit voorheen in Oregon nie, maar soos die President van die IIMC vir ons beduie watter plekke in Portland ons moet sien, wys sy hulle vir my uit op 'n kaart. Sy is al hier van Donderdag af en het alles al probeer.

 Die tema van die konferensie is: Ascending new heights

Hierdie is 'n Native American fluit speler: Kona Foster Kalama
Ek is 'n lid van die IIMC en deel van Region XI. Dit sluit al die lande in buite die Amerikas. Ons het vandag ook ons Region Meeting gehad. Francois Allers (middel op foto bo) is van SA (Ekurhuleni Mun) en was die uitgaande Region Director. Links is Ronnie van Nederland en regs in Sam Shippen van Sussex in die UK.

Colleen Nicol is die Municipal Clerk van Riverside California en tans die President van die IIMC.

Die grootste boekwinkel in die wereld is hier en blykbaar is dit iets wat mens moet sien. Ek sal more een van die verveligste sessies kies om te bank om dit te gaan kyk. Hier is ook 'n baie bekende tuin en bier brouery wat blykbaar die moeite werd is. Ons sal sien.

Vandag het een van die sprekers iets gese wat ek graag met julle wil deel. Ek dink dis op almal van ons van toepassing. Dit gaan so: Hoe weet mens as 'n plant te groot geword het vir die pot? Wel, sy wortels groei bo die grond uit, sy blare verlep of hy dra nie meer vrugte of blomme nie. Dan is dit tyd om oorgeplant te word. Dis maklik as jy weet hoe. Jy soek 'n groter pot, kry nuwe vrugbare grond, kry kompos, haal die plant versigtig uit, knip die dooie ente af en laat die plant toe om nuwe blare te maak. As die plant gevat het in die nuwe pot, sal dit groei en blomme of vrugte dra.

Die belangrikste wat jy moet weet van potplant oorplantings is dat dit 'n morsige besigheid is! Vir die tuinier en die plant. Daar is heelwat bekende leiers wat in hul lewens oorgeplant is en na die tyd beter gegroei het en meer vrugte en blomme gedra het.

Ek dink ek is in die proses om oorgeplant te word. Dis 'n morsige besigheid. Waar is jy? Is jou pot dalk al te klein? Dra jy nog blomme en vrugte? Het jy nuwe kompos nodig?

'n Ander storie wat ek graag sal wil onthou gaan oor Tom Domino van Domino's pizzas. Dis 'n bekende pizza winkel in Amerika. Hulle het altyd gesukkel om beter as Pizza Hut te wees en lekkerder pizzas te maak. Toe het Tom, die eienaar en CEO, besluit hy sal na sy kliente luister. Hy het agtergekom dat 99% van sy kliente nie bel en vra: "Hoe goed is jou pizzas?" nie. Nee hulle het almal net een vraag: "Hoe vinnig kan jy daai pizza hier by my kry?" Tom het besluit hulle sal uitbeweeg uit die besigheid van die beste pizza maak en inbeweeg in die besigheid om 'n pizza die vinnigste by die klient te kry. Die res is geskiedenis! Vandag is hulle in die pizza afleweringsdiens en gebruik selfs pizzas van verskillende pizza plekke. Hy het die regte behoefte van die klient raakgesien en kon sy besigheid aanpas daarby. Ons uitdaging is om te luister na ons kliente: Iemand wat kla by jou is eintlik net besig om vir jou te vertel in watse besigheid hy/sy wens jy kon wees. Dit is waar die geleentheid le! Kom in daardie besigheid! Dit is wat suksesvolle mense doen. Hulel luister na die top 60 - 70 % van al die klagtes en verander hulle besigheid na gelang daarvan.

Die ander ding wat ek vandag besef is dat besigheidskole reg oor die wereld 'n paar vakke mis wat hulle almal eintlik moes gegee het. Dit is: leierskap, verhoudingsbou, toerusting van volgelinge, luistervaardighede en die regte gesindheid kweek. Miskien moet ek begin om leiers hierin op te lei.

Die Amerikaners is groot op 'pins'. Elke munisipale bestuurder/stadsklerk wat hier is, het 'n sak lapelwapens by hulle wat hulle uitruil met mede-konferensiegangers. Ek het al 8 versamel. Natuurlik het ek nou nie gebring om uit te ruil nie, maar so leer ons. Dis my eerste konferensie en hopenlik die eerste van baie.


Hierbo is my naamkaartjie met al die 'pins' wat ek al vandag gekry het. Dit hang soos medaljes om jou nek. Daar is mense wat al 50 state s'n bymekaar maak.

Pa en Ma, die klerk van Alaska wat ek ook verlede jaar in SA ontmoet het, se dit is perfek dat julle Oregon as 49ste en Alaska as 50ste state besoek, want dit is ook hulle staatnommers en die volgorde waarin hulle in die Federasie ingekom het.

Vanaand eet Region XI saam met Region V by 'n Ierse Restaurant in Portland. Ons sal sien of ek dit oorleef.

As jy ook weet jy het reeds te groot geword vir jou pot en dat jy nie meer blom of vrugte dra soos wat jy moet of kan nie, herplant jouself! Kry 'n groter pot, gooi kompos en laat waai! Onthou, dis bedoel om 'n morsige besigheid te wees.

No comments:

Post a Comment